Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Magnolia Dal is ‘n bekende, gewilde publieke park in die ooste van Pretoria waar ouers hul kinders se verjaarsdagpartytjies in die buitelug kan hou. Dis ‘n pragtige park, met ‘n groot grasgroen grasperk, talle wilgerbome, ‘n kabbelende stroompie en selfs ‘n restaurant waar pa’s kan gaan sit en rugby kyk op grootskerm TV terwyl ma’s kloek oor hul kleingoed, smul aan lekkernye en bietjie opvang met die nuutste skindernuus. Kunsmarkte is ook baie gewild en plaaslike, kontemporêre kunstenaars stal hul skilderye gereeld Saterdagoggende daar uit.

Vandag is dit egter die CNL Pretoria se diens wat die aantrekkingskrag is, met Desmond as die groot trekpleister. Sy sagte boodskap van liefde is miskien waarna die wêreld op hierdie oomblik soek - of ten minste, mense in en om Pretoria. Die grasperk voor die verhoog is gepak met geselsende mense en ‘n vrolike atmosfeer heers. Almal sit op die gras en ‘n hele paar helder gekleurde sonsambrele dra by tot die karnavalgevoel.

Pieter en Desmond praat ‘n laaste paar woorde in die tent agter die verhoog voordat die diens begin en besluit dat Desmond direk ná sy boodskap die mikrofoon aan Pieter, as eienaar van CNL Pretoria, sal oorgee sodat hy die gehoor kan inlig betreffende hul uittrede. Diana en twee studente assistente skakel hul laptops aan, sorg dat die houers vir kontantdonasies gereed is en Ramon werskaf met die klanksisteem agter op die verhoog. Sarah, Vivian, ek en Julia sit op stoele agter Diana en gesels heerlik oor alles en nog wat.

Dawid Bruwer het sy sekuriteitsdetail van vier op strategiese punte geplaas. Sy gewone span van twee is verdubbel vir vandag en die hele perimeter word strategies gedek. Bruwer het uit ondervinging geleer om nooit sy “gut-feeling” te ignoreer nie. Dit, tesame met die gesprek wat hy met Kobus Kritzinger, die sekuriteitshoof van Don Lawrence gehad het, het hom hierdie besluit laat neem. Eerder te veel as te min. Hy hoop net dat dit genoeg sal wees. Sy blik speel vir die hoeveelste maal oor die parkeerterrein, die kleurvolle gehoor, asook die bebosde en ruig toegegroeide area agter die tent. Alles lyk sover nog veilig en sekuur.

‘n Grysblonde man stap rustig oor die grasperk van die parkeerterrein af. Sy donkerbril en rooi Lions petjie trek glad nie aandag nie, selfs al bevind hy hom midde-in Blou Bul land. Ongeveer ‘n derde van die toeskouers is Johannesburgers wat oorgestap het vanaf Lawrence se CNL. Die man dra ‘n khaki oortrekbaadjie met diep sakke bo-oor sy stylvolle beige hemp en jeans. Bruwer se blik speel vinnig oor hom en dan fokus hy weer op die mense naby die verhoog. Alles in orde.

Die man stap nader en kyk heen en weer. Hy soek skynbaar ‘n plek om te sit. Bruwer se sig is goed, maar sy skerp oë het nie die klein glimlag om die man se lippe opgemerk nie. Ook nie die bult in een van sy baadjie se diep sakke nie. Die man kry ‘n plekkie naby die agterkant van die gehoor, met die verhoog in volle sig. Hy gaan sit en strek sy bene uit.

Ramon skakel die musiek sag aan en Desmond stap op die verhoog. Luide applous verwelkom hom en die gehoor roep sy naam uit. Desmond glimlag na sy gehoor, terwyl Ramon die klank van agter af beheer. Hy geniet sy gate uit, knipoog na my en glimlag breed. Desmond praat begeesterd, uit sy hart uit met die mense voor hom en sy gehoor hang aan sy lippe. Selfs die man met die rooi pet staar vasgenael na hom.

Dawid Bruwer se selfoon lui skielik. Kritzinger gil oor die foon, “Ek vermoed Lawrence is by die diens! Hou hom dop. Hy mag gewapen wees. Ek’s nou daar!” Bruwer staar vir ‘n oomblik na sy foon, dan radio hy sy mense om op hul hoede te wees en uit te kyk vir enige agterdogtige of buitengewone gedrag. “Manspersoon, gryserige blonde hare, gemiddelde bou en lengte.” Bruwer sug. Hy kon netsowel ‘n kwart van die gehoor beskryf het.

Desmond staan lewensgroot voor op die verhoog en vir ‘n oomblik wonder Bruwer of hy hom eerder moet laat weet wat aangaan. Kan hy net opstap en die man tydens die laaste deel van sy boodskap van die verhoog af roep? Skreeuende bande trek sy aandag en hy kyk om. Kobus Kritzinger hardloop nader van die parkeerterrein af. Op daardie oomblik vra Desmond sy gehoor om op te staan en mekaar se hande te neem. Die son se strale skyn op sy hare en vorm ‘n stralekrans om sy gesig.

Don Lawrence staar na Desmond. Dis heeltemal te veel … Hy gryp skielik na sy kop en knik heftig, mompel byna onhoorbaar, “Ja, nou. Nou. Nou!” Sy oë kry ‘n glaserige skynsel en hy fluister sag, “Jy kan mos nie vat wat myne is nie …” Hy hou sy kop vas en luister na die stemme, knik en mompel iets onhoorbaar. Die mense om hom kyk vreemd na die man in die rooi pet, beweeg effe weg en sommige giggel. Bruwer se ge-oefende oog merk die buitengewone bewegings in die gehoor op en dan sien hy die man met die rooi pet raak. Die man hou sy kop vas en mense beweeg weg van hom af. Hy hou hom stip dop vir een intense oomblik en storm vreesloos nader.

Desmond se stem vul die lug en die meeste mense hou hande, terwyl hulle uitroep, “Liefde vir almal! Liefde sal seëvier. Liefde sal ons red!” Kobus Kritzinger hardloop van die ander kant af. Sy asem jaag en hy fokus slegs op die man in die rooi pet. Hy ken sy baas, weet hoe hy lyk en is miskien die enigste persoon wat besef waartoe hy op hierdie stadium werklik in staat is.

Lawrence glimlag skielik tevrede, aanvaar die stemme se raad en ruk sy pistool uit. Hy rig dit op Desmond. “Dis die enigste uitweg,” vertel die stemme in sy kop, “hy steel wat joune is.Neem aksie! NOU!

Bruwer en Kritzinger storm meedoëenloos deur die skare, bars deur hande-kettings, stamp mense uitmekaar en dan duik Bruwer.

Die Walther PPK 9mm in Lawrence se hand vuur net toe Bruwer hom platduik en Lawrence se skoot mis Desmond rakelings. Mense spat gillend uiteen en hardloop vreesbevange weg. Hulle storm weg van die geweerskoot, weg van die gevaar en meeste van alles – so ver as moontlik weg van die mal man met die rooi pet en sy pistool. Desmond hoor die skoot, maak sy oë oop en sien hoe twee mans op een ou afduik en hom hardhandig vaspen teen die grond. Hy staan doodstil en kyk verbaas na die chaotiese gebeure wat voor hom ontvou. Mense gil, hardloop en struikel oor mekaar, karre jaag weg en die park stroom blitsvinnig leeg.

Ek sien alles in slow-motion en ‘n aardstollende gil ontsnap skielik uit my keel, maar ek is nie bewus daarvan nie. Al wat ek sien is … Ramon.

Ramon sak stadig ineen agter op die verhoog, hy gryp na sy bors en syg op die vloer neer. Sy wit hemp is skielik rooi en ek storm nader, maar dit voel asof my voete in sement gegiet is.

Ramon is getref en ek is by hom. Ek hou sy kop op my skoot en streel oor sy hare. My linkerhand probeer die bloedvloei desperaat stop, maar dit wil nie help nie en my ring is vol bloed. Julia bel dringend ‘n ambulans en ek sien hoe mense weghardloop, wegjaag en verdwyn. Ramon hyg na sy asem, sy ooglede word swaar en ek gil hartverskeurend, “NO! No, Ramon … baby, please don’t go!” Sy asemhaling verswak vinnig en ek hou sy bebloede hand styf teen my bors vas. Ek bid soos nog nooit voorheen in my lewe nie.

“Eliza,” fluister hy swak en lek stadig oor sy droë lippe, “I always, always love you …” Hy probeer op my fokus, maar sy oë val toe en sy hand word slap in myne.

Sirenes jaag nader, die paramedici daag op en ek word weggestoot van Ramon af, maar ek klou aan sy hand. Julia trek my ferm weg en fluister, “Staan terug, Eliza. Hulle probeer hom red!” Ek skud my kop en probeer sin maak van wat aangaan, snak na my asem en dan sien ek wat die paramedici doen … hulle plaas ‘n masker oor sy gesig, skeur sy hemp oop en … ek word duiselig.

Ramon is in ‘n ambulans en hulle jaag met hom. Rooi ligte en sirenes …

Ek hardloop wild na my kar toe en wil agterna jaag, maar Vivian en Diana keer my. “Eliza!” Hulle hou my styf vas, maar ek baklei om los te kom, “NEEEE!!! Los my!!!” Ek skarrel desperaat en baklei teen hulle, “Ek moet by Ramon wees!!!” Hulle klou hygend en sukkel om my vas te hou. Diana, selfs Vivian, begin snik en hou my stywer vas, maar ek skop en baklei met alles wat ek het om los te kom. Hulle slaag uiteindelik, pen my arms styf teen my lyf vas en ek kan nie beweeg nie. Ek huil en smeek hees-desperaat, “Asseblief … los my net! Ek moet by hom wees…” Sarah staan voor my en die kyk in haar oë is desperaat. “Los my!!!” smeek ek weer en staar na haar. My stem breek histeries, “Asseblief …” Trane stroom oor haar wange, maar sy hou my gesig vas in haar hande en smeek, “Eliza, asseblief, werk net saam met ons …”

Julia praat weer dringend oor haar selfoon en stap driftig nader. Sy knik, lui af en gil, “Kom!” Sarah en Diana druk my vas tussen hulle in haar kar. Sy skiet weg met een helse spoed en Vivian volg op haar hakke in haar BMW. Ons jaag verbete na die hospitaal waar Ramon opgeneem is. Pieter en Desmond praat met die polisie wat intussen opgedaag het.

By die hospitaal vind ons uit dat Ramon reeds oppad teater toe is. Nood chirurgie. Julia ken een van die dokters aan diens en het reeds telefonies met hom gepraat. Hulle probeer my kalmeer, maar dit werk nie en ek strompel uit, buite toe. Vars lug. Ek kan nie asem kry nie. My hande klem om die houtreëling van die hospitaalstoep en duisende gedagtes en beelde flits deur my kop, maar ek kan op niks konsentreer nie. Ramon het so weerloos gelyk … en sy vel was koud, klam … My lyf begin ruk en ek probeer asem kry. Wat sal ek sonder hom doen? Hy is te jonk om dood te gaan. Ons lewe saam het dan sopas begin. Ek streel oor my ring. Dis nog vol bloed. Ramon se bloed …

Julia staan skielik langs my en ek snak steeds aanhoudend na asem. “Eliza, asem in, dan stadig uit. In … en uit …” Haar stem is rustig en sy probeer my kalmeer. Ek luister na haar en dit werk. Sy vryf oor my skouer en staar êrens in die nag in. “Kan ek eerlik met jou wees, Eliza?”

‘n Yskoue vrees omklem my, maar ek knik stil en klou die houtreëling stywer vas.
“Dokter Burger het met my gepraat net nadat jy uitgekom het buite toe, Eliza.” Julia vryf haar hand eenmaal deur haar hare en sug, “ Hulle doen wat hulle kan vir Ramon, glo my. Hy’s in baie, baie goeie hande.”

“Maar?” vra ek sag.

“Oopwond trauma aan die bors … kan veroorsaak dat die pasiënt se long mag platval.” Sy vertel in ‘n monotoon stem verder en kyk nie na my nie, maar staar slegs voor haar uit. “Hulle noem hierdie toestand Pneumothorax. Die patroon was nog in sy lyf en dit moet chirurgies verwyder word. Dan, hy het baie, baie bloed verloor … maar, hy is in goeie hande en die paramedici het wondere verrig om hom te stabiliseer. Anders …”

Ek trek my hande weg van die reëling. ‘n Splinter het onder my nael ingedruk. Ek kyk emosieloos daarna, trek dit uit en kyk hoe ‘n druppel bloed vorm. Dit val op die vloer. Julia staar bekommerd na my. “Eliza?”

“Dankie, Julia,” antwoord ek sag, “vir jou eerlikheid. Nou weet ek ten minste wat aangaan.”

Vivian, Diana en Sarah kom staan buite by ons. Nie een sê ‘n woord nie.

Julia haal diep asem, “Die eerste paar uur is kritiek. Maar, maak hy dit deur die eerste twaalf ure, is sy kanse op volkome herstel baie, baie goed.”

“Kom ons gaan drink almal koffie of iets,” stel Sarah voor, sit haar arm om my en ons stap na die hospitaal se restaurant toe. Dokter Burger het Julia beloof dat hy haar op hoogte van sake sal hou.

Ons teug stil aan ons koffie en die minute tik stadig, so stadig verby. Julia se foon lui nie. Die eindelose gewag is die ergste.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

son 23
sjoe wat n spanningsvolle hoofstuk!!!! PUIK gepen en ek se weer, hierdie gaan n topverkoper word!
4 jaar 2 maande 3 weke 6 dae 12 ure oud


Hi sus Anna. . .
Ag sjoe! Nee man vrou, my naels is nou behoorlik stomp tot in die lewe afgekou!

En om alles te kroon Carol. . .het ek dan nou sowaar 'n volgende hoofstuk van jou misgeloop terwyl ek besig is om te swoeg om die laaste hoofstuk van my se boek te voltooi?
4 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 5 ure oud


Ramon!
Wat volgende na sowat van 'n verrassende wending? Gaan Ramon oorleef, gaan...

Wel, ek hoop jou volgende hoofstuk wat afgewag word klaar hierdie kwelvrae op. Opskud!
4 jaar 3 maande 4 dae 2 ure oud


Sluipmoordpoging
Ek het nooit in my wildste drome kon raai dat Ramon geskiet sou word nie! Die aksie gebeur vinnig en jy kry dit meesterlik reg om die spanning heeltyd hoog te hou. Selfs Desmond se 'uithaak' is heel geloofwaardig. Ek het 'n moontlike bomaanval verwag, maar die poging tot 'n sluipmoord is meer intens en persoonlik. Jy mag maar!
4 jaar 3 maande 4 dae 6 ure oud


Son 23
Pragtig, nou kan ek nie rus kry voor ek weet wat gebeur nie. Uitstekende skrywe.
4 jaar 3 maande 4 dae 8 ure oud


sOn (23)
Carol jy hou die spanning goed in die verhaal, dis waarna 'n leser uit kyk
4 jaar 3 maande 5 dae oud


23
Agge nee toggie.....ek kan nie nou praat nie! My hart is swaar en my polsslag jaag....seblief tog moenie dat Ramon beswyk nie.

Jy het geen idee hoe hierdie hoofstuk my emosioneel raak nie.

Moontlike regstellings:
perimeter - omdat dit anglisities klink stel ek omtrek voor.

praat begeesterd, uit sy hart uit met die - praat begeesterd, uit sy hart uit, met die

meedoëenloos-meedoënloos

die park stroom blitsvinnig leeg - die park word blitsvinnig ontruim.

alles in slow-motion - alles in stadige aksie

Dan, hy het baie, baie bloed verloor - Ook het hy baie, baie bloed verloor
4 jaar 3 maande 5 dae 7 ure oud


dogters
Daar betrap jy my sowaar onverhoeds, Carol. Ek het nie die ding met Ramon sien kom nie. Dit was nou 'n spanningsvolle hoofstuk, sjoe!
4 jaar 3 maande 5 dae 8 ure oud


DOGTERS
Carol soos gewoonlik het jy my op die punt van my stoel met hierdie verhaal
4 jaar 3 maande 5 dae 12 ure oud



As drome waar word

deur Evelyn van der Merwe

Sewentig gedigte wat ‘n buitengewone vrou se lewe beskryf. Sewentig boodskappe van lief en leed uit die pen van ‘n vrou wat op die harde manier geleer het om meer as die gewone teenslae van die lewe te hanteer, om sterker te word en uiteindelik om sterk te wéés – nie net vir haarself nie, maar ook vir die mense rondom haar.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar