Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die hospitaal se restaurant met sagte, kalmerende musiek wat op die agtergrond speel herinner sterk aan ‘n lughawe-eetplek, waar meeste besoekers haastig iets lig eet of net vinnig tee drink. Oppad êrens heen. Weg van hier af. So vinnig as moontlik. Ek steur my nie aan hulle nie en vou die baadjie wat Sarah vir my gegee het om aan te trek stywer om my lyf. Sy het dit gedoen omdat my bloes vol bloedmerke is en ek nie wou huis toe gaan om skoon klere aan te trek nie. Hoe kon ek? Ramon is in die teater en hulle opereer op hom. Ek wag elke oomblik desperaat, ongeduldig om te hoor hoe dit met hom gaan.

Vivian het genadiglik een van die restaurant se twee redelik gerieflike hoektafels met gestoffeerde inskuifbanke annekseer, want ons vyf sit nou al geweldig lank en wag, praat nie veel nie en sluk slegs ingedagte aan koppie na koppie koffie. Daar is nog geen nuus van Dokter Burger af nie. Is Ramon dan nog in die teater? Hoekom neem dit so lank? Wat gaan aan?

‘n Selfoon op die tafel lui skielik en ons almal verstar vir ‘n angsvolle, hoopvolle oomblik. Maar dis net Diana s’n. Sy staan op, praat vinnig eenkant en kom sit weer. “Dit was Pieter. Hy en Desmond is oppad. Hulle kom nou net van die polisiestasie af.”

“En?” vis Vivian, “wat sê hy nog?”

“Net dat hulle getuie-verklarings moes aflê en deur die speuders ondervra is.”

Pieter en Desmond stap ‘n klein rukkie later haastig by die restaurant in, sien ons en kom sit. Desmond skuif stil langs Sarah in en vra dadelik, “Ramon?” Ons skud ons koppe en Sarah antwoord, “Ons wag nog vir die dokter om Julia te bel.” Hy knik en probeer glimlag, maar kry dit nie reg nie. Sarah streel oor sy hand onder die tafel en kyk vraend na hom. Sy fluister, “Hoekom bewe jou hande so?” Hy vee oor sy gesig en sug, maar antwoord haar nie. Dit lyk asof hy die wêreld op sy skouers dra.

Pieter bestel koffie, druk Diana se hand en dan leun hy moeg met sy elmboë op die tafel. “Don Lawrence is gearresteer en wat ek van die gesprekke in die gange van die speurderskantore kon aflei, lyk dit of hy so gou as moontlik oorgeplaas gaan word na ‘n geestesinrigting met streng sekuriteit. Vir observasie.” Hy bal sy vuiste en sis, “Mal moer wat hy is!”

Die kelner bring vars koffie, Pieter neem dadelik ‘n sluk van syne en vertel verder, “Ek het Bruwer en Kritzinger buite die polisiestasie gekry en blykbaar is Kobus Kritzinger se verklaring van groot belang. Juis om Lawrence vas te pen betreffende doelbewuste intensie, opset en voorbedagde rade.” Hy sug, vryf oor sy nek en neem weer ‘n groot sluk van sy koffie. Desmond tel sy koppie op en wil sluk, maar sy hand bewe te veel en hy sit sy koppie klaterend op sy piering neer.

“Ek is só jammer, Eliza,” blaker hy skielik uit en sy stem breek hees. Hy kyk na my en sy oë is vol trane. “Dit moes ék gewees het, nie Ramon nie …”

“Desmond,” fluister ek, “moenie …” Ek neem sy hand en druk dit. My hart gaan uit na hom toe as ek die hartseer en pyn in sy oë sien en ek staan vinnig op, storm uit en gaan staan weer eenkant op die hospitaal se stoep. Desmond draf agterna en Sarah wil opstaan, maar Julia keer haar. “Wag, Sarah. Laat hulle eers alleen praat, ok?” Sarah huiwer, knik en vee dan self oor haar oë. Die ander staar stil in hul eie koppies en wonder wat die uiteinde van hierdie lang, lang dag gaan inhou.

Buite op die stoep snik ek my hart uit, ek kan dit nie help nie en probeer ophou, maar ek kan nie. Desmond staan langs my en steek sy hand versigtig na my toe uit, maar sê nie ‘n woord nie. “Desmond,” snik ek, “dis mos nie jou skuld nie.” Ek sukkel weer om asem te kry, haal diep asem en blaas uit, soos Julia my gewys het en begin dan weer onbedaardelik bewe. Desmond neem my stil in sy arms en hou my net baie, baie styf vas. Ons staan lank so, dan sê hy sag, “Ramon is my beste vriend.” Sy stem is aangedaan, “Ons het heelwat tyd saam spandeer met die CNL se videos en dinge en mekaar baie goed leer ken. Hy’s ‘n great ou, Eliza …” Ons snuif, vee ons oë af, leun albei later teen die houtreëling vir ondersteuning en hy staar nikssiende in die verte in. “Ek het bittermin werklike vriende.” Hy glimlag hartseer. “Maar Ramon is een.” Sy stem is sag en breek as hy my vertel, “Soos ek vir Sarah gesê het, “rolling stones gather no moss.”

“Maar nou hét jy vriende, die beste vriende … ons almal,” snuif ek en glimlag skeef. “Jy moet dit net besef.”

Hy kyk lank na my, dan staar hy weer voor hom uit. “Ek is bang Sarah gaan ook seerkry as sy te na aan my kom, Eliza.” Hy sug. “Kyk waar is Ramon nou. En dis oor my!” Sy stem is pleitend en hy snik, “Nie weer nie, asseblief! Net nooit, nooit weer nie …”

“Desmond?”

“Iets soortgelyk het al voorheen gebeur. ‘n Hele ruk terug, toe ek in my vroeë twintigs was.”

Hy huiwer vir ‘n oomblik, maar vertel my dan meer van sy verlede. Sy stem is rou en seer, skielik hard en bitter, alles tegelyk.

“In Viëtnam.” Desmond kyk nie na my nie, maar ek luister stil en hy praat verder. “Ek het my boodskap destyds in die Verre Ooste begin verkondig, probeer brûe bou tussen die gemeenskap en die party in beheer, maar … een van my studente is vermink. Omdat die plaaslike partyleiers nie daarvan gehou het dat ons boodskap meer aftrek kry in hul dorpie as die ou manier van doen en glo nie. Hulle het my beste student, my vertroueling en opvolger …” Hy maak sy oë toe en kners op sy tande, “Hulle het hom voos geslaan en toe drie van sy skryfhand se vingers een vir een afgesny. Sodat hy nie ons boodskap verder kon neerskryf, verwoord en versprei nie.” Desmond ril en vryf angstig deur sy hare, “Hulle het hom gelos om dood te bloei … by ons gewone bymekaarkomplek. Met ‘n nota aan my gerig teen sy hemp vasgespeld.” Hy sluk diep en trek sy oë op skrefies, asof hy die woorde steeds duidelik voor hom sien, na al die jare, “Go away, Foreign Devil. Go away or more of this.” Hy sug diep. “Ek het eerder gegaan.” Desmond skud sy kop asof hy desperaat van die herinneringe wil ontslae raak en sê sag, “Dit was óók my skuld.”

“Desmond, jy kan nie –“

“Eliza, ek dink op hierdie stadium moet ek net weggaan en julle in vrede laat. Voordat nóg iemand vir wie ek omgee seerkry.”

“Nee, Desmond!” Ek gryp sy arm en staar na hom, “Jy kan Sarah nie nou los nie!”

“Dis beter vir haar, Eliza …” Sy oë rus sag op my.

“Nee, dit is nie! Dis nie nodig nie, Desmond. Wat vandag gebeur het, was toeval. Hierdie was ‘n …” Ek soek na woorde, “Hierdie was ‘n wrede twist of fate, ek gee toe. Maar, dit was nie jóú skuld nie. Lawrence het uitgehak en jy het nie geweet dit gaan gebeur nie. Hoe kon jy? Maar, jy kan haar nie nou net los nie, my magtig! Sy’s lief vir jou, Desmond!” Ek is woedend vir hom omdat hy wil wegvlug, haar net so wil los en vra briesend, magteloos, “Voel jy hoegenaamd iets vir haar?”

“Ek is lief vir Sarah, Eliza. Met my hele hart.”

“Nou hoe kan jy sommer net wil weggaan? Het sy nie ook ‘n sê nie?” Dis asof al my seer en hartseer oor Ramon skielik uiting vind in my woede teenoor Desmond. “Dink ‘n bietjie hoe sý moet voel!” My oë spoeg vuur en ek sis buite myself, “Waag dit net om haar seer te maak, Desmond Lewis! Waag dit net.”

Voordat Desmond kan antwoord, roep Julia my naam en staan skielik in die deur wat op die stoep oopmaak. “Dokter Burger het nou net gebel! Ramon is uit die teater uit, Eliza. Hy’s ok.”

Ek haal steeds woedend asem, maar swaai om en staar doodstil na Julia. My hart klop wild. “Kan ek nou na hom toe gaan?”

Julia skud haar kop. “Nee, nog nie nou nie. Hy’s in intensief en die volgende paar ure is krities.” Sy stap nader en neem my hande in hare. “Hulle het hom byna onder operasie verloor …” Sy sluk en glimlag, “Maar, Ramon is sterk, fiks en ‘n fighter. Dit het hom deurgetrek.” Sy druk my styf teen haar vas. “Hy baklei hard, Eliza. Hy baklei … vir jou. Wees net sterk, asseblief. Vir hom.”

Julia se woorde ruk my en ek voel skielik koud en warm tegelyk. Haar woorde speel in my kop … Hulle het hom byna verloor. Byna verloor. Hy’s ‘n fighter … Hy baklei vir jou. Wees sterk vir hom.

“Eliza,” stel Julia rustig voor, “Kom ons gaan almal huis toe, dan kom ons later weer terug, ok? Dit gaan anyway niks help as ons nog vir ure in daai restaurant sit nie. Dis te depressing.” Ek knik. “Ja, dis seker beter so.”

Julia, Desmond en ek stap stadig terug na die restaurant, waar die ander op ons wag. Sarah kyk bekommerd na my en dan na Desmond. Hy staar stil voor hom uit en besluit om vandag nog met Sarah te praat. Hy moet haar vertel dat hy weggaan. Ek is nog briesend kwaad vir hom, maar besluit dat hy en Sarah dit eerder self moet uitsorteer.

In Julia se kar staar ek stil by die venster uit. Bome, huise en straatligte swiep in ‘n waas verby ons. Sy loer na my en vra nuuskierig, “Wat het toe buite tussen jou en Desmond gebeur?” Ek vertel haar en word sommer weer van voor af vies.

“Hy kan mos nie net sommer net so weghardloop nie!” vaar ek woedend teen hom uit en skud my kop heftig.

“Ek dink ek verstaan waar hy vandaan kom, Eliza. Maar dit gaan nie maklik wees vir Sarah nie. Ek glo ook nie dis nodig vir hom om weg te gaan nie.” Julia trek haar oë op skrefies en byt haar lip ingedagte. “Ek vermoed dis meer ‘n skuldgevoel as iets anders. Hy weet ons is almal baie na aan mekaar en aanvaar waarskynlik dat ons hom blameer vir wat met Ramon gebeur het.” Ek luister, maar antwoord nie. Dan kyk sy na my en vra, “Weet jy wat Desmond nou gaan doen?”

Ek skud my kop, “Nee, hy’t nie gesê nie.”



Op daardie oomblik stop Desmond voor Sarah se huis. “Kom jy in?” vra Sarah. Sy kyk stip na hom. “Jy het die hele pad skaars drie woorde gepraat, Desmond. Wat gaan aan? Is dit Eliza?” Hy skud sy kop, klim uit en glimlag effe verwese na haar. “Kom ons gaan in, dan praat ons.”



Nadat ek gestort en ander klere aangetrek het, sit Julia en ek op my houtdek, drink groen tee en beplan om oor ‘n rukkie weer hospitaal toe te gaan. My voordeurklokkie lui en ek maak oop. Sarah staan met rooigehuilde oë in die deur.
“Eliza …” Sy snik en ek druk haar. Ek neem aan Desmond het haar vertel. “Kom saam, Sarah. Julia is op die dek.” Sy knik en stap gedwee agter my aan. Sarah vou albei hande om haar teekoppie en teug stadig daaraan. “Hy sê hy moet weggaan omdat hy my liefhet.”

“Sarah …” Ek streel oor haar skouer, “Hy is werklik lief vir jou. Moenie daaraan twyfel nie.” Sy sug, verdwyn in haar eie gedagtewêreld en ek wonder of sy my hoor.

“Ag, weet julle wat?” grinnik Sarah na ‘n ruk sinies en plonk haar koppie hard op die tafel neer. Sy sug moedeloos en leun terug in haar stoel. “Ek dink ek moet dit nou maar net eenmaal aanvaar … my liefdeslewe is en was nog altyd ‘n gemors.” Sy vee ‘n traan vinnig en so ongemerk as moontlik af. Haar stem bewe, “Maar, ek het regtig gedink Desmond en ek …”

“Waarheen gaan hy?” vra Julia sag.

“Hy weet nog nie, óf hy wil my nie sê nie.”

“Sarah,” sê Julia, “ek dink hy het net tyd nodig om oor die ding met Ramon te kom.”

“Ja,” las ek by, “hy trek hom dit verskriklik aan. En ek het hom boonop erg uitgetrap omdat hy wil weggaan. So, die arme man het dit dubbel en dwars gekry vandag.”

“Gee hom net tyd, Sarah,” stel Julia voor. “Ek is seker as hy rasioneel oor alles dink, sal hy besef dat nie een van ons hom blameer vir wat gebeur het nie.”

Sarah knik stil en staar in haar teekoppie, haar gedagtes weer dwalend en ver, ver weg.



Julia, Sarah en ek staan by die verpleegstasie en wag vir Dokter Burger. Matrone het hom ‘n rukkie terug geskakel en ons laat weet dat hy binnekort by ons sal wees.

‘n Lang, skraal, middeljarige man met ‘n silwerraambril en stetoskoop om sy nek stap haastig nader. Julia stel ons voor en ek vra onmiddellik, “Wanneer kan ek na Ramon toe gaan, dokter?”

“Julle kan nou saam met my kom,” antwoord hy gemoedelik. “Maar, net vir ‘n baie kort rukkie. Hy is nog nie buite gevaar nie.” Hy sien hoe ek verstyf en glimlag vriendelik. “Eliza, sy toestand is stabiel en ons monitor hom deurentyd.”

Die gang waarmee ons afstap is lank en ruik antisepties. Ek ril. Dokter Burger gaan staan uiteindelik by ‘n deur en sê, “Net ‘n paar minute, asseblief.” Sarah en Julia staan diskreet eenkant, dan druk Julia my hand en my hart klop wild.

Ramon lyk bleek, sien ek en stap stadig nader. ‘n Verpleegster sit in ‘n stoel langs sy bed en monitor die masjiene wat om hom staan. Hy het ‘n suurstofmasker oor sy gesig en ‘n klomp pypies in sy arms. Liggies flikker op die masjiene om hom en alles is grafstil, behalwe vir ‘n sagte whoosh-whoosh geluid wat een van die masjiene maak. Sy oë is toe en hy lê doodstil. Ek staan langs die bed en sluk diep. Sybolyf is kaal en sy arms lê bo-op die deken. Ek haal diep asem en steek my hand versigtig uit om aan hom te raak. My hand vou om syne en ek fluister, “ Ramon … be strong, baby … I love you.” Hy beweeg nie en ek wonder of hy ooit weet ek’s hier. Kan hy my stem hoor?

Hy lyk so weerloos … My oë is nat en ‘n traan drup op sy hand. Net toe ek dit wil afvee, voel ek sy vingers onder myne beweeg. Het ek my verbeel? “Ramon …” Ek voel of ek hom wil vasgryp, styf teen my vasdruk en hom nooit alleen wil los nie, maar ek staan net bewegingloos na sy hand en staar. Daar is dit weer. “Hy het sy vingers beweeg!” fluister ek opgewonde. Die verpleegster kyk na die monitors, sien ‘n verandering in die digitale syfers en sê ferm, “Die pasiënt moet rus, asseblief. Dokter Burger het gesê net ‘n minuut of twee. Dit sal beter wees as julle nou eers gaan.”

Ek buk af, streel sag met my lippe oor sy hand en fluister, “I love you, Ramon, I will always, always love you.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Son 24
Baie lekker gelees aan hierdie spanningsvolle hoofstuk!
4 jaar 3 maande 6 ure oud


Alice
Herlik gelees en meegevoer. Nou vir die uitklophou! Ons wag in spanning...
4 jaar 3 maande 6 ure oud


sOn (24)
Ek kan niks meer by sê as wat reeds gesê is nie.

Sterkte met jou boek.
4 jaar 3 maande 16 ure oud


dogters
Carol dit is jammer dat die verhaal einde se kant toe staan. Met die slothoofstuk op hande hoop ek dat daar nog verhale ui jou pen gaan kom
4 jaar 3 maande 1 dag 14 ure oud


Dogter van die son, luister. . .
Ek stem sooo volkome saam met Jan. . . Eish, die spanning vreet my nou behoorlik op!

En ek het 'n onheilspellende vermoede dat jou laaste hoofstuk iets brrrr! gaan oplewer wat nie een van ons kon voorsien het nie!

Agge nee suster, jy moet nou seblief die laaste dotjie op die i druk. My senuwees is totaal en al uitgerafel man!
4 jaar 3 maande 1 dag 22 ure oud


24
Ja, dit kan nogal werk as vervolgverhaal, Carol :-) sjoe, jy het nou hard gewerk aan die verhaal en dit bly nog steeds interessant hier in die pylvak. Sterkte met die finale hoofstuk en afronding :-)
4 jaar 3 maande 1 dag 22 ure oud


Dogters
Waneerkom hy in boevorm uit? Sal dit as 'n geheel wil lees. Dan hoef ek nie elke keer in spanning te wag vir die volgende hoofstuk nie.
4 jaar 3 maande 2 dae 1 uur oud


Dogters
Wel, verskoon my taal asseblief, maar "SHIT" het nou gesit en tjank (sies vir my?). Pragtige hoofstuk en met emosie belaai.
Pragtige werk.
4 jaar 3 maande 2 dae 2 ure oud


Sepie
Emosiebelaaide hoofstuk, sjoe!

Ek dink nie dis nodig om die vlg sinnetjie (hieronder aangehaal) by te sit nie - dis onnodige verduideliking.

"Sy het dit gedoen omdat my bloes vol bloedmerke is en ek nie wou huis toe gaan om skoon klere aan te trek nie. Hoe kon ek?"

Ek stem saam met Kiekies hieronder - ek wens jou storie kan net aan en aan gaan soos 'n sepie... Mens sal die karakters mis en heeltyd wonder wat hulle doen wanneer die boek voltooi is. Geniet die skryf vd vlg hoofstuk.
4 jaar 3 maande 2 dae 4 ure oud


24
Awh Dem....dis so lekker om die storie te lees!! Jy raak al die fasette van emosie en begrip, in detail aan. Jy laat geen klip onaangeraak nie en jy doen dit goed!! Bloemen goed!! Dis so jammer dat hierdie storie nie net kan aangaan soos 'n never-ending soapie nie!

Regstellings:
Sy het dit gedoen omdat my bloes vol bloedmerke is en ek nie wou huis toe gaan om skoon klere aan te trek nie - Ek het iets nodig gehad om die bloedmerke te bedek, maar ek wou nie huis toe gaan om ...
staar nikssiende in die verte in - staar nikssiende die verte in
word sommer weer van voor af vies. - word sommer weer van vooraf woedend/kwaad.
Hy kan mos nie net sommer net so - Hy kan mos nie sommer net so
Sybolyf is kaal - Sy bolyf is kaal
4 jaar 3 maande 2 dae 4 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    VREEMDELING IN MY VADERLAND

    deur Piet Schoombie

    Dit handel oor die probleme wat baie Suid-Afrikaners in die nuwe SA ondervind en hulle wroeging met die vraag of hulle moet ry of bly. Lesers sal hulle ten volle kan vereenselwig met die realiteit van korrupsie, misdaad en moord in dié boeiende verhaal..



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar