Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

[Waarin ons weer iets ervaar van die agtergrond van mense, en kan iets vermoed oor die verlede. Maar pasop, vermoedens is maar net vermoedens! Waarin ons ook kan sien hoe mense met non-verbale taal met mekaar kommuniseer. Of hulle mekaar verstaan? Asook iets oor mense met reuseverstandsvermoë wat ook niks verstaan het nie.]


„NOU GOED, LUITENANT. Na die ongeplande pouse, gaan asseblief voort. Begin by die begin.”

    „Eerstens vra ek beleef om my nie as luitenant aan te spreek nie. Ek het my ken­tekens afgeskeur, soos ek sien dat my kollega teenoor ook gedoen het. Ek begryp uit u gesprekke dat hier geen oorlog gevoer word nie. Daar is nie oorlog nie, daar kan nie soldate wees nie...”

    In fluistertoon: „Dis mos die offisier wat Georg uitgepiets het...”

     „Ja, ek is daardie offisier, oftewel, ek wás daardie offisier. En tweedens vra ek hiermit nederig om verskoning dat ek aan sulke barbaarse dinge deelgeneem het. Ek is skuldig aan misdaad teen die mensheid. Ek moet u straf aannneem, soos wat u besluit.”
 
    „Nou kom, luitenant...”

    „Asseblief...”

     „Nou goed dan. Maar hier is nie die tyd om daaroor te praat nie. Vertel u storie, soos dit gebeur het. Dit wat ons nou en hier betref.”

     „Nadat ons die gevangenes weggestuur het, hoofsaaklik omdat ons voedsel­voorraad skaars geword het, het ons  dis die bemanning van die pos en hul families  probeer om 'n gereelde lewe in te voer. Om voedsel te soek was seker ons belangrikste wens, en ons hét 'n boerdery op die been gebring, en ons hét die sosiale verhoudings probeer reguleer... Maar u hoor al aan my woordkeuse, ons kon nie wegkom van die ou strukture nie. En wat julle uit die ou... En soos ons sien hoe hierdie eiland van geluk en..., en vrede tot stand gekom het. Nouja dít het ons níe reggekry nie. Ek wou saligheid sê, maar dit is  waarskynlik nie op hierdie aarde weer te kry nie...”


    „Bly asseblief by die tema.”

     „Daar het fraksies ontstaan, en dit het handuit geruk, sodat later die partye begin het om op mekaar te skiet. Ongeveer 'n week gelede het iemand  waarskynlik per abuis, ek weet nie hoe nie  'n voltreffer op die ammunisiestoor afgevuur. Daar was 'n reuse-ontploffing, en toe ons ons kom kry, het ses oorlewendes mekaar treurig in die oë gekyk. Jelena het die idee gehad om in hierdie rigting te trek want... Jelena is my bruid wat in die siekbaai lê. Sy..., sy het gemeen, as die oorloig vóór ons is, is ágter ons stilte en waar­skynlik minder besmetting, aldus in hierdie rigting. Arnold  hier, tweede van regs  Arnold het geweet van 'n helikopter wat ons miskien kon repareer. En so was dit ook. Ons het dit, so goed ons kon, instand gebring en vanoggendvroeg aan die gang gekry. Maar ongelukkig..., maar ongelukkig... Maar Jelena... Kan een van julle verder vertel?” Hy knik sy kop en leun sy voorkop op sy hand. Arnold maak 'n handbeweging asof hy in die klas wil meld.

    „Arnold? Nee, bly sit, man.”

     „Voor ons kon wegvlieg, moes ons die vliegtuig horisontaal kry, almal moes êrens iets vashou of trek of stoot. En dan, sodra ek afgelig het, dadelik inspring. Maar Mevrou het iets verkeerd gemaak en het gestolper toe sy inklim en uit vyf meter hoogte afgeval. Ek het neergedaal en sy is weer ingelaai, maar...” Hy snuif diep en knyp sy oë toe.

    „Vertel ons wie julle is. Julle het seker almal name.”

    „Ons offisier se naam is Franticzek, dan kom Esteban, ek is Arnold, hier langs my is Cilia, Franticzek se suster, en op die ander kant Bertrand en Mustafa. Mevrou is die bruid van Franticzek. Ons mans is almal in diens van die konsentrasiekamp met korporaal-rang. Dit wil sê, ons was.”

    Uit die rigting van die deur kom 'n vroulike stem: „Dan moet jy ook vir my Jelena sê, Arnie.” In ons rolstoel sit 'n vreemde vrou en word deur Naomi in die saal ingestoot. Ek gee 'n teiken, en Braam loop soos 'n vetgesmeerde blits kantoor toe en kom terug met die lêer „Privaat” uit die brandkas. Ek haal 'n koevert daaruit en gee dit vir Braam. Hy stap oor en oorhandig dit aan die vrou.

    Sy maak dit oop, lees wat daarin staan en slaan haar hande oor haar mond: „O, nee! Onee, onee.” Sy snik dat haar skouers sidder, skeur koevert en inhoud verwoed in klein stukkies en strooi die stukkies deur die lug, terwyl haar oë van die trane glinster.

    „Ek het niks gesê nie, Lief.” sê Franticzek.

    „Dit weet ek mos, jong. Maar praat jy maar. Nou moet jy praat. Ek moet nou weer gaan slaap.” Naomi draai die rolstoel om en ry haar pasiënt terug na haar kamer toe.

    Oom Kobus mompel, „Jelena. Jelena? Jelena?”

-----☼-----

„Volversameling, volversameling,” sê Stanislaw senuweeagtig.

    „Maar nee, my ou. Maar nee, my liewe ou vriend,” sê Hermien gerus. Sy het haar selfbeheer herwin en lê haar hand op sy knie. Hulle drink tee in die kamer wat sy met Linda deel. LInda is by die volvergadering en die wêreld is 'n klein kokon wat vir net twee papies gebou is. „Ons het soveel dinge wat ons vir mekaar moet sê. Ek sê vir jou hoe ek jou vermis het, sonder om te weet dat jy leef. En jy sê vir my hoe bly jy is dat ons twee eindelik by mekaar uitgekom het.” Haar hand is warm en sag. Hy lê sy growwe hand op hare. Hy sê, „Voor jy in my lewe getree het, was alles leeg; die wêreld was een groot leë niks. En nou is jy daar. Alles is nou daar. Alles.” Hy vat haar ander hand en druk dit saggies.  Die kokon is tot berstens toe uitgevul.

-----☼-----

Die konferensiesaal se deur bars oop, „Generaal! Generaal!”

    Die klein vergaderinkie is onthuts. Dat iemand eenvoudig so kan instorm sonder verlof. Waar is die deurwagters?

     „Adjudant! Wat dink jy, waar is jy? Sulke gedrag kan nie ongestraf bly nie!”

    „Ja, maar, Generaal...!”

    „Moenie met ,Ja, maar, Generaal' kom nie!”

    „Verwyder hom.”

     „Ja, Meneer die Hoofdirektor.” Die generaal trek sy dienspistool, en skiet sy adjudant uit tagtig sentimeters afstand tussen die oë. „Laat dit 'n les wees vir almal wat ongevra by 'n geheimsitting inbreek.” Hy gaan sit om die knoppie te druk wat die kamer­diens roep om die lyk te verwyder. Daar spring die dubbeldeure weereens oop. 'n Stormwind bruis in en gooi die mense soos nat waslappies teen die oorkantse muur. Die na-stromende water wat hulle liggame teen die muur plat gedruk het, het hulle nie gesien nie. Die ligte het uitgegaan.

    Die pligbewuste adjudant wou hulle kom sê dat die jongste navorsing in die argiewe aan die dag gebring het dat juis in die gebied waar hul vesting gebou is, gedurende die twintigste eeu fracking-eksperimente uitgevoer is, lank voor dit alom bekend was dat hoegenaamd soiets bestaan. Die eksperimenteergebied was nie eers 'n halwe kilometer noordoos van die „eierdop” wat hulle ingesluit het nie. Die meterdikke ysterbeton dop was nie instand om die druk van 'n kilometer rots saam met die druk van drie kilometer water meer as twee jare lank uit te hou nie. Die adjudant wou hul lewens probeer red, deur hulle in die vlugtonnel in te loots.

    Die hoofbestuur van die sekerste onderaardse vesting van alle tye het nooit die boodskap gekry nie. Nie op hierdie aarde nie, nie in hierdie lewe nie.


©.5e.Junie2015......................................-----☼-----............................................................tje

(1230)(43260)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

DIE DODELIKE SPEL

deur neels claasen

Speurverhaal waarin luit. Kas Dreyer die moord op n smokkelaar ontrafel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar