Musiek & Lirieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Met my fanfare – tong-in-die-kies fanfare – “Maduvis se Tools”, het ek fouteer. Ek is nie jammer nie, die woord jammer bestaan nie in my bestaan nie. Dink voor jy doen!
Ek het gefouteer met die gevolg dat lesers nie mooi volg wat ek wou sê nie. Dit gebeur maklik dat mens fouteer, hoe kan ’n nietige sondaar soos ek dan nie ook fouteer nie ?
Op die vergadering het bismarck my aandag daarop gevestig en terwyl ek nou ook kort-been-lang-been saamsmelt, wil ek net verduidelik:
Ek het dit al klaar hier op die swartbord (Wat eintlik ’n groenbord is) geskryf. Julle moet dus net my wyserstokkie met die oë volg:
Die ‘Kleintyd’ storie verduidelik ek net – volg my stokkie-, na die reëltjie uit Rudi se gediggie en gooi ek dus net die ouvrou in die asblik ( MENSA se vervanging van ‘stuiwer in die armbeurs’)
Die fanfare verder is maar net my antwoord (Baie vriendelik – MENSA lede is verby menslik-aardslike emosies) op Maduvis se bedekte huil omdat sy verdroogde, onversorgde, skribblings nie op ’n trefferslys van die beste op die web geplaas kan word nie. Hy wil dat Woes ’n trefferslys daarstel wat oneindig loop.
Hy reken kreatiewe treffers is volop.
Dit is waar my teenvoeter inkom: -Volg my stokkie se punt – boontoe, kyk boontoe op die bord en hoor my aan; my stelling is – Kreatiewe treffers is skaars.
OK. Dit tot sóvêr.
Die reël onder die lede is, wanneer jy ’n vergadering van MENSA verlaat, smelt dadelik met die buite mense saam. Loop op die sypaadjie met jou een voet in die gutter, sodat jou beenlengte, net soos die gewone mens op straat ook verskil – een langbeen en een kort been. Geen mens op straat se bene is dieselfde lengte nie.
Hierdie is ’n eienskap van ons by MENSA, hierdie lidmate dink prakties. Ek het die ander dag saam met Herschelli ( Let ook op dat MENSA lede se name ietwat anders uitgespreek en gespel word(?). Wel, ek ry saam met hom en ons kom van oor die knop en sak die steil afdraand van die Magoebaskloof pas af.
Herschelli se bakkie is soos sy lewe – Intelektuele vermoeëns beteken nie jou liggaam is heel nie. Dus, Herschelli se bakkie se liggaam is nie baie heel nie en op ’n steil-skerp-afdraand-draai, klap die remkabel soos dit breek en die bakkie vat spoed. Spoed kon ek agterkom toe ek sien Herschelli moet skuins lê om die bakkie met fluitende bande om die skerp draaie te wangle.
MENSA lede is verby emosie stadium. Hulle breine is nugter, kalm en bedaard, ontledend, berekend en . . . oplossing-vindend.
My nugtere verstand bereken wel dat ons die gevaar-zone binnevlieg omdat die skerp draaie en die hoogere spoed maak dat die bakkie se wiele, al-om-die-links-draaie en al-om-die-regs-draaie, dieselfde patroon volg – daai kant se wiele lig van die grond af.
MENSA lede hoef nie vir mekaar te dink nie. Herschelli kom die ding ook agter en in sy skuinslê-om-die-draaie gee hy my opdrag:
“Wilhelmus,(Let op hoe regvorm MENSA lede my naam) praat jy Boontoe asseblief, ek kan nie, want ek moet met oop oge die bakkie hanteer. Maar vra tog net vir hulp om die bakkie op sy wiele te hou, ek sal my bes doen om dit in die pad te hou!”

Hierdie vooraf praatjie het betrekking: MENSA lede mors nie met asem en woorde nie.
Ek het ’n behoefte wat oor lange maande sterker en sterker groei in my wese. Ek het ’n uiterste behoefte aan ’n intrument vir ’n ding wat op my beplannings agenda is.
Ek benodig ’n bandopnemertjie wat regtig ’n bandopnemertjie is. Ek skraap die moed bymekaar ( Dit is al wat ek het om bymekaar te skraap want die res het ek, en daarvan is selfs veilig in ’n sak aan my liggaam vas) en ek vertrek Klerksdorp toe. Ek moet by ’n Incredeble Connection uitkom. Ons het hier in Potchefstroom ’n sootgelyke Winkel wat deur my geliefde vriende – die curry gemeenskap- besit word, maar ek glo dat ek in Klerksdorp ’n beter deal sal strike.

Op Vrydag, op die einde van die maand-dag, oortree jy nie deur Winkels toe te gaan nie. Ek het egter nood en my gaan is ’n moet. My nood is gebore oor ’n terloopse opmerking, net gister. Droog, baie droog –Alhoewel ons twee se kele verspoel in die stroom vars lemoen mampoer uit die ketel – gorrel hy en slaat my kalmte moertoe:
“Pa, die Safari Bar maak toe. Die Landsbergs het haar huur van die perseel opgeskort en sy moet uit en Vrydagaand gaan ek gratis vir haar musiek maak en Saterdag help ek haar ontruim.”
Die nuus was vir my ’n absolute skok. Die Kroegie ( van ruimte area, baie klein) het baie gesukkel on klandisie te kry. Toe koop die dametjie dit in haar armoede en met brute harde werk en goeie geesdrif, bring sy ’n juweel tot stand.
Hier, uit hierdie bottel vars gestookte mampoer kom nou twee Genies tegelyk.
’n Slegte een – met die nuus van die lekker plekkie se toemaak en dan ’n goeie een met die nuus dat die seun gaan optree.
Wag nou, julle is nie by nie, enige pa het trots ( OK, dit ook, maar ek show dit nie meer nie. Meeste van die kanaries is al oorlede en buitendien is daar nie meer staanplek nie) My trots is van so ’n aard dat ek dit graag wil bêre. Moenie vra hoekom nie, MENSA lede antwoord nie vra nie, hulle los op! Maar, vir my behoefte moet ek nou dringend ’n bandopnemertjie kry want die behoefte is om die seun se show te gaan opneem en dit te bêre.
Ek stop, met een helske gesukkel van verkeer en onintelligente gepeupel, voor die deur van die Incredeble Store en gaan in. Dadelik kom meneer curry na my en bied sy hulp aan. Ons kyk na bandmasjientjies en ek moet klou aan die toonbank. Die skok-water-vog verswel my oge en ek sien die vreeslike pryse wat swem in die oogwater.
Ek vra toe maar vir die een wat die goedkoopste is wat op ’n special is vir R999.99 en gaan na die betaal toonbank. Wel wetende dat my rekening balans, dieselfde as my bakkie se bande is – loop al op die canvis - , kap ek haar: Budget asseblief, 24 maande afbetaal en sit die Kredietkaart voor haar neer.
Sy swipe die kaart en lees wat die masjien sê, draai na my en gee my kaart terug: “ Jy het jou limit al oorskry meneer (en sommer giftig daarby) jy is kaalgat meneer!”
MENSA lede los op – Nee, jy is verkeerd! Jy dink nou aan smelt, soos in smelt van vernedering! – Issie. MENSA lede se breine is rekenaars en myne reken uit: Ek het die bandmasjien nodig.
Kyk Daar is twee dinge in die lewe:
Een : Nice to have
Twee: Must have
Myne is nommer twee en my brein redeneer: Wat is ek bereid om te offer? Ek dink en wik en weeg :
Ek het twee van . . . en kan seker maar een afstaan. Nee, Rudi het klaar daarvan gepraat en ek het openlik en eerlik vertel van pampoentjies en kalbassies en hulle sal nie die nikswerd een wil hê nie.
Wel, ek oordink ’n ander moontlikheid. Ek was polisieman. Ek het nie een nie, maar vele smokkelaars omgedop en uitgedop. Met die opdop-uitdop slag van een, val die klontjie goud , netjies toegerol in bruinpapier en versteek in sy kies, uit sy omgedopte bek toe ek hom voetehoog en kopstampende op die sement bearbei.
Ek het sy gat geskop en verjaag, die goudklont na Johnnie ‘G’ gevat en in sy ontvangs gewag.
Johnny G werk met juwele. Hy sit ringetjies in; hy sit ringetjies in naelstringe, tepels, koekielippies, oorbelle, neuse lobbe, ooglede en oogwimpers . . . waar wil jy ’n ringetjie hê, hê . . .?
Ek wag, sien beweging deur die skrefie in die verslete skermgordyn, sien hy kom uit en droog sy hande en ek vang ‘n glimps toe die kliënt haar pantie aantrek en ek wys vir Johnnie die goudklontjie en maak my mond wydoop en beduie met my vinger:
Sien jy hierrie tanne? Kroon hulle. Kroon die hele spul met hierdie goud.
Johnny G is kunstenaar en ek gaat lê oppie lêbankie en hy mikstok my bek oop en langs hom op die tafeltjie kniptang hy stukkie vir stukkie van die goudklontjie af en druk-druk en hamer-hamer en punch-punch met die puncher en vorm die mooiste tandkroontjies en gommetjie-gommetjie dit op my tanne vas en sê; “Byt sterk op jou tannie my Oompie” en vat my kop met een hand en my onderkaak met die ander hand en druk so hard dat die tamatiesous vis&chips windjie van my laatse ete onder uit fluit.

Dit is waar my oordink heengaan en ek vra vir Curry mond: “Wie koop goud?”
En onmidddellik kom daar ’n wesenlike verandering in sy oge, hy kyk rond, draai om en kyk rond, skuif langs my teen my sy, buig sy kop en trek sy mondhoeke na my kant toe en fluister; “Waar is die goud mister?”
“In my mond Curry, in my mond.”
Ek sien Curry is ook ’n ou smokkelaar en mondhoeksmile en skrefies oog: “ Hoeveel geld sinne?”
“Tot genoeg om die bandopnemertjie te betaal jou fool!”
“Kom, badkamer toe, die saak is reg.”
“Stop. Wag eers, gaan na die regmaker se office en bring ’n klein tangetjie saam – een met ’n skerp bekkie.”
Ek sien Curry behoort aan die Curry MENSA want hy vra nie verder nie.
Hy kom terug en ek volg hom badkamers toe. Ons staan voor die spieël en ek beduie hom; drie tanne se goudkrone is genoeg en maak my mond oop en sien die stukkie soldeersel wat nog aan die knyptangetjie se bekkie vassit en worry nie daaroor nie en voel hy vat en ek stop hom met my hand.
“Agter Curry, begin agter, jy moenie my beautiful spoil nie!”
Ek maak weer oop en check in die spieël dat die skelm nie van die ander krone steel nie.
Hy knyp, vat vas, ruk en pluk en sit die kroontjies een-een in my uitgestrekte hand.
Hy raak greedy en try my: “Mister moet nog een gee, ek dink hierdie is bietjie klein.”
“Los, Curry, los maar, ek sal by Game gaan kyk.”
Dadelik is hy happy en ek maak seker : “Geld!” En ek hou my ander hand en hy krap in sy gatsak en ek sien die rol en hy flip tien bloues uit en ons ruil.
Ek spoel by bek en die bietjie bloed en ons stap en by die betaaldametjie, wyl ek met die rughand nog tandbloed afveeg, pak ek die bloues soos tien kaarte voor haar uit. Huis toe sit ek my trotse besitting op my skoot;
Must have kos partykeer meer as geld maar ek is happy.
Ek het my kamera en my bandmasjientjie en ek ry kroegie toe. Ek het stres. Hierdie kroegie is klein en my seun het nie size nie.
(Sien, dis die ding wat maak dat hierdie storie nie punt bereik nie. Ek sien tussen julle oge die pleetz. As ek sê my seun het nie size nie, moenie só teleurgesteld lyk nie. Hy het baie size maar as dit by speakers kom het hy nie size nie)
My seun vat genoeg klank om al wat ’n dakskroef is, te lig. Maar ek sal maar sien wat gaan gebeur.
Ek kry my sitplek teen die muur op ’n stoel, hy kom groet my en bring vir sy pa sommer die kwart kasteel in die bottel. Ek fokus die kamera en ek fokus die bandmasjientjie en hy trek weg. Die kroeg is nie vol nie, dit is gepak en die lawaai is oorverdowend en ek kyk.
Hierdie kyk alleen is ses maande se werk. Ek sien mense , karakters, stories en verhale. Ek gaan ‘n paar in loop van tyd opdis.
Ek wil net ietsie nou noem.
Daar is in die militêr ’n ontwikkeling van klank opneem. Oor baie groot afstand kan die opneem-aparaat, indien gerig direk op die onderwerp, die klank opvang, net die klank waarop die aparaat gerig is en geen ander nie.
Ek was baie bekommerd. Seun se klank is soos sy . . .sy . . . baie oordrewe. Alles tril en hop en bewe. Ek verstaan. Vrolike mense praat en sing en vrolik ook nie sag nie en hy reken seker hy wil darem ten minste gehoor word.
Met hierdie kakofonie, gaan sit ek maar, en ek doen my ding. Die verskriklke dondering wat uit die luidsprekers kom, die mensegeraas met die dans hier teen my, laat my kamera en die masjientjie bewe.
Ek weet en dink en oorweeg. Ek moet los. Gaan bêre die goeters en gryp daai losboud wulps vas vir ‘n dans.Sy met haar aanvatlike rondings.
(Anita lê met blou opgehewe geopereerde oge, onkapabeld in die bed, tuis)
Maar, ek byt vas en troos myself: “ Al kry ek dan maar net genoeg storie materiaal vanaand.
Terug by die rekenaar sit ek met ingehoue asem en doen die oorplaas ding.
My reaksie en emosie op die resultaat het nie betrekking nie.
My respek vir tegnologie het betrekking. Die bandopnemertjie was die goedkoopste. Daar is wat tot R3000 kos vir presies dieslfde grootte en maak, net met beter tegnologie.
Wees asseblief gerus wanneer jy luister. Die gemors is net vir die eerste sekonde. Onmiddellik spring die masjientjie se tegnologie in werking en hy filter.
Hy filter uit. Die kroeg mense hoor jy effe, die orkes het bestaan uit:
Hansie op die tromme, Doppies op die baskitaar en Boeta sing en doen die lead.
Ek het die opnemertjie op Boeta gerig. Luister net, die ding verdoof alle ander geluide en luister net daarna waarheen dit kyk. Dit is vir my ongelooflik.
Jy sal nie verstaan nie. Ek verstaan, want ek is basies maar ’n bok, skaap, hoender, kool en tamatie man.
Die opnames is absoluut power maar ek is uitdagend daarmee omdat ek wil dat ons, as selfgerekende kunstenaars, met kunstenaars oor, emosie en verbeelding, moet luister hoe, ja hoe, kan ’n kunstenaar se instrument, in instrumentale taal ’n storie vertel.
Miskien is ek besig om van my kopaf te raak. Miskien droom ek en sien visioene. Maar kom ek vertel jou. Indien jy nie saam met my droom nie, is jy ’n verlore mens.
Die storie wat Boeta en sy kitaar hier vertel, is bekend.
Noem dit : Vrydagaand.
Laat jou gedagtes maar wegvoer deur die kitaar en dink jou eie dink.

Willie F van Tonder
2012/07/28



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

sjkuusj Nig Rexsj
Ish 'ie pille wat'ie werk met 'ie pampoer'ie.
Ma' ek isj lief vi' jou.
7 jaar 4 maande 2 dae 18 ure oud


rex
incredeble ...
Willie, ek is teleurgesteld. Ek is seker jy het hier self 'n bietjie te veel van jou heerlike drinkgoed gebruik. Jy skryf onsamehangend, spel vrot. En die MENSA dinge?

En incredible lyk so.

Jy gaan al weer nie jou pennevrugte na voor jy dit publiseer nie. En dit wys!
7 jaar 4 maande 2 dae 19 ure oud


Jou yster!
My wereld! En toe is daar musiek danksy Wolfman se besorgdheid, kennis en gewilligheid om hand uit te steek!
Groooot dankie jou yster!
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 13 ure oud


MY INCREDEBLE GOUE TAND
Nou sit ek suurbek want nes Irma kon ek nie die kitare en die snare hoor sing nie. My blikgoedtegnologie sit nog met 'n slinger aan en dryf homself nog op parafien en weet nie van musieklik te raak nie. Gelukkig het jy darem ook vir ons dowes 'n voorskriffie gegee en kon ek so ietsie lees. En maggies mens, jy mag maar vertel!
7 jaar 4 maande 1 week 3 dae 17 ure oud


Pragtig
Die kitaar is pragtig.
7 jaar 4 maande 1 week 4 dae 8 ure oud


Goud
Ek dink, al moes jy nog 'n paar tande laat ontkroon het, sou daai opnemertjie steeds n bargain gewees het! Ek kon mooi hoor: Afrikaanse R+B/Jazz. Het selfs die agterstewe op die stoel saam gerol.
7 jaar 4 maande 1 week 4 dae 9 ure oud


Ita
tand
heerlike vertelling Willie en ek is mal mal mal oor die incredible connection tussen jou tande-rykdom en jou kind se goue talent
7 jaar 4 maande 1 week 4 dae 10 ure oud


Vrydagaand
Willie, MENSA, maar jy kan storie vertel.

Nee kyk, hierdie apparaatjie was definitief goud werd -- ek's meer as beïndruk en die kitaar is puik, puik, puik! Ditto die sanger!
7 jaar 4 maande 1 week 4 dae 11 ure oud


Vrydagaand
Aai, aai, die witborskraai!

Wilhelmus, ek kry die song nie tot spele nie. Miskien moet jy hoor of Incredible Curry die juiste ding aan jou verkoop het.

Groete.
7 jaar 4 maande 1 week 4 dae 12 ure oud


*
Cogito, ergo sum?
7 jaar 4 maande 1 week 4 dae 13 ure oud



Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar