Resensent: Lourien Leeuwner
Skrywer: Derick van der Walt
Eerste Uitgawe: 2011 – Tafelberg Uitgewers
Hoopvol is Derick van der Walt se derde boek (na Lien se lankstaanskoene en Wilem Poprok) om ‘n welbekende letterkundige prys vir jeuglektuur te wen. Hierdie boek is in 2011 met die Silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon, en nadat ek hom gelees het, is die rede duidelik: die boek is byna onmoontlik om neer te sit.
Hoopvol is twee stories van Natalie, die meisie met die groot drome, vasgevang op ‘n klein dorpie en Ben, die seun wat alles verloor het en die wêreld moet inboender om sy wildvreemde pa op te spoor. Ben en Natalie se stories sluit onverwags bymekaar aan om een aangrypende wenverhaal te vorm.
Die storielyn is in geen opsig vervelig of voorspelbaar nie en elke paragraaf sê net genoeg om die leser aan die lees te hou.
Hoewel die teikenmark hoofsaaklik tieners is, sal Hoopvol jonk en oud kan vermaak, en teen slegs R140-00 by Suid-Afrikaanse boekwinkels ‘n moet-hê vir enige boekliefhebber. Selfs die wat nie hou van woorde nie, kan passievolle lesers word na hierdie wenverhaal.