Resensies

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het die laaste paar maande baie resensies van Afrikaanse en Engelse rolprentgangers gelees oor die Afrikaanse rolprente wat in die laaste tyd vrygestel was. Negatiewe kommentaar oor al die rolprente is nie altyd baie goed ontvang nie. Sommige mense het selfs mense wat negatiewe kommentaar gelewer het met kru taal sleg gesê.
Dit is waar dat Afrikaanssprekendes jare lank al uitgesien het na rolprente in Afrikaans. Ek was een van hulle. Op ‘n manier is ek bly oor die oplewing in Afrikaanse rolprente. Ek hoop ook dat daar nog baie meer in die toekoms gaan wees.
Ek moet egter ook eerlik wees en sê dat ek hoop dit gaan van baie beter gehalte wees. Om dit te vermag moet rolprente wat nou vrygestel word wys dat daar ‘n mark daarvoor is. Dit moet geld maak...
Dit bring ons egter by nog ‘n probleem. Die mark vir Afrikaanse rolprente is net soos die mark vir Afrikaanse musiek maar baie beperk. Dit is duidelik dat dit alles deur vervaardigers van Afrikaanse rolprente ingedagte gehou word wanneer hulle die konsepte vir rolprente bedink as ook die rolverdeling. In die opsig kan mens hulle in ‘n sekere mate nie juis blameer vir die soort rolprente wat gemaak word nie. Hoe meer mense oorreed kan word om dit te gaan kyk, hoe beter. Daarvoor het ek begrip. Maar die manier hoe dit gedoen word kan op die lang duur ook baie nadelig vir die Afrikaanse rolprent wees.
Die probleem is net dat die gemiddelde Afrikaanse rolprentkyker later moontlik dieselfde houding sal inneem as die kopers van Afrikaanse musiek. Afrikaanse musiekverkope is besig om af te neem. Selfs die vervaardigers van Afrikaanse musiek is bekommerd daaroor. Tot van die bekendste en gewildste musiekkunstenaars se verkope is besig om af te neem. Die rede hiervoor is dat mense minder en minder tevrede is met die musiek wat deesdae vrygestel word. Nie net klink die meeste daarvan dieselfde nie, maar in werklikheid is daar deesdae weinig iets nuut om werklik na uit te sien.
Een van my kollegas het ‘n paar weke gelede die volgende gesê: “Ek spandeer nie meer my geld op Afrikaanse musiek nie. Ek sien net nie die sin daarin nie. Al tyd wanneer ek die musiek wat deesdae vrygestel word luiste is wanneer ek saam met die manne kuier en ek aangeklam begin raak. Maar op daardie stadium begin enige gemors in elk geval goed klink!!!”
Dit is wat met Afrikaanse rolprente gaan gebeur as dit op die trant voortgaan. Mense geniet dit nou want daar was lanklaas so iets. Maar wat as die Afrikaanse rolprentkyker iets beter begin soek? Wat as hulle dit dan nie kry nie en teaters begin leegloop as Afrikaanse rolprente vertoon word?
Die probleem met die nuwe Afrikaanse rolprente is dat die stories meesal maar eng is. Met “Semi Soet” was daar selfs ‘n storielyn uit “Pretty Woman” gaan leen wat net nie in die rolprent gewerk het nie. Die karakter van die “Jackal” in “Semi Soet” werk net nie terwyl Richard Gere se karakter in “Pretty Woman” geslaagd is.
Die ander groot probleem is die gebruik van bekende musiekkunstenaars net om hul aanhangers te aan te moedig om die rolprente te gaan kyk. Die probleem is nie net dat hulle glad nie kan toneelspeel nie, maar dat van hulle al in meer as een rolprent gesig gewys het sonder om werklik ‘n waardevolle bydra tot die groei van die Afrikaanse rolprent te lewer.
My sewe jarige dogter is ‘n groot aanhanger van Bobby van Jaarsveld nadat sy hom in “Liefling” gesien het. Die DVD het my dus al ‘n hele paar rand gekos om te huur as ek DVD’s gaan huur. As sy opstaan op ‘n Saterdagoggend, nadat ek maar weer toegegee het die Vrydag en die DVD weer vir haar gehuur het, kan jy seker wees sy gaan “Liefling” in die DVD spelers sit. So het ek een oggend Sonja Herold “Ek verlang na jou hoor sing.” Dit was egter nie “Ek verlang na jou nie” maar “Verlang jy ook na hom”. Hoe sinneloos. Dit was nie nodig dat Sonja dit in die rolprent moes sing net omdat mense haar daarmee vereenselwig nie. Dit sou beter gewerk het as die “dogter” en haar “ou” dit in die rolprent gesing het as dit dan nodig was dat dit ‘n duet moes wees. Dit sou baie beter gewerk het in die storie.
Net so sinneloos was die gebruik van Carike Keusenkamp, eers as ‘n verkeerskonstabel op die pad en toe as ‘n ryk vrou agter in ‘n antieke motor. Dit ook net om haar en haar liedjie in die rolprent te kon gebruik.
Bok van Blerk was ook maar swak as ‘n gewese rekkie in “Platteland”. Hulle wou Rambo en McCyver naboots en het klaaglik misluk om Bok van Blerk as ‘n sagte, tawwe rekkie te verkoop.
Roepman was tot dusver volgens my die beste poging met sy foute en al. Baie ouer mense wat in daardie tyd groot geword het, het baie te sê gehad oor die uitbeelding van die Afrikaner en veral die skuim “gepieppiery” soos in die rolprent uitgebeeld.
“Getroud met rugby” was ook in baie opsigte net, net aanvaarbaar. “Saak van geloof” het dit ook maar net gemaak as ‘n aanvaarbare rolprent. “Hanna Hoekom” was vir my persoonlik ‘n mislukking, seker maar omdat ek nou reeds twee jaar hulp verleen aan addisionele taal leerlinge wat die boek behandel en die storie goed ken. Dit het ook nie gehelp dat een van die vier swakste aktrises in die land, volgens myself, in die rolprent gespeel het nie. Beslis nie Anna-Mart nie. Haar spel in “Die storie van Klara Viljee” was onverbeterlik.
Dit is die ander probleem met die Afrikaanse rolprente wat in die laaste tyd vrygestel was. Swak toneelspel! Dit herinner my baie aan Hayden Christensen wat, volgens myself wat ‘n groot Star Wars aanhanger is, Star Wars vermoor het. Mark Hamil se toneelspel in die eerste drie Star Wars rolprente was nou nie juis iets om van te praat nie maar Hayden Christensen was selfs deur die grafiese karakters oorskadu.
Maar genoeg van die Afrikaanse rolprente wat die laaste tyd vrygestel was. Daar was in die verlede ‘n hele paar rolprente in Afrikaans vrygestel wat die moeite werd is om oor en oor te kyk. Persoonlik is ek nie so mal oor “Fiela se kind” nie. Dit kon beter gewees het! Dit is egter stukke beter as die rolprente wat deesdae vrygestel word, “Paljas” bly maar een van my gunstelinge. Net so, “Nag van die 19de”. Terloops, dit was “Nag van die 19de” wat Steven Spielberg oorreed het om Embeth Davidtz ‘n rol in “Schindlers List” te gee.
Die rolprent, “Die storie van Klara Viljee” bly maar ‘n uitstekende rolprent.. “Hoor my lied” sal ek enige tyd weer kyk, foute en al.
Die rolprent “Boetie gaan border toe” en sy opvolg was nou nie juis iets om oor opgewonde te raak nie maar dit het tenminste nie voorgegee om te wees wat dit nie was nie. Mense het dit gaan kyk juis omdat dit net ligte vermaak was en as sodanig bemark was. Terloops, Anold Vosloo sou beslis nie my keuse gewees het vir die rol van Saul Barnard in “Circles in a forest” nie. Ek wens iemand kan die geld bymekaar maak om die boek in Afrikaans te verfilm en reg daaraan te laat geskied. Dit bly maar ‘n fantastiese storie al het jy dit tien keer gelees. “Circles in a forest” het dit nie vir my gedoen nie.
Dan is daar die “Kandidaat” en “Broer Matie” wat baie mense omgekrap het. Broer Matie kon egter ook sonder die onnodige komiese oomblikke en ‘n baie sterker storielyn gedoen het.
Dan was daar ook die komiese rolprente waarvan Piet se Tante maar net een is om te noem. Onskuldige pret maar het dit my nie laat lag nie.
Ek kan “Paljas”, “Nag van die 19de” en “Die Storie van Klara Viljee” enige tyd aanbeveel om te kyk.
Van “Paljas” en “Nag van die 19de” sal ek in die volgende week of wat ‘n volledige resensie hier plaas. Al wat ek nou kan sê is, kry dit en kyk self of jy met my saamstem of nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

***
Ek geniet meeste van die afrikaanse rolprente, maar die sangers werk nie altyd as akteurs nie. Veral nie in daai Loxton fliek nie. Het jy al Lien se lankstaan skoene gaan kyk. Leon van Nierop gee dit maar 6/10, maar sê dit is 'n moet sien fliek.
6 jaar 11 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


Dankie vir die
veral ons in die buiteland raak uit voeling met die lewe en dus ook die vermaak in SA en mens wil graag weet wat daar is wat die moeite werd is om in die hande te kry wat byval by die publiek daar vind.
7 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 12 ure oud


Die Afrikaanse Rolprent
Ek het die artikel weer herlaai omdat ek verkeerdelik Alice Krige genoem het eerder as Embeth Davidtz wat wel die rol van "Tessa" in "Nag van die 19de" gespeel het.
7 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 20 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar