Resensies

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ongeveer honderd jaar gelede was die teater vasgevang in ‘n eenheids-skoendoostoneel, alles het in ‘n kamer afgeloop, en die toeskouers het deur die vierde muur van die kamer ingekyk. Later het dit oopgebreek, en ‘n toneel kan vandag verskillende vlakke en dieptes hê. Toe die televisie in die vyftigs en sestigs deurgebreek het, was die formaat, in die VSA in elk geval, weer die van die loerkassie met sig deur die vierde muur of venster van ‘n kamer; ook dit het oopgebreek. In die bioskoopfilm was daar van aanvang aan meer vryheid; die tonele was binne, buite in die natuur of in ‘n vreemde land, daarstellers het van een plek na ‘n ander beweeg – en is gefilm terwyl hulle beweeg, in ‘n motor, op ‘n perd – al geselsend of skietend soos die verloop van die storie dit verlang. As iemand hedendaags soiets soos die loerkassie of skoendoostoneel wil bring, doen hy of sy dit bewus en met ‘n doel. Yasmina Reza het ’n stuk geskryf met ’n eersopvoering in Zürich in 2006, en Roman Polanski het dit in 2011 in Parys gefilm.  
   Ons loer so te sê deur die sleutelgat en kyk wat gebeur in die woonstel langsaan: „
Voyeurisme” word dit genoem.

[Le dieu du carnage / Der Gott des Gemetzels ; outeur: Yasmina Reza ; regie: Roman Polanski ; daarstellers: Kate Winslet, Jodie Foster, Christoph Waltz, John C. Reilly; Frankryk; 2011; 79 min.]

Wat is, alreeds in die voorspan, opvallend? Vier Daarstellers, drie Oscarwenners en ‘n meermalige  „nominant”. ‘n Regisseur van wêreld-klas wat sy neus nie oor die VSA-grense  mag waag nie, draai in Frankryk ‘n film wat in New York afloop. Die outeurin maak momenteel ‘n groot naam in die teaterwêreld...
   Wanneer ek soveel vooruitpropaganda lees, word ek skepties: Wie wil my watse vrot tamaties verkoop, dat hy sulke loof- en prysliedere moet gaan staan en aanstem? Maar dis nie dat die tamaties vrot is nie, dis dat die kis mors is.
   Dit gaan om ‘n kind, ongeveer twaalf jaar oud, wat ‘n ander kind met ‘n stok twee tande uitslaan. In die teáter sien ons nie die kind nie, want dit gaan daarom hoe die ouers ondermekaar hierdie voorval op ‘n openbare speelplek „verwerk”, hoe hulle sosiaal en emosionaal daarmee omgaan. (In die eerste instelling van die fílm sien ons van ver hoe ‘n groep kinders met mekaar speel, tot stryd kom en – woeps! Te laat, verby.) Die ouers van die beseerde kind nooi die ander ouers uit om die gebeurtenis „onder agt oë” en „soos siviliseerde mense” te bespreek (POG = probleemoriënteerde gesprek).
   En wie is die ouers? Met sulke ver-uitmekaarlopende persoonlikhede kán geen  beskaafde gesprek tot stand kom nie. Die vader van die beseerde seun, Alan Cowan, is ‘n slim suksesvolle advokaat (Waltz) wat gedurende die gesprek met sy kliënte in ‘n farmaseutiese konsern oor sy selfoon moet telefoneer en raad gee want een van hul medikamente is waarskynlik gevaarlik vir die gesondheid. Sy vrou, Nancy, is ‘n suksesvolle investment-banker (Winslet), bietjie koud en onnabaar, tot ‘n punt... Die vader van die beseerde seun is Michael Longstreet, ‘n beskeie, vredeliewende ysterwarehandelaar (Reilly) wat in die verloop van die verhaal toon dat ook hy voete van klei het; sy vrou, Penelope, is ‘n vrou wat probeer skryf (Foster), ‘n bietjie psigoties, iemand met ‘n missie, iemand wat die wêreld wil red.

Dit vang alles vredevol aan. Eers aan die deur van die woonstel lui, – O, daar is u al, kom binne! En, nog in die deur staande lyk dit asof die hooflikheidsbesoek gou verby is en ons kan na vyf minute huistoe gaan. Maar een van die karakters vind êrens ‘n haakpunt, en dan gaan sit ons dog en drink espresso. En as ons net klaar is en wil opstaan, het iemand anders ‘n bemerking gemaak wat nie pas nie. En Alan se kliënt begin ‘n ry van oproepe wat later die gasvrou (en ook die gehoor in die saal – agter die sleutelgat) ontsenu. As die groep in die deur staan en groet, val nog ‘n bemerking... Dan „rêrige” koffie. Dan, o skande, Nancy kots op die koffietafel met waardevolle kunsboeke daarop. Een maal kry die Cowans dit reg om tot by die hysbak te loop, maar Alan het geen ontvangs nie en moet weer terug in die gang om te bel. Terug in die woonstel.
    In die knap tagtig minute vind ‘n reëlregte „slagting” plaas: Die families keil mekaar op, na ‘n tyd baklei die mans saam teen die vrouens, elkeen het sy eie woedaanval, dan weer word elkeen, om die beurt, deur alle andere aangeval. Om die beurt word elkeen afgeslag. En elke keer as hulle van die deur af terugkom, word iets aangebied, mettertyd whisky, dan sigare ( -- Net hierdie één keer, dis mos besonders. Ek maak dog die venster oop, skat!).
   Die mense is (sielkundig gesien) kaalgestroop. Alle geheimnisse is uit. Die hele vernis van die beskawing is afgekrap, Hulle staan met leepoë en hangarms daar en niemand weet wat as volgende gaan kom nie. Alan se selfoon het al in die water van die blompot beland. En die beeld op die skerm word al hoe donkerder, soos wanneer dit geen einde het nie, maar ons hou eenvoudig hier op. Die laaste instelling toon twee seuns wat saam oor die speelveld stap, wat ewe vredevol kop-aanmekaar iets ondersoek wat een van hulle in die hand hou.

Ek het eenkeer ‘n storie gelees van ‘n popstar wat ‘n bakvissie in sy hotelbed lok. Nog vóór die eerste soen sê sy, „Ek wens ons twee kan vir immer en altyd so bly, wens jy dit ook?” „Ja,” sê hy, „dit wens ek ook.” „Ek wens ons twee kan vir immer en altyd so bly,” sê sy, „wens jy dit ook?” „Ja,” sê hy, „dit wens ek ook.” „Ek wens ons twee kan vir immer en altyd...” Vir immer en altyd; nog ‘n definisie van die hel? Miskien maak een van die Cowans nóg ‘n poging om deurtoe te stap, miskien kom nóg ‘n tussenbemerking, ... Nog ‘n definisie van die ewige hel?

Die vier spelers is uit die boonste rak. En by so ‘n uitgelese span is die ensémble-spel hoogsnoodwendig, dat die een ster nie helderder as die ander wil probeer blink nie. Uitstekend! Die tamaties is dus van beste kwaliteit. En die mors kissie? Dit kom vir my voor soos ‘n leerfilm vir sielkundestudente. Die tema mag nóg so aktueel wees in ons tyd wanneer die dun film van die beskawing besig is om af te skilfer, verwag also nie ‘n aand se „kougom vir die oë” nie. Dis ‘n taai happie wat nie gou gaan verteer word nie. ‘n Bietjie soos ‘n Paganini-stuk: Ek hoor dat dit virtuoos gespeel word, maar kan ek nog die musikaliteit hoor? Waarskynlik lê dit in my eie kunsvermoeë. ‘n Ander rede om weg te bly, is om Polanski se onsuiwere agtergrond, wat kindermishandeling betref, te boikotteer.
   Origens is dit ‘n pakkende stuk geselskapskritiek, foutloos gespeel: Vier sterre daarvoor; een ster vir vermaaklikheid. Daarby glad nie ‘n deursnee, middelmatige film nie. As algehele beoordeling skryf Björn Schneider, „Die god van die bloedvergieting is ‘n voortreflik gespeelde, bytende geselskapsatire wat buitendien punte verdien met skerp dialoogvuurwerk.” Ook hy het niks van vermaak gesê nie.
    Dit wat by die enkeling swaarder weeg, is wat op die ou end tel: Die 1 of die 4.

...ooOoo...

Iets oor Yasmina Reza:

Gebore op die 1e. Mei 1959 in Parys is Yasmina Reza ‘n Franse toneelspeelster en skryfster en is besonders deur hierdie stuk, in teater en film, asook „Kuns“ en „Drie Maal Lewe“ in die afgelope jare tot die meesgespeelde dramaskryfster onder die tydgenote geword. Haar lewe, sê sy, het deur en deur banaal afgeloop insluitend haar studie van die toneelkuns aan Paryse universiteite. Wat minder banaal is, is haar herkoms. Sy stam uit ‘n wydvertakte Joodse familie: Vader Iraans, moeder Hongaars, grootouers êrens in Amerika begrawe. Veral aan vader se kant van die familie veel beweging. Ongeveer 500 jaar gelede was haar voorvare Sephaardse Jode in Spanje, van daar na Persië geëmigreer, aan die einde van die 19e. eeu na Moskou en in 1918 gedurende die Russiese Rewolusie uiteindelik na Frankryk. Onder die druk om aan te pas, konverteer die voorgeslagte, minstens na buite, óf na Katolisisme óf na Islam. Die familienaam het ook in die loop van die eeue verander, daar's 'n Persiese, Russiese en 'n Israelse van. Nie in ‘n musikbegaafde gesin sonder in ‘n gesin met ‘n diep bewondering vir die musiekkuns het sy grootgeword, meen sy. Haar vader het byvoorbeeld Beethoven se Vyfde in kamerjapon gedirigeer terwyl die LP met die Berliner Philharmoniker speel.
   „In samehang met die kosmopolitisme van haar familie het Reza beken dat haar enigste heimat* die Franse taal is. Dit beïnvloed ook haar skeppingsproses, insover as dit belangrik is wanneer sy skryf. ,Hóé op die toneel gepraat word, interesseer my meer as wát gesê word. Dit gebeur dikwels dat ek woorde gebruik omdat hulle op ‘n besondere plek goed klink, en nie omdat hulle op hierdie besondere plek reg is nie,’ Hierdie besondere affiniteit met die klank van die taal dek haar waardering van die musiek (,ek beskou die musiek as die grootste van alle kunste’), wat egter nie na l’art pour l’art* lei nie. Juis haar beste stukke is inhoudsvol en konflikbelaai, haar figure lewendig en emosionaal.”
   Yasmina Reza woon met haar lewensgenoot, dogter en seun in Parys.

 (*  tuisland; kuns om kunshalwe, sonder doel)
[Hoofbron vir Yasmina Reza: Wikipedia.de, waar ek inligting gehaal het en een paragraaf vertaal het.]


 2012<]:o(............................................................-©-.................................................................(o;[>tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Dans van die Vlammevers

deur Evelyn van der Merwe

100 Gedigte met inspirasie, humor en ‘n kykie na die ou dae.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar