Resensies

Titel: Die Jeug
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Anders as wat jy moontlik verwag het, handel hierdie resensie nie oor ‘n Afrikaanse fliek “Die Jeug” wat jy moontlik misgekyk het toe jy na rolprente op die internet gesoek het verlede naweek nie. At Botha en Marie Pentz speel slegs kameerolletjies in hierdie jeug. En dit is nie deur Willie Esterhuizen geredigeer nie, alhoewel daar baie lawwighede was.

Ek praat van my jeug. En dalk joune. Wat sal die koerante sê as dit jou jeug in oënskou moes neem? Maar meer belangrik, sou jy darem die fliek geniet as jy dit sou kyk – “Soutpan (of Jannie of Sannie) se jeug”? Dan wonder ek wanneer eindig die jeug dan nou amptelik… By ons gemeente was ons, die jong werkende lidmate, tot onlangs nog met die jeug verwar. Op dertig, ek dink nie so nie. So wanneer dan – ek wil eintlik weet waar die fliek gaan eindig.

Kom ons maak dit agttien, nee, dan weet ‘n ou nog niks en jaag jy nog lekker aan. Meestal doelbewus. Selfs op vyf-en-twintig is ‘n mens nog jeugdig. Maar dan betaal jy al jou eie rekeninge, wat ‘n mens vinnig laat oud word. Goed, genoeg hiervan. Resensie van Soutpan toe hy nog Stoutpan was, en net tot hy nie meer wil onthou nie. Of dinge dalk ‘n bietjie vlak in die geheue lê en ‘n ongemaklikheid skep…

Die storie begin met ‘n nat doek. Soutpannetjie skree oneindig en die kyker is nie mooi seker waaroor nie. Hierdie onduidelikheid word egter omseil as die regisseur spring na ‘n toneel toe die mannetjie seker so drie jaar oud was, en op die gras sit en speel. Gras wat pa skaars klaar geplant het, en jongmeneer besluit dit kort bemesting en laat los hom sommer so deur die broek, in die hoop dat osmose sy ding sal doen.

Die kyker kan slegs vermoed dat dit die eerste keer was dat Soutpan regtig diep in die bollie was. Maar van hierdie moment af begin die storie rigting kry, en handel dit oor hoe die seun grootword as ‘n talentvolle jonge heer, maar telkens ‘n stok in sy eie speke steek wanneer dinge net te goed gaan. Hy wen ‘n uitdun in die sestigmeter-wedloop, toe hy so nege jaar oud was, maar dan is hy envoudig nie lus om aan die finaal deel te neem nie! Ouers, vriende en onderwysers smeek hom om wel te hardloop, maar hy sê eenvoudig nee. Dit blyk dat hy amper op ‘n euforie kom van nee te sê en as die genot daarvan uitgeput is, besluit hy om te hardloop.

Hierdie klein maar self-detonerende miskoppeling van draadjies in die kind se brein is dan deurgaans aanwesig in die storielyn. Menige goeie gesprekke is afgesluit met ‘n laaste, en telkens dan ook ‘n finále, sêdingetjie deur die edele Soutpan. Soos toe hy vir ‘n maatjie vra, met die onskuld van ‘n kind en die direktheid van ‘n leergierige skoolseun: “Hoekom lyk jou pa soos die pikgooiers daar anderkant op die tronk se werf?”

Ja swaer, hy het hom so gevra.

Die klimaks bou so stadig op, en laat die fliekganger telkens wonder wat fout is in die mannetjie se kop. Die hoogtepunt word dan bereik as Soutpan vir die provinsiale skole-krieketspan gekies word. Die verhaal sluit baie gepas af met sy antwoord as ‘n ou oom, na ‘n krieketwedstryd, vir hom in Engels gelukwens, en sê dat hy die wedstryd gedraai het met sy boulwerk.

“Thank you Oom, net sorry that your laatie soos sy gat gebat het.”

Die verhaal kry ‘n punt van agt uit tien, en ek gee graag spesiale erkenning aan die draaiboekskrywer vir die feit dat hy ongesensor die genot van kindwees uitbeeld.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

die jeug
dankie Toom dat jy hierdie onder ons aandag gebring het.. Soutpan dis nou sommer n puik resnsie jong.. sien uit na meer uit jou pen
5 jaar 1 maand 3 weke 5 dae 14 ure oud


dankie
Dankie Toom altyd goed om jou ressensensies te lees
5 jaar 2 maande 4 dae 21 ure oud


Luister hier, ou seun
As jy so 'n jeug in die wye wêreld daarbuite wil verkoop, moet daar minstens twee tonele wees waar mense met sweet op hul gesig (witpetroleumjellie) ritmies snork en steun. Dis mos vir ouderdom twaalf-plus, nè? En vir sesjariges minstens twee minuutsoene en gryp na allerhand liggaamsdele. En so.

Die deursnitlike amerikaanse kind sien deursnitlik 2 000 deursnitlike gevalle van dood (in woorde twee-duisend) per week. Waar is dan die slaglus, die halfmasjiengeweer salwes, die rook en die bloeiende oop wonde van die skreeuende slagoffers? Ons bly by die twaalfjariges?

En elke resensent WEET dat jy daai ding moet verdoem. Dis nie 'n klub vir sussies, waar die lede mekaar se snabels vermarmeladeer nie. Hier word nie gekruip en gelek nie...

Ag, so! Nou verstaan ek: Hoeveel het die regisseur jou betaal om so 'n agt-uit-tiener neer te krikkel? Vroe"r het ons jonges 'n das, paar sokkies en ses sakdoeke gekry, later 'n pak van die rak by Cuthberts. Europese dokters kry twee weke vakansie aan die Rooi See in Egipte, met onderwaterbeleefnis ingesluit.

Sê my, waar kry ek sulke voorwaardes om 'n vleitraktaatjie te publiseer?

Origens is ek verplig om te erken dat jou stuk dog goed geskryf is.

GvT
5 jaar 2 maande 5 dae 3 ure oud



Hartsnare

deur Driekie Grobler

100 Inspirerende gedigte en hartsgedagtes oor menswees en die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar