Resensies

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons skool het 'n wonderbare, 'n seldsame klavier. Dis 'n honderdjaaroue Steinway-vleuel­instrument wat oor omweë by ons uitgeslaan het. In 1914, in New York gebou, is dit een van die laaste nog bestaande eksemplare van die model „D” wat 'n besonders lang lyf (Korpus) het en besondere goeie speeleienskappe besit. Dis eers na Berlyn verkoop, het twee wêreldoorloë oorleef, en het 'n paar jaar gelede in besit van die skool gekom. Waar­skynlik die enigste eksemplaar in Noord-Duitsland. Op 'n model „D” het Rachmaninow gespeel toe hy gekomponeer het.

Tweede begin: 'n Buiteskoolse aktiwiteit moet iemand hê wat die aktiwiteit aandryf, wat die bal aan die rol hou, en ons het 'n skoolvader wat self musikus is, wat interesse het om „kultuur na die platteland te bring”. Hy het 'n reeks konserte in die lewe geroep, namens „Gevleueld” waarby studente uit die musiekskole, veral Hannover, klavierkonserte hier gee, so te sê as generaalprobe voor hulle eksamen-optrede. Hierdie keer het hy sy lokaas in ander water uitgegooi: In Hamburg tref hy op drie musiekgroepe wat tesame 'n orkes van sewentig man (en vrou) saambring. Met alle instrumente wat 'n sinfonie nodig het, daartoe een van die vooruitstrewendste jong pianiste van hier-en-nou. Buitendien is daar 'n lente-musiekfees waar hulle die openingskonsert gegee het, en daarna was 'n termyn vry, sodat hulle daadsaaklik die honderd kilometers kon ry (en terug) om by ons op te tree.

♪♫

[Wandsbeker Sinfonie-Orkester en VHS-Orchester in koöperasie met Jugend­Streicher­Forum; „Von der slawischen Seele”, musiek uit Rusland, Ukraïne, Pole, olv. Tobias Engeli en Tomasz Lukasiewicz; klaviersolis Gintaras Januševičius; in samehang met „das Musikfest Wandsbek” in Mei 2015]

♪♫

Daar is twee musiekstukke waarby, nog tydens die eerste twee, drie takte, my oë trane op my bril uitskiet. By „Carmina Burana” het ek dit al beskryf, en nou ontdek ek dit weer by die ouverture van „Ruslan en Ludmilla” (1842) deur Mikhail Glinka. Ongelooflik. Iemand het my skeef aangekyk en gesê, „die Slawiese siel” asof dit alles verklaar. Die musiek wat ons gisteraand gehoor het was „hemels” soos mens sê. Die melodieë, die swaaiende, draaiende ritmes, die skielike omkeer van 'n treurige luim in 'n vrolike, of omgekeerd.

    In alle stukke het ek dit ondervind: In Sergeï Prokoviëv se Sinfonie Nr. 7 in cis-mol staan in die programboekie „espressivo” by die een bewiging, en dit wás uitdruksvol, en die musiek in die „vivace”-beweging was werklik lewendig. Wat mens nie alles in jou hoë ouderdom kan beleef nie!

    Die derde stuk, na die pouse met snoepiesverkoop ten bate van die kunsreis van die twaalfde klas, was „Orawa, eggo's van die Karpatiese berge” (1986) deur iemand wat ek nie ken nie, Wojciech Kilar. Die „jong strykers” het met hul instrumente geskilder dat ek die trein oor die Steppe kon hoor donder, deur die tonnels, die tinkel-tinkel van 'n bergstroompie... Dat ek op my ouderdom soos 'n tiener, moet loop staan en dweep!

    En toe kom die Rachmaninow! Klavierkonsert Nr. 2 in c-mol (1901), Solis Gintaras  Januševičius. Ons pragstuk is in die pouse in die middel van die orkes verskuif gewees. Ook eintlik 'n taamlik goed bekende stuk, maar daar sit jy midde-in die gebeurtenis, skuins regs agter die dirigent met uitsig op 'n paar strykers hier in die voorgrond, die blikblasers links agter, die houtblasers regs agter. En in die midde die pianis oor die klavier se lang lyf weg. Na die buigings links en regs gaan sit hy. Oogkontak met Tobias Engeli, wat sy dirigeer­stokkie halfhoog hou; die orkes is gereed.

    Wat ons kan sien is die pianis se kop, ruig hare met die eerste aanduiding van 'n bles wat nog gaan ontwikkel, klein reghoekige lesebrilletjie op die neus, wollerige wind­verwaai­baard in kastaaiingbruin. Oë na bo, oë toe, kop na onder. Wag eers. Dirigent soos 'n suil met swart doek om. Wag nog. Die eerste sagte tone kom. Die dirigent se hande gaan vier sentimeters opwaarts, die strykers se boë beweeg 'n paar sentimeters in die gereed posisie. Dan!
   
    Die eerste takte is nie sulke tranetrekkers by my nie, maar die musiek is mee­sleurend. Dit begin moderaat, die eerste beweging, die spelers is egter heeltemal in hul werk of spel of arbeid binne, afgekapsel op 'n eie planeet. Engeli hou takt ja, gee ja ook aanwysings, maar elkeen weet presies waar hy of sy is en die orkes word 'n organisme waarby elkeen van elkeen afhanklik is.  Januševičius se kop gaan op, sy kop gaan af, hy draai sy kop na die basviole, na die trompete, terug na die viole. Sy mond gaan oop, en dit lyk of hy saamsing, stom natuurlik. Waar een instrumentgroep pouse het, swaai die liggame ritmies saam. As die solo-optredes kom, vou Engeli sy arms oormekaar, die stokkie kyk êrens in die lug. Nie in diens nie. 'n Paar takte voor die ensémble-spel kom lewe in die arms weer: Gereed vir diens.

    En al die ou Klischees, die holrug-gesegdes word nietig. Hier is nie komiese ou mans met pikkewynklerasie in die sirkus nie. Dis ernstige mense wat daardie ding, daardie vlytige verbyvlug van iets mooies met liefde en toeneiging opbou en aangee, nederig en dienswillig. Want hier is klanke wat in- en oor- en deurmekar pas en vleg en saamsmelt... en genot bring. Dís wat met ekstase gemeen word: Die man het geheel-en-al in sy musiek opgegaan. Dat sy omblaaier dan en wan moet opstaan en iets doen, merk hy nie.

    Die Slawiese musiek word alte dikwels as swaarmoedig, treurig aangesien. Is so en is ook nie so nie. Ons het die „ligmoedige”, vrolike sy van hierdie musiek durf geniet. In die laaste beweging skerts die komponis met sy toehorers  en sy spelers, scherzando. Die ernstige gesigte het werklik gestraal uit vreugde. Dat ek dit eers nou moet leer ken!

♪♫

Ten lappielaas vertel ek hoe ons saal lyk. Dis 'n „sport- en feessaal” met 'n hoë dak sonder plafon groot genoeg om handbal te speel. Voor is 'n verhoog uit hout, sê maar 'n meter hoog, en vier meter diep, uitragend in die saal, agter 'n galery, ook ongeveer vier meter diep. Voor, links van die verhoog 'n nooddeur, agter die groot ingang, dubbeldeure. Daar is plek vir rond vierhonderd gaste om te sit as iets op die verhoog voorgedra word. Sewentig orkeslede pas nooit-ofte-nimmer op die verhoog nie. Aldus is 'n groot halfsirkel aan die linkermuur getrek waarin die orkes opgestel is met dirigenteplatformpie ongeveer 'n drie­kwart van die afstand van die linkermuur af. Dit wil sê, die stoele vir die toeskouers is in 'n halfsirkel om die orkes opgestel, vier komplete rye. Om die oorgeblewe hoeke uit te vul, is  korter parallelrye ingepas. Op die verhoog drie rye, en op die galery twee.

    Die dirigent het in 'n kort aansprakie gesê, dis 'n eienaardige gevoel om weerskante van die orkes ook nog publiek te beleef. 'n Goeie gevoel maar eienaardig, soos wanneer die orkes midde-in die publiek, of die publiek midde-in die orkes is. Onmiddelbaar. Agterna het iemand gesê, dis byna so goed soos dolby allround surround.

    Veel, veel beter!

©.2015..............................................◄]:o(...||...(o;Þ...................................................tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Vleuelklavier
Pieter-Dirk Uys (,Evita' op ,Evita se Perron', die uitgediende spoorwegstasie van Darling - weet mos?) en sy suster het 'n ou vleuel ('n Bösendorffer? Weet nie) geErf en aan die ,Judische Museum' in Berlyh geskenk of geleen. Sy is konsertpianis en mag enige tyd wanneer sy in Berlyn is, daarop speel.
Mooi,nè?
Dáárom sou mens 'n hele lang roman kon weef, of hoe?
Ook dit is deel van ons kultuurgoed.
Mos.
GvT
4 jaar 1 maand 2 weke 4 dae 19 ure oud


Dankie
Vir die stukkie insig in die kultuur wat ons deesdae maar bitter min hier rond kry...
:-)
4 jaar 1 maand 2 weke 5 dae 17 ure oud


lYDING
My (WsW)-poging gaan daaronder ly, maar ek móés dit eenvoudig losword!
Met dweepsugtige groetnis vanToom
4 jaar 1 maand 2 weke 6 dae 3 ure oud



AFGODE

deur Piet Schoombie

Die aangrypende verhaal van 'n weeskind se stryd en strewe in 'n kinderhuis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar