Resensies

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Verhale, stories loop te alle tye oral af. Sommige is oninteressant; om vertel te word, moet iets buitegewoonliks daarby wees. Iemand het gesê, die suksesvolste stories handel om vrouens, kinders en diere. Daartóé moet daar 'n strewe wees, 'n soeke na 'n doel, aldus 'n voortontwikkeling tot op 'n slotpunt.

   In ons storie gaan dit om vyf kinders wat uit Suid- na Noord-Duitsland moet trek – vlug. Die oorlog is verby, en die ouers, wat hoëre amptenare in die nasionaal-sosialistiese opset was, sit in die ondersoekingsselle en wag op die ergste. As die kinders op pad in die penarie sit, kom 'n jong man en beweer, hy is hul broer,
kan hulle dan verder trek; hy het Joodse papiere. Daar het ons al die elemente vir 'n goeie verhaal: Alleengelate kinders, 'n lang trek na vore, die saamgooi van verskillende kulture wat teenoormekaar staan, die moontlikheid van 'n ontwikkelende liefde tussen twee jong mense -- die verhaal word uit die sig van die  oudste suster vertel. En, nie te vergeet nie, die VSAmerikaanse trauma, dat hulle amper sewentig jaar later nog altyd nie die tweede wêreldoorlog gewen het nie.

.

[ LORE; 2012; regie: Cate Shortland; daarstellers: Saskia Rosendahl, Kai-Peter Malina, Nele Trebs, e.a.; dis die middeldeel uit „Donker Kamer", 'n romantrilogie in een Band deur  Rachel Seiffert; 108 min.; D, GB, Aus. ]

.

Hannelore [Rosendahl] is so veertien, vyftien as die bekende wêreld om haar inmekaar stort. Haar geliefde, vereerde ouers word oornag skielik tot misdadigers verklaar en moet vlug. Pa word gevang en Ma besluit om haarself te gaan oorgee. Sy gee Lore genoeg geld om treinkaartjies na Hamburg te koop en nog iets so te sê vir die noodgeval – alles wat sy besit. Lore stoot die kinderwa met die baba Pieter voraan; Nele, ongeveer twaalf, en die agtjarige tweelinge Gustav en Jürgen loop agterna, elkeen met 'n rugsak of 'n tas. Reeds die eerste mense wat hulle ontmoet, sê vir hulle, dis die verkeerde pad na Hamburg: Hulle moet 'n ander pad kies; hierdie een gaan na Karlsruhe. Dit sal nie die enigste keer wees wat iemand sê dat hulle verkeerd loop nie.

   Duitsland is in Mei 1945, onmiddelik na die oorlog, vol „sones“ waar die oorwinnaars opgehou veg het, en daartussen en daardeur moet hulle 'n pad baan, snags deur die bos as dit moet ... Lore se grootste vrees is dat hulle miskien aangehou word, want hulle het g'n papiere nie. En eenmaal hou 'n Amerikaanse trok dog langs die kinders stil en die sersant vra juis daarna. Voor sy kan antwoord, sê 'n stem uit die agtergrond, „Dis my sussie.“ Dis 'n jong man [Malina], wat hulle 'n paar keer by sopkombuise en gemeensame oornagtings in daklose bouvalle gesien het. Hy het papiere wat hom uitken as bevryde Jood uit 'n  konsentrasie­kamp, en hy sê dat die ander kinders se papiere in die wirwar verloregegaan het. Hulle mag 'n paar kilometers met die „Amis” saamry.

   Die kinders wandel van een grusame ondervinding na die volgende – hulle is genoodsaak om te bedel (vir melk, byvoorbeeld, uit die bors van 'n ander vlugteling, vir die babatjie), om te steel, en Lore word ook lykdief wanneer sy die horlosie van die arm van 'n man afneem wat homself in die kop geskiet het.

   Die kamera-instellings is gruwelik, en ons sein en hoor die brommers wat in die koeëlgat in en uitgaan; ons sien die swart-rooi droë bloed op die bobene van 'n dooie vrou waarop die miere heen en weer loop. („Die miere woon waarskynlik daarbinne en vaar met bote deur die are,” sê die een tweeling.) Later is Nele betrokke by die moord op 'n onskuldige visserman.

   Op een of ander manier moet die Jood, Thomas, en die indoktrineerde meisie met mekaar klaarkom, op een of ander manier moet die kinders by hul ouma op die eiland Sylt (sê Suult) uitkom. Voor dit gebeur, word die een tweeling doodgeskiet en Thomas verloor sy papiere en word aan 'n kontrolpunt in hegtenis geneem.

.

In alle kulture is daar om en by die veertiende lewensjaar die ritueel of seremonie van die inwying of inisiasie; onder Christene noem ons dit bevestiging of aanneming. Ons ken ander vorms daarvan, soos onder die Bantoes. Op pad tussen die Swartwoud en die Noordsee neem Lore  afskeid van haar idilliese kindheid en leer op grofste aard die harde werklikheid van die volwasse wêreld ken. Sy leer  om verantwoordelikheid aan te neem, verantwoordelikheid wat eintlik ver bo haar vermoëns is; sy beleef die eerste bakvisliefde vir iemand wat sy eintlik moes haat. Die storie is aldus daar en wag om vertel te word, en die Australiese regisseurin Shortland hét al 'n film oor jeugdige ontwaking, „Somersault”, gedraai.

   Maar êrens langs die pad raak sy die kluts kwyt: Miskien is die daarstellers te onbeweeglik, en dis sekerlik baie moeilike rolle, selfs vir volwassenes, waarby die toestande of emosies wat getoon moet word hoofsaaklik skok, vrees, walg en vertwyfeling is. Miskien is die film verkeerd gesny, ... Een aand trek Lore iets warm om haar skouers en stap nadenkend na die venster oor. Volgende toneel: Haar boeties en sussie speel onder in die agterplaas in die oggendson ... Het sy dít gesien? Nee, die trek het voortbeweeg, en hulle is al 'n volle week verder. 'n Aantal sulke spronge maak dat die verhaal holperig is. Die publiek kry nie kans om in te asem nie, daar is te min helder, kleurige ligstraaltjies tussen die duisternis. En die film verstik, en die gehoor ook.

   Jammer, jammer, jammer skade, want dit ís 'n goeie verhaal, aan baie plekke góéd vertel, met deurgaans goeie kamerawerk en stuksgewys goed gespeel, maar ...

   Miskien het dit onder die skêr van die produksiebestuur gely?

   Miskien is die „Director's cut” 'n beter weergawe?

   In vergelyking met ander films, tog nog drie sterre.


©.2013.....................................................c]:o(٤_***_(o:[>...............................................................tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

***
Nee wat..dink nie ek wil die film kyk nie. Wil darem kan asemhaal tussendeur.
3 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 16 ure oud



Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar