Resensies

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die werklikheid is inderdaad vreemder as fiksie. Hierdie skryfstuk is ’n kliniese ontleding van ’n vrou se persoonlikheid, haar karakter en haar daaglikse doen en late op alle vlakke van die samelewing. Hier het ons ’n tragedie van onbeperkte omvang! Dit is ’n disseksie wat tot op die been sny, wat die besondere vrou se totale menswees ontbloot en oopvlek. Dit draai nie doekies om nie, dit noem elke situasie, gebeurtenis, leefwyse en optrede by die naam. Alles, letterlik alles, word hier op die tafel van nabetragting uitgepak en blootgestel aan die fel en kritiese beskouing van haar eie dogter!
Die verhaal wat hier ontvou is hartroerend en ontstigtend! Dit is ’n verhaal van ’n vrou wat nooit lief gehad het nie, ’n vrou wat nooit vir iemand jammer gekry het nie, wat nie in staat was om deernis en begrip teenoor die mense om haar te betoon nie. Dit is die beskrywing van ’n vrou wat nie vrede geken het nie, maar in oorlog met die hele wêreld gewikkel was, ’n vrou vir wie almal bang was, wat vrees ingeboesem het waar sy ook al op haar lewenspad gestap het. Sy het haar huismense, haar man inkluis, met ’n yster hand regeer en skynbaar nooit ooit enige genade betoon nie! ’n Harde ongenaakbare persoon wat haar hele bestaan met konflik en kontroversie ingeklee het.
Kiekies skryf hierdie skokkende en hartseerstorie oor haar ma op ’n kalm en besadigde trant sonder om melodramaties te raak of in die versoeking te kom om links en regs te verwyt of in selfbejammering te verval. Sy gebruik vindingryke en kleurvolle taal om haar somber verhaal mee toe te lig en te illustreer. Ek dink hier aan sinsnedes soos:
"Sy het ’n humeur gehad soos ’n dier met hondsdolheid."
"…dit terwyl twee pruike op aandag gestaan het."
"…haar tong kon ’n slag slaan soos ’n sweep met sewe punte."
"…het ’n malle gekheid van haar besit geneem."
Selfs tot op die einde was hierdie vrou se jammerlike verkwiste lewe steeds in tragedie gedompel weens die feit dat dit met siekte en ’n lang lyding gepaard gegaan het. Juis daaruit is Kiekies se eie genesing van haar emosionele wonde, en ook vergifnis vir haar ma, gebore. Juis daarom kan sy nou terugkyk sonder haat of  verwyt.  Ek staan in verwondering dat sy hierdie verskriklike fase van haar lewe met soveel kalmte en op ’n suiwer feitelike trant  kon beskryf. Dit is ’n wonderwerk dat sy die gelowige en aangename mens is, wat ons vandag ken. Daarin is sekerlik vir ons almal ’n les te vind, naamlik as jy vergewe wil word, moet jy self ook kan vergewe!
’n Aspek wat nie in Kiekies se verhaal na vore kom nie, is of daar dalk  voorsate met soortgelyke karaktertrekke was of kon gewees het? Was haar ma se optredes en gesindhede dalk die gevolg van gene uit die voorgeslagte? Dit moet tog êrens vandaan kom. Is dit moontlik dat enige mens só hard en ongenaakbaar kan wees sonder enige spesifieke rede?



     
.
     
MOENIE die titel en jou naam hier invoeg nie. Dit word outomaties bo aan bygevoeg.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Resensie
Ek is hoogs geeerd en ontsaglik uit-die-hart-dankbaar vir hierdie resensie! Veral is ek bly dat dit gelees en verstaan was, soos ek bedoel het om dit oor te dra. Sonder wraak en haat. Ek besef nou dat ek 'n deel gesnoei het, voor plasing, wat die antwoord op die laaste vrae sou verskaf. Die deel wat 'n saggesproke liefdevolle ouma, beskryf het, wat self onder ma se karakter moes deurloop.
Baie baie dankie, nogmaals!
6 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 6 ure oud



drafstap deur my gemoed

deur helna

ek noem my bundel drafstap deur my gemoed, want ek wil hê jy as leser moet saam my daagliks voel wat ek voel en ek glo ek gaan jou aanraak...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar