Resensies

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Gewoonlik verskyn die duitse weergawe van 'n buitelandse boek of film drie of hoog­stens ses weke nadat dit amerikaans uitgegee is. Of hierdie film ooit na die VS van A gaan kom, weet ek nie. Maar in hierdie geval het die vertaling, die verduitsing van die klankbaan twee jare geduur, ofskoon dit as 'n Yslands/Duitse produksie aangegee word. Iedergeval, dit was die moeite werd om daarvoor te wag!

      In díe film gaan dit om Yslanders (mense), Yslanders (ponies) en Ysland (ook 'n „persoon!”). Aldrie is taai, ongenaakbaar... en simpaties, mal maar mooi. Dis 'n soort episodefilm waarin vyf verhale aanmekaar aanhaak, inmekaar oorvloei en saam 'n storie saamknoop wat naas alle oppervlakkige grappies 'n tere gevoelsdiepte bereik.

      Die eilandjie Ysland beherberg min mense – die meeste is navare van die Wikingers – wat ver uitmekaar op klein plasies woon; die hoofstad Rejkjawik tel nie eers twintig-duisend inwoners nie. 'n Rivier vloei deur 'n vlak kom, en aan die rand daarvan oor die hoogwaterlyn nestel ongeveer 'n dosyn huisies, 'n kilometer of so uitmekaar. Die pad loop langs die rivier, maak 'n hoefyster deur die drif en keer op die ander kant terug. En in elke huis op elke stoep of eenvoudig in die jaart van so 'n plot staan iemand en loer „wat te sien is”, deur verkykers of teleskoop. Almal weet wat almal doen, is „vol ingelig”. Anders as in 'n grootstad, waar die mense eerder probeer om kontak te vermy. In die film sien ons hoe dit in die agtergrond op die ander oewer gedurig blits soos die son op 'n verkyker skyn.


[Von Menschen und Pferden (Dt.), Hross í oss *(Ysl.): 2013; Ysland/Duitsland; regie en boek: Benedikt Erlingsson; daarstellers: Ingvar E. Sigurðsson, Charlotte Bøving, Steinn Ármann Magnússon, Helgi Björnsson, Kristbjörg Kjeld, Sigríður María Egilsdóttir; Kamera: Bergsteinn Björgúlfsson; 81 minute.]

Kolbeinn [Sigurðsson], nie die jongste nie, maak homself en sy merrie reg vir 'n besoek by die weduwee Solveig [Bøving] aan die anderkant van die vallei. Moorponies, ook yslanders, het 'n besonderse gang wat duits „tölten” genoem word, waarby net een voet op die grond is terwyl drie deur die lug sweef – een verlaat juis die grond, een „sweef”, een wil al grond vat. Dis aanskynend 'n gang wat kan verhoed dat die perd in die moeras vasstek, en dit verloop uiters vinnig, so dat mens kan dink dat 'n hele eskader in aanstorm is, maar dis net een ou ponietjie wat oor die gebroke lawaklip trippel. Ongelukkig vind ek nie die afrikaanse woord daarvoor nie. (Sê ons maar „trippel”, dis baie mooi om aan te sien, soos 'n dansende sirkusperd met die pote hóóg opgetel.) Die hengs van die weduwee is begierig op die merrie … 'n Man met 'n yslike dors swem met sy ponie – of sy ponie swem met hom – honderde meter in die see in om vodka van 'n verbyvarende skip te koop... Twee mans stry oor die span van doringdraad... By die „round-up” van wildperde sien 'n meisie 'n besondere ponie en wil hom hê, al kos dit hoeveel. Sy sit hom agterna en ontdek 'n ergbeseerde man, wie se oë deur die pietsende doringdraad wat hy deurgeknip het, uitgeskeur is. Waar sit sy haar prioriteite?... Die spaanse rugsaktoeris soek God en word in 'n fratssneeustorm in somer saam met sy perd onder sneeu begrawe Hoe gaan hy dit met sy ligte someruitrusting oorleef?...

      So sien ons die rowwe, aardgebonde Yslanders as „mense soos ek en jy”. Hoe sou ek onder díe omstandighede reageer het? is die vraag wat herhaaldemale opkom.

      Ysland is 'n skandinawiese land, en ons het al gesien, in finnse films byvoorbeeld, hoe daar 'n gewisse skurriliteit in hul humor – of beter, hul sluwe gewikstheid – heers; dan hierdie „rustikale sjarm en selfironie” wat die Yslanders eie sou wees. Meng alles en roer deeglik, en siedaar, ons het die minsame absurditeit wat hierdie volk karakteriseer, waar elkeen sy eie koning is.
      'n Interessante verteltrant is die kapittelinleidings: Die kamera streel oor die vel van 'n perd tot dit by die oog uitkom; daarin is die weerspieëling van die mens wat in hierdie episode die hoofrol gaan speel, of 'n teenstand (doringdraad) wat belangrik gaan wees. Die laaste kapittel word ingelei uit die oog van Solveig met Kolbeinn in die spieël...

      In die loop van die film kom drie doodskiste op die kerkhof, en die stoere swygsame Yslanders se gesigte bly stram wanneer die pastoor sê hoe beliefd of geëerd die gestorwene was, behalwe die weduwee van die dronklap; sy klap haar oë hemelwaarts en haar mondhoeke na onder. Die film kom waarskynlik nie na julle in die amerikaanse kolonieë nie, eerstens omdat die plakaat én die voorfilm toon hoe 'n poniehengs 'n merrie dek. Met 'n man wat op die merrie sit! Tweedens is daar alweer die „tipiese” europese tonele met „rouvleis”, diekeer op die oop veld (met die verkykers in aanslag, natuurlik).

      Onderhoudend, leerryk en minstens vier sterre werd.


©.2015...................................................◄]:o(|****|(o;Þ.............................................................tje

Sien ek 'n oervorm van „horse” (Eng.) en „ons” (Afr.) in die yslandse opskrif?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Dagboek van die tuinvoëls

deur http://www.woes.co.za/

Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar