Resensies

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

-- die wêreld uit die sig van ‘n seun wat elf jarelang vir breindood gehou is

’n Seun word wakker en hoor hoe die mense om hom oor iemand se sestiende verjaars­dag praat, en of hulle sy baard moet afskeer. Hy skrik geweldig as hy merk dat hulle oor hóm praat – Hy het gemeen hy is eers twaalf. Martin Pistorius beskryf homself as  „’n man-kind wat in ’n wêreld wat hy nie ken nie, weer gebore is”, dat hy uit ‘n wêreld opgeduik het waarin hy hom verloor het. Maar nou het hy die probleem dat hy niemand kan sê dat hy wakker is nie en dat hy alles verstaan wat om hom aangaan. Hy lê in ‘n waak­koma as gevangene in sy eie liggaam en kan nie beweeg nie. Hy kan nie kommunikeer nie.  Om die vier jare lê hy al bewusteloos, en die volgende ses of sewe gaan hy daar lê en peins. En hoop dat hy eendag bevry gaan word, dat alles anders word.

[   Martin Pistorius: ALS ICH UNSICHTBAR WAR – die Welt aus der Sicht eines jungen, der 11 Jahre als hirntod galt ; Köln; Bastei-Lübbe Taschenbuch, Band 60356, 2012.
ISBN  978.3.404.60356.5
Oorspronklik: „GHOST BOY”; Simon & Schuster UK Ltd; 2011.  ]

Vier, vyf jare tevore het hy ‘n onbekende siekte opgedoen, waarby sy liggaam stadigaan opgehou het om te funksioneer; hy het sy spraakvermoë verloor, het tot op die stadium van ‘n kleinkind terugontwikkel, sonder beheer oor sy organe. Daarvóór was hy ‘n opgeskote springlewendige kêreltjie. En binne agtien maande het die medikusse sy ouers verklaar dat hy sy lewe lang sterk gestremd gaan  bly. Sy ouers besluit toe om hom by die huis te behou. Bedags word hy in ‘n inrigting gebring en saans weer huistoe, waar hy ook ‘n broer en suster het.
   Nadat hy „wakkergeword” het, moes hy onwillekeurig beleef hoe die mense oor hom praat, maar nie net oor hom nie. So het hy ‘n toeskouer en afluisteraar van ander mense se vreugde en smart geword, hy wat met al die inligting niks kon begin nie. Toe sy ouers hom in ‘n inrigting bring terwyl hulle hul jaarlikse twee weke vakansie hou, moes hy ook beleef hoe grusame verpleegsters hom mishandel en byvoorbeeld dwing om te „Vreet!”
   Desnieteenstaande het sy gees sterk en aktief gebly, en hy beskryf hoe hy aan die lewe vasgehou het. Op geen bladsy in die boek bekla hy sy lot of soek witvoetjie by sy lesers nie. Hy toon eerder ‘n besonderlik ryp meegevoel -- ook vir die mense wat hom seergemaak het of onreg aangedoen het.
   Pistorius vertel hoe iemand van die pleegpersoneel vas daarvan oortuig was dat hy „daar” is, en dat sy in die tyd toe sy hom masseer het, merk dat hy „leef”, dat hy reageer. Sy het oor ja- en nee-teikens begin om met hom te „praat”. As gevolg van hierdie klein hupstootjie kon hy met rasse skrede, soos dit blyk, al hoe gesonder word, kon mettertyd sy hande gebruik – eers die ene dan die ander, het krag ontwikkel om op te sit, om sy kop opreg te hou. Self kan hy nie verklaar waar hy aan al die wete gekom het, wat hy nie voor sy siekte kon gehad het nie. Ons kan vermoed dat hy veel meer „opgetel” het wat in sy nabyheid gesê is as wat ons sal weet. Tot vandag toe kan hy nie op sy eie voete loop nie. En praat het hy ook nie geleer nie. Of sy ouers dit gaan beleef dat hy eendag alleen 'n paar stappe deur die woonkamer gaan maak, is ongewis, ofskoon hulle wel nog nie hoop opgegee het nie. Andersins voer hy ‘n vol lewe, kan eet en drink, homself soggens aantrek, en hy ry met ‘n elektro-rolstoel deur die wêreld.
   Maar hy kán kommunikeer: Met die hulp van slim computer-programme, wat dit moontlik maak dat hy ‘n „stem” het om die gedagtes wat hy geskryf het, hardop uit te praat. As die rekenaar nie daar is nie, het hy ‘n alfabetbord op sy skoot waarmee hy met mense kan gesels. En kommunikasie is een van sy hooftemas.
   Dis ‘n eienaardige verhaal wat hier vertel word , in ‘n kaal, onopgesmukte reguit-op-die-man-af taal wat heelwat meer sê as gekunstelde woordgeweld. Dit vertel van ‘n jong man wat die beleefnisse van ‘n kleinkind bewus deurleef, wat in sy ouderdom sekere dinge – wat vir ons vanselfsprekend is – glad nie eers kán weet nie. Dit vertel van iemand wat, soos ‘n wolfskind, sorgvoudig weer in die beskawing teruggebring word, van iemand vol lewenslus wat begerig is om nog iets en nog iets te begryp en verstaan. En dit beïnhou raaisels waaraan psigoloë en teoloë nog lang gaan knabber. Hoe is dit byvoor­beeld moontlik dat hy, so te sê uit ‘n diepslaap ontwaak, so gou en grondig die prinsiepe van die elektroniese rekenaar kon begryp en verstaan? Hoe is dit moontlik dat na so min maande en jare die programmeerders na hóm kom as hulle probleme wil oplos? Hoe kan dit wees dat hy in so ‘n kort tydspan die beroep van programmeerder en „web-designer” kan uitoefen? En dat hy ‘n gevraagde redenaar is op internasionale kongresse? (Met 'n onberispelike, geleende stem uit sy rekenaar, wat ek op Youtube gehoor het.) Die boek is deurspik met knabberraaisels oor die menslike gees en siel.

Iets anders trek soos ‘n tou van fynste hennep deur sy biografie: Dis die liefde en toeneiging wat hom al die jarelank gedra het. Toe hy onsigbaar was, toe hy begin ontwaak het en nou, waar hy ‘n selfstandige lewe kan lei.
   Eerstens sy ouers wat hom van aanvang aan nie wou loslaat, nie wou weggee nie, wat alles in hul vermoë gedoen het om hom as eie kind, as mens, te behou, deur van Pontius na Pilatus te haas, deur daagliks oor die jare heen al die klein handgrepe te herhaal en te herhaal. En die gesin het saamgestaan en bly staan onder omstandighede wat iemand anders sou uitmekaargedryf het. Dan die jong vrou wat „seker” gewéét het dat iemand daar is agter sy uitdrukslose masker en met hom begin praat het. Tot en met sy vrou wat hom uit die staanspoor so aangeneem het soos hy is. (Hulle het mekaar oor die internet gevry -- en gekry -- iets waarvoor ons eintlik jongmense waarsku. In hierdie geval het dit egter geslaag.) Sy is ‘n boerenooi, uit Noord-Natal as ek reg onthou, wat in Engeland studeer het. En hulle noem mekaar „my liefie”.

‘n Werklik bemerkenswaardige boek oor ‘n bemerkenswaardige mens wat ‘n bemerkenswaardige doel nagestreef en bereik het.

‘n Moetlees boek.

[Taalkundige bemerking ten slotte: Die  engelse vertelwyse is gewoonlik in die verledevorm. Pistorius het die boek geskryf toe hy vermoedelik om en by drie-en-dertig was. Hy vertel in die teenwoordigheid, gaan van die een episode na die ander en begin 'n kapittel byvoorbeeld so: „Ek is vyf-en-twintig en...”, dan vertel hy wat nou, met vyf-en-twintig, om hom is, wat hy nou doen en dink. As hy terugdink, glip hy gou terug in die „nuwe” teenwoordigheid, van die tyd in die verlede, waarvan hy nou vertel, wat hy nou onthou. Eers het ek gedink dis omdat hy so min verlede het in vergelyking met ander mense. Maar miskien dink hy Afrikaans en vertel dit Engels?]


©.2013.______________________________≡≡≈≈≈≈≡≡_________________________________.tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie Toom
Dankie vir hierdie interessante resensie. ons mag NOOIT enige mens afskryf nie.
6 jaar 2 weke 20 ure oud


Deurskynend
Dankie vir die terugvoer!
Liewe Ano, moet dit nie wees ,... nie meer deel wil OF KAN wees van aktiwiteite...' nie?
Iemand het oor sy ma geskryf wat heelwat as kind, in die jeugjare, in die oorlog, tot in haar middele jare beleef het. Toe sy oud word, het sy 'n slagaanval gehad en kon slegs baie stadig en mompelend praat. Hy't gemerk dat sy iets wou sê, maar dat die jongere mense nie tyd gehad het om op haar antwoord te wag nie. Daar het hy magteloos gevoel.
En het haar lewensloop opgeskryf.
Lees my RESENSIES ,Tot die bloue einder, dan links' en ,En as ons almal saamwoon?' om te begyp hoe ou mense die gevoel het dat hulle (nie net) in 'n ouetehuis afgeskeep sit. Ander Woes-bendelede het ook oor hierdie tema geskryf.
My eie ,skoontante' woon in 'n tehuis, en ofskoon ons haar dikwels besoek, prewel sy soms aanmekaar ,Alleengelaat, alleengelaat,...'.
Groetnis vanToom
c]:o( --> c]:o/ --> c];o)
6 jaar 3 weke 5 dae 21 ure oud


Ano
Onsigbaar
Dankie Toom. Dit lyk na 'n werklike MOET LEES boek.
En sover dit Anna Marie se onsigbare bejaardes aangaan : ek dink dat mense raak onsigbaar wanneer hulle nie meer uitreik na ander nie, nie meer deel wil wees van aktiwiteite in hul gemeenskap nie en dat hulle dan op die ou end agtergelaat en vergeet word.
6 jaar 3 weke 6 dae oud


Onsigbaarheid
Baie dankie Toom. Wat 'n wonderlike, mag ek dit 'n 'verhaal' noem? gee mens weer krag en hoop.
Nou dink ek aan 'n ander weergawe van 'onsigbaar' wees.
'n Klag wat ek eendag raakgelees het van 'n bejaarde.
Dit het daaroor gegaan dat mens, as jy oud is, vir baie mense, ek glo nie almal nie, 'onsigbaar' word, vir jou kinders en andere.
Dit kan ek wel glo, en hoe bitter swaar moet dit nie wees nie.
6 jaar 4 weke 6 ure oud



Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar