Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Oopgesig. Boerseun. Stewige handdruk. Dit was toe ons die eerste keer ontmoet het. Hy het na ‘n skildery kom kyk wat ek op facebook adverteer het. Dit het ‘n lêplek in sy hart gekry.

Ek onthou hoe bly ek was. Die verf was skaars droog toe laat weet die bank sy geld is inbetaal. Beide van ons was in die wolke.

Intussen het ek so nou en dan iets raakgelees op Woes wat uit sy digtershand voor my oë kom lê het. Soms op facebook ‘n “duime op” van hom gekry by een van my notas. ‘n Gawe kubervriend met ‘n rang: een keer in lewende lywe aanskou.

Gisteroggend kry ek ‘n ontstellende nota in my “inbox”.

Ek is so jammer dat ek hierdie briefie moet tik. Weet nie eintlik hoe om dit te se nie. My no is ********* Daardie verfwerk wat ek met soveel deernis gekoop het, lief voor geword het en in my heiligdom gehang het se verf het begin trek en is dit nou een groot gemors. Jammer jy weet jy is my uitsoek tannie maar dit is nie goed genoeg. Ek het nie jou No anders het ek jou gebel so bel my dat ons maar sien wat ons daaraan gaan doen.
Groete

Ek lees en lees, my hart klop. Julle moet onthou ek is nie meer vandag-se-kind nie. Ek is mos ‘n jong man se “uitsoektannie” . Klein goedjies ontstel my. Verf wat trek het ek nog nooit van gehoor nie. Onmiddellik antwoord ek:

Ag nee! Ek kan nie weet hoekom dit gebeur het nie. As jy dit op 'n manier by my kan kry, sal ek dit probeer regmaak. Ek wens ek kon sien wat aangaan.Dis gewone akrielverf op canvas....?? jammer om dit te hoor. My nommer is ******** ek het ook nie meer joune nie!
Ag skies, ek sien nou jou nr. is hierbo! ek's nou sommer omgetjommel!

Dis etenstyd. My kos proe soos watte. Ek vertel vir Ou-Liefde van die storie. Op sy kalm manier sê hy: “ Het dit nie dalk iets met die 1e April te doen nie?!” ‘n Helder lig gaan voor my op, troos effens, maar kry nie die onrus heeltemal weggestoot nie. My selfoon lê ver in die voorste kamer en lui. Ek hoor niks. Kleinkind sê groot-oog: “Ouma se foon lui!!” Ek wikkel voorkamer toe, net betyds om die foon te antwoord toe hy sy laaste sing-song sing.

Netjiese, diep stem aan die anderkant. Nie juis ‘n verrassing nie, ons praat dan nou heeltyd van hom en die skildery waarvan die verf “getrek” het. “Hallo Jaco, wat is dan nou die storie met die skildery? Ek wens ek kan dit sien, wat het gebeur?” Ek praat aanmekaar, gee die man nie ‘n kans nie. Dis mos nou maar hoe ek is. Teruggetrokke in my diepste wese, ekstroverties (!) uitbundig in noodsituasies. Soos nou.

Rustig, te rustig, vra hy: “En wat is vandag se datum?”

Ek gil. ‘n Swaar vrag val van my ouerwordende skouertjies af: PLOENKS! op die vloer.
Ons lag. Ek huil van blydskap. Traanloos. Hy vou dubbel aan die anderkant. Sy lag klink in my ore. Ek belowe hom ‘n pak slae, ‘n t’rugkry op een of ander manier. Ek moet hom na regte oor my skoot trek en sy boude vuurwarm klop. So van “trek” gepraat!

Toe ons bedaar het, vra ons beleefd en soos die goeie Boeregewoonte dit wil hê na mekaar se welstand en die weer. Alles gaan klopdisselboom.

Die res van my kos proe soos manna uit die hemel. Opgewonde vertel ek die
Aprilgek-verhaal vir my mense. Almal lag. Wat ‘n heerlike verligting!

In sy heiligdom sit die Karnallie en staar na sy “tannie” se skilderye en wonder wie gaan sy volgende “slagoffer” wees. ‘n Stout glimlag om sy mond en duisende duiweltjies in sy oë.

My gawe kubervriend kwalifiseer vir sy volgende rang: ‘n plekkie in my moederhart.
Ten spyte van.







Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lekker ou gekkedag!
Een wat jy nie gou sal vergeet nie. Of hoe?
7 jaar 3 maande 3 weke 3 dae 14 ure oud


Pragtig geskryf! 'n Mens voel sommer saam benoud oor die skildery en pure verlig met die oproep.
7 jaar 3 maande 3 weke 3 dae 22 ure oud


Hoe heerlik giggel ek nou! Heel oorspronklik, né? Ek hoop die lekker lag agterna het sommer baie spanning uitgekanselleer.
7 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 5 ure oud


...Die mees opregte en eerlike mense word die ergste deur Aprilgekgrappe getref. Jou emosionele wroeging tot die werklikheid jou getref het, spreek van so iemand. M
7 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 15 ure oud


Ek kan voel hoe daardie hart van ontsteltenis klop, daardie kos soos watte smaak. Dit was 'n treffende Aprilgrap en waar jy ook jou gevoelens so akkuraat kon beskryf het.
7 jaar 3 maande 4 weke 1 dag oud


hehehehe! Ai en ons almal val vir die eerste nê! Bly dit was net 'n grap!
7 jaar 3 maande 4 weke 1 dag 2 ure oud


he he he...
ai sussa!

7 jaar 3 maande 4 weke 1 dag 6 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Gebroke Harts Gebede

    deur Anze Bezuidenhout

    Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar