Rubrieke

Titel: Wonder
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Laas Vrydag-aand skree ek in die reën. Ek stap soos 'n kranksinnige leeumannetjie heen en weer teen die geskeurde draad van my siel. Dis eintlik al Saterdag-oggend. Maar slaap is vir die natgereënde voëls.

Ek skreeu. Ek smeek vir 'n wonderwerk terwyl my belangrikste menseverhouding voor my oë verbrokkel: “As dit ooit 'n tyd is om te wys U is daar, is dit nou!” Maar hoe meer ek smeek, hoe stiller is die antwoord, en my trane val leeg saam met die wolkdruppels grond toe.

Dis vyf dae later. Ek sit die Donderdag-oggend by Deja Vu Guesthouse se Coffee Shop. By die huis is daar te veel telefoon en ander goed wat my naam roep, so hier sit ek en maak preek. Ek werk goed. Daar's 'n jongerige man (30 vind ek later uit) wat 10 uur die oggend sy tweede Hunter's Dry drink. Hy en die waitress ken mekaar duidelik al 'n bietjie. Terwyl ek halfbewus daar sit, vang my oor iets oor 'n vrou waaroor hy bekommerd is. Ek draai my kop en sien in sy kantprofiel die emosionele moegheid. Toe hy opstaan en by my verbyloop, gooi ek my duim boontoe en sê vir hom: “Good luck, man”. Verbasing. “Thank you”.

'n Uur later kom hy terug.Ek trek al by die tweede punt in my preek (“Ons is Almal Verwondes”).
“You're still here!”
“Yip”. So asof dit 'n vraag was.
En hy vertel my sy's oraait. Darem nou oorgeplaas na Steve Biko waar daar water in die krane is. Dit is sy suster wat 'n miskraam op 7 maande gehad het. Die olifantjiekamer gaan nie gou 'n inwoner kry nie. Hy sê iets oor God.
“Oh, do you believe in God?” vra ek.
“I wonder sometimes.” Met die vrouens en kinders wat sommer so in die gange lê. Al hierdie stuff. Êrens voor die totsiens-sê na die 2 minute het ek beduie dat ek in “Hom” glo, terwyl ek my oë wolke toe gooi so asof my Here daar wil woon.

Seker 'n halfuur later (ek dink al hard aan punt 3) en hy storm half-verward verby: “I'm sitting there in the back with a smoke. You're welcome to join me.” En 'n ruk later het ek. Want hy betaal vir my koffie en sy Hunters. Hy sê ek lyk na 'n intelligente persoon. Ek beaam dit nederig. Ons praat oor sy life-coaching boek op die tafel. En die lewe.
“What do you do?”, die befaamde vraag aan 'n dominee.
“A dominee of the NG Kerk.” Mens kan dit net nie in Engels sê nie.
Guy (dis sy naam) se mond val oop. Daar's 'n chapel by Steve Biko, vertel hy my. En anders as wat hy gewoonlik sou, het hy daar ingegaan. Hy't daar gekniel en stukkend tot sy God gebid dat hy vandag 'n prophet van Hom sal ontmoet.

En hier is ek. Die goeie profete was seker nie vandag beskikbaar nie. Wat is die kans?
“You lucky devil”, ek kryt hom amper uit, “I've been asking for a wonder and... nothing.”
En hier kom jy! Easy-peasy. 100% wonderwerk vir jou. Myne dalk 'n verdunde 30%. Miskien is ek net nie bedoel om wonderwerke of tekens te kry nie.

Miskien, dink ek nou, is ek die een wat hulle moet maak.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kritzglas
...jy sien dieper as die algemene mens...my respek vir jou groei by die dag meer!!!!
7 jaar 7 maande 3 weke 4 dae 21 ure oud


Geluk!
Veels Geluk - Pragtige, boeiende storie van wenners kwaliteit.
7 jaar 8 maande 22 ure oud


Partymaal...
Partymaal is die antwoord op ons gebede, ons lankverwagte wonderwerke juis verskuil in die boodskap wat ons moet lees uit die wat ander ontvang. Soms moet ons helderder met die hart kyk want die lied wat geskryf is in die glimlag van 'n ander persoon is baie keer die wysie wat 'n simfonie in ons eie siel insing!
7 jaar 8 maande 1 dag 11 ure oud


Inderdaad!
Ons God is groot, (meestal) stil wanneer òns skree, maar altyd daar. Soos jy gesien het. (On)gelooflik goed geskryf.
7 jaar 8 maande 5 dae 16 ure oud


Wonder ...
Dis baie goed geskryf, jy het my geboei tot die einde.
7 jaar 8 maande 5 dae 19 ure oud


Nou sien jy...
Daar kry jy toe sommer iets om oor te preek ook.

'Ons is almal verwondes'(!!!!) - natuurlik ja, want 'n Christen se lewe is die duiwel se speelveld - verander toe in 'ons word almal op die regte tyd op-gebandage'.
(Geluk met jou finalis-korverhaal - nog 'n welkome verband!)
7 jaar 8 maande 6 dae oud


Sy tyd is altyd perfek
Hierdie rubriek van jou het my hart baie bie diep geraak. Ja, so stuur God sy mensies oor mekaar se paaie. In Sy raadsbesluit bepaal hy die wie, wanneer en waar. . .

Iemand het nou die dag dit so mooi gestel. Jesus is tydsaam, maar Hy is altyd betyds.
7 jaar 8 maande 6 dae 5 ure oud


die weervoorspelling
life works in mysterious ways.
7 jaar 8 maande 6 dae 6 ure oud


Wonder
Toemaar wat, hierdie is jou eie persoonlike wonder-werkie.
Jy is 'n ster.
Jy is nie rêrig 'n predikant nie, of wat?
7 jaar 8 maande 6 dae 6 ure oud


Wonder
Fantastiese rubriek! En dit laat my nou dink aan iets wat ons altyd in die joga-klas gesê het: "A teacher teaches what s/he needs to know".
7 jaar 8 maande 6 dae 6 ure oud


Wonder
Dis 'n uit-flippen-stekende rubriek. Die beste wat ek in 'n laaang tyd gelees het. Dit het sommer tot my hart en my siel gespreek ook. Dis dalk 'n geval van wie dit die heel nodigste het en waar Sy eer die grootste sal wees of die grootste verskil gemaak sal word.
Ek wil ook een maak! Of meer...
7 jaar 8 maande 6 dae 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Kroniek van die Suid-Afrikanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Beskryf die geskiedenis van die ou SA Weermag vanaf sy stigting in 1912 tot sy ontbinding in 1994. Die SA Weermag se voorgeskiedenis word ook weergegee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar