Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek is glad nie musieklik nie. Kan geen instrument bespeel nie, maar is uitstekend met fool-speel. My een oom is dood aan musiek op die brein. Sy vrou het hom met sy ghitaar oor die kop geslaan. ’n Meisie wat ghitaar speel is vir my altyd so mooi, maar met ’n ma soos myne was, kon ek ook maklik aan dieselfde siekte as my oom gesterf het.

Tog wou ek baie graag leer om ’n instrument te speel, maar ma het gesê daar is nie geld vir lesse nie en wanneer wil ek dit buitendien inpas tussen die baie sport en skoolwerk. So bied ’n maatjie aan om my te leer om trekklavier te speel. Ek kon in Nico Carstens se voetspore gevolg het.

Een middag spring ek op my fiets om na haar huis toe te gaan want sy kon nie trekklavier-en-al op die fiets na my toe kom nie. In elk geval wou ek nie hê ma moet van my planne weet tot ek my eerste eksamen geslaag het nie. Ek sou haar wys ek kan op my eie regkom.

Hierdie maatjie was ook nie iemand met wie ma sou toelaat dat ek meng nie. Bietjie wild en altyd in die moeilikheid by die skool. Aan my maters sal ek geken word, maar hoe anders sal ek dan nou leer om iets te speel? Hulle het ook nog aan die verkeerde kant van die spoorlyn gebly. Nou dat ek weer daaraan dink, weet ek dat ek vir ma gejok het oor waar ek heengaan. Skies ma.

Ewenwel, ek vat die pad na maat se huis toe. Na ek eers bietjie verdwaal het, hou ek op die sypaadjie voor die huis stil. Die gras is so lank, ek kan skaars die tuinpaadjie uitken en ek is seker daar is leeus. Vanuit die huis hoor ek ’n bulderende manstem wat erger vloek as wat pa kon droom om te doen. Ek kan hoor hoe glas breek en kinders skree en deure toeslaan. Voor ek nog van my fiets afgeklim het, swaai ek om en trap so hard dat die gruis klippers onder my wiele knars en agter my uitskiet. Einde van my hoop en nou is ek musiek-loos.

Ek geniet om na sekere soorte musiek te luister, op die regte tyd. Nie aldag en heeldag nie. Sommige dae skakel ek nie eers ’n radio of CD speler aan nie. Ek is mal oor dans en doen dit sommer met die besem in die hand. So, as ek na iets luister moet dit lekker vinnige ritme hê.

Daar is egter ’n ander soort musiek wat my bekoor en ontvoer. Die klank van branders wat breek op die strand en die skommeling van die see. Die opgewekte gejil van kindertjies wat in ’n park speel. ’n Waterstroom wat oor die klippers kabbel. Die dreuning van ’n waterval. Die ge-tjirp en ge-twiet van voëltjies in die bome. Die eensame gehuil van ’n jakkals wat deur die stikdonker nag aangesweef kom.

Krieke wat tjir in die gras en paddatjies wat kibbel by ’n dammetjie. Die geknetter van die vlamme en die gesis van wors op ’n braaivleis vuur. Die geblaas van ’n blesbok agter ’n bos. Die doef-doef van Afrika tromme naby ’n stat. Sonbesies wat sing op ’n warm somermiddag. Die suising van reën op ’n sinkdak. Die jelp van ’n pou of hoe-hoe van ’n uil. Lammers wat blêr in die veld.

Dis musiek waarvoor ek nooit moeg sal raak nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

=)
Ag maar ek het darem nou te lekker gelees....oulik gedoen soos altyd.
7 jaar 7 maande 1 week 6 dae 17 ure oud


Nachtmusiek
Maandagnag, terwyl die hardekool se knetterende vonke en vuurtonge die ligkring verwyd en die nagapies in die koorsboom kotteljons, moes ek 'n klip in die rivier gooi om die jubelende nagkoor te stil, sodat ek net my gedagtes kon blaai.
7 jaar 7 maande 3 weke 7 ure oud


Musiek...
is ook wanneer jy jou sê so mooi kan sê!
7 jaar 7 maande 3 weke 13 ure oud


Musiek
Ek wens altyd jou vertel-stukke is langer. As ek my weer kry, lees ek sooo lekker en dan's dit klaar. Ag nee man, ek soek 'n hele boek vol!
7 jaar 7 maande 3 weke 19 ure oud


Sterkpunt
Komiese vertellings en die akkurate weergee van detail wat uit jou hartsgeheue kom, is beslis jou sterkpunt. Hierkombineer jy die twee baie goed! Dis was nou regtig lekkerlees!!
7 jaar 7 maande 3 weke 1 dag oud


die weervoorspelling
die natuur se musiek bly maar die mooiste...
7 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 1 uur oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

ENGELE EN ROWERS

deur Piet Schoombie

Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar