Toe ek onlangs kortpad deur die veld vat, kon ek nie glo die boom met die mooi blink bare op die lae takke gaan my soveel moeite en pyn gee nie.
Ja-nee, dis toe al die tyd die berugte Blinkblaar Wag-'n-bietjie [Ziziphus mucronata; Eng. Buffalo Thorn]. Hy’t nie verniet hierdie naam gekry nie, want as jy eers in hom vassit, het jy nie 'n keuse nie – jy sal stadig en baie versigtig jouself van al die haak- en steekdorings moet bevry.
En dis nie so maklik nie – dikwels raak jy meer verstrengel hoe meer jy probeer loskom – want gaan jy vorentoe dan steek die reguit doring jou – gaan jy terug dan steek die haakdoring. Soms het jy regtig iemand nodig om jou uit die verknorsing te help!
Hierdie boom lyk soms meer na 'n bos en kom in groot dele van die land voor. Dit word nie juis groot nie en het pragtige blink blare en vrugte wat soos klein appeltjies lyk. In ons tuin in Pretoria was die vrugte die voorkeurkos van die Kuifkophoutkapper – ja, daardie een wat soos 'n wekker klink...
Unieke eienskappe van die boom is dat die takkies nie reguit is nie, maar 'n sigsag vorm het, met twee vlymskerp dorinkies bymekaar op elke draai – die een is 'n haak en die ander een 'n reguit doring wat in die teenoorgestelde rigting wys. Dit is dan sy wapen om jou vas te hou en 'n bietjie te laat “wag” voor jy verder kan gaan.
Ek verstaan dat dié boom in sekere kringe, veral by wildbewaarders, bekend staan as die Boom van die Lewe* met verwysing na die volgende drie aspekte:
- Die sigsag struktuur van die takke verteenwoordig ons pad deur die lewe wat nooit reguit is nie. Ons sukkel om op koers te bly en gaan dikwels na links of na regs.
- Die reguit vorentoe doring beteken ons moet na die toekoms kyk om te sien wat voorlê.
- Die haakdoring herinner ons om nooit te vergeet wat ons in die verlede gesien of beleef het nie.
Vir my is hierdie 'n pragtige voorbeeld van hoe ons die wonder van die natuur en van die skepping as lewensfilosofie kan gebruik.
© Vic Viviers Maart 2013
* Met erkenning, verwys: http://www.sonsafaris.com/understanding/05/11/tree-of-life