Rubrieke

Titel: My opinie
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Eerstens, mense kom in wese uit dieselfde gietvorm, wat veroorsaak dat meeste mense hul lewenservaringe met ander deel, of anders gestel, dat meeste mense die lewe vanuit diesefde basis beleef. Iemand wat nog nooit van ‘n god of gode gehoor het nie, is steeds potensieel blootgestel aan dieselfde strek van ervaringsmoontlikhede as gelowiges. Die verskil dus tussen gelowiges en naiwe ongelowiges is die spesifieke kulturele fatsoene van ervaring wat die geloof mense bied as struktuur vir hulle interpretasies daarvan.

Lewensuitkyk vorm die steierwerk van ons almal se intepretasies. Ons lewensuitkyk word weer gevorm deur ons onderbou, wat bepaal word deur ons persoonlike historiese konteks. Ons kultuur en welvaartsvlak, opvoedings geleenthede, asook sekere vormgewende gebeure, dra alles by tot wie ons is en nog gaan wees. Meeste mense vind min redes om te veel die onderbou te bevraagteken. Hier voel hulle tuis in die rol wat hulle gevestig het tussen mense wat hulle ken en na aan voel. Slegs wanneer daar iemand is wat wesenlik verskil van die norme om jou, moet jy besluit wat jy daarmee gaan doen. Die eenvoudige antwoord is om so anderse uitkyk af te maak as die vreemde gedagtes van ʼn buitegroep wat onverstaanbaar is. Dus hoef jy nie die moeite te doen om die vrae wat so ontstaan ernstig op te neem nie, want dit bied geen bedreiging vir jou verstaan van dinge nie.

Die moeiliker antwoord is om die persoon as jou gelyke te ag en te hanteer; as iemand wat nes jy waardig mens is en die respek verdien wat jy hoop hulle jou sal toedien. Dit verg dat jy eers deeglik luister na die persoon agter hul sienings, en dan na die redes hoekom hulle anders as jy dink of glo. Indien jy hulle byvoorbaat afmaak as minderwaardig of verlore, dan wys jy die natiwiteit van jou eie uitkyk wat nog min kritiek moes weerstaan het. Om jou geloof se validiteit te behou moet dit die kruisvuur van ander kan weerstaan sonder dat jy staat maak op die sterkte van jou geloof self. Indien jy slegs glo omdat jy glo jy moet, en nooit jou geloof in twyfel trek in ʼn poging om dit werklik te verstaan nie, dan is jou geloof naïef.

So ondeurdagte geloof beskerm dit self teen intellektuele kwelvrae deur, soos die ape, hul oë, ore en monde toe te druk in ʼn poging om dit te ignoreer sodat die geloof beskerm kan bly daarteen. Sulke mense is bang ʼn meer oop houding jeens enige kritiek sal hul omkant vang en die basis vir hul geloof bedreig. Met so ʼn persoon is enige gesprekke net tydverdryf, want dit is nie redelikheid wat hul geloof onderhou nie, maar hulle onderontwikkelde emosies, wat soos kinders nog afhanklik is van ʼn groter onderhoudende gesag. Om oor jou geloof te twyfel is reeds een van die groot sondes, so hoe kan jy eers begin om daarin te twyfel? Klassieke Catch22.

Die wat wel hul geloof toets teen die redelike kritiek daarteen deur self redelike antwoorde te probeer bekom ter ondersteuning/ of aanpassing daarvan, verdiep of so die redes vir hul geloof, of begin om dit te verloor. Natuurlik is dit ʼn aanpassing om jou geloof te ontgroei, maar vir my was die proses al van vroegs af aan die gang. Die gesiene Christene, wat as voorbeelde vir die dorp gedien het, was so vêr van wie ek self wou word as wat ek kon dink. Dis asof ek valsheid se fabriek ontdek het, en as kind, wat so iets altyd raaksien, het dit my gewalg. Later het my meer in diepte ondersoeke oor spesifieke gelowe en geloof in die algemeen, my dit laat begin bevraagteken en so die paadjie vir my reis buite die beskerming en intellektuele beperkinge van die geloof en kultuur van my jeug, begin uitkap. Dus het dit lank gevat met vele gesprekke, boeke en argumente later om my huidige uitkyk te vorm, maar dit is my eie en nie bloot oorgeneem nie.

Die ironie is dat ek veel gelukkiger is nou dat ek eerlik kan wees oor wat ek nie glo nie, as wat ek ooit was te ek gedink het ek moet dit nog glo. Ek is steeds dankbaar vir my eie en my naastes se bestaan, en kyk met groot bewondering na die natuur waarin ons onsself bevind. Ek lewe vir dieselfde redes as ander met families en beroepe, naamlik om ʼn sukses van my lewe te maak as seun, ouer, eggenoot, vriend, kollega, en kreatiewe persoon. Ek ken die limiete van my magte, maar dit keer my nie om dit wie ek poog om te word steeds na te streef nie. My waardes waarop ek dit baseer deel ek waarskynlik met vele gelowiges, met die een verskil dat mense vir my genoeg redes bied, terwyl gelowiges mense veel minder ag in hulself.

Ek aanvaar die realiteit word nie bestuur deur ʼn opperste intellek nie, en is dus onpersoonlik. In so wêreld met die natuurwette aan bewind gebeur tragiese gebeure, maar ek hoef nie te wonder hoekom dit gebeur nie. Die dood , pyn, onreg, smart, en alles wat ons meemaak is inherent deel van die lewensproses in ons soort realiteit, wat die menslike natuur insluit. Op ons beste is ons amper goddelik, en op ons slegste definitief ook. Daarom weet ek elke dag is ʼn voorreg vir my en almal wat dit oorleef, maar daarmee saam aanvaar ek reeds dat niemand die lewe sal oorleef nie, en dus gee dit aan wat ons elke dag te doen staan soveel meer dringendheid. Tyd genees meeste wonde, en soms is iets niemand se skuld nie, maar selfs al was dit, moet mense mekaar vergewe indien ons sinvolle lewens wil ly. Die waarheid hiervan is duidelik wanneer mens na presedente kyk.

Ek weet ek mis niks konkreet nie, want ek is rustig in my gemoed. Ek vrees ook nie die dood nie, maar ag die lewe genoeg om die dood so lank as moontlik vir my te wag.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie.
Ek kan met eerlikheid sê jy het 'n baie beter begrip en meer rustigheid in jou as wat ek gehad het op die "eureka" oomblik.

En veel meer as dit, jy het nie baie woede nie. Dit was die ergste, toe ek agterkom het dat mense prontuit (uit 'n gebrek van kennis, of met kennis) jou manipuleer en en voor leuens vertel in die naam van die sisteem. En op alle vlakke van jou lewe ook. Dit het verreikende invloede gehad wat tot nou toe "issues" veroorsaak.

Maar, meeste van als, dankie dat jy met ons deel, en alle sterkte vorentoe. Dit is 'n moerse avontuur van ups-en-downs, en jy gaan dit nie verruil vir die wêreld nie, want jy het in jou eie manier die wêreld gevind. :-)
6 jaar 7 maande 1 week 3 dae 3 ure oud


MY KOMMENTAAR


. . . . is onder 'n nuwe titel geskryf:

http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/jacques-de-villiers-se-opinie-is-lewensbelangrik
6 jaar 7 maande 1 week 3 dae 10 ure oud



VOLLEDIG CHRISTEN, VOLLEDIG MéNS

deur Johann P. Boshoff

"We need to rediscover ourselves as full human beings and discover that it is precisely as full human beings that God wants us to come to him. His salvation, his love, his mercy are designed for full human beings, not for theological or religious creatures who have stifled their humanity or repressed their deepest emotions. We ought to be fully human and unashamed of our humanity ... as we approach the God who made us that way and is waiting for us to come to him in that way. Jesus himself approached God in that way and communicated with his whole heart in prayer to the Father. (Hebrews 4:15-16 and 5:7) The Spirit is imparting to our heart the faith and desire to approach God." ■ Ralph Martin in Hungry for God (1974)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar