Rubrieke

Titel: Droogte
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Droogte op aarde is erg. Dit laat geen lewe onaangeraak nie. Elke gras spriet, elke plant, mens en dier is bewus van die dorheid, van die smagting van die aarde na lewegewende water. Droogte se uitwerking op mens en dier is wyd bekend – sonder water kan daar nie lewe wees nie.

Maar die droogte van die gees is erger.

Die krake van dorheid en die uitgestrekte vlaktes vol niks maak daaglikse bestaan ʼn worsteling. Dis dan, wanneer niks die gees meer voed nie, dat die taaiste groeisels vatplek kry in die woesteny. Dan spruit die onkruid van venyn, afgunstigheid, kleinsieligheid, na-ywer en veroordeling uit elke kraak en skiet soos bome die lug in. Want hierdie groeisels kan nêrens anders bestaan nie – net in die dor, uitgedroogde vlaktes van die verlate gees.

Venyn word ʼn boom, maar sy blare gee nie skadu nie, sy dorings skiet soos pyle in alle rigtings en hoe groter die wonde, hoe sterker groei die boom. Maar die wortels sprei ook diep onder die oppervlak na die eie gees en dien daar dieselfde wonde toe. So teer venyn op homself en vernietig stuk vir stuk die lewe tot dit van bitterheid en na-ywer sterf.

Afguns se grypende arms skuif stadig uit en oor die krake, ongesiens kruip dit deur elke bars en rank alles en almal wat voorkom toe. Die arms krul versmorend om elke voorwerp en elke lewe tot dit stadig doodwurg in die greep wat ook om homself gedraai is.

Kleinsieligheid is subtiel en groei amper skelm uit die dor landskap se krake. Dit word ʼn bos wat bitter bessies dra en die wat dors is nader wink met skelm oë en soet woorde, net om dan veroordelend die afgedopte vrugte die landskap vol te slinger vir ander om te vertrap en te bespot.

Na-ywer kom stadig van onder die harde kors te voorskyn en maak duister skadukolle oral waar daar lig deur die wolke breek. Dit verduister en verdoesel, dit steek weg en vertrap, dit gryp en veroordeel. Dit vergruis en verbrysel tot die ewige skadu ook oor hom sprei en hy stadig opkrul in sy eie duisternis en vergaan.

Veroordeling skiet vinnig en sterk uit die droë barse en word ʼn boom met wortels diep en uitgesprei. Dit dra penne en dit sit in die voorste plekke waar die liefde hoort; waar die vrede en begrip is spring dit op en vermoor goedheid, vergifnis, geduld. Die penne dring ook diep in die eie hart en die gif daarvan sak af tot in die wortels tot die eie gees stadig verskrompel en kragteloos teen die dors vergaan.

Mag die seën van die lewegewende reën ook op die uitgedorde gees val en 'n woud van liefde, lig, vergifnis, aanvaarding en wysheid opspring uit die krake.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Droogte


Ek het jou nou eers 'ontdek' en is verstom oor die besonderse hoek waaruit jy na 'droogte' kyk. Nog meer die personifika-sies, die speel met beelde en woorde en dan verknus ek veral in die onopgesmukte diepe wysheid waarmee jy die werkie afsluit met:
"Mag die seen van die lewengewende reën ook op die uitgedorde gees val en 'n woud van liefde,lig, vergifnis, aanvaarding en wysheid opspring uit die krake."
Nie net 'n sinvolle bydrae nie, maar inderdaad sielvoedend!
4 jaar 3 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


Droog
Ja, en dis 'n erger droogte, né?
4 jaar 4 maande 2 weke 4 dae 3 ure oud


Droogte
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die DROOGTE projek.
4 jaar 4 maande 2 weke 4 dae 15 ure oud



Mari

deur Rachelle du Bois

Die pragtige Mari Wolmarans vat haar seuntjie en vlug weg uit ʼn gewelddadige huwelik. Sy is die rykmanslewe gewoond, maar nou is sy sonder heenkome of inkomste. Sy gaan woon by haar broer Thinus waar sy die aantreklike kunstenaar Dewald Bosman ontmoet. Sy is geskok en verward toe hy aanbied om met haar te trou ter wille van die drie-jarige Dirkie. Sy is nie gereed vir ʼn tweede huwelik nie, maar sy neem tog sy huweliksaansoek aan ter wille van haar seun. Dit sal egter slegs in naam wees tot sy anders besluit. Maar sal sy? Sal sy vir Dewald kan liefkry soos hy vir haar? Dewald is betower deur die verruklike Mari. Sy het sy voete onder hom uitgeslaan en sy enigste begeerte is om haar lief te hê as sy vrou. Die oulike Dirkie kruip vinnig in sy hart en hy neem hom voor om vir hom ʼn toekoms te verseker, want hy kan en hy wil. Vir Mari en vir Dirkie. Sal hy daarin slaag om haar hart te wen?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar