Rubrieke

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Te veel ryk kos op 'n Vadersdag, kan konsternasie veroorsaak as mens die volgende dag dit met te veel oefening probeer afwerk.

“Mens is maar net so oud soos wat jy in jou kop voel.” so het ek tot nou toe vas geglo. En so het my kop-jonkheid hand aan hand gestap met my lyf-gevorderdheid. Het ook graag die gesegde aangehaal, wanneer die kinders na my begin verwys as oud.
Want sien, my kop het vasgehak by jonk en my liggaam het intussen, onwetend, aanbeweeg na ouer.

Gister, op die vreugdevolle jeugdag, na 'n feestelike vadersdag, moes ek egter die waarheid vierkant in die oë kyk. My kop met ‘n pynlike skuif, laat aanbeweeg na ‘n ooreenstemmende liggaamsgetal.

Met die jonk-gevoel in my kop, wat nog kans sien vir enige uitdaging, en die oordadige vadersdagete alreeds vergete, dink ek nie twee keer, toe die kinders ons nooi om saam met hulle te gaan stap by Groenkloof Natuurreservaat, langs die Fonteine Ontspanningsoord, nie.

Gemaklik aangetrek, met ‘n paar plat, ouerige stewels (ons gaan mos net lekker rustig stap) en ‘n botteltjie water, vertrek ons.

By die ingang, waar ons moet betaal, wip my wenkbroue in ‘n boog, toe die meisie, sonder om te vra, ons klassifiseer as pensioenarisse. Ek trek my asem in om haar reg te help, maar voordat‘n geluid my mond uiter, kry ek ‘n waarskuwende blik van manlief, en swyg summier. Hier’s mos nou ‘n geldjie te bespaar. Pensioenarisse betaal heelwat minder, stuur manlief se oë die boodskap. En so betree ons die oord as pensioenarisse.

Die plek is nogal vol. Gesinne wat saam fiets ry, ander weer aan’t stap. Party hou piekniek en braaivleisreuk hang swaar in die lug. Daar heers ‘n gesellige atmosfeer. Werklik ‘n aangename plek om as gesin te kom ontspan, dink ek.

ONTSPAN?? Wat wou!

“Watter roete wil ma-hulle stap, die rooi of wit roete? vra my seun ewe beleefd.
“Wat’s die verskil?”
“Die rooi roete is 3km en die wit roete 4,5km. Maar ons het al die rooi roete gestap, sal nou eerder die wit roete wil stap.”
Nou hoekom vra hy dan, wonder ek in my enigheid en sluk my opwip evasappel, met die hoor van die afstand, hard terug op sy plek.
“Dan stap ons maar die roete wat julle wil.” beaam ek beleefd. ‘Jy’s mos nog jonk en hups’ koggel my kop.

Vrolik en vlytig begin ons die staptog, volg al die bordjies met die wit voetspore op. Al is dit vaal en droog, verwonder ek my aan die natuur, sien hier en daar ‘n paar veldblommetjies en neem fotos sovêr ons stap. Die windjie is nogal koel en ek rits my baadjie toe ek drapeer my serp om my kop.

Die paadjie raak geleidelik steiler. Met die stop vir ‘n slukkie water, kyk en terug en besef ons stap lankal nie meer nie, ons klim dan berg.

Na ‘n kilometer blaas ek soos ‘n os wat regmaak vir storm. Nog later begin die sweet uitslaan, die serp van my kop afgehaal, en die baadjie weer oop gezirts. Die koel luggie is nou lafenis vir die hitte wat oral uitslaan.

Die paadjie raak al steiler en ons klim al hoër en hoër.

Manlief, wat die agterhoeke dek, por my aan en gee kort kort die waterbottel aan.

My liggaam se konstitusie begin teen my werk. Die vorige dag se vergryp aan die heerlike vadersdagete, begin onwelkome gasse opbou (seker van al die aanhoudende beweeg) en ek loop later knyp, knyp om nie skandes te veroorsaak nie. Maar hoe hard ek ookal probeer knyp, ontsnap daar hier en daar so ‘n flouerige “pieeew” (wat ek hoop niemand hoor nie) want dis gelukkig windaf.

Arme manlief, versnel sy pas en skuur by my verby. Kyk my uitdagend aan, maar waag nie om iets te sê nie. Beleefd gee ek maar pad dat hy liewer voor stap.

So knyp, knyp ek die berg op. “Kan ek nie maar omdraai nie?” vra ek moedeloos.
“Neee...” koor al drie saam.

Die skerp klippe druk dwarsdeur my stewels se dun sole. Sweet tap my af. Hygend na asem dryf ek myself treetjie vir treetjie vorentoe. Knyp is mos goeie oefening vir die boudspiere, net vrek moeilik as jy terselfdertyd moet stap ook.

Genade tog, wat het my besiel. Om my aandag van die stappery weg te neem begin ek met die kind in my kop redeneer.
‘Jy beter nou vir eens en vir altyd besef jy’s lankal verby dertig. Daar’s ‘n rede hoekom die vrou by die hek dink jy’s ‘n pensioenaris. My magtie, jy’s darm al ouma van twee kleinkinders’

Uiteindelik is ons bo. Ek sien vêr en wyd. Die Voortrekkermonument in al sy glorie. Die magdom paaie en motors. Hoor en sien tot die Gautrein verby snel.

Nou moet ons weer af. Ek trap versigtig om nie te gly op los klippe nie. Het al eenkeer tevore teen ‘n berg afgerol en my knieg lelik seergemaak, maande met krukke geloop, wil beslis nie weer daardie pyn beleef nie.

Ons stap en stap en stap. Genade, hoe vêr is vier en ‘n half kilometer dan?

My tone pyn en brand soos my stewels daarteen druk. My voete sleep. 'Moenie voel of dink nie, stap net’ probeer ek myself aanmoedig.

My seun gewaar kameelperde links van ons en die drie stap veld in om nader te gaan en fotos te neem. Dit word sommer aanvaar dat ek nie saam stap nie en ek word alleen in die paadjie gelos om ‘n rus- en afblaas kans te kry.

Die stilstaan was ‘n fout. Toe hulle terugkom en aanstap, weier my bene om vorentoe te beweeg. Skierlik voel dit baie swaar en stram. In my gedagtes sien ek die hordes comrades drawwers wat teen laatmiddag met jelliebene hul bes probeer om die eindstreep te bereik.

Ek dwing myself vorentoe, kort, kort word ek getroos met “Dis nie meer so vêr nie”.

Uiteindelik bereik ons die eindpunt en ek waggel na ons karretjie toe. Val hygend en proesend in die voorste sitplek neer.

Na ‘n heerlike warm bad, en ‘n panamor-pilletjie, vir die wis en die onwis, voel ek amper weer mens en klop myself op die skouer. ‘Jy verdien ‘n medalje, het vandag vier en ‘n half kilometer berg geklim en gestap, en jy lewe sowaar nog.’

Vanoggend kon ek ook sowaar uit die bed. Maar hier teen middag se kant het ek weer begin waggel. Was jare laas bewus van my kuite, wat nou soos twee pitsere voel.

Wonder hoe gaan ek more voel?

Sal ek dit ooit weer doen?

Miskien, met die regte skoene en sonder ‘n oordadige Vadersdagete die vorige dag.

My kop-jonkheid en my liggaam-oudheid het darm ook weer vrede gemaak.





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Stap
Of as Corina te ver is jy kan saam met my hier in Blantyre se heuwels kom stap. Wees bly dit was nie skyt-skyt die bult-yt nie.
Lekker vertelling.
6 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 21 ure oud


:D!
Jy moet vir my kom kuier dat ons kan STAP. Blaas-blaas heuwel op en af stap ons die lywe jonk. Dankie vir die heerlike vertel.
6 jaar 9 maande 3 weke 5 dae 12 ure oud


Lekker
Lekker saamgestap met 'n lekker vertelde storie!
6 jaar 9 maande 3 weke 5 dae 14 ure oud


***
Driekie, ek's 'n ou stapper en ek kan myself nogal inleef in dié storie wat jy so lekker vertel.

Ja-nee, oudword is 'n bliksem -- luister maar gerus na my Oud word lied:

http://www.woes.co.za/bydrae/liriek/oud-word-lied
6 jaar 9 maande 3 weke 5 dae 16 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Hartsnare

    deur Driekie Grobler

    100 Inspirerende gedigte en hartsgedagtes oor menswees en die lewe.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar