Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek kuier vandag saam met Sussa daar van Fanus se "Dronkwordspruit" wêreld. Die wat Fanus Rautenbach ken, jou ouderdom is so pas weggegee.
( Ek het toentertyd as Fanus se penniefluitjie-kwêla sewe-uur soggens speel, geweet dis tyd om my fiets te gryp en skooltoe te ry)

“Ai, hoe lekker is dit tog nie om almal se sussa te wees nie - so gepas. Kan Sussa ook op haar regte staan?” (B)

“Natuurlik!! En dis iets wat mens so met die jare aanleer, ek bedoel om jou stert diplomaties te wip en jou sê te sê op so 'n weldeurdagte manier dat die ander een eintlik dink jy doen hom 'n guns. Ek moet byvoeg dat dit op hierdie stadium van my lewe nie dikwels gebeur nie...ek bedoel dat ek sommer op my perdjie spring nie! My lewe is geseënd en ek is gelukkig. En dankbaar daaroor.”(S)

“ Die natuur, vroeë oggende opstaan en menswees is deel van jou. Waar het Taal 'n inslag op jou gevind?” (B)

“ My taalliefde kom van ver af, miskien uit die Hoërskooljare toe ons Afrikaanse onnie my opstelle vir die klas voorgelees het en ek bloedrooi gesit en bloos het van selfbewust'geit.' Dit kom ook van my oorlede Ma af, ek het al haar héérlike boeke op die rak in ons huis verslind, haar liefde vir poësie en letterkunde en bekende skrywers het sy onbewustelik op my oorgedra.

Die vroegopstaan was maar altyd deel van my lewe, dis die heelbeste tyd van die dag! My volwasse kinders terg my nou nog omdat ek altyd vuur onder hul boude wou maak as hulle so laat lê en poepruik..:-))” (S)

“Hoe sien jy die verskil tussen jou skilderye en gedigte?” (B)

“Skilderye maak en gedigte skryf is maar altwee 'n lekker, kreatiewe iets om te doen. Ek geniet beide ewe veel. Op 'n manier is skilderye miskien makliker want ek hoef nie te dink nie, ek doen net!

Met gedigte moet ek soms mooi dink, as mens my verse 'gedigte' kan noem. Ek het hier op Woes leer gedigte skryf. En wil ook dan nou sommer net gou weer vir 'n ieder en 'n elk wat my woorde lees, sê DANKIE. Die positiewe aanmoediging en die warmhart-kommentare maak my beker baie dae tot oorlopens toe vol.” (S)

“Hier waar ek staan is alles so deurmekaar, verf net waar jy kyk. Haha, toemaar dit is op 'n doek. Vertel ons eers waar skilder jy en hoe lyk jou ateljee?” (B)

“Waar ek skilder? Op die doek, Barend!! ;-)

Ek skilder in die voorste kamer waar my rekenaar ook is. Verf en goeters in die kas. Esel staan hier eenkant ( die een met drie pote!) Hier is oorgenoeg ruimte, al my liefmense kyk uit fotorame na my, musiek van buite uit die bome en ook hier binne en 'n lekker tafel om op te werk en natuurlik rakke vol boeke.

Ek het nie regtig 'n 'ateljee' nie, maar wel 'n kunsgalery: die rondawel agter in ons erf. Ek het al 'n 'Happie' daaroor geskryf....daar hang die skilderye vir enige-iemand om enige tyd te kom bekyk (en koop! glimlag!) Ek hou so van tyd tot tyd 'n uitstalling in ons tuin en nooi die hele wêreld en sy maat. Die vorige uitstalling was 'n Woesfees in die kleine. (Ondersteunende mense , hierdie Woesmense!)

Ek weet ek kan seker baie meer doen om meer blootstelling te kry, maar daar is redes hoekom mens doen wat jy doen. Ek het op die internet al baie gawe verkope gehad. As julle op die volgende skakels druk, sal julle my 'prentjies' sien:

http://www.paintingsilove.com/artist/elizabethkendall

http://www.redbubble.com/people/Happyart

Ook by: SouthAfricanArtists.com en natuurlik op my fb-profielblad.” (S)

“Ek en Hagar wil graag vir jou 'n skildery maak en hy lyk tog só ingenome daarmee. Dit klink my dit gaan 'n blommetjies een wees - vir sy pote staan daar sekerlik niks verkeerd nie.”(B)

"Ou Hagaitjie se skildery is lieflik....net modderblommens waar jy kyk!
Mens noem dit spontane kuns!” (S)

“Ou Hagar is tog so liefdevol. Het hy julle volkome aanvaar as sy familie en kan hy ook stout wees?” (B)

“O jy ken vir Hagar? swart soos roet.....alles in hierdie land word mos swart deesdae! ;-) Ons vorige Labrador was 'n goue oue.

Ja, hy's so tuis as kan kom, erg lief vir vroumense (het mos by een grootgeword) en baie erg oor al ons kleinkinders. En hulle oor hom! Hy's verby die gatgrou-stadium. Ek sal hom dus klasifiseer as "nie stout nie"!? Hy ken ook heelwat 'tricks': kan 'n bal gaan haal EN teruggee, staan soggens met sy pote op die vensterbank, steek sy groot, swart kop deur die oop venster en sê duidelik 'goeiemôre' aan wie ookal wakker is en is oor die algemeen 'n groot plesier op die werf en in ons lewe.”(S)

“Het Sussa 'n gunsteling gereg waarmee sy ander beindruk?” (B)

“'n Gunstelinggereg? Oh my goodness! Chrisman is die kok...hoera!! dis hoekom ek met hom gaan trou het. (Wel, één van die goeie redes! ;-))) Dit was een van my eerste vrae aan hom: ‘Kan jy kosmaak?' Toe hy ‘Ja!’ sê, was hy sommer dadelik taamlik hoog aangeskryf!! Ek maak graag 'poeriengs' as die kinders kom kuier: bruinpoeding of Roly Poly of wat ookal. Jy moet maar eendag kom proe, dis lekker verby! ( sê hulle...) Sien, ek hou net daarvan om lipafleklekkergoed te maak!
Daar is so 'n baie spesiale ringkoekresep ook wat tjoklits bo-op kry....njammies! Maar dis net vir ‘high days & holidays!’ " (S)


“Om terug te kom na Woes. Hoe beleef jy die kuberkas - die lief en leed, en en en..  Moet daar meer funksies wees, skryfskole aangebied word, kompetisies, uitdagings? Wat moet ons vermy, afskaf?” (B)

“Woes is 'n belewenis: woeslekker! Ek geniet dit erg baie. My verslawing het ook nie noemenswaardig afgeneem in die 1 jaar 7 maande 3 dae en 14 ure wat ek (vandag) al deel is van dié webblad met die grootste verskeidenheid bydraes suid van die ewenaar nie! Ek het al so baie mense hier ontmoet wat vir my oneindig baie beteken elke dag van my lewe. Ek het ook al net so baie hier geleer. Wanneer mens regtig probeer om jouself  'in iemand se skoene' in te dink/lees, besef jy hoe baie jy het om oor te jubel en te juig. Elke dag.
Ek sou nie skryfskole hier wou aanbeveel nie, mens wil soms net sommer 'wees', net spontaan laat waai en uitstort wat binne woel en broei en soebat om iewers gelees te moet word. Woes is 100% gebruikersvriendelik in daardie opsig.
Uitdagings soos die onlangse 'Eugene Marais'-gedigte en kompetisies is grênd en moedig mense aan om meer te skryf. Die Woes Forum is ook dalk meer geskik vir lg. Ek weet nie, ek kom nooit meer daarby ook uit nie.
Ek dink wat vermy kan word is om Engelse gedigte hier te publiseer. Mabooki is net agter die eerste muiskliek! Woes is 'n 'kreatiewe platform vir Afrikaans' Kom ons skryf dan in Afrikaans.” (S)

“Hoe sal jy 'n goeie Woester definieer?” (B)

“ 'n Goeie Woester...sjoe, dis 'n taai ene!......Ek dink dis 'n omgee-mens. Iemand met maniere. Iemand by wie mens kan leer. Iemand wat erkentlik, eerlik (veral!) en vriendelik is. Ek het al baie van hulle hier raakgelees!
En as ons nou na die skryf-aspek van 'n goeie Woester kyk, dan sal ek sê dis iemand wat besef 'die hele wêreld' lees sy werk. 'n 'Goeie' Woester sal dus met verantwoordelikheid sy woorde op hierdie webblad neerpen.” (S)

“Vertel ons iets wat ons met ons kan saamdra wat eie is aan Sussa.” (B)

“Ek sou graag vir elkeen wat hier lees die gawe wou gee om elke dag vreugde te vind in die skoonheid om jou heen: die wind, die wolke, 'n duif op 'n tak wat sy versie sing....om 'n opwinding oor jou te voel kom as jy in 'n kind se blink oë kyk of as jy die maan agter 'n dennetak sien uitloer en reën op 'n sinkdak hoor. As 'n mens hierdie vreugde het, het jy 'n liggie wat nie maklik dood sal gaan nie. Selfs in jou donkerste nag.

'n Goeie humorsin is ook 'n noodsaaklikheid in hierdie lewe. 'n Dag sonder 'n lag is 'n verlore dag! En aan dié wat ouer is, moenie dat die kind in jou ooit tot sterwe kom nie. Soms moet mens net weer kind wees en deur 'n kind se oë na die lewe kyk: dis goed vir jou algehele gesondheid!

Ek sou ook die gawe om mense te verstaan en die goeie in hulle te soek vir elkeen wou gee. Opregte vriendskap is soos 'n stil stroom wat deur 'n mens se lewe vloei, waar jy altyd lafenis vind. Dit maak van jou 'n verstandiger en ootmoediger mens.

Ek sou vir elkeen die gawe van die liefde wou gee. Net opregte liefde kan blywende vreugde gee.....dis daar waar jy beskut en veilig sal voel wanneer die sterk winde waai en hoë golwe oor jou breek.” (S)

Dankie hierdie was nou 'n kort, maar baie lekker geselsie met ‘n spreekwoordelike gesoute perd - of is dit nou ‘n merrie? Dankie ook vir hierdie wonderlike wense wat jy vir ons saam gee!!

NB Die skilderye waarvan die verf afkom, word net op 1 April geskilder.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

jitte man!!!
dankie Barend (wie ek nie ken nie) dat ek ook by jou en Sussa kon insluip en so stilletjies kon sit en luister na die wonderlike hartswarm geselsies! Een kyk na jou foto en skilderye en ek het geweet `dis hoe jy is Sussa`
Wat `n groot voorreg en lekkerte man, dankie...
o ja, dankie vir jou tyd om my see versie te lees, ek waardeer! xx
7 jaar 3 maande 3 dae 5 ure oud


Gawe leesstof, dankie
7 jaar 3 maande 5 dae oud


Ek en Sussa lees mekaar raak so van tyd tot tyd. Lekker gewees om meer oor haar te wete te kom. So 'n interessante en innemende mens.
Dankie. Jy weet hoe om al die inligting uit mense te kry. Het geniet.
7 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 1 uur oud


Dit was nou lekker om Sussa meer te leer ken! 'n Merkwaardige vrou inderdaad. Dankie Barend en vir jou Sussa
7 jaar 6 maande 4 weke 1 dag 12 ure oud


Jy kan dit gerus 'n meer gereelde "rubriek" op woes maak!
Baie dankie, heerlik gelees!
7 jaar 7 maande oud


Dit was nou so lekker om hier te kon leees. Baie dankie.
7 jaar 7 maande 7 ure oud


Dankie!! Barend, dankie Sussa!!! dit was regtig lekker om jou so te leer ken!!
7 jaar 7 maande 8 ure oud


Dankie, Barend en Sussa. Ek het die onderhoud baie geniet!
7 jaar 7 maande 15 ure oud


hahahaha !Uitstekend! geskryf Barend! [...daar van Fanus se "Dronkwordspruit" wêreld....]
Ai Sussa... mens kan maar net vir jou lief wees! & soos wat ek nou al op FB gesien het *shimmer* die heeltemalse jy in al jou pragtige skilderye!

Soos altyd Barend, het jy jouself as Woes-Joernalis uitstekend van jou taak gekwyt!
7 jaar 7 maande 20 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Dagboek van die tuinvoëls

    deur http://www.woes.co.za/

    Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar