Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Al jul skrywes oor vaders het my nou so inspireer dat ek my eie storie met jul wil deel.

My vader is `n boer in die Kalaharie, Suidwes-Afrika. (Ja, ek sukkel nog met die naam Namibië) Hy is `n hard-gebakte man, nie net sy vel deur die son nie, ook sy menswees, deur die lewe. `n Man van bitter min woorde, maar die wat hy wel nodig vind om te uiter, kan jy maar ag op slaan, want dit kom uit diepe insig en wysheid. Of wag, ookie altyd nie... maak geen fout nie, hy is beslis nie `n Engel nie en ken sy kragwoorde op die punte van sy vingers. Hy kan hul dan ook so aframmel wanneer `nodig geag’- natuurlik altyd in die privaatheid van sy werksomgewing! (Moenie te ernstig na hierdies luister nie.) Sy lengte is 6voet6, ja hy moet buk om nie sy kop teen die kossyn te stamp nie, en geen greintjie onnodige vet sal jy op sy liggaam vind. Dan het hy so ‘n flinke, stewige stappas waarby net hy kan byhou. As kinders was...selfs nou, is ons op `n huppel-drafstap as ons wil bybly.

Desember 2011 was ek en die kinders daar op die plaas, naby Aroab, vir Kersfees, vir `grounding’, vir liefde, vir rus en vir vetword!

Soos gewoonlik, bid pa gereeld vir `net `n bietjie reën’ – ja, soos in `Mannetjies Roux’. Die Kalaharie is mos `n baie dankbare stuk grond en `drie druppels’ laat haar pronk en `pose’ soos modelle maar net kan droom om te doen. Wag, ek dwaal af....die Vader het vader se gebede verhoor en ons lê nog so lekker buite en slaap toe moet ons vir `n vale raap en skraap om binne-toe te vlug! Moeder (sy’s weer `n volgende inspirasie, `n storie vir `n volgende keer!) is liefdevol en voer ons tot barstens toe vol, maar kan nogal kwaai wees as sy die dag tyd het en derhalwe probeer ons nie een druppeltjie op die beddegoed laat val nie.

Soos die reën sonder ophou val en val en val – baie ongehoord vir hierdie deel van die wêreld, raak Pa se bekommernisfrons dieper en dieper en dieper. Sy geliefdes, die skape, ken nie van sulke baie water nie en die eens leë gronddamme is nou uiters gevaarlike, misleidende terreine. Lank voor eerstelig kan hy nie meer uithou en word al wat leef en beef op die plaas wakker gemaak, toegerus en getaak om uit te gaan na al die uithoeke van die plaas en elke skapie; oud en jonk, mooi en lelik, halstarrig en gewillig.....ja ALMAL, huistoe te bring!

Ek sê jul, die plaas is GROOT! Ek ken nou nie van hektare en daai goed, maar regtig, dis GROOT. Gaan `Google’ maar self wat is die grote van `n gemiddelde Suidwes plaas. Pa het nie gerus voor elke hoekie nie deursoek is nie! Hy het uitgehou, aangehou, sy eie kragte geensins in ag geneem (het ek al genoem dat hy oor die 70 jaar oud is?)!
Daar het ek my vader vir die eerste keer leer ken, ja vir die eerste keer in my 40+ jare het ek hom `gesien’! (Skryende skande dat ek altyd so selfgerig was dat ek nooit kon sien waardeur hy gaan om my groot te kry nie!!! O, ek was `slim’ met kritiek maar uiters onnosel en gestroop van insig en wysheid! Ek het nog nie eens die `guts’ gehad om `jammer’ te sê nie.)

Soos ons die skape vind, het deure tot my vader se siel vir my oopgeswaai en was ek stom vir dit wat ek sien: Die pyn wat sy wese laat verkrummel vir elke skaap wat reeds verdrink het, verlore was. Die vreugde wat hom weer oplig vir die halfversuiptes wat nog hul nood kon uitblêr. Die teerheid en sagte aanmaning waarmee hy hul dan red, optel en na veiligheid dra. Die geduld waarmee hy die versmorende modder van hul afwas, hul voer, hul `dokter’ en aanmoedig om weer op te staan en te loop. En dan die trotse liefde in sy oë en gelaat wanneer hul weer gesond-gelukkig tussen die ander rondmaal.

Nie vir `n oomblik het daai skape dit goedgedink om net teen sy been te skuur en `n `dankie’ uit te blêr nie – nes ek – maar vir hom was hul geredde, gesonde lewens meer werd as al die `dankies’ in die wêreld!

Nou vra ek jul, is dit nie presies soos Vader met ons, sy skapies, optree nie? Die kommer oor ons wanneer ons verkeerde paaie kies en die lewensstorms ons wil onderkry. Die uitstuur van Sy volgelinge om aanhoudend, tot aan die uithoeke van die aarde, vir ons te gaan soek. Die pyn wat Hy ervaar vir elk van ons wat verlore gaan, selfs die Engele huil. Die vreugde wanneer daar nog diegene is wat na Hom roep en vra vir redding. Die teerheid waarmee Hy ons sagkens na Hom toe trek, aanpor tot ‚n lewe saam met Hom. Die geduld waarmee Hy ons dan `skoonmaak’, heel en rig. En die trotse Liefde waarmee Hy ons gade slaan terwyl ons dan `heel’ tussen ons medemens rondbeweeg en lewende getuies is van Sy Liefde en Genade!

Die gedagte wat ek dan hier wil los; laat Vader deur jou sigbaar word vader...of moeder, suster, broer, oom, tannie....wie jy ookal mag wees.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Vader
Hierdie mede-Suidwester, (ja ek klou ook aan dié lekker-sê en liefhê naam) het die storie met heimweë en baie verlang gelees. Kalaharie, Aroab en reën op die sanduine...Vader wat sy bene afhardloop vir sy skape. Ons Vader. Nou sit ek naby die Noordpool en stories soos hierdie vou sy hande saggies om my hart se verlang. Baie dankie.
8 jaar 1 dag 12 ure oud


Is jou eie pa se liefde nie genoeg nie?
Ons mense verhoudings is dit wat ons mens maak. Ons sien beide die goeie en slegte in mekaar raak, en waardeer nie altyd die ander se bydrae tot die onderhoud en ontwikkeling van ons en ander mense se lewens nie. Dit is goed wanneer mens dit weer raaksien en erkenning gee daarvoor.

Wat ek net wonder is hoekom mens nog altyd agter mense soek om hul te verstaan. Natuurlik affekteer jou geloof en oortuigings jou. Soms ly dit na liefde, ander kere na haat. Dit beteken nie daaragter skuil 'n eksterne geestelike vors of vorste wat alles animeer ten goede of ten kwade nie. Deur verby die ooglopende te kyk na meer obskure oorsake is soms misleidend. Die waarheid is soms so eenvoudig as wat dit op die oog af blyk om te wees.

Sonder mense wat die geloof lewend hou, bestaan die geloof nie, in elk geval nie as draer van die waarheid nie. Om goed en kwaad te abstraheer na die suiwerste definisie wat ons kan uitdink help mens om dit in 'n praktiese nuttige idee te omskep. Dit help ons om dade te meet aan hierdie maatstaf, en deur die geestelike oorgawe van die mens aan die idee van die goeie help dit ook om die mens rigting te gee om 'n goeie lewe te ly.

Ek verstaan die personifikasie van die idee in 'n bonatuurlike figuur in die konteks van die mense se politieke absolutistiese model waaronder generasies regeer was. God is die model vir die regverdige absolute heerser wat omgee vir sy onderdaniges, soos 'n streng maar liefdevolle vader figuur. Die hoogste outoriteit ewig en universeel en allesomvattend. Maar so god lewe slegs in die tradisies en gedagtes van mense. Dit word bevestig deur al die manifistasies wat die idee van die bonatuurlike in die mens se geskiedenis al beklee het asook in die tekort van enige objektiewe bewysse in die waarheid van die dimensie se realiteit.

Indien jy iets van god in jou pa sien, al is dit verstrengel in al sy swakhede, dan is dit 'n ware deel van wie jou pa is en nie van iets of iemand agter die skerms nie.
8 jaar 1 week 3 dae 5 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    BLIKeMMER

    deur natasha dutton

    "...BLIKeMMER is 'n keur van die beste gedigte van dertien opwindende digters wat skryf oor alledaagse dinge: drome en sprokies, verspeelde tyd en vrese, liefde en diepgewortelde smart, donkerdae en kindergeloof, gebede en godloosheid, omgeeflenters en somergeniet, introspeksie en nostalgie, migraine en stilte, genade en worsteling, selfs Lifebuoy en 'n huis in Vergeetstraat. 'n Bundel wat geniet en waardeer sal word deur die letterkundige, die filosoof asook die doodgewone mens op straat. Geniet dit!" (Lynette Beer: Inspirasie Spreker)



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar