Rubrieke

Titel: Ateïsme
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Wat is ‘n ateïs? Die meeste mense het ’n basiese begrip van wat ateïsme behels, maar meeste mense oordeel ook ateïsme as immoreel. Om teen god te kies, om god te verwerp, is die toppunt van vermetelheid en arrogansie. God is die volmaakte liefde, dus verwerp die ateïs wat goed is ten gunste van sy persoonlike vryheid. Die ateïs wil eintlik net homself nie aan god se gesag en morele wette onderdanig maak nie om te doen net soos hy wil. God wil wat goed is, dus soek die ateïs wat sleg is. Ateïste wil buite moraliteit lewe en dus smag hulle na die losbandige en selfsugtige lewe. Is die siening van ateïste korrek? Voor ons dit antwoord, kom ons ondersoek die verskil tussen ateïsme en teïsme.

Teïsme is die geloof in die bestaan van god of gode. Die voorvoegsel “a” beteken “sonder,” dus beteken die term “a-teïsme” letterlik “sonder teïsme,” of sonder geloof in ’n god of gode. Ateïsme is nie ‘n geloof nie, maar die afwesigheid van geloof. Ateïste glo nie dat ‘n god nie bestaan nie, maar glo eerder nie in die bestaan van ‘n god nie. Ateïsme is ‘n negerende term. Waar teïsme vertaal kan word as die positiewe proposisie “geloof in god,” vertaal ateïsme as die negatiewe proposisie “geen geloof in god.” Al wat die term teïs of ateïs ons vertel is die geloof of te nie in die bestaan van ‘n god of gode. Dit vertel ons niks oor hoekom so persoon daarin glo of nie glo nie.

Teïsme en ateïsme omskryf die omvang van alle alternatiewe aangaande die geloof in ‘n god. Of jy glo god (of bonatuurlike wese) bestaan, of jy glo dit nie. Agnostici ontken die moontlikheid om kennis oor die bestaan van ‘n god of die bonatuurlike te bekom. Alhoewel hulle die teoretiese moontlikheid van die bonatuurlike oophou, ontken hulle dat dit moontlik is om die bestaan daarvan te bewys, of tee te wys. Dus, volgens die agnostikus is kennis daaroor onmoontlik, en daarom weerhou hulle hul oordeel daaroor. Maar enige person wat nie in die positiewe sin in die bestaan van ‘n god glo nie, is sonder die geloof in ‘n god en dus is hulle ook tegnies ateïste. Agnostici is slegs ateïste wat nie glo in die vermoë van die menslike rede om die bonatuurlike ryk te kan binnedring nie. As jy nie positief in die bestaan van ‘n god glo nie, dan is jy sonder die geloof in ‘n god, en dus ateïsties.

Ateïsme kan of implisiet of eksplisiet wees. Implisiete ateïste is nie-bewustelik sonder die geloof in ‘n god, terwyl eksplisiete ateïste bewustelik die geloof in god verwerp. Iemand onbekend met teïsme is ook tegnies ‘n ateïs omdat so persoon sonder ‘n geloof in ‘n god is. Verder, selfs as ‘n person wel bekend is met die teïstiese geloof, maar die geloof nie aanneem nie sonder om die geloof in ‘n god eksplisiet te verwerp, sal ook kwalifiseer as ‘n ateïs.

‘n Positiewe geloof verreis ondersteunende bewyse indien ‘n person die waarheid van die geloof wil staaf. Sonder oortuigende bewyse vir ‘n proposisie moet so proposisie verwerp word. Die teïs wat die werklike bestaan van ‘n god as ‘n feit verkondig neem so outomaties die verantwoordelikheid aan om die waarheid van die aanname te demonstreer. Indien die person faal in sy taak moet teïsme nie as waar aanvaar word nie.

As ateïs is die geloof in ‘n god afwesig, dus verkondig die term “ateïs” nie wat hy glo nie, maar wat hy nie glo nie. Mens kan nie aflei uit die term “ateïs” waarom die person nie in ‘n god glo nie, slegs dat hy nie in een glo nie.

Eksplisiete ateïsme verwerp die geloof in ‘n god en word dus soms as anti-teïsme beskryf. Hierdie sterk vorm van ateïsme is gewoonlik baseer op die oortuiging dat die geloof in ‘n god irrasioneel is en dus verwerp behoort te word. Die verwerping van die bestaan van ‘n god berus hier soms op die seining dat die idee van god onverstaanbaar is en as sulks irrelevant is. Die kritiek teen teïsme is ook die verdediging van ateïsme as die rasionele konklusie aangaande die realiteit van die bonatuurlike.

Teïste beskuldig graag die ateïs van morele minderwaardigheid. Indien god vir als goed en ordentlik instaan, dan, volgens so nosie, staan die ateïs in direkte opposisie met die goeie. Sulke miskennings spruit uit die gedagte dat ateïsme ‘n positiewe filosofiese uitkyk is; ateïsme as ‘n lewensuitkyk. Dit is vals en misleidend. Om te versuim om in ‘n god te glo impliseer nie ‘n spesifieke lewensuitkyk of filosofiese sisteem nie. Die positiewe oortuigings van ‘n person kan nie afgelei word uit sy ongeloof in ‘n god nie. Nie alle ateïste glo of dink dieselfde nie. Ateïste word dikwels as kommuniste of eksistensialiste afgemaak en deel so die skuld deur assosiasie wat ander het teen die twee lewensuitkyke. Ateïste verskil van mekaar nes teïste van mekaar verskil. Die enigste onversoenbare ding met ateïsme is teïsme.

Deur ateïsme as ‘n soort geestelike siekte te sien, as iets onnatuurlik, so probeer die teïs die ateïs as ongelukkig en onvervuld afmaak. Ateïsme word as ‘n negatiewe en destruktiewe uitkyk geskets wat slegs kan ly tot ongelukkigheid en wanhoop. As jy ‘n ateïs is, is daar iets met jou fout en geen ateïs kan waarlik gelukkig of vervuld wees nie. Buiten dat dit absolute snert is, is die enigste manier vir teïsme om ateïsme mee tee te werk die bewys van die waarheid van hul geloof.
Ateïsme plaas die verantwoordelikheid vir ons keuses en aksies terug in ons hande. Ons moet die antwoorde op ons vra vind binne ons beperkinge sonder die moontlikheid van verwysing na die bonatuurlike. Dit is in die hier en nou waar ons lewens betekenis kry deur die verhoudinge wat ons met mekaar het. Hoe daardie verhoudinge hulself uitspeel hang van ons af.

Is daar ‘n god? Om dit te kan antwoord moet ons eers die betekenis van die begrip verduidelik. Daarvoor is ‘n verstaanbare beskrywing nodig vir god. Selfs al word geloof verreis vir die bestaan van god, is die begrip van die idee van god steeds nodig om te weet wat dit presies is waarin ons moet glo. Die inhoud van mens se geloof moet die geloof daarvan vooruitgaan. Om god te definieer is noodsaaklik vir verstaanbaarheid, dus moet die teïs die inhoud van sy geloof verduidelik.

Die tradisionele ateïstiese verstaan van die betekenis van die word “god” is gewoonlik as bonatuurlike of transendente wese of krag, dus glo die ateïs nie in enige iets “buite” of “bo” die natuurlike, kenbare heelal nie. Alhoewel die meeste teïste god as iets apart van die natuurlike heelal verstaan, is daar die vir wie god gesien word as ‘n integrale of “immanente” deel van bestaan. Daar word selfs verder gegaan deur die wat glo die enigste stelling wat ‘n mens oor god kan maak is dat god “wese-opsig self” is, en dus is enige person wat die diepte van die realiteit ervaar, ervaar die godheid; god as “self-transendensie”. God as die “grond van wese” staan buite die konsepte van bestaande en nie-bestaande, en dus as iets wat ons nie kan begryp of in ‘n verhouding mee tree nie.

Deur god so te skei van die bonatuurlike word die verskil tussen die teïs en ateïs uit die weg geruim. Met god as die nie-bonatuurlike “opperste realiteit”, is om die bonatuurlike te verwerp, en dus deur die geloof in so god, verdwyn god. Ateïsme is die ongeloof in die bonatuurlike, dus die geloof in god as die bestaande of die natuurlike realiteit is in wese ateïsties. Juis hieroor glo die meeste teïste in die bonatuurlike karakter van god; as apart van die natuur en die se wette.
‘n Bonatuurlike god val buite die menslike verwysingsraamwerk. God word so onkenbaar. God is die onkenbare. ‘n God wat kenbaar is, kan nie bonatuurlik wees nie, en die bonatuurlike is buite menslike kennis en begrip. Die idee van die “onkenbare” is ook die universele element wat meeste konsepte oor god verbind. Die geloof in ‘n onkenbare wese is sentraal tot meeste vorme van teïsme. Beide die bonatuurlike en onkenbare aspekte van god is problematies vir die ateïs.

Die bonatuurlike aspek van die god idee is ‘n negatiewe kenmerk. Dit vertel ons slegs wat god nie is nie, naamlik die se bestaan as apart van die natuurlike of materiële realiteit. Wat so god dan wel is, is nog onbekend. Die reëlmatigheid van die heelal geskoei op die natuurwette stel beperkinge op die kondisies vir bestaan. ‘n Wese sonder beperkinge is ‘n wese sonder spesifieke, bepalende karakter eienskappe. Om te bestaan is om beperk te wees. ‘n Onbeperkte wese is onvoorstelbaar as bestaande. Bestaan verg die bestaan van iets en nie van niks nie, en dit wat dan wel bestaan moet as iets spesifiek bestaan. Sonder limiete is wese sonder wese. Die idee van god as ‘n wese bo menslike begrip, ‘n onkenbare wese, is die idee van ‘n wese sonder enige kwaliteite. Ontken kwaliteite aan god en jy ontken god self. As mens nie god kan ken nie, hoe weet jy god bestaan? Om iets as onkenbaar voor te stel is om kennis te hê oor sy onkenbare natuur, dus is hy nie onkenbaar nie. Dus is iets onkenbaar in wese nie onkenbaar nie, ons word gelos met ‘n teenstrydigheid.

Deur te sê god is onverstaanbaar is om te sê jou konsep van god is onvoorstelbaar., en so erken mens jy weet nie waarvan jy praat nie. Indien kennis van ‘n onkenbare wese ly tot ‘n weerspreking, dan ly kennis oor ‘n bonatuurlike wese ook tot ‘n weerspreking. Geloof in die bonatuurlike is dus irrasioneel. Die teïs moet nou of die bonatuurlike natuur van god prysgee, of toegee dat mens iets van god se karakter kan leer ken.
Meeste Christene ontken die mens kan direkte kennis oor god se natuur bekom, maar dink steeds god is ‘n rasionele verdedigbare konsep. Deur die idee van “onbeperkte eienskappe” aan god toe te skryf word probeer om god se bonatuurlike essensie te bewaar. Ongelukkig verlos dit hulle nie van die weerspreking inherent in die definisie nie. Enige eienskappe is bepalend en dus beperkend.

Indien ons enige iets oor god te kenne gaan raak moet ons vir eers sy onkenbare, bonatuurlike essensie ignoreer en konsentreer op die aspekte wat christene sê ons wel oor “hom” kan wys raak. Die een manier om god voor te stel is deur sy negatiewe kenmerke te lys; die via negativa, of negatiewe weg. In essensie is dit om te erken dat ons nie kan weet wat god is nie, maar wel wat hy nie is nie. God word beskryf as onsigbaar, onveranderbaar, ewig (tydloos), alomteenwoordig en alwetend (onbeperk). Die probleem om god slegs vanuit die negatiewe te beskryf is dat hy on onderskeidelik word van wesenloosheid of nie-bestaande. ‘n Immateriële, perkelose, onsigbare en onveranderbare god deel dus dieselfde kenmerke met die nie-bestaande. Om dit te verhoed moet die teïs god in positiewe terme substansieer. Om te weet wat god nie is nie, verreis dat ‘n mens weet wat god wel is.

Waar en hoe die gelowige sy kennis oor die natuur van god bekom is reeds ‘n punt vir debat. Deur god slegs negatief te omskryf is om god in teenstelling met die mens te omskryf. Als wat die mens deur waarneming wys raak, soos die beperktheid van konsepte vir verstand, asook die tydgebonde, ruimtelike maar kenbare materiële realiteit van ons bestaan; dit als is in teenstelling met god se kapasiteite. Waar mens nie is of kan gaan nie, daar is god. God is die teenstelling van hoe die mens die realiteit ervaar. Maar hoe kan ons bestaan sonder beperkinge begryp indien die konsep van “bestaan” self grense behels? Hoe stel jy ‘n onkenbare wese voor wat jy weet wel bestaan?

Deur karaktereienskappe aan ‘n wese toe te ken is om die natuur van die wese per definisie te beperk. Indien god positiewe eienskappe toegeken word, soos liefde, mag, geregtigheid en genadigheid, van wat presies vorm die eienskappe deel van? Wat is god se natuur, eerder as sy persoonlikheid? Om dit sinvol te beantwoord moet dit binne die menslike verwysingsraamwerk gedoen word. God word dus menslik vertolk. Indien dit iets anders beteken vir god om lief te hê as vir ‘n mens, dan verander die betekenis weer na iets buite die mens se begrip. Indien god se eienskappe analogies vergelyk kan word met menslike eienskappe, beteken dit ons het vooraf kennis van god self, en dus is die analogie onnodig.

God is in wese anders as die mens, dus kan geen analogie tussen die mens en god afgelei word uit die inherente ooreenkomste van hul aard nie. God en mens is direk teenstrydige entiteite. Ons is materieel, god nie; ons lewe in ruimte en tyd, en god daarbuite, ens. Sonder enige ooreenkomste tussen die mens en god, in wese en karakter, beteken wat ons onder ‘n begrip verstaan iets heeltemal anders as wanneer die begrip op god van toepassing gemaak word. Menslike eienskappe word betekenisloos wanneer ons dit op god probeer toepas. Om iets analogies van iets of iemand te weet , moet mens iets van die persoon of objek self weet, dus bring analogie ons geensins nader aan die doel om god te verstaan nie. Dis onmoontlik om ‘n onkenbare god te ken deur sy onkenbare eienskappe.

Sommige definieer god as iets wat se essensie dieselfde is as sy bestaan; of god se essensie is sy bestaan. Iets se essensie is wat n’ ding is., terwyl bestaan verwys na dat ‘n ding is. Ons essensie is menswees, maar ons hoef nie noodwendig te bestaan nie. Ons essensie is afhanklik van ons bestaan. Als wat bestaan het wel ‘n essensie, maar god se essensie is dieselfde as sy bestaan, dus moet god noodwendig bestaan. Dit is deur die kategorie van essensie en bestaan van ‘n objek wat die mens kennis oor die wêreld bekom. Ongelukkig is die skeiding nie op die idee van god van toepassing nie omdat sy essensie en bestaan een en dieselfde ding is. Al wat dit vir ons wysmaak is dat god weereens onverstaanbaar is. God bly ‘n lee kognitiewe begrip. God is die onbegryplike.

Die idee van bestaande in ons verwysingsraamwerk is iets wat materieel bestaan. Om te bestaan beteken om deur tyd en ruimte gedefinieer te word deur okkupasie. Indien die essensie van ‘n wese is om buite die begrippe te bestaan, verloor die begrip bestaan in die konteks sy betekenis. Selfs immateriële begrippe soos “geregtigheid” of “bewussyn” is materieel gebonde aan die objek van hul oorsprong; in die geval die mens. Immaterialiteit beskryf nie ‘n ander vorm van wese of bestaan nie; dit negeer die konsep daarvan soos ons dit verstaan. God as die oneindige; as die oneindige wyse en oneindige wese, oneindig in sy goedheid. Met god as oneindig bestaan “hy” buite ons beperkte verstand.

God se almag bring ook probleme mee. Is god beperk tot die logiese moontlikhede, of kan hy iets onlogies, soos ‘n vierkantige sirkel, ook vermag? Slegs die logiese onmoontlike kan die logiese onmoontlike vermag, so, indien god die onlogiese wel kan vermag, dan is “hy” logies onmoontlik. Iets logies onmoontlik kan nie bestaan nie, dus is god se bestaan logies onmoontlik. Indien god beperk is om slegs die logiese moontlike te kan vermag, dan is hy beperk tot logiese, dus moontlike. God is dus onderdanig aan die reels van die logika. Om slegs iets te kan vermag binne die beperkinge van die reële is om nie almagtig te wees nie. Verder, om iets te probeer bereik of een of ander doel te besit veronderstel die bestaan van onvervulde behoeftes of doelwitte; konsepte wat nie inpas by die idee van almag nie.

Hoe presies ‘n oorsaaklose wese iets veroorsaak is ook nog onduidelik. Aksies veronderstel oorsake en effekte. Geen oorsaak, geen effek. Weereens word die mag van god se wil ingeroep as die oorsaak vir sy effekte. God wil dinge in die bestaan in, sonder die beperkinge van kousaliteit. God toor dinge in en uit die bestaanswêreld volgens sy wil. So mag is bo die menslike begrip. Die onkenbare wese doen onkenbare dinge deur onkenbare maniere. Maar ons word vertel dat ons weet god is alwetend. God weet alles, van die verlede en hede tot die toekomstige.

Alwetendheid veronderstel onbeperkte kennis. Dit het natuurlik ‘n beduidende inpak op die moontlikheid van ons vrye wil. Indien god die toekoms weet, is dit voorafbepaal, en as mense is ons onmagtig om dit te verander. Dit onkenning van ons vryheid van keuse vernietig die konsep van moraliteit. Dit, in sy beurt, vernietig weer die idee van verlossing, en maak die verkondiging van die evangelie betekenisloos. Sonder vryheid van die wil is ons toekoms aan of die noodlot, of god se wil, oorgelaat. God self natuurlik ken sy eie toekoms, dus om reg te wees kan hy dit nie verander nie, wat sy almagtigheid weer in die gedrang bring. Natuurlik beperk sy alwetendheid ook sy vrye wil. Een twee drie blok myself.

God as “suiwer bewussyn”, ontkoppel van die materiële realiteit, se inhoud moet ook daarvan ontkoppel wees. God se kennis kan nie in die konseptuele vorm bestaan nie, want konsepte is beperkend, dus moet sy kennis ook as onverstaanbaar of buite ons perke geplaas word. Steeds is ons niks nader aan wat god beteken nie.

Wat ons wel kan sê oor god, volgens meeste christene, is dat “hy” totaal en al goed is. God is die goedheid self en die toppunt van morele perfeksie. Hoe christene spesifiek die idee uit die Bybel gekry het is ‘n volslae raaisel. Die Bybel self ken goed en kwaad aan god toe (Klaagliedere 3:38). Hy skroom ook nie daarin om hordes voor die voet te vernietig nie (Eksodus 12:29), om slawerny goed te keur nie (Eksodus 21:2-6; Levitikus 25:44-46), of die steniging te verreis van ‘n onkuis vrou “ontdek” tydens haar huwelik nie (Deuteronomium 22:20-21). Joshua 6:21 en Numeri 31:17-18, asook 2 Samuel 24 of 2 Konings 2:23-24, sal ‘n mens goed genoeg inlig oor Yahweh se aard

Ten minste het god reggekom deur die figuur van Jesus. Werklik? Nou waarom sal ‘n liefdevolle en genadige god ongelowiges met ewige leiding dreig vir hul ongeloof? As alwetende het hy sekerlik die bestaan van skeptici beplan om iemand te hê om te werp in die vlamme van sy vurige skepping: die ewige hel. Hoekom so iets skep in die eerste plek? Is god dan sadisties? Dit weier meeste christene om oor Jesus te glo.

Al verwys Jesus gereeld na die hel, pas so wrede eienskap nie vir hulle by hul prentjie van hoe en wie Jesus is nie. Al staan dit in die Bybel, “weet” sommige in hulle harte dat Jesus liefdevol en genadig is. God kan nie kwaad doen nie, slegs goed. God, as die perfekte morele agent, kies vrywillig die goeie bo die bose. Al is dit vrywillig kan hy nie anders as om die goeie te kies nie, want hy bevat geen boosheid nie. Anders gestel, god is nie vry om die bose te kies nie, en is dus amoreel. ‘n Almagtige god moet vir die bose kan kies, al kies hy altyd die goeie. Indien god wel die bose sou kies, sou “hy” immoreel handel. Maar in ‘n wêreld van sy hande, vanwaar kom die bose? As alwetend het “hy” bewustelik die sonde in die wêreld ingebring. Indien als sy skepping is, dan is “hy” verantwoordelik vir sy ganse skepping, insluitende natuurrampe en pestilensies wat miljoene laat ly deur hulle aan pyn se kloue oor te laat. Die bewyse draai teen god as ‘n wese wat slegs goed is. Indien ons verstaan van goed en kwaad ongeldig is wanneer dit by god kom, dan is dit ook ongeldig om god as goed te verklaar.

Die mens kan slegs die realiteit as mens verstaan, daarom ook is die mens se verstaan die maatstaf. Wat ons as goed en kwaad verstaan, omskryf die konsepte van goed en kwaad. Al is die mens as vrye agent self verantwoordelik vir sy dade, en dus ook die kwaad wat hy die wêreld inbring, kan hy nie god se wil teengaan nie. Dus al is die huidige wêreld soos dit is, vol goed en kwaad, kon god gekies het dat dit anders moet wees. Deur dit nie te doen nie moet mens aanvaar hy kies ‘n wêreld vol sonde. Al die onskuldige slagoffers van die bose aksies van ander wat nie die beskerming en geregtigheid gegun word nie, kan god vra waarom hulle die prys moet betaal vir die beskerming van ander se vryheid van die wil? Geen kompensasie, in hierdie lewe of die een daarna, kan die onreg ongedaan maak nie.

Dat ‘n liefdevolle god ‘n wêreld sou skep waarin miljoene mense aan natuurrampe onderworpe word is haas onverstaanbaar. As skepper is god verantwoordelik vir die aard van die natuur, en per implikasie dus ook vir die lyding van die natuur se slagoffers. ‘n God nie onderdanig aan die aanklag van boosheid is ook nie oop vir die evaluasie van goedheid nie. Baie ontken die mens se reg om oor god te oordeel soos wat hulle mekaar ook oordeel. God is in prinsiep immuun teen die oordeel van sy boosheid. Ons kan nie ons oordeel oor god fel nie, aangesien god vanuit ‘n hoër realiteit handel. Menslike kategorieë is nie op hom van toepassing nie, dus kan ons nie uit ons ervarings god as boos veroordeel nie. Indien goed en kwaad al weer iets anders beteken vir god as die mens, verval ons kennis oor god tot niks nie. God bly onbepaalbaar en onverstaanbaar; die uiterste onkenbare misterie.

Wieookal getuig dat god bestaan, weet nie waarvan hy praat nie, want god kan nie verstaan word nie. God bevat al dieselfde karakter eienskappe van ‘n leemte, wat net soveel betekenis bevat as die idee van god. God kan nie sy definisie ontsnap nie.
Die konflik tussen ateïsme en teïsme is epistemologies van aard Dis die natuurlike teen die bonatuurlike; die kenbare teenoor die onkenbare. Die ateïs glo die mens het teoreties toegang tot kennis oor die ganse realiteit, terwyl die teïs glo dat die uiteindelike ontsluiting van die realiteit is in wese onbereikbaar. Die wetenskappe teenoor teologie. Die wetenskappe werk vanaf die beginsel dat die realiteit ontsluitbaar is, terwyl die teologie die misterie voorstaan. Anders gestel: die konflik is tussen die rasionele en irrasionele uitkyke van die lewe. Maar wat van geloof?

Verwarring is doelgerigte denke se grootste vyand en helderheid sy nouste bondgenoot. Om die konflik tussen ateïsme en teïsme te verstaan is dit nodig om helderheid te hê oor albei se onderliggende beginsels, naamlik die rede teenoor die geloof. Geloof is om te glo sonder of teen die rede. Die ateïs glo sy verbintenis aan rasionaliteit ly to ateïsme, en verwerp geloof alleen as ‘n geldige weg tot kennis en die waarheid. Die gelowige is weer oortuig daarvan dat hy deur sy geloof toegang tot ‘n hoër vlak van kennis kan bekom wat ontoeganklik is vir die rede. Die rede is ‘n bedreiging vir geloof, en so word geloof gehandhaaf selfs teen die aanslae van die rede en die bewysbare. Ware geloof is geloof in die bek van bewyse teen die geloof. Geloof is die antitese van die rede. Geloof bestaan slegs daar waar die rede nog kortkom. Indien daar goeie redes en bewyse is vir iets se waarheid, is geloof sonder rasionele ondersteuning oorbodig.

Geloof self is nie die probleem nie, maar vals geloof is. Om te weet of jou geloof waar is moet jy rasionele ondersteuning daarvoor hê. Deur slegs harder daarin te glo sal dit nie meer of minder waar maak nie. Die waarheid van ‘n geloof is onafhanklik van die geloof self. Die rede verreis dat die graad van sekerheid oor die waarheid van ‘n geloof moet proporsioneel wees teenoor die ondersteunende bewyse beskikbaar daarvoor. Geloof kry sy bestaansreg in die limiete van die rede. Omdat die geloof in god irrasioneel is, word geloof self benodig om enige “kennis’ of ‘begrip’ aangaande god te bekom. Die rede moet ingeperk word om geloof te akkommodeer, dus word die rede beboet deur geloof. Rasionele verstaan verdruk weer op sy beurt geloof as die weg tot kennis. Rede en geloof kan nie dieselfde spasie okkupeer nie. Die geloof in god word slegs beskerm deur die onverstaanbaarheid van die term.

Geloof is nie ‘n alternatiewe weg na kennis nie. Kennis verg begrip en verifikasie. Die enigste alternatief tot redelike denke, is onredelike denke of geen denke. Geloof alleen is onredelike denke, en kennis is afhanklik van rasionele begrippe en demonstrasie. Geen kennis kan buite die rede bestaan nie, slegs gevoel.

Om in god te glo, met ons eers verstaan waarin ons glo. Uit die voorafgaande blyk god ‘n onkrugente idee. Deur geen limiete vir sy aard daar te stel nie maak dit dit moontlik om enige karakter eienskap aan hom toe te ken net soos dit mens pas. Kennis is die rasionalisering van die wêreld. Geloof is ons oortuigings, maar sonder ‘n rasionele onderbou is dit ongegronde spekulasie. Ateïste is mense wat nie enige iets glo sonder voldoende bewyse nie. Indien teïsme nie die dominante wêreld uitkyk was nie sou ateïste slegs as sceptici gesien word. Ateïsme is die rasionele uitkoms wanneer die rede sy oordeel oor teïstiese geloof fel.

Hoof bron: Smith, George H. 2003. Atheism: The Case Against God. Bibliophile



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jacques
jou rubriek was lank,
en noodwendig is my respons net so lank,
derhalwe het ek dit op 'n nuwe draad geplaas:

dankie

http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/ateisme-jacques-de-villiers-my-respons-van-raqia

8 jaar 5 maande 4 dae 9 ure oud


Definitief 'n artikel wat jy met 'n koppie koffie moet lees...
Baie goed gestel Jacques!

Dit is goed uiteengesit en ek daar is 'n begrip of twee wat ek ook nou beter verstaan.

Lekker dag verder!
Aap.
8 jaar 5 maande 5 dae 12 ure oud


Jacques


. . . . ek stem 99% met jou argumente saam, maar met kwalifisering.

Ek is besig om 'n respons te skryf, maar dit neem net meer as wat ek gedink het, maar intussen baie dankie dat jy wel so 'n rubriek hier geplaas het, want dit maak sin in die argumente, maar is gebrekkig aan begrip. . . . wat ek sal op respondeer.

groetnis
8 jaar 5 maande 6 dae 4 ure oud


/
Uitstekende artikel!

Hierdie paragraaf van jou kan gerus deur alle skakeringe van die Teïsme aan die oor geknoop word:

"Geloof is nie ‘n alternatiewe weg na kennis nie. Kennis verg begrip en verifikasie. Die enigste alternatief tot redelike denke, is onredelike denke of geen denke. Geloof alleen is onredelike denke, en kennis is afhanklik van rasionele begrippe en demonstrasie. Geen kennis kan buite die rede bestaan nie, slegs gevoel."

Groete van 'n 'diep gelowige' agnostikus.
:-)))


8 jaar 5 maande 6 dae 16 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Bundel homofiliese kortkunsprosa.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar