Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

In die vroeë tagtigerjare, toe Bapsfontein nog vele talentkompetisies gehou het en die half beskonkes saans hulleself nog verder in 'n toestand van totale drankverplettering versuip het, in die Bapsfontein hotel, sou Hansie Roodt en sy orkes as gasspelers by die dans in die hotel, daardie aand optree. Dit was waar alles begin het vir 'n jong, onbekende seun vol drome om die beste kitaarspeler in SA te word.
Ons familie het nog almal redelik nabymekaar in die Pretoria en Witwatersrand omgewing gewoon en 'n piekniek by Bapsfontein was die afgesproke ontmoetingsplek met sy groot koeltebome en baie parkering vir voertuie in die skaduwees, waar daar ook braaigeriewe was.
Die oggend is ons vroeg by die huis weg, om 'n redelike geskikte staanplek naby die ontspanningslokaal te kry. Die kinders kon hulself besig hou met swem, of in die pretpark op die swaaie en wat daar beskikbaar was, besig te bly, tot hongerpyne hulle weer terug na ons kant sou stuur, by die braaivleisvure, toebroodjies en koeldranke.
Die middag drieuur begin die talentkompetisie en ons het reeds plaasgeneem op die harde houtbanke en plastiese stoele en dis 'n dolle gemaal van kinders met nat swemklere wat tussen almal deurvleg en spartel, om iets vir ma of pa te kom vra, 'n geldjie vir lekkers of koeldrank.
Ons weet reeds dat die talent, in die meeste gevalle, uiters power is, dat die oorgroot meerderheid deelnemers nie hul woorde of wysies ken en die grootste gekke van hulself hier maak, maar daar was gewoonlik dan ook gaskunstenaars wat die, anders vervelige middag, die moeite werd gemaak het om voor te bly...kunstenaars soos Tommy Dell, Joana Field, Bobby Angel ens. Joe Stewardson, van destydse LM Radio faam, was die aanbieder en ook maar 'n kontroversiële grapjas, met sêgoed, soms goed onder die belt.
Die middag is verby...intussen het Hansie Roodt en sy orkes by die hotel opgedaag. Sonder ons medewete het Mauritz, ons aspirant musikant homself aan Hansie gaan voorstel en aan hom 'n uitdaging gerig om saam met hom op die verhoog, sy musiek van Warm Snare te speel. Hierdie stuk was teen 'n redelike vinnige tempo opgeneem en gespeel en Mauritz wou dit oortref. So gevra, so gedaan, ons moes dus aanbly om hierdie skouspel gade te slaan. Pa en ek was sommer gou vurig opgewonde en het met trots na hierdie uitdaging uitgesien.
Mauritz was reeds goed op dreef met sy kitaarspel, vinnig en vaardig en ek was verbaas oor die selfvertroue om hierdie stap te waag. Hansie Roodt was toe alreeds, vir baie jare,bekend as die beste kitaarspeler in die land. Nou kom hierdie snuiter van 15jr, nog nat agter die ore en daag hom uit, met die mees bekende liedjie wat hy speel!
Mauritz het reeds van kleins af op pa se akoestiese kitaar geoefen, by pa 'n paar banjo drukke geleer en homself toe verder, met plate van die gewilde Shadows, en menige plaaslike sangers se musiek ingeoefen, ook musiek van Dan Hill, Vangelis en so, sonder die hulp van musiekteorie, elke moontlike kitaardruk in die boek vir homself uitgewerk...hy het reeds 'n baie fyn oor vir musiek gehad en ook gou kon hoor wanneer 'n instrument of musieknoot vals was. Dus was hy so seker hy sou Hansie se spel kon ewenaar selfs oortref, met spoed en vaardigheid.
Op 9jr het hy, vir sy verjaardag, 'n elektriese kitaar persent gekry en was hy in die sewende musiek hemel oor hierdie geskenk, met sy sakgeld het hy vir homself 'n klankversterker gekoop en ons het 'n paar kitaar musiekboeke vir hom aangeskaf, waaruit hy gretig elke oomblik, al die drukke aangeleer het
Die oomblik van die uitdaging het aangebreek en ons moes gou weer sorg dat ons 'n behoorlike posisie kon inneem om albei die kitaarmanne in aksie te kon sien...veral hoe die vingervaardigheid oor die snare gly en dartel.
Daar was elektrisiteit in die lug en baie duidelik dat Mauritz op sy gemak was... geensins bang vir elkekeer se applous, na die spel, wanneer Hansie hom aangepor het om weer te begin...vier maal het hulle gespeel en elkekeer het die tempo net versnel en vinniger geword...warm snare aan die brand gespeel! Hansie kon hom net prys, want hy het met soveel vertroue, foutloos die pas volgehou, nootvas en perfek.
Vandaar het Mauritz se misiekloopbaan net vorentoe beweeg, eers net klein begin as orkeslid van verskeie groepe, soos Bronco Brothers, Who's News en later sy eie orkes Razor. Vandag het hy sy eie maarskappy, 6 laserskywe van sy eie musiek vrygestel, duisende vir meeste sangers van formaat in SA, o.a, Rina Hugo, Carike Keuzenkamp, Fanie de Jager, Coleskes, Laurika Rauch, Philip Moolman en honderde ander.
Hy is die voorspeler van Huisgenoot Skouspel, begelei sangers in die KKNK, Oppiekoppie ens. en is in vennootskap met Jolette Odendaal, voorheen van Cutt Glass, met 'Kamers' waar hulle twee gereeld saam optree. Hy skryf musiekblyspele, gee kitaarlesse en skryf tans musiek vir films. Is reeds 28 jaar by die professionele musiekbedryf betrokke.
Hy het verskeie kere saam met Mango Groove oorsee getoer. Saam met oorsese sangers soos Chris de Brurgh en ander hier op die verhoog geklim en nou, vir 'n geruime tyd reeds bekend, volgens medekollegas en die media, as die beste kitaarspeler in SA.
Die wêreld lê wydoop voor hom en hy makeer die pas net vorentoe ,noot vir noot, snaar vir snaar, al die pad. Hy is besig met 'n grootse projek, wat gelykstaande is aan die konserte van Madiba se 46664, waaraan die wêreldlande ook gaan deelneem en betrokke sal wees en dit word net groter en beter.
Mag al hierdie drome realiseer en ek in die voorste ry, in een van die beste sitplekke kan plaasneem om te luister, saam met die hele wêreldgehoor, wanneer hierdie sielsvertoning van 'n wêreldorkes oor die hele wêreldsfeer se amfiteater gesien en gehoor sal word..
Soos Fanie de Jager se heel eerste liedjie in 1989, wat 'n groot treffer vir hom geword het, waarna ons op TV ook kon kyk en luister, met jou besondere kitaarspel daarby...sê ons almal saam...JY SAL WEL DAAR KOM, want jy is reeds só naby die vervolmaking en vervulling van 'n lewensdroom en ambisie!
2011/11/05 Joan Lotz
Op versoek van Sneeuwolf.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

-
ja nee, ons familie trots, 'n boetie met 'n missie en 'n geesdrif met deursettingsvermoe, daar is nie "ek kan nie" in sy woordeskat nie... hy's die "Chuck Norris" van musiek... hy kan alles, sal alles en wil alles en niemand kan hom beat nie :-) 'n perfeksionistiese genie. Puik geskryf mamma xxxx
8 jaar 4 maande 3 weke 3 ure oud


die weervoorspelling
ag.
ek is so bly dat jy uiteindelik hierdie geskryf het.
*hugs*
net soos wat hy n besonderse kitaarspeler is,net so het hy n besonderse moeder.
jy.
8 jaar 4 maande 3 weke 8 ure oud


Z
En jy sê nou vir my die briljantste kitaarspeler in SA is jou eie bloedseun Mauritz Lotz?
Wel daardie man speel my stil as hy die kitaar opneem. Voorwaar 'n talent wat goed ontwikkel is en wat uitgeleef word.
Baie geluk Ma-L.
8 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 5 ure oud


=)
Pragtige stuk werk Ma... het geniet.
8 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 7 ure oud


Blapsfontein
Lekker storie Joan en ek onthou ook die danse daar, ai was lekker, ons was jong/ongetroude mans, ek en my maat en het baie met die getroude vrouens gedans wie se mans 'uitgepass' het. Steve se nuwe cd 'Holoda'is op gedra aan Mo omdat hy altyd as hy in die studio kom alaml so groet! Go Mo Go!
xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae 3 ure oud


Bapsfontein.
Hi Malinguis,
Ons het self op Bapsfontein gaan dans - en na Hansie Roodt gaan luister.
Lekker onthou vertelling.
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae 9 ure oud


Vergange Dae
Pragtig - nou roep jy skierlik hier by my besondere herinneringe op.

Bapsfontein was daardie tyd tereg 'die' kuierplek.

Jy het nou 'n ding hier by my aan die gang gesit - herinneringe wat dormant en in vergetelheid gele het kom oopkrap met hierdie 'lekker lees' stukkie oor vergange goeie dae

Dankie.
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 8 ure oud


Bapsfontein en Hansie Roodt
APPLOUS!!
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 11 ure oud


Kitaar
Ai man, jy is seker bree-bors-trots! Met reg ook! Ou Tommy Dell het 'n restaurant in Gordonsbaai gehad voor ons daar weg is. Baie goeie gasheer, met heerlike kos en vermaak.
Lekker gelees en herleef. jy kan solank jou uitrusting bymekaar sit vir daai konsert!
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 12 ure oud


rex
Hansie ...
Dis 'n goeie storie oor die ou dae, en veral Hansie. Ek was 'n groot bewonderaar van sy musiek! Ek ken ook vir Gene, en het jou storie met verbasing gelees, was al amper klaar toe ek besef dat julle. Natuurlik familie moet wees.

Ek was self nooit by Bapsfontein nie, net baie daarvan gehoorm.
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 13 ure oud


:-)
Jy kan 'n goeie storie skryf.
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 20 ure oud


Bapsfontein en Hansie Roodt
Dit was nou 'n lekker storie om te lees. Hou daarvan as mense hul drome kan uitleef.
8 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 22 ure oud


Bapsfontein
Wat 'n mooi inspirerende vertelling.
Doe so voort Mauritz, en drie hoera's vir 'n Hansie Roodt wat nie te belangrik was om 'n jong kind se uitdaging ernstig op te neem nie.
8 jaar 4 maande 4 weke 3 ure oud


Vorentoe...
Ma... Ek het hierdie SO inspirerend gevind! Ek is besig om in die agtergrond HARD te werk aan 'n bundel van my eie - en dit mag dalk net ook die begin wees van iets wat ek 25 jaar terug al moes doen...

Baie nice!!!

Dankie,

Hendrik
8 jaar 4 maande 4 weke 5 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar