Weergawe: 3
Aantal woorde: 713
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 26 Mar 2013
Die paar kere wat ek daadwerklik oor kernsake standpunt ingeneem het, kan beswaarlik as heldhaftig beskou word ondanks die gevolge hiervan, wat tog op ʼn soort waaghalsigheid gedui het.
Dat ek op net-net 18 jaar oud in 1974 in die Weermag geweier het om te leer hoe om mense dood te maak en ge-AWOL het, was niks van die aard nie. Dit was ʼn beginselbesluit. Met gevolge.
Dat ek in 1990 besluit het om eerder die pad alleen saam met die Here Jesus te stap as om saam met ʼn ander mens sy lewensleuen te deel, was ʼn suiwer geloofsdaad. Met gevolge.
Dat ek in 1992 besluit het om uit my pos as Afrikaans-onderwyser aan King David Linksfield te bedank omdat my Christenskap en beroepsbekwaamheid vir my onkompromitteerbaar was, was ʼn mengsel van ego, geloof en beginsel. Met gevolge.
Dat ek in 2008 my skrywersnaam aan alle publisiteitsmateriaal vir die MIAGI-Isak Roux-jazz-gospel-kantate Coming Home onttrek het omdat die gebruikte inheemse tale se gelykheid van aansien nie eerbiedig is nie, soos ooreengekom en dus beslis nié vanuit ʼn eng Afrikaans-spesifieke taalpatriotisme nie, was ʼn beginselsaak. Met gevolge.
Dat ek sedert 1998 my letterkundige en ander nie-Christelike skryfsels self publiseer, is my rebellie teen die literêre god-spelery van hoofstroomuitgewerye se keurders oor vele skrywers se andersins publiseerbare werk. Met gevolge. Vanselfsprekend.
Maar destyds het ek glad nie vooraf aan moontlike gevolge gedink nie ... My besluite was intuïtief en onbedag.
My saamleef met twee chroniese toestande is ook allermins heldhaftig of waaghalsig.
Sedert ʼn breinbesering toe ʼn kar my in 1964 getrap het, leef ek saam met ʼn endogene depressie, om maar die term bipolêr aspris te vermy, al is dit maar in wese wat dit is.
Sedert 2009 leef ek boonop saam met die feit dat ek MIV+ is.
Bowenal: sedert ek kan onthou, leef ek saam met ʼn immer sluimerende minderwaardigheidskompleks.
***
Vir mense wat van buite af na hierdie dinge kyk, kan dit na snert klink.
Diesulkes sien slegs my curriculum vitae en die sogenaamde prestasies – akademies, beroepsgewys en wat publikasies betref.
Hulle sien nie raak nie dat die geleenthede om te presteer gewoon as maar “net nog iets om te doen” oor my pad gekom het en beslis nie omdat prestasie ooit vir my ʼn dryfkrag was nie. Ek was nou wel nie sonder drome en ideale nie, maar ek was lewenslank nie tot die verwesenliking daarvan deur enige sweem van ambisie gedryf nie.
Op papier lyk onderskeidings, merietetoekennings, al amper 40 boeke en meer as 100 stukke joernalistiek, en die (mindere?) eerbewyse/erkennings wat ek vir skryfwerk gekry het, seker indrukwekkend.
Die skyn bedrieg. Dit alles was maar gewoon die uitsette van ʼn uiters gefrustreerde lewe.
***
Miskien beteken my vertaling van die lied, bekend gemaak deur Frank Sinatra, tog iets hier waar my lewenspad sy laaste kronkels maak:
© Johann P. Boshoff, 2013
MY PAD
En nou’s die einde hier
en ek maak my laaste buiging.
Ou vriend, ek sê dit weer,
ja, nog ʼn keer, want ek is seker:
Geleef, ek het geleef
en ook gereis langs afdraaipaaie,
maar meer, veel meer as dit:
dit was my pad.
En spyt, ja, ek het spyt,
maar veels te veel om hier te noem, nè?
Gedoen wat ek moes doen,
ook sonder dink, maar met gewete;
Gedroom, en soms beplan,
en wel gedink oor al die dinge,
maar meer, dit was veel meer:
dit was my pad.
Ja, daar was plek, soos jy kan raai,
vir elke fout wat mens kan maak,
maar ondanks dit, deur twyfel heen,
kon ek veel doen en regop staan.
Ek’t dit gewaag: die regop staan
want dit was my pad.
Bemin, gelag, gehuil,
my deel gehad, ook aan mislukking,
en nou, deur hartseer heen,
dink ek dit was die Groot Beskikking.
Dink net: ek’t als gedoen
mag ek dalk sê, selfs sonder skaamte,
maar, nee, ek sal liefs nie;
dit was mos my pad.
Maar wat is die mens, wat het hy tog?
Tog slegs homself, en wel ook God
om eg te bid oor alles, nè?
En dit te sê wat diep, diep lê.
Die rekords wys, dit was my reis,
dit was mos my pad.
Ja, dit was my pad.
© Johann P. Boshoff, 2013
2013-03-26
Lees ander rubrieke deur Johann P. Boshoff
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die rubriek
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie rubriek