Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die slimmense sê dat versoening en wedersydse aanvaarding die plaveistene vir die pad na volksgeluk moet wees. Dis jammer dat dieselfde slimmense nie ’n tuiste aan die stuur van daardie afdeling se sake kon vind nie.

Hier en nou, vandag, in die vyftiende jaar van die nuwe eeu, in die herfsdae van my bestaan, bevind ek my strompellend tussen die duisternis van onsekerheid aan die eenkant en in die volksverraaier beskluldigdebank, aan die anderkant. Hier grawe ons en ontbloot ek die armoedigheid van my volkstrou, meer as Pik, maar minder as Piet (skiet) Rudolph...

Die lende waaruit ek gesny was en die lende en lappe voor hulle, was blykbaar nie almal Afrikaners nie. Volgens sekere algemene rondgaande beskrywings en benaming en beryming van die afrikanerdom, let wel nie andersom nie, was die voorgeslagte wat in die myne gewerk, die treine gestook, in die kroeë bedien, plaatmetaalwerkers en Vrymesselaars was, nie heeltemal en altyd welkom in die “kring” van die ware Afrikaners nie.
Daarenteen was erfgename van die Boere-oorlog, akademici, politici, teoloë, landbouers, Sanlammers en rugbyspelers van die uitverkorenes, wat die eer van van die dorsland met volkspele en ‘n voetbal kon beïndruk en beskerm.
Wonder watter een van hierdie pragtige volkskatte kon toe die rooi aanslag van die tyd weerstaan?

Ek kan nie onthou dat ek al in my lewe ’n voortrekkerkappie en kakie safaripak, vellies en wye ranthoed aangetrek het nie. Ook nie of ek op oom Manie se fyndraai- in- die- waenhuis- settees onder die naald getiekiedraai en saam gestofdans het nie. Ek het wel ’n keer of wat die saal ónder die perd vasgegespe deur een of twee van die uitrustingstukke, na die onhebbelike invloed van wyn, vir die vermaak van verlore vriende aan te trek. Tog sou dit nie onder nugtere omstandighede gebeur het nie.

Vanoggend stuur ’n mater vir my ’n kiekie oor die lug. ‘n Kiekie van ‘n Blesbok. Die opskrif wat saam met die bokgesig op my rekenaarskerm land is “go bokke”. ’n Blesbok my ou?!
Sonder woorde skets daai een prentjie egter die hele afswaai van ons ander Afrikaner heiligdom, Rugby. Die Springbok is dood; lank lewe die Blesbok...of dalk die boerbok, wie weet?

En nou, vandag, in die vyftiende jaar van die nuwe eeu, in die herfsdae van my bestaan, bevind ek my volkloos. Spanloos. Histories verwaarloos en kultureel verbrokkel en broos.

Ek is ’n Europeër wat nie in Europa gebore is nie. ’n Vaal bles “bok” wat dit nie in die grasvelde van Afrika sal waag wei nie; ’n Europeër wat in afsondering saam met my mede Europeërs in voorheen heininglose voorstede en dorpe woon, dieselfde woonbuurte waar die destydse planters van die lowergroen tuine en bome nou hul tuiste agter veiligheidsmure in aftreedorpe met verpleegsters in bont rokkies en eetsale gaan soek.
Ek ken net ‘n oorwegend Europese opvoeding, ek is met ’n vrou uit my deel, die aanvaarbare deel, van die dorp getroud. Ek het Europese gesinswaardes, spyskaarte, klere, skoene en ’n hond wat die Britte vir eendevang geteël het.

In my skooldae se geskiedenisboeke was die boere se aanslag en Retief en die Voortrekkers se heldedade die een helfte van die boek en die Europese geskiedenis en die wêreldoorloë die res. Die konings van die Tswana’s en leiers van die Nama was ten beste moontlik erens saam op ‘n bladsy terloops genoem. Die Afrika-geskiedenis het begin en geeïndig met die Duitsers, wat in Duitswes Afrika verslaan is en daarmeesaam, ook my belangstelling.

Ek praat Afrikaans want dis my huistaal, maar bedags praat ek Engels, want dis my werkstaal. Ek het nie vriende wat nie erens in hul voorgeslagte Europeërs was nie en ek kook graag bredie in ’n swartpot. In teenstelling met die Kaapse kultuur het ek nie ’n braaikamer nie, maar ek maak graag vuur. Sondae braai ons hoender en enige ander dag wat ons kan, rooivleis. Ek luister klassieke musiek op RSG en soms na ’n paar van die stukke op Mafikizolo se album wanneer ek ‘n vuur aansteek. Tog verkies ek om meer gereeld na Jan Blohm, Mumford and Sons en die manne vir die laataand “blues”, Leonard en kie, te luister.

Ek ken nie die ware wese van modern Europeërs nie, maar ek ken ook nie die ware wese van die moderne Afrikaner, Indiër óf Zoeloe nie!

Ek ken nie al die spelers in die Springbokspan nie en ek ken niemand in die Sokker-, Hokkie- en Netbalspanne nie. Ek weet nie of ons ‘n tennispan of selfs ’n internasionale veerpyltjiespan het nie.

Ek lees nie Die Burger en Die Huisgenoot nie en ek “gesels nie saam nie”. Ek gaan nie elke Sondag kerk toe nie en ek sit nie by die winkel se deur met ’n blikkie om geld vir die hongermense in te samel nie. Ek neem nie aan die Sakekamer se dinge deel nie en ek skenk ook nie bloed nie; alhoewel ek darem destyds rugby gespeel het.

Hier en nou, vandag, in die vyftiende jaar van die nuwe eeu, in die herfsdae van my bestaan, bevind ek my spreekwoordelik in die beskuldigdebank, met die onverdedigbare aanklag in rooi op die hofbevel... Jy is ’n volksverraaier; sonder ’n volk!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bekentenis van 'n verraaier
Net gister het ek 'n woord of twee met 'n voornemende politieke man gesels. Ek vertel hom hoe ek voel oor die landsake en in dieselfde asem sê ek vir hom, miskien moet ek ook daaraan dink om te staan vir 'n politieke party. Maar ek sê toe vir hom; weet jy wat! Ek dink dat almal wat in die parlement sit, is die skuim van die samelewing. Al waarin hulle belangstel is om die mag in die hande te kry. Daar kan hulle die wette verkrag, nuwe wette maak wat hulle beskerm van alle bedrog en onreëlmatigheid en so kan ons dit opnoem. Of ons wil erken of nie, dit raak ons almal.

Jou skrywe getuig van deursigtigheid.
4 jaar 2 weke 5 dae 1 uur oud


verraaier
ek wil eerder voel die volk het my en my kultuur verraai.... baie lekker gelees Dankie Hennie
4 jaar 2 weke 5 dae 9 ure oud


Beken
Volsverraaier of de not, in my oge, 'n uitmuntende skrywer omdat alles wat jy pen, goed deurdag en perfek geformuleer is! Uitstekende werk, jou verraaier van formaat!

Ps. Ek geniet dit tog so as jy my Woes-naam so ydellik gebruik!
4 jaar 2 weke 5 dae 10 ure oud


respons
http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/black-magic-democratic-human-rights
4 jaar 2 weke 5 dae 13 ure oud


Bekentenis van 'n verraaier
Ek vind veral die laaste gedeelte van jou gorrelstuk nogal insiggewend, veral die gedeelte vanaf "...Ek praat Afrikaans..." en jou opvolgende "ek ken nie" en "ek lees nie" en wonder ek maar net of dit bevorderlk sou wees vir 'n moontlike 'ontsetting' uit jou vermeende beskuldigde bank, of dalkies deel is van die moontlikheid van jou aangevoelde oordeel...

Jou vertelvermoë geval my .
4 jaar 2 weke 5 dae 14 ure oud


Hmmmmmmm
Ja. Ek moes seker nie eers die ander se kommentaar gelees het nie.
Eintlik kon die beskrywing van jou 90 % op my van toepassing gewees het. (Behalwe dat ek myself nooit as 'n verraaier sou brandmerk of beskou nie.)
Die res is seker op baie van ons van toepassing.
Ek het geruime tyd gelede al opgehou om my te identifiseer met die Suid Afrikaanse sportspanne. Enigiemand wat my daaroor as verraaier wil klassifiseer, beskou ék as 'n verraaier.
Ek neem eerder self aan iets deel, dan het ek beheer oor die uitslag. Ek spot altyd met my mede spanlede en sê ek kies myself altyd eerste, want ek is die kaptein. ;)
Dis makliker om 'n versameling individuele sportmanne op meriete te kies as 'n "span" in 'n spansport, want daar kan swakker spelers wegkruip agter beteres. In 'n individuele sport staan die swakkes dadelik uit soos 'n seer oog.

Op die oomblik word mense soos ek in ons eie land uitgeskuif en gemarginaliseer. Ons taal word op elke terrein aangeval en uit akademiese instellings verban deur die versameling idiote in die moordenaarsbende wat die huidige regime uitmaak.
Ek sou dus sê dat ons deesdae eerder "vreemdelinge" in ons land is, eerder as verraaiers. Sting het gesing: "I'm an alien, I'm an legal alien, I'm an englishman in New York."
Ek dink ons kan seker deesdae sê ons is vreemdelinge, wettige, maar ongewensde (volgens die regime aan bewind) vreemdelinge in Suid Afrika. Ons is blanke Afrikaners in 'n swart modderput wat eens die juweel van Afrika was.

Ek dink dis 'n baie goeie skrywe van jou Hennie.
4 jaar 2 weke 5 dae 14 ure oud


verraaiers
By die Germane is misdadigers, krygsgevangenes, slawe en ook gestremdes geoffer; verraaiers en oorlopers is opgehang; swakkelinge, gestremdes, lafaards en ontug plegers is in moerasse gegooi. In uitsonderlike gevalle is selfs ‘n stamhoof of koning geoffer. Die leiers was immers verantwoordelik vir vrugbaarheid en welvaart en as dit wyk, is die stamhoof of koning opgeoffer tot voordeel van sy stam/volk. In die Ynglingasaga word onder andere vertel dat osse geoffer in die hoop dat die oeste sou verbeter, maar dit het nie. Die volgende jaar is selfs mense geoffer, maar dit het ook nie die gewenste uitwerking gehad nie. Die daaropvolgende jaar is besluit om die koning (koning Domaldi) te offer. Farwerck (1970) maak egter vermelding van die feit dat baie mense offers vrywillig was en dat mense self aangebied het om ‘n hoë offer te bring tot voordeel van die ander stamlede. Hierdie mense het ‘n immers ‘n strop om die nek gedra om hulle bereidheid tot ‘n offer aan te dui. By mense offers is eers geoffer nadat die lot/orakel gewerp is. Dit is ook dikwels gedoen by krygsgevangenes.
4 jaar 2 weke 6 dae 5 ure oud


Bekentenis
Jy mag nie begeer nie - !

Se maai . . .
Ek begeer
Al is dit net een aand se braaivleis vuurtjie
Saam met Viooltjie, Hennie, Vic, Kobus en
Ag
En onnoembaar ander . . .

Dit sou 'n Geestelike verkwikkende aand wees !

En

Sou ons nie 'n knertsie kon knak nie !!!
4 jaar 2 weke 6 dae 5 ure oud


bekentenis
En jy is nie alleen nie, jy kon nou netsowel vir my daar beskryf het - en dalk die meeste mense wat hier sal lees. Dis maar net soos die lewe sy verloop neem, dink ek. Daar is tog geen metode wat jy dit anders sou kon bewerkstellig het nie. In die lewe kom sekere dinge jou kant toe, en jy moet die beste daarvan maak op die beste manier wat jy weet hoe.

Ek was nou wel Sondag in die kerk en daar het ek toe 'n ding gesien wat my aan die dink gesit het. Die Pionierskool vir blindes se koor het tydens ons diens kom optree. Daar sit hulle toe, seker tussen 30 en 40 kinders ingeryg in die voorste kerkbanke. Hulle verteenwoordig alle rasse in die land. Hulle sit nie in groepies wit en groepies swart of bruin nie. Nee, hulle sit deurmekaar. Toe hulle opstaan om vorentoe te loop vat hulle mekaar se hande en help mekaar die gangetjie af en die trappe op. Hulle sing drie pragtige liedere saam en daarna help hulle weer mekaar tot terug in die kerkbanke. En ons sit en stry oor die kleure in die rugbyspan. Miskien moes ons almal blind gewees het - dís wat ek gedink het :-)
4 jaar 2 weke 6 dae 7 ure oud



Van ons ander lede

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar