Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Lees: Rom. 6

Daardie dag toe ons Jesus Christus in geloof aangeneem en aanvaar het as ons persoonlike Verlosser, het daar hierdie “ruiltransaksie” tussen ons en God plaasgevind.

Kom ek begin voor.

’n Mens kan die Evangelieboodskap se inhoud op baie maniere voorstel. Een van die wonderlike voorstellings vir my is om te sien hoe God, die Vader, elke keer wanneer die Evangelieboodskap aan mense verkondig word, as’t ware self daar staan. In Sy hande is hierdie genade-geskenk: Sy genade aan ons in Christus Jesus. Wat soveel dinge behels: Sy totale, onvoorwaardelike vergifnis, Sy geregtigheid, ’n nuwe lewe in Christus Jesus, Sy Gees wat in ons kom woon, Christus Jesus se heilige lewe, vrede, ens.

Aan die ander kant staan ons, die mensdom, besig om te sterf. Ons is in werklikheid reeds dood. Die siekte waaraan ons ly, is in sy laaste fase. Dit het soos ’n dodelike kanker wat elke sel of deeltjie van ons menswees, na gees, siel en liggaam reeds besmet en aangetas het. Daar is vir ons, menslik gesproke, geen hoop meer nie.

Dan hoor ons hierdie wonderlike nuus uit God se mond. Daar is hoop vir ons. Daar is ’n seker kuur vir ons dodelike siekte. Ons hoor hoe God sê: Dé, hierso, hier is die antiserum wat Ek self vir julle vir die siekte waaraan julle ly, voorberei het. Dit is die antwoord. Dit kan verseker alles verander, alles nuut máák en genees. Dit kan lewe bewerk in julle wat besig is om dood te gaan.

Kom ons maak ’n ruil! Gee vir My jou siekte en dan gee Ek vir jou hierdie genade-geskenk, Jesus Christus, Sy lewe, Sy geregtigheid, al My genade in Hom, Sy Gees, Sy heilige lewe, die vrede wat daar tussen My en Hom is, ja, alles, alles, alles wat en wie Hy in my oë verteenwoordig. Vat dit vir jou. Dit is ook vir jou. Vat dit net. Aanvaar dit net. Glo dit net. Vertrou dit net.

En as ons dit dan vat in geloof, met die leë hande van geloof, want ons het niks om daarvoor te betaal of van waarde om inruil daarvoor terug te gee aan God nie. Ons kan dit net vat in geloof. Glo dat dit ook vir ons is. Glo dat dit vir ons genoeg is om alles wat dood is aan ons kant, weer lewend en gesond te maak. Glo dat dit genoeg is om alles wat verkeerd en sondig aan ons kant was, reg en nuut te maak.

Hierdie ruil beskryf die Bybel met baie terme, afhangende van watter kant af daarna gekyk word.

As die Bybel dit van God se kant af bekyk, dan noem die Bybel dit wedergeboorte, ’n skepping wat gebeur het, iemand wat uit genade geregverdig is, wat vrygespreek is sonder dat hy of sy dit verdien het, iemand wat geheilig is en afgesonder is om voortaan net in diens van God hier op aarde te wees, wat aangestel is om Sy ambassadeur hier te wees.

As die Bybel dit van die mens se kant af beskryf, beskryf die Bybel dit as bekering, glo, vertroue, aanneem, die deur oopmaak.

En dan kom Rom. 6 wat dit soos volg beskryf daar in die Direkte Vertaling: “Ons weet dit, dat ons ou mens saam met Hom (dit is Christus), gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde vernietig sou word, sodat ons nie langer aan die sonde verslaaf sou wees nie, want hy wat gesterf het, is vrygestel van die sonde. En as ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef, omdat ons weet dat Christus nie meer sterf nadat Hy uit die dood opgewek is nie; die dood heers nie meer oor Hom nie.”

Dit is waarom, in die Nuwe Testamentiese gemeentes, wanneer iemand tot bekering gekom het, daardie selfde dag indien moontlik, daardie persoon geneem is en gedoop is in water.

Rom. 6 sê: die doop in water is dus hierdie kinderpreek of praktiese ervaarbare belewenis van wat daar gebeur het waar ons nie kan sien nie. Voor ons bekering en in geloof-aanvaarding van hierdie genade-geskenk in Jesus, was ons dood. Daarom moet daardie ou mens van voor ons bekering, eers begrawe word, anders loop hier heeltyd hierdie stinkende lyk tussen ons rond.

Daarom vat die ander gelowiges hierdie nuwe bekeerling water toe, laat hom of haar onder die water insak, om so as’t ware voor te stel hoe daardie ou mens van voor ons bekering, begrawe word.

Maar omdat daar met ons bekering en in geloof-aanvaarding van Jesus hierdie ruil plaasgevind het waarin ons ’n nuwe lewe van God ontvang het, lig die gelowiges ons weer van onder die water af uit en laat ons uitstap om nou hierdie nuwe lewe in Jesus daarbuite te gaan lewe van nou af.

Wie dit verstaan, sal nooit weer wonder hoekom ons nie babatjies volgens die Bybel kan doop nie. Want in ’n babatjie se lewe maak dit geen sin nie. Dit is immers duidelik dat volgens die Bybel en die Nuwe Testament, kan net gelowiges gedoop word. Net iemand, ongeag of dit nou ’n klein kindjie van 3 of 4 jaar oud is en of dit iemand is van 70 jaar oud, wat die Evangelieboodskap gehoor het en wat gekies het om in geloof met God hierdie ruil aan te gaan, kan gedoop word in water. Anders is daardie seremonie wat plaasvind, sonder Bybelse gronde en van nul en gener waarde.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

DAG VAN DIE BLOEISEL

deur Johann P. Boshoff

"Dag van die bloeisel het my gevange geneem vanaf die eerste bladsy. Skielik was ek terug in my tienerjare – bewus van die tere vitaliteit van jeugdigheid. Die karakters kry lewe in persone wat ek iewers geken het. En wat ek wéét vandag nog rondom en tussen ons is. Dit is die soort eerlike boek wat ek enige tyd in die hand van ‘n Christen-tiener sal plaas." -- Dr. Ralph Barnard, skrywer, predikant en teoloog



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar