Weergawe: 1
Aantal woorde: 1325
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 14 Feb 2016
Henk Strydom stuur hierdie praatjie;
ek weet nie wie die outeur is nie,
maar ek het lanklaas so iets uitstekend gelees.
. . . . die meeste mense val en varval in 'n eie bejammering,
en ek beweer dit is die teevee se skuld:
DAAI BEELD WAT PRAAT,
waarvan Openbaring 13 skryf,
en hierdie skrywer gee in effek die raad van Openbaring 18:
"Gaan uit haar uit my volk"
dankie Henk en die Outeur! groetnis Chris Nel 1:34 AM 2016-02-14
neem asseblief kennis dat ek geen outeursreg eis nie,
en ek hierdie sonder vergunning hier publiseer,
omdat ek ooruig is dit kan baie leser tot nut wees.
Luister bietjie fyn na hoe mense hulle verhale vertel. Die een persoon sal vertel hoe sy in haar verhouding geboelie word en hoe haar man altyd sy sin kry. Hoe haar mening nie tel nie en hoe haar behoeftes en wense altyd opsy geskuif moet word sodat hy sy sin kan kry. Die ander persoon vertel van hoe erg hulle baas by die werk is. Hoe hy links en regs beledigings uitdeel en almal moet dit maar net vat en sluk. Die kind vertel van maatjies wat nie met hom wil speel nie of die tiener wat vertel hoe haar vriende haar uit die groep stoot omdat sy nie cool genoeg vir hulle is nie. Die tannie vertel hoe sy vereensaam en hoe haar kinders nooit regtig meer by haar kom kuier nie en hoe dit voel om so verwerp te word. Luister mens na die verhale dan kry jy telkens die idee dat die verteller soos `n toeskouer teen die kantlyn staan en kyk hoe sy of haar lewe voor hom of haar afspeel. Hulle kan al die partye betrokke fyn dophou en elkeen se optrede en intensie teenoor hulle raaksien en interpreteer. Hulle verpak dan hulle waarneming, nadat hulle dit vir eie gebruik verwerk het, en bied dit dan vir gewillige ore aan as `n verhaal. Heel dikwels is hulle die benadeelde karakter in die storie. Amper iets soos `n tragiese held. Slagoffer van omstandighede en van ander se oordele en optredes. Maar dit is juis waar die probleem met hierdie tipe mense lט. Hulle vertolk die rol van waarnemer en interpreteerder van hulle eie lewensverhaal in plaas daarvan om `n karakter in die verhaal te wees. As jy jou mag weggee, wat kan jy dan anders van die lewe verwag? Met mag bedoel ek dinge soos om besluite te kan neem en om keuses te kan maak. Jy is tot `n groot mate die outeur van jou eie lewensverhaal. Jy doen die karaktertoedeling en as jy besluit het om slagoffer te wees, is dit presies die rol wat jy gaan vertolk. Of as jy besluit om toeskouer te wees en nie as agent in jou eie verhaal optree nie, staan jy langs die kant en dinge gebeur om jou en met jou en jy het geen beheer nie, want jy het die beheer weggegee. Die kuns is dat jy `n herverdeling van rolle moet doen en weer vir jouself `n rol in jou eie verhaal moet gee. Jy is veronderstel om die hoofkarakter in jou eie lewensverhaal te wees. Dis immers jou lewe. Party ma's voel naderhand dat hulle vir niks meer goed is as net om kos te maak en te sorg dat almal se magies die heel tyd vol is nie. Party pa's voel asof hulle vir niks meer deug as net om geld in te bring en al die gate toe te stop nie. As jy so voel is dit omdat jy in daardie stereotipe rol verval het. Jy het dit toegelaat om te gebeur. Jy voel dalk selfs veilig in die rol omdat dit nie veel eise stel nie en jy die dialoog al jare lank repiteer en ken. Net jy kan die gang van die storie verander, so, klim weer terug in jou rol en doen `n paar dinge. Jy maak dalk die keuse om nie selfgeldend te wees nie, dan bejammer jy jouself omdat ander oor jou loop. Maar dit was jou keuse. Jy neem dalk nie besluite nie en laat dit aan ander oor om te doen. Dan voel jy oor die hoof gesien en nie in ag geneem nie, maar dit was jou keuse. Jy is dalk passief en neem nie maklik inisiatief om dinge te laat gebeur en om situasies in jou guns te laat uitwerk nie, dan is kwaad en jy voel verstoot as ander `n geleentheid tot hulle eie voordeel inpalm. Maar dit was jou keuse. En so kerm die kantlynstaanders van die lewe oor alles en almal. Hulle soek aandag en teken hulleself altyd as die verontregtes, maar om daar te staan, was `n keuse. Die ding wat mense vergeet, is dat jy medeskeppend en herskeppend by jou eie verhaal betrokke is en dat jy `n karakter in jou eie verhaal is. Jy hoef nie slagoffer te wees nie. Jy is dit omdat jy ge-oudisie het vir die rol en omdat jy dit toe aan jouself toegeken het. Daar is ander opsies en keuse ook. As jy aktief deelneem en betrokke is by jou lewe, kan jy die gang daarvan tot `n groot mate beכnvloed. Let op na jou dialoog. Hoe praat jy met mense en wat kommunikeer jy oor jouself aan hulle. Let op na jou lyftaal en wat gee jy daarmee te kenne. Aan wie het jy die besluitnemingsbevoegtheid van jou lewe gegee? Laat jy toe dat ander jou domineer en oor jou loop? As jy dit toelaat en staan en kla oor hoe moeilik jou lewe is en hoe mense teenoor jou optree en hoe jy altyd die slagoffer is, besef dan ook net dat jy gekies het om die rol van die patetiese karakter te vertolk. Elke mens word gebore met die vermoי om te kan kies; om besluite te kan neem. Om bo jou omstandighede te kan uitstyg; om te kan werk aan die verbetering van jou lewe. Om jou lewe in totaal `n ander rigting te stuur en op `n ander spoor te sit, deur jou manier van dink en doen te verander. Jy is tot al hierdie dinge in staat, maar die vraag is of wil jy? Het jy nie dalk al so gemaklik geword met die rol wat jy vertolk nie? Baie van die silwerdoekakteur speel ook in fliek na fliek dieselfde tipe rolle. Altyd die skurk of altyd die aantreklike verleidelike held. Altyd die alkoholis, of die vernielde vrou; of altyd net in oppervlakkige sepies; of altyd net `n komedies. Hulle rolle raak naderhand so voorspelbaar. As jy net hulle naam op die fliekadvertensie sien, dan weet jy al klaar waaroor dit gaan en hoe dit weer gaan wees. Hulle laat toe dat die tipe rol wat hulle oor en oor speel, hulle definieer en stereotipeer. In die regte lewe gaan dit met baie mense ook so. Maar dit hoef nie so te wees nie.
Jy het ‘n keuse.
● Moet dus nie op die kantlyn staan
● en as toeskouer na jou eie lewe kyk nie,
● maar klim in jou eie verhaal in.
● wees deel van jou eie verhaal.
● Wees ‘n sterk en vol karakter.
● Neem besluite
● en maak keuses waarmee jy kan saamleef
● en wat ook ter wille van jou is.
● Neem standpunt in
● en wees selfgeldend.
● Verander die wending,
● die uitkoms
● en die afloop van jou storie.
● Jy kan.
● Dis immers jou verhaal.
● Laat die ontknoping tot jou voordeel wees
● en ervaar die lewe soos jy dit vir jouself visualiseer.
● Moet nie altyd net met die toeskouer staanplek tevrede wees nie.
Verhale het groot krag en die manier waarop jy deel is en deel word van jou lewensverhaal, kan jou maak of breek. Maar die pen is in jou hand. Aanvaar outeurskap en skryf jou storie soos wat jy dit wil hoor. Moenie die pen weggee nie, want dan bestaan die gevaar dat jy uitgeskryf kan word. En dan het jy net jouself om voor kwaad te wees.