Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Gisteraand lê ek, mevroutjie en die jongste in gelid ’n fliek en kyk. Midnight in Paris.
’n Romantiese mooi-meisie-mooi-ou fliek, met ’n verhaal oor soeke so verregaande, maar tog so nostalgies en boeiend lekker. Dis nie die eerste keer dat ek die fliek kyk nie; moontlik ook nie die laaste keer nie. Die uitbeelding deur Owen Wilson as ’n aspirant skrywer en die romantisering van Parys, nie Vrystaat nie en sy obsessie om in ’n vervroë 1920’s Parys te wou lewe, maak dit nie net ’n lekker-kyk fliek nie, maar het nogal my verbeelding ook op toer geneem...

Ek wonder waar sou ek wees, as ek nie hier was nie? Of wat sou ek gedoen het, indien ek in ’n ander tydvlak moes ( of kon ) gelewe het?
Ons elke daagse dinge en –paaie word tog erens van buite en deur die gemeenskap waarbinne ons leer leef en grootword beinvloed, indien nie bepaal nie. So met die oordenkery, moes ek myself met ’n paar vêr-af opsies terg!
Gestel ek sou more-oggend erens in die middeleue wakker word. As ek boonop kon kies, sou dit miskien erens in die suid-oostelike dele van Europa moes wees. Ek sou ’n turkse-sigeuner se seun kon wees. Rondtrek saam met die groep gesinne en kamp maak waar ons wou. Visvang en herd jag, saans om ’n kampvuur sing en dans en in die skadu-skerm van ’n digte woud laat slaap.
Ek sou ongelukkig met moeite ’n Voortrekker komandolid gewees het. Die gerondhol tussen die koppe en die hinderlaagvegtery met die khakies, sou nie vir my gewerk het nie. Selfs nie eens die Eerste Wereld Oorlog se gelê in ’n oop loopgraaf aan die grens met Frankryk nie. O’ ja, onthou ek so pas – my Switserse Oupagrootjie het blykbaar net voor die Eerste Wereld Oorlog met ’n skip in die Kaap geland. Dus, troos ek myself, sal ek ieder geval nie die frontlinie moes verdedig nie.
Oupa Sakkie het altyd gesê dat die depressie-jare ’n ongekende swaargeit vir almal meegebring het, ’n tyd waaraan ons mense moeilik gedra het. Alhoewel, in 1929 was Oupa as kind gelukkig erens op die platteland tussen Calitzdorp en Noupoort. Dit moes seker beter op die platteland as in die stede gegaan het.
Ek sal my nogal saam met Oupa-grootjie in sy mansuitrusters winkel kon sien werk. Ek sou die boeke gedoen het. Die lappe in De Aar of Bloemfontein gaan haal het, of met die handels-Jood op ’n bestelling ooreengekom het. Dan vanaand, wanneer ons klaar gewerk het, kon ons omstap Hotel toe en ietsie gaan gebruik.
Die era waar ek ’n geitjie teen die plafon, eerder as ’n gedagte in my tiener pa se pype sou wou wees, is in die 1950 en -60’s se koukuskamers van die Nasionale Party, die Verenigde Party en later die Progressiewe Party. Hier moes die kamers blou van die rook gekook het met Afrikanerpolitiek. Hier sou ek die ontstaan van menigde ekonomiese en politieke kragte eerstehands kon aanskou. Hoe manne se toekoms bespreek en bestel is. Hoe broeders in bond verenig en gebreek is.

En wat van Elvis, die Beatles, Johnny Cash, Bob Dylan en die Rollingstones. Mensig, as ek genoeg hare gehad het, sou ek beslis ’n “ducktail” wou gewees het. ’n Koel-doed met ’n wulpse stywe jannas meisie agterop my Triumph, BSA of as dit moes, Honda. En dan, soos die liedjieboer rumoer oor sy karakter wat “Durbs”-toe trek vir die naweek-en-terug, sal ek die teerpad myne gemaak het. Of, as dit alles te rof was vir my, moontlik net my hare soos Elvis s’n gedra het. Wild my ou.

Teen 1970 was ek al vas op die been, maar al wat ek van die eerste paar dae van daardie dekade onthou, was Moeder se opstoot-hare. Die byekorf en haar kort rokkies. Sy het nogal oulike beentjies gehad.
Die era waarin ons tydsgenote daarna groot geword het, word deur baie as die mees interessante tyd in onse heugenis beskryf. Seker net weens die politieke skoppelmaaiery wat die vorige 100-jaar afgesluit en die nuwe eeu oopgesluit het. Vir die res weet ek nie so mooi nie.
Ons het nou te veel van alles. Te veel sport, te veel slimmense, te veel rykmense, te veel armes, te veel vermaak en te veel om oor te praat. Te veel om werklik te waardeer.
Ons het te min om na uit te sien, of om behoorlik te geniet.

Ek is bly ek bly waar ek bly, maar aangesien dit mý verbeeldingsreis is, sal ek hierdie blyplek meer geniet indien daar ’n Art Deco dansrestaurant naby was. ’n Plek waarheen mans ’n pakklere en dames ’n lekker wye dansrokkie moes aantrek. Waar almal ( soos ek ) nie hoef te dans nie, maar waar mense kuier lag en gesels; waar mense sosiaal op dieselfde bladsy is en die gesonde geselligheid verhewe bo ’n status staan. Waar Jimmy Rodgers, Louis Armstrong, Eddie Cantor, Michael Bublé, Cher en Sade se musiek die verhaal van ’n aand bepaal.
Of wat van ’n roomyswinkel. Wat regte handgemaakte roomys, wafels en milkshakes verkoop. Met ligte pienk en ligblou versiering en prente van James Dean, Fonzie, Marilyn en Elvis teen die muur. ’n Plek waar die skoolkinders nie drank en sigrets wil soek nie; waar ’n gesin op ’n Sondag namiddag “poeding” kan geniet, terwyl agtergrondmusiek deur die Isley Brothers, Crosby Stills & Nash en Otis Redding die nuwe week insing. Lekker kalm.

Dit is nogal aangenaam om die kuierroetes van nostalgie so dan-en-wan te gaan opsoek. Dit is ook baie ontspannend en bevrydend wanneer mens besef, dat met genoeg moeite, dit moontlik is om vir jouself ’n omgewing te skep wat jou bly maak, om te wees waar jy is.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bly
Dis darem te heerlik om so bietjie in die verbeelding te wonder. Het nou lekker gelees!
5 jaar 11 maande 2 weke 3 dae 14 ure oud


Ano
Bly
Ag, ja. Hoekom dan nie? Vir wat kan ons nie onse verbeelding tot al die lekker dinge inspan nie.
5 jaar 11 maande 3 weke 6 dae 10 ure oud


***
'n Kragtoer van herinneringe en fantasie -- dankie Hennie, ook vir jou lekkerlees styl...
5 jaar 11 maande 3 weke 6 dae 13 ure oud



Van ons ander lede

n Vergane Era

deur neels claasen

n boek met verhale en staaltjies uit die skrywer se eie eie spoorwegloopbaan



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar