Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek staan verstom en kyk hoe ‘n ma haar tienerseun inklim. Hulle sit vas oor sy klere. Die onderbaadjie wat hy onderstebo oor sy t-hemp aan het, omdat hy die outydse blommotiewe wil wegsteek. Sy sal nóóit so aantrek nie, hy dink dis cool. Al sy pelle trek so aan. Sy wil hom dwing om die onderstebo onderbaadjie uit te trek – want wat gaan die mense sê?

Ek sien die opstand in sy wegstap. Ek sien ook die sekerheid in sy treë, die trotse houding, die skouers fier en reguit teruggetrek. Vir ‘n oomblik, ‘n asemteug buite tyd en ruimte, sien ek ook die merkwaardige man wat hy gaan wees. Hartseer mantel om my skouers, en ek kyk weg. Sy, sy ma, verstaan nie. Sy ken hom, maar verstaan hom nie. Pretensie het haar blind gemaak vir die woelinge wat besig is om binne die man-kind af te speel. Wat die mense oor hulle gaan skinder, is belangriker as sy soektog na homself, sy interne ontdekkingsreis. Het sy vergeet hoe dit voel om skielik in ‘n volwasse wêreld ingedompel te word? ‘n Plek waar die tienermens grootliks toeskouer is en moet probeer sin maak uit die chaos, moet ontdek waar sy eie spasie in hierdie deurmekaarspul is? Kan sy onthou hoe pynlik dit is wanneer volwassenes se woorde en dade mekaar weerspreek, hoeveel vrae onbeantwoord gelaat word omdat ons as ouers so dikwels eerder ons leuens wat ons aan die wêreld opdis as sosiale noodsaaklikheid afmaak?

Ek voel bitter jammer vir daardie kind, vir sy tydgenote. Ek voel jammer vir my eie kinders. Jammer oor al die verkeerde besluite wat ek in hul eie opvoeding geneem het. Dis so maklik om agterna te sien presies waar en wanneer jy verkeerd getrap het, ‘n oordeelsfout gemaak het, al was die besluit op daardie oomblik met die beste intensies ter wêreld geneem. Ek is veral jammer vir die jonger geslag omdat dit vir my voel of die chaos waarin hulle vandag opgroei soveel erger is my generasie s’n. Daar is soveel meer om mee te deel, soveel meer om te verwerk, soveel meer om uit sin te maak. Sal ek dan probeer om aan daardie onderbaadjiema te verduidelik dat haar kind se kleredrag, sy haarstyl, maar net ‘n poging is om te midde van die chaos om hom te voel dat hy aan ‘n groep behoort en daar tuis en veilig voel? Die mens is tog ook maar net ‘n kuddedier wat sy sekuriteit in die samehoringheid van die trop ervaar. Maar nee, ek sal nie inmeng nie. Sy moet haar lesse self leer.

Ek het op daardie oomblik ook gewonder hoe dit moontlik is dat ons as volwassenes opleiding moet ontvang om ons vir ‘n sekere beroep te kwalifiseer, maar dat daar nie ‘n graadkursus in ouerskap beskikbaar is nie. Wat het ons regtig tot ons beskikking om ons vir hierdie reuse taak toe te rus, behalwe ons eie gebrekkige kennis, geringe ervaring en beperkte wysheid? Dit is ironies dat ons ons met soveel entoesiasme aan die verwekking van ‘n kindjie toewy, maar nie daardie selfde entoesiasme aan die kind se opvoeding bestee nie. Ons vergeet dat daardie jong lewetjie gevorm gaan word deur die voorbeeld wat ons gaan stel, die omstandighede wat ons gaan skep, die hoeveelheid onvoorwaardelike liefde waarmee ons hom of haar gaan omvou. Ons glo dat ‘n boompie gebuig moet word terwyl hy nog jonk is, terwyl die lote nog sag en buigbaar is. Waarom wil ons dit dan met geweld doen? Hoekom breek ons dan daardie takke, stroop die blare af en verhinder gesonde groei, net om dan agterna die krom en skewe boom daarvoor te verwyt?

Daardie jong boompie is heilig, die lewe daar binne is heilig, en ons moet dit versigtig hanteer. Ja, daar is baie snoeiwerk wat ons sal met doen om hierdie boompie sterk en gesond te hou, maar ons snoei tog met omsigtigheid. ‘n Tuinier wat wild en wakker knip net omdat snoei snoei is, is ook nie sy sout werd nie. En ons taak as tuinier, as opsigtiger van die tuin waarin hierdie boompie opgroei, stop ook nie as die snoeiwerk afgehandel is nie. Die boompie het ook kos en water nodig om groot en sterk te word. Ouerliefde is die kompos, aanvaarding die water wat ons vir die res van ons lewens vir die boompie sal moet gee. Onophoudelik, soveel te meer nog wanneer ons self moeg en uitgeput is en nie daarna voel nie. Want die boom sal ons altyd nodig hê.

Ons kan die boom teen insekte bespuit, kompos en water gee, en alles in ons vermoë doen om te verseker dat die boom ‘n lang en gesonde lewe gaan hê. Ons kan nie die wind keer nie. Ook nie winterkoue nie. Iets buite ons beheer gaan wel een of ander tyd die boompie knou, of dit nou ‘n stormsterk wind is, of swartryp in die winter. Dan kan ons net daar wees om salf aan die wonde te smeer. En hoop dat die letsels wat gaan agterbly, deel gaan word van die karakter van die boom, dat hy sterker gaan wees as tevore.
Ma, wat maak dit saak wat jou tienerkind vandag aantrek? Is hoe hy van binne lyk, die volwasse jong mens wat hy oor ‘n paar jaar gaan wees nie veel belangriker as jou vooropgestelde idees oor sosiale stand en status nie? Laat jou boompie groei, oorval hom met liefde. Want liefde is ook onvoorwaardelike aanvaarding. Jy gaan per slot van sake, self die vrugte van jou arbeid pluk.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

buig boompie
wow dankie vir die deel
8 jaar 3 weke 6 dae 9 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Kruispad

    deur Manie Jackson

    Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar