Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

As die miswolke vol liefde mekaar omhels verlang ek na die see. Daar is niks so verkwikkend as om op 'n bewolke dag op die strand te loop en begroet te word deur die misreën wat van die see af jou gesig lawwe nie. Dis dan wanneer ek filosofies raak oor daardie klein dingetjies in die lewe wat mens se kaalvoet lewe doring en distel. My gedagtes wandel terug oor onderwerpe wat al tot vervelens toe aangespreek was. Vandag wolk my kop toe oor verandering.

Na 'n nag waar my drome weer stories word met demone en 'n verandering van vriende, sit ek met bewolkte oë en hunker terug na my dons kombers en vere kussing in my pophuis. Maar dis mos maar hoe die lewe met 'n mens maak. Jy rol om soos 'n tolbos in die woestyn, vas teen die halfmensboom wat altyd noorde se kant toe kyk, en jy wonder of mens altyd net noord toe mik maar voort ploeter. Woorde kom dans 'n polka diep binne jou, die mooi woorde, die liefdes woorde, die afkrakende woorde, die onge-uiterde woorde. Dinge wat ongesê moes bly maar sy weg by jou mond uit gekry het, en dit wat gesê moes word maar wat 'n stildood gesterf het.

Midde my warrelende gedagtes wonder ek toe oor iets wat 'n vriend van my 'n tyd terug gesê het. Hoe mens geneig is, om in jou eie verwysingsraamwerk 'n groot vis in 'n klein tenk is, en binne jou onmiddelike omgewing groot genoeg is om als te hanteer, of so voel dit vir jou. Dan kom die lewe en vind jy jouself midde 'n seestroom vol omstandighede en besef jy opnuut dat alhoewel jy groot voel in jou tenk, daar 'n see vol ander "visse" swem wat groter of sterker of vinniger as jyself is. Dan besef jy dat jy eintlik maar 'n klein ou vissie in die lewens oseaan is. Dat jou omstandighede maar weinig van ander verskil. Hoe jy die situasies in jou lewe hanteer, verskil tog van ander s'n maar as jy na die basis van jou probleme kyk, dan is dit presies dieselfde. Niks wat jy sê was nie al voorheen gesê nie. Dit was dalk net in ander woorde geformuleer. Geen situasie was nie al voorheen beleef nie, die uiteinde was dalk net anders. En so sit ons en worstel met ons elke dag se "dinge" en "goeters", dra ons ons kleed met tonne klaagliedere. Wanneer ons eendag wakker skrik kom ons agter dat ons lewe verbygeglip het nog voordat ons kans gehad het om dit volkome te benut. Ons klou vas aan die hier en nou opsoek na antwoorde wat ons bly ontwyk. Ons vra die hoekom en waarom, soek naarstigtelik na 'n "quick fix" om ander gelukkig te hou en bevraagteken ons eie integriteit, ons eie beginsels en gooi dit dan oorboord net om die vrede te bewaar. Ons pleeg moord. Selfmoord van die siel. En in daardie gebrokenheid probeer ons steeds om as voorbeeld te dien. Elke tree 'n foltering, elke glimlag 'n klug.

Die jakaranda huil sy pers trane alleen en val op die voetpadjie waar ons dit vertrap, sonder om op te kyk, rondom ons te kyk. Die woestyn ween in stilte, ondergronds, waar blomme nie groei nie en al waarin jy vaskyk in die oggend as jy opstaan is die dorre eensaamheid, heuwels en heuwels vol niks. Ons gaan dood binne, herwin die trane om binne onsself net lewendig te bly maar daar waar mense kyk, waar mense kies om te sien, is 'n barre landskap vol niks.

So vis ek weer in my eie poeletjie vol selfbejammering na 'n klein bietjie stabiliteit, realiteit om uit my idealistiese wereld te kom, happy ever afters is immers net vir boeke. En vandag toe besef ek dat al wat ek moet doen, is om die groter prentjie te "catch", die situasie te "grasp", die negatiewe stigma wat klou te "release" en wanneer soortgelyke situasies opduik, die proses te "repeat".

Vanoggend toe ek opstaan toe trek Miss Morbid uit my sisteem uit, Kwagga, die woede monster vat toe ook sommer sy goed en verkas en al wat oorbly is hierdie borrelende gevoel van geluk en dankbaarheid. 'n Jaar se hel is verby, vandag kyk ek terug en dink, waaroor het ek so geteem? En toe ek wakker skrik met hare wat staties staan van positiwiteit besef ek, my wereld, hierdie keer het ek die beste vangs gehak - 'n hele see vol Hoop.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek hou van die manier wat jy skryf, want daar is rigting en sin en dit lees maklik. Net by die klein vissie/groot vis gedeelte is daar iets nie lekker met die sinkonstruksie nie.
Hoop jou nette bly vol.
9 jaar 2 maande 2 weke 2 dae 9 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar