Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Iewers in ‘n mens se wese is almal waarskynlik aan iets verslaaf. Sommige verslawings is konkreet. Ooglopend vir jouself en vir ander mense. Ander verslawings is meer subtiel. Selfs meer aanvaarbaar as ander. Sommige middele is moeiliker verkrygbaar as ander. Van sekere middele kan jy nie af wegkom nie, selfs al wil jy. Suiker is so ‘n verslawing. En dit is wat ek is – ‘n suikerverslaafde. Daar word gesê dat dit meer verslawend is as kokaïen. Net as jy nog nooit verslaaf was nie, sal jy hier ‘n snorkgeluid maak en jou oë rol. Dalk omdat jy weet dat jy wel aan iets verslaaf is, maar dit net so goed soos ek vir die buitewêreld wegsteek. Dalk omdat jy jouself oortuig dat jy aan niks verslaaf is nie, maar in jou diepste binnekamer van beter weet.

As jy my regtig moedeloos wil hê, moet jy suikerverslawing as niks afmaak. Die grootste deel van die bevolking eet te veel suiker. Dit is regtig nie iets om oor bekommerd te wees nie. Om die waarheid te sê, mense kyk jou vreemd aan as jy koek en nagereg van die hand wys. Om ‘n blok sjokolade in die huis of motor of handsak te hê is normaal. Om dit voor (of vir) ontbyt te nuttig is vir sommige mense heeltemal aanvaarbaar.
Die feit dat my verslawing my pla moet tog vir jou sê dat daar meer daaragter sit as net ‘n blok of twee sjokolade wat ek skelm eet. Om dit af te maak as niks dryf my net na die volgende happie soetgoed.

Aan die einde van die dag maak dit nie regtig saak waaraan jy verslaaf is nie. Sekere middele hou dalk ‘n groter gevaar in as ander, maar verslaaf is verslaaf. Ek het gaan nadink oor hierdie woord – “verslaaf”. Dit is amper soos “versuiker”. Soos “versuikerde vrugte”. Versuikerde vrugte is meer suiker as vrugte. ‘n Verslaafde mens is waarskynlik meer verslawing as mens. Dit mag dalk wees dat sekere middele ‘n groter of kleiner invloed op party mense het as ander. Suiker mag dalk vir jou nie ‘n probleem wees nie. Vir my is dit. Ek raak paniekerig daarsonder.

Aan die verkeerde kant van 40 begin die vetjies nie meer so vinnig wegsmelt soos voorheen nie. Suiker laat my gewig optel. Dit maak my depressief. Dit maak my angstig. Dit maak my tranerig. Nie dadelik nie, maar later. Dit het ‘n groot impak op ons finansies. Ek kan voel hoe die wenkbroue aan die ander kant van die skerm lig. Nou waarom sou jy jouself vrywillig aan soveel marteling blootstel?

As daar een ding is wat ek geleer het is dat verslawing geen rede of logika ken nie. Jou verstand kan dit uitredeneer. Jou verstand kan ‘n lys van voor- en nadele saamstel. Jou verstand kan ‘n plan van aksie beraam. Na al hierdie voorbereiding is dit asof ‘n magiese krag van jou besit neem en jy weer in die slaggat trap. Enige sielkundige sal jou ‘n baie sagte leerbank wys waarop jy gemaklik kan lê, jou oë kan toemaak en ontspan. En daar word die derms uitgeryg oor hierdie puntjie wat van jou versuikerde ysberg uitsteek. Jy is met te veel suiker beloon toe jy ‘n kind was. Suiker is ‘n toonbeeld van die enigste goeie herinneringe wat jy het – verjaarsdagpartytjies gedrapeer in tafels oorlopens toe vol van veelvuldige vorms van suiker. Dalk is suiker juis ‘n manier om jouself te straf.

Al hierdie sielkundige ontleding help my niks. Ek is nie meer ‘n kind nie. Om na ‘n lekkergoed te gryp wanneer ek enige emosie uit die hele spektrum emosies ervaar, deug net nie meer nie.
Jy ken die patroon dalk beter as enige ander persoon. Jy weet hierdie gewoonte is nadelig vir jou. Jy het al genoeg boeke verorber en webwerwe besoek om te weet hoe jy hierdie gewoonte moet nek omdraai. Jy het al selfs ‘n keer of wat daarin geslaag. En dït is waar die tameletjie begin. Dit is presies hier waar jy vir jouself ‘n strik stel. En daarin trap.

Maar kom ek begin voor. Eers moet die besef dat die nadele baie swaarder as die voordele weeg jou so oorweldig dat jy die besluit neem om te verander. Jy het immers selfbeheersing. Jy is ‘n relatiewe intelligente mens. Al wat jy moet doen is om op te hou en die slegte gewoonte met ‘n beter gewoonte te vervang. En jy besluit dat môre dié dag gaan wees waarop jy ‘n nuwe blaadjie omslaan. En omdat vandag jou laaste dag in jou gemaksone is, gaan koop jy vir jou ‘n ekstra groot blok sjokolade, ‘n groot pak jellielekkers en ‘n tweede blikkie Coke.

Die volgende oggend is jy meer vasberade as ooit om hierdie groot stap te neem. Jy weet wat wag. Die onttrekkingsimptome is op dag twee die ergste. Daarna word dit beter. As jy drie dae kan volhou,kan jy ‘n week volhou en as jy ‘n week kan volhou kan jy moontlik ‘n maand lank volhou. Of so vertel jy jouself. Teen teetyd van die eerste oggend op die nuwe blaadjie is jy baie trots op jouself. Jy het nie by die kafee oppad werk toe voorraad aangevul nie en jy voel relatief goed. Maar skielik onthou jy van die vergadering wat jy moet waarneem wat jy gedink het eers die volgende week is. Skoonma laat weet sy kom onverwags kuier. Jy en jou wederhelfte het ‘n woordewisseling. Die skool skakel – jou kind is siek. Jy raak benoud. Jy weet jou kollega het altyd soetgoed in haar laai. Jy steel nie. Jy vra. En omdat jy in die verlede jou soetgoed met haar gedeel het, help sy jou uit. Sonder dat sy weet dat sy jou van die wal af in die sloot help. Maar môre, net môre, sal jy die nuwe blaadjie omslaan. Wanneer dinge beter gaan.

En wanneer jy vir ‘n week of twee of selfs vir 40 dae, soos ek, sonder soetgoed was, dán steek die eintlike gevaar sy kop uit. Dit is dan wanneer jy vir jouself spreekwoordelik soveel tou gee dat jy jouself ophang. Want, redeneer jy, na soveel dae en weke is jy genees van jou verslawing. Jy is veilig. Alles is onder beheer. Suiker het geen houvas op jou nie. En kort na hierdie ontdekking sal jy uitvind jy was verkeerd.

Ek het hierdie pad al meer kere gestap as wat ek veronderstel was om dit te doen.

Wat my die bangste maak is dat dit hierdie mens die mens is wat ek ken. Hierdie mens wat tevergeefs probeer om die leemtes in haar binneste met suiker vol te stop. Wat as sy nie daarin slaag om die suikerverslawing af te skud nie? Wat as sy wel slaag? Wat as sy dit vervang met iets erger? Wat as sy ‘n ander mens word wat weer van voor af moet leer ken en aanvaar word?

Aan my gesondheid kan ek voel dat ek nog een daadwerklike poging moet aanwend om uit hierdie greep te ontsnap. Anders is dit dalk te laat. Ek gaan nog een poging aanwend om vir 40 dae sonder suiker klaar te kom en dan probeer om uit my vorige, peperduur, les iets te leer: Dat jy die res van jou lewe ‘n verslaafde is, maar verkies om nie die middel te gebruik nie.







Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

LIESBETH

deur Trixie

'n Tradisionele roman wat wye lewensveld in kompakte tonele aanbied. Liesbeth stoei onwetend met die emansipasie-draak en vind uiteindelik vrede by Hein.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar