Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

*Nie vir sensitiewe lesers nie*

Dis ‘n maand later en nou eers voel ek reg om daaroor te praat; die mees tramatiese ondervinding in my lewe.

Ek is beslis nie ‘n voorstaander vir aborsie nie; was nog nooit en sal nooit wees nie. Ek glo, lewe en laat lewe. Ek weet daar is gevalle waar ‘n aborsie wel die enigste uitweg is, soos byvoorbeeld in die geval van ‘n verkragting. Persoonlik voel ek egter dat aborsie nie as ‘n tipe “voorbehoedmiddel” gebruik moet word deur veral tieners nie. Oeps, nou het ek dit gedoen en die morning after pil het nie gewerk nie. Nou is ek swanger en gaan ek sommer gou vir ‘n aborsie en daarna kan ek weer verder speel... Ek praat hier uit ondervinding; ken ‘n hele paar jong dames (12 – 18) wat so operate en ek is jammer, maar ek kan dit nooit goedkeur nie.

Ek, ‘n aborsie kry, nooit! Soos die gesegde sê – “never say never...”

Die laaste paar maande het ek baie “bad luck” gehad. Onder andere is my man se firma gelikwideer en na 13 jaar by die gemelde firma sit hy skielik sonder werk, sonder enige vooraf waarskuwing en moet ons vinnig rondskarrel om CV’s op te stel. Na 6 baie lang weke kry hy weer iets in sy veld, maar, natuurlik, vir baie minder as wat hy voorheen verdien het en draai ons maar ons sente om.

Op 1 September, lentedag, vind ek uit ek is weer swanger! Wow! Eintlik baie slegte tydsberekening omdat ons nie ‘n mediese fonds het nie (gestop toe die werk likwideer), maar dis ok, ons sal ‘n plan maak. Die hele Saterdag middag lê ek op die bed en droom oor watter kleur die baba kamer gaan wees, wat ek alles moet gaan koop en wat die familie gaan sê.

Manlief is in die wolke. Ons eerste swangerskap was ‘n miskraam op 8 weke, daarna het ons meer as vyf jaar gesukkel voor my dogter gebore is, nadat dokters ons meegedeel het dat ons nie kinders sal hê nie, so dit was vir my wonderlik om weer swanger te wees.

Die oumense het altyd geglo jy sê niks vir niemand voordat jy nie ten minste verby die drie maande merk is nie, maar ons was so opgewonde, ons kon nie stilbly nie.

Maandag oggend bel ek vir ‘n afspraak by my ginekoloog, maar hy is in die teater en ek wil nie wag nie. Ek maak ‘n afspraak by ‘n vreemde ginekoloog naby my huis. Manlief kan nie af kry by die werk nie en ek gaan sien die vreemde omie toe alleen die middag. Eers bespreek ons my hele pedigree voordat hy my ondersoek en my drome aan skerwe spat.

Jammer mevroutjie, die baba het ingeplant reg onder in die baarmoedermond en die plasenta lê bo-op die baba. Daar is ook geen pulsasie nie; geen hartklop op 6 weke. Ek was verpletter. “Selfs al sou daar ‘n hartklop gewees het so ek jou aanbeveel het om die baba te laat aborteer, want jy sou die hele nege maande in die bed moes bly en selfs dan sou ek jou nie kon waarborg dat jy nie ‘n miskraam sal hê nie. Maar jy moes van beter geweet het. Vrouens met diabetes het altyd komplikasies in hulle swangerskappe en jy moenie weer swanger raak nie..bla...bla..bla..” Ek hoor niks verder nie, ek wil nou net uitkom en by die huis kom.

Ek huil my oë uit terwyl ek vir manlief wag – stuur vir almal sms’s om die slegte nuus te deel, want natuurlik sit almal in spanning en wag. Baie emosionele aand en waar manlief Saterdag en Sondag met sy hand op my maag geslaap het, kry ek vanaand net sy rug. Ek maak ‘n afspraak by my eie ginekoloog vir Dinsdag oggend vir ‘n tweede opinie en die keer moet manlief saam sodat hy self kan hoor en sien. In die wagkamer bid ek soos ek nog nooit voorheen gebid het nie. “Here, by U is niks onmoontlik nie. Laat my baba lewe, asseblief, ek smeek U.” Ek stap die dokter se kantoor in met ‘n hart wat in my keel klop, verduidelik vir hom wat die ander dokter gesê het voordat ek myself ontbloot en wag vir die sonar. Kobus bekyk alles, meet alles – vrugsak: 4 weke; fetus: 6 weke; steeds geen lewe. Geen hartklop, net ‘n reguit lyn.

Reg, so nou moet ek maar aanvaar – binne my dra ek ‘n dooie baba. Wat het ek verkeerd gedoen dat my baba dood is? Kobus? “Niks nie jong. Die fetus het onwikkel tot op 6 weke en toe was daar miskien ‘n genetiese fout en daarom is die baba dood. Dis niemand se skuld nie”.

Ok, wat doen ons nou? Ons neem jou op en verwyder die dooie fetus onder narkose. Probleem – ek het nie meer ‘n medies nie. Oeps, dit gaan jou ongeveer R11,500.00 kos, geld wat ek nie het nie.

Wat is ons volgende opsie? Wel, wag vir jou liggaam om natuurlike te miskraam binne die volgende twee weke of ek kan vir jou pille voorskryf wat die miskraam sal aanbring. Dan, sodra dit gebeur gaan jy na ‘n staats hospitaal, dieselfde staats hospitaal wat my niggie binne geskend het sodat sy nooit weer kinders sal kan hê nie... Maar in dieselfde asem is daar nie ‘n manier wat ek vir twee of drie weke kan leef met die wete dat my kind binne my dood is nie.

Marie Stopes kliniek in die stad. Ja, die een wat die aborsies doen. Bel en maak ‘n afspraak vir Woensdag.

Woensdag oggend is ek en manlief 08:30 daar. Ek vul die vorms in en wys hulle die sonar foto. Eerste word ek deur ‘n suster ondersoek en weer word ‘n sonar geneem. Weer bid ek baie hard vir ‘n wonderwerk – maar daar is nie een nie. Swanger – 6 weke, 3 dae, fetus toon geen lewe. Dan trek jy aan en gaan sit weer in die wagkamer. Na wat soos ‘n ewigheid voel word jy ingeroep en word vir “berading” en verduidelik hulle die hele proses vir jou, wys jou die instrumente – ‘n pypie ongeveer 30cm lank wat soos ‘n strooitjie lyk; die massiewe “spuitnaald” wat amper lyk soos die een waarmee ek koekie vormpies druk. Dan kry ek pille om my serviks sag te maak en gaan wag ek weer in ‘n ander wagkamer vir 90 minute. My boude is al lam gesit, my maag kramp, my blaas is vol en ek voel bewerig. In die toilet om my nood te verlig sien ek die bloed en besef dat my liggaam reeds besig is om te “miskraam”. Ek raak skoon paniekerig. Die suster sê ek moet deurgaan na die “procedure room” en manlief bly agter. Maar ek soek hom daar, om my hand vas te hou!! Die suster wil niks weet nie, jammer mamma, net jy en ons hier binne.

Weer word ek ondersoek. My vagina brand en my baarmoeder is besig om te kramp, die begin van kraampyne, neem ek aan. Daar is drie susters. Die een hou my hand vas en gesels met my, maar ek wil nie gesels nie. Die ander een hou die sonar in posisie sodat hulle kan seker maak hulle verwyder die hele fetus (anders gaan ek aanhou bloei of infeksie kry), en die ander een het my bene in die regte posisie gehak, die instrumente (soos vir ‘n papsmeer) ingesit en my vagina oopgesper vir dit wat kom.

Ek is bang, vrek bang, en ek weet dit gaan ongelooflik seer wees. Die seerste was die oomblik toe die pypie die eerste keer ingesteek word. Hy brand al die pad tot binne. Ek het nie gekyk nie, maar kon in my geestesoog alles sien, soos ek die geluide gehoor het. Ek het ook al voorheen op tv gesien hoe word ‘n aborsie gedoen en dis waarom ek so daarteen was. Onthou, die baba word stukkie vir stukkie uitgesuig – uitmekaar geskeur en dan stuk vir stuk verwyder.

Die seerste is die eerste suig wat die fetus los ruk van die baarmoederwand, uit sy veilige hawe. Dan word die pypie verwyder en die stukkies word in ‘n bakkie uitgespuit. Die proses word toe sewe keer herhaal, terwyl die tannie met die sonar jou maag druk in die posisie wat hulle hom wil hê en sy dan seker maak hulle alles uitgesuig het. Ek het nie gedink ek gaan dit maak nie. Ek het op my tande gebyt om nie hardop te skree nie en so gebewe terwyl my trane in my hare ingeloop het. Na die laaste keer het hulle my binne skoon gespuit, vir my ‘n doekie in die hand gestop en my regop getrek. “Loop na die “recovery room” toe.” Bewend, met ‘n lakend om my, is ek oor die gang en is ek sitgemaak op ‘n recovery stoel. Die suster het my bloeddruk kom neem en gesê ek moet eers lê, want dis te laag. My man was weer by my en toe hy my vra “is jy ok”, toe crack ek en huil ons saam. Ek het nie gehuil omdat die proses seer was nie, ek het gehuil omdat my dooie kind uit my liggaam gesuig is en in ‘n blik gegooi is – “human waste”. Na ‘n paar minute kon ek aantrek en huistoe gaan. Alhoewel ek nog gebewe het, was ek fisiek reg. Geestelik en emosioneel lê daar nog ‘n baie lang pad voor.

Dit maak my bitter om te dink dat daar meisies is wat ‘n paar minute op ‘n tafel lê, ‘n lewende baba vernietig en dan eenvoudig aangaan asof niks gebeur het nie. Besef hulle nie wat hulle doen nie? Nie net fisiek breek hulle hulle ligame af nie, emosioneel grawe hulle vir hulself ‘n gat, want jare later gaan hulle terug dink en dan gaan hulle gewete hulle begin opkeil.

Skielik het ek ook besef wat ‘n aborsie is en, al was my omstandighede heeltemal anders en het ek nie ‘n keuse gehad nie, het ek ‘n aborsie gehad. Ek wat altyd gesê het nooit. En ek het gewonder, is dit dalk die Here se manier om my insig te gee waardeer baie ander vrouens soms gedwing word om te gaan, omdat hulle geen ander uitweg het nie. Was ek dalk te hard en te gou om te oordeel?

Toe ons so gesukkel het om swanger te word wou ons aanneem, maar keer op keer is die deur in ons gesig toegemaak, want daar was eenvoudig nie meer wit babas vir aanneming nie, omdat aborsies wettig was. Daar is soveel mense daar buite wat hulle arms sal afkap vir die geleentheid om ‘n sagte baba lyfie vas te hou en lief te hê. So, as jy uitvind jy is swanger en jy wil nie die kind hê nie, in plaas van ‘n aborsie, bel my, ek sal vir jou in aanraking bring met mense wat jou deur die swangerskap sal help, en jou mediese onkostes sal betaal net vir die voorreg om jou kind aan te neem en groot te maak. Aborsie is nie die enigste uitweg nie – vra net, daar is baie mense wat jou met liefde sal help. Maar, as jy reeds daar was en voel jy wil net gesels, ek luister met liefde, want ek weet waardeer jy is...

Aan die ander kant van die aborsie wet is daar ook natuurlik die positiewe – die feit dat daar baie minder kinders op straat slaap, weggegooi omdat hulle ouers hulle nie wou hê nie; minder kinders in die weeshuis omdat ouers nie na hulle kon kyk nie; minder gebroke huwelike omdat ouers moes trou wat nie regtig wou nie; minder misvormde kinders omdat die ma die keuse gehad het om die swangerskap te beëindig. So ja, dit was miskien nie vir my aanvaarbaar nie, maar die aborsie wet het wel goeie gevolge ook, as hy reg gebruik word.

My seer sal met tyd beter raak en miskien, wie weet, raak ek weer swanger. Intussen het ek geleer om nooit te sê “ek sal dit nooit doen nie”, want ons wik, maar God beskik.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

aborsie
Ek is jammer jy het jou babatjie verloor - en ja, om te oordeel kan ons nie doen nie, ons weet nie wat ander vrouens deurgaan tydens aborsies nie - maak nie saak wat hulle redes nie. As kinders van God moet ons liewer ondersteun as om te oordeel.
6 jaar 5 maande 1 week 22 ure oud


TRAGIES
alhoewel ek teen aborsie is,
beskou ek nie u dillemma as aborsie nie,
maar mediese lewensredding,
iets het verkeerd gegaan
maar u bly bestaan
om hierdie lewensles aan dogters te vertel,
wat onverskillig met wonderwerke versnel,
om lewe te termineer om kies en keur.

http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/aborsie-van-die-gesin
6 jaar 5 maande 3 weke 1 dag 17 ure oud


13 jaar later
Dis die eerste keer dat ek se ek moes ook daardeur. Ek verstaan presies wat jy bedoel by die klanke. Ek het glad nie berading ontvang voor of na die tyd, en ek was stoksiel alleen daar, my man het my gelos 4 weke voor dit, my eerste kind was 3 maande oud en ek moes die volgende dag 'n nuwe werk begin. Ek het geglo die emosionele pyn sal weggaan met tyd. 13 jaar later huil ek nog elke aand en kan myself nogsteeds nie vergewe. Die pyn is nog steeds dieselfde. Ek het nog niemand vertel daarvan want ek voel soos 'n moordenaar. Ek wil jou geluk wens dat jy die "guts" gehad het om jou storie te deel, ek het nie. Ek hoop van harte jou pyn verlig en alles werk uit vir jou. Ek het sederdien probleme wat elke jaar 'n operasie benodig. My skade was groot en ek is deur my ginekoloog gese ek sal nooit weer swanger kan raak deur al die skade nie. Hoop? Ek het bly hoop en het swanger geraak alhoewel ek amper dood is met die geboorte. Ek haal my hoed af vir jou en al die ander vroue soos jy. My pyn is net te rou en ek sal dit na my graf neem. Sterkte.
6 jaar 7 maande 1 week 6 dae 13 ure oud


Aborsie
Liefste Mrs T, ek wil net vir jou se dat ek jammer is en dat ek baie trots is op jou dat jy dit kon neerpen... Om te skryf haal die gif uit die wond. Dankie dat jy 'n kleinstukkie van jou binnekant met ons Woesbewoners gedeel het! En ek is dankbaar vir Woes, want almal weet van jou maar niemand ken jou nie.. Watse wonderlike terapie!

Lief jou

LiandaLictor
7 jaar 4 maande 2 weke 4 dae 13 ure oud


Die Aborsie *Nie vir sensitiewe lesers nie*
Sjoe jou arme mens!
8 jaar 8 maande 1 week 6 dae 22 ure oud


Aborsie
dag kort van 2 jaar ruk dit steeds my hart ek voel saam jou dankie vir die deel ek dink baie mense voel soos jy
8 jaar 10 maande 3 weke 1 dag 18 ure oud


Stil
Jou woorde / jou siel maak my...wel stil...
LIEFDE
10 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 8 ure oud


Aborsie
Dit vat baie guts om hierdie te geskryf het en ek applaude jou. Ek het 'n waardevolle les hieruit geleer en sê dankie.

Groete

Chenél
10 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


Aborsie
Mrs T. Ek is jammer saam met jou oor wat met jou gebeur het. Sterkte dit was nie jou skuld nie. Op my blad het ek ook geskryf oor aborsie en daar is 'n gedig ook. Dit was geplaas as waarskuwing vir tieners veral die gedig.
10 jaar 10 maande 3 weke 1 dag 16 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

DIE WIEL DRAAI

deur neels claasen

Die skrywer se vierde spoorwegroman uit die stoomera uit waarin hierdie dae weer herleef word



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar