Rubrieke

Titel: Die Askeet
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die asketiese ideaal vind in elke era ’n nuwe verteenwoordiger, een wat vir ons beide die leemtes van die materiële gebonde bestaan en uitkyk uitwys, asook daarmee saam die weg uit die geestelike verknegting. Die askeet probeer die wil ontsnap deur die wilsbesluit om op te hou wil. Dis die onttrekking van die persoon uit die sinlike en geïntegreerde bestaan in ’n poging om mag oor die self te bekom. Die ligaamlike simboliseer die verganklike; die grond van die aardse wil. Die abstrakte, verhewe wil van die gees, die spirituele komponent van die mens, moet die meer primitiewe en dierlike wil tem tot die suiwer geestelike vereistes. Mense soos Leo Tolstoy, Mahatma Ghandi, Carl Jung, die Buda of Ludwig Wittgenstein skets vir ons ’n ideaal van spirituele waardes, indiwidueel bemagtig; ’n versameling van geestelike indiwidue wat die minimum wisselwerking met die aardse komponent probeer bewerkstellig. Grootse isolasie. Vroomheid as gestalte. Asketisme is die poging om die leemte van betekenislose leiding te vul deur die skuld vir ons leiding op onsself te plaas. So word ons leiding verstaan as ons verdiende straf vir al ons sondes. Dit verskaf sin aan ons leiding.

In kontras daarmee is daar die wat alle fasette van die mens omhels. Die kreatiewe en idiosinkratiese mengsel van ons totale wese is juis waarin ons betekenis opgesluit lê. Om die liggaam as iets apart van die self te beskou; om ons drange en drifte as bedreigings te sien, ly tot die afsku van vitaliteit en krag. Met die lewe as leiding; as iets beklaaglik; as ’n tipe siekte wat die gees besmet en beset; so verag die mens die positiewe in ander wat lewe sonder die las. Die askeet koester ’n wrok teen die wil tot lewe en teen die wat uiting gee tot die wil. Die geloof wat die asketiese ideaal aan die massas verkondig as hul verlossing uit die magtelose situasie wat die lewe hul gun, keer dan ook die wrok teen die met mag terug na die massas self deur die skuld vir hul swakheid, of sonde, aan hulself toe te skryf. So word die gevaar wat die massas ontevredenes inhou betoom in die religieuse strukture en rituele van sonde en skuld; die druk daarvan wat hul op hul knieë dwing.

Die negatiewe energie moet positief gekanaliseer word vir die behoud van die samelewings orde en so word harde werk as ’n geestelike ideaal en seën verkondig wat die massas se aandag help aflei van hul sorge en ook help om hulle te motiveer om hulself toe te wy aan hul taak. Hierdie aanvaarbare vorm van bemagtiging kan aangevul word deur self loosheid en naasteliefde onder die gemeenskap se alledaagse handelinge te promoveer sodoende die behoefte tot iets opbouend te beantwoord binne die vermoëns en geleenthede tot hul beskikking. Sulke medemenslikheid skaar indiwidue bymekaar wat verdere versterking aan die struktuur verleen as ’n tradisie. Die sonde is onvermydelik, want selfs jou gedagtes verraai jou natuur. Jy sal nooit die skuld van jou leiding kan ontkom nie. Al wat jy kan doen, is om jouself oor te gee aan die masochistiese selfbejammering van belydenis as ’n vorm van verwerking.

Die uitsterwing van die wil, harde werk en die bewussyn van sonde en skuld skep die weg vir jou aanvaarding en verwerking van jou lot. Eerder as om in omstand te kom en te faal in die self se strewe na mag, aanvaar die skuld van jou leiding as die straf vir jou sondes. Die wat het, is op die verkeerde roete en sal als ontneem word deur die dood. Ontvlug die onreg van die lewe deur die geloof in die bestaan van ’n geregtigde hiernamaals waar die wat die aardse skatte ontsê is en dus verwerp het, die skatte van die ewige lewe sal bekom. Die prys vir die ewige lewe is die lyding tydens die aardse lewe. Die asketiese ideaal maak dit moontlik om sin aan ons lot en lyding te gee. Dit verander dit wat ons begeer in die boosheid self. Self ontkenning; die verplasing van die self deur die ideale figuur; die bekering tot die ideaal deur die oorgawe aan die ideaal; verlos die self van die pyn van aparte en eensame bestaan en die absolute verantwoordelikheid wat dit behels. Lewe vir ander deur nie te lewe as die self. Die ontsnapping en ontsegging van die self as die hoogste ideaal.

Die asketiese ideaal is nie die enigste perspektief wat dit self as die absolute waarheid voorhou nie. Die waarheid as doktrine, gebaseer op wetenskaplike feite, is ’n ander een. Dit verabsoluteer weer die feitelike as hoogste waarde. Ongelukkig ly enige vorm van interpretasie tot die verdraaiing van die waarheid. Die enigste ware feite is on-geïnterpreteerde feite en dus onbekombare feite. Elke perspektief verleen ’n sekere betekenis aan ’n observasie en dus is interpretasie nie ’n neutrale aksie nie. Ons kan slegs objektiwiteit benader deur soveel perspektiewe moontlik oor ’n saak te bekom. Dit beteken nie dat geen kennis moontlik is of dat alle sienings van dieselfde waarde is nie. Deur die fenomeen onder bevraging duidelik te definieer of te omskryf, en die perspektiewe daaruit afgelei met mekaar te vergelyk, kan ons wel veld-gebonde kennis bekom. Dit is byvoorbeeld kennis vanuit die perspektief van die wetenskappe, volgens wetenskaplike beginsels. Wat ons vertroue in die verskillende tipes kennis tot ons beskikking betref hang af van die herhaalde waargenome relasie tussen die metode en die fenomeen onder ondersoek. Hoe meer perspektiewe ’n siening staaf, hoe meer objektief die waarneming.

Ongelukkig probeer die asketiese perspektief alle ander perspektiewe ongeldig verklaar. Volgens die siening word die waarheid verskans deur ons inherente onkunde oor die dieper, geestelike waarheid van die lewe. Data oor die materiële wêreld is ongeldig en ontoepaslik op die wêreld van die gees, so niks van ware belang kan deur die materiële wetenskappe aan ons verskaf word nie. Die absolute waarheid is bomenslik en dus slegs geestelik bereikbaar. Eers met die skeiding van die gees van die vlees word toegang tot die realiteit bekom. Wat eg is, is oneg; die realiteit is ’n illusie. Die rede is beperk tot die illusies en is onmagtig om die waarheid binne te dring. Die gevaar van die siening is die negering van die materiële werklikheid, die ontkenning van waarde in die aardse bestaan. Inplaas van die antwoorde soek in die hier en nou, word die vrae “beantwoord” deur die belofte van toekomstige kennis en insig beskikbaar na die dood. Dit verplaas ons fokus en energie na die inner werklikheid van ons verbeelding, waar dit opgesluit lê in impotensie.

Iets wat waarde het, het hier en nou waarde. Dit verbeter ons lewens tydens ons lewens en verryk ons kennis oor die lewe wat ons wel in lewe. Subjektiwiteit is persoonlikheid. Beklee die self vir wording, deel die self deur bekleding. Die self verskaf die waarde van bestaan. Elke persoon dra daartoe by. Eerder as om die self te vermy of voor te vlug, gryp dit aan as die middel tot die self, die uitdrukking van jou wese. Laat jouself nou geld deur persoonlike ontwikkeling tot jou en almal se voordeel. Betaal vir die lewe deur te lewe, anders betaal jy met jou lewe. Ons weet ons lewe nou; miskien leef ons nooit weer nie. Om te glo die lewe begin eers met jou dood is om die dood met die lewe te verwar. Investeer jouself nou met jou selfverwesenliking as almal se wins.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Nietzsche:
Het jy al Nietzsche gelees?
8 jaar 4 maande 3 weke 17 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar