Weergawe: 1
Aantal woorde: 1641
Kere gelees: 639
Datum gepubliseer: 16 Feb 2010
Hierdie is ‘n storie wat ek al baie lank wil vertel. Dit ‘n ware storie van ‘n tienermeisie wat swanger geraak het en al die hartseer wat sy as gevolg daarvan moes deurgaan. Daardie meisie is ek en hierdie is ‘n ware verhaal, een wat ek al tien jaar lank huiwer om te vertel omdat die seer nog te rou was; ek kon myself nie so ver kry om dit te skryf of te sê nie. Tyd, ‘n liefdevolle gesin en begrypende eggenoot genees egter baie wonde en vir die eerste keer voel ek braaf genoeg om dit aan ander te vertel.
Aan die einde van standerd nege het ek swanger geraak by my kêrel van die afgelope jaar. Ek het gedink dat hy net so lief was vir my as ek vir hom (ek sou letterlik my lewe gee vir hom), maar ek was verkeerd. Die oomblik toe hy van die swangerskap uitvind het sy hele houding verander. Weg was die liefdevolle ou wat my aanhoudend van sy onsterfbare liefde verseker het, en in sy plek was ‘n stywe man wat geen ondersteuning hoegenaamd wou belowe nie. Ek was in ‘n behoorlike penarie: Ek, wat reeds by die Universiteit van Potchefstroom vir ‘n graad in regte ingeskryf het, was swanger op sewentien. My toekomsdrome was aan skerwe. Ek kon nie meer gaan studeer, of deur Europa toer, of selfs net ‘n sorgelose jongmenslewe geniet nie. Ek was uiters deurmekaar oor wat my te doen staan maar oor twee dinge was ek onversetlik, en vandag is ek baie bly daaroor: Die eerste was dat ek die kind sou hou maak nie saak wat gebeur nie. Die tweede was dat ek matriek sou skryf sonder uitstel. Die kind se pa was erg gekant teen die feit dat ek matriek ook nog wou doen maar ek het was baie hardkoppig wat dit aanbetref. Op die ou einde het hy my geensins ondersteun en ook nie eens geluk gewens toe ek geslaag het nie. (Hy het vir ‘n week saam ‘n ander meisie verdwyn tydens my eindeksamen!) Na eindelose wik en weeg het hy besluit om tog maar met my te trou. My bedroefde ouers het ‘n mooi troue gereël maar omtrent die hele seremonie deur gehuil. Ek was verontwaardig dat hulle nie bly was om my onthalwe nie maar noudat my dogters self tieners is kan ek verstaan hoe hulle moes gevoel het. Die eerste rukkie van ons huwelik was redelik gelukkig, maar gou het hy saam sy vriende begin uitgaan saans en met ander meisies begin kuier. Hy het geensins in die groeiende lewetjie in my baarmoeder belang gestel nie. Ek was in die diepste emosionele put, want ek het elke dag meer en meer besef wat ek prysgegee het: my maats was in matriek. Hulle het partytjies gehou, uitgesien na universiteit en was vry soos die wind. Hulle lewens het oop voor hulle gelê. Myne, daarenteen, was verby. Ek was vasgekeer met ‘n ontroue man, ‘n groot maag en ‘n baba wat binnekort gebore sou word. Geen partytjies, vryheid of toekomsdrome vir my nie! Hoe baie het ek nie agter die huis gaan wegkruip en hartverskeurend gehuil met die besef van wat ek aangevang het nie. My hele lewe was daarmee heen as gevolg van een onbesonne daad. Ek het soms so erg getreur dat ek net ‘n einde aan alles wou maak maar ek het gedink aan die babatjie binne in my en het vir haar onthalwe uitgehou. Ek het tot die duidelike besef gekom dat ek defnitief nie vir altyd met hierdie skarminkel van ‘n man getroud wou wees nie en het ‘n plan geformuleer: Ek sou werk kry en spaar sodat ek uiteindelik finansieel onafhanklik van hom sou wees en van hom kon skei. Ek het myself vyf jaar gegee om dit te doen, maar op die ou einde was twee jaar genoeg. Ek was onder geweldige stres, want die kleinste dingetjie het hom laat opstaan en loop (hy het gewoonlik die volgende oggend eers weer teruggekom), of rede gegee om my fisiek aan te rand. Hy het hard probeer om ‘n miskraam te induseer deur met my op woeste 4x4 paaie te gaan rondjaag of my met sy vuis in die maag te slaan.
O, hoe hard het ek nie probeer om sy guns te wen nie! Maar niks wat ek gedoen het, was ooit goed genoeg nie. Met ons eerste baba se geboorte het hy gedreig om te loop as ek nie ophou om ‘soos ‘n maer vark te skree’ nie. Toe moes ek maar op my tande byt en hom paai om by my te bly terwyl ek wil doodgaan van die pyn…
Vir ‘n rukkie na die geboorte het dit goed gegaan. Ek het vinnig weer swanger geword, maar toe hy dit uitvind, het hy my ‘n keuse gegee: 1) Aborsie 2) Aanneming 3) Egskeiding. Ek kon myself nie sover kry om eens die eerste twee opsies te oorweeg nie en het hom terstond gelos.
Hy het my kom smeek om terug te kom en gesê dat hy die kind sal aanvaar. Kort na ek terug was by hom het hy my egter herhaaldelik met die vuis in die maag geslaan. Tydens die geboorte was hy met vakansie saam ‘n ander meisie. Hy het nie eens gebel om te hoor hoe dit gaan of selfs ‘n boodskap gestuur nie. Na die baba se geboorte het hy geen aandag aan haar of aan ons ander dogtertjie gegee nie, maar wel gesorg dat die oudste enetjie longontsteking opdoen toe hy een koue wintersaand ‘n beker yskas water oor haar kop uitgegooi het omdat ek die verkeerde soort melk vir die huis gekoop het. (Ek het laevet melk gekoop omdat daar nie volroom was nie.)
Die aanrandings het ‘n gereelde gebeurtenis geword. Hy het net die minste provokasie nodig gehad: ‘n Skewe kyk was selfs genoeg. Hy het my gereeld verwurg, op my gespring en my met sy staalpunt skoene in die ribbes geskop. Hy het ook daarvan gehou om my hande en voete vas te bind, my in ‘n koue bad water te gooi en my te probeer verdrink. Ek het soms by die dood omgedraai. Hy het my en die kinders gereeld vir tot ‘n week lank binne-in die huis toegesluit sonder ‘n telefoon of enige kontak met die buitewêreld. Daar was geen bure naby nie. Hy het my ook totaal afgesonder van my familie deur my te verbied om enige kontak met hulle te hê. My lag het opgedroog en ek het selfs ophou dink en redeneer. Ek het maar net ‘bestaan’ en gedoen wat ek moes vir die kinders. Ek was ‘n zombie. Hy sou my skop tot my neus bloei en my dan toegang tot die kinders weier (wat in die ander vertrek huil) totdat ek die ‘gemors wat ek gemaak het’ (my bloed) opgevee het. Ek het vandag nog twee gekraakte ribbes wat maar net nie wil genees nie. Drie maande na die jongste dogtertjie se geboorte was ek weer swanger maar hy het dit die keer reggekry om ‘n miskraam te induseer deur op my maag te spring. Hy is eintlik skuldig aan moord, want daardie fetus sou vandag ‘n mens gewees het as hy dit nie doodgemaak het nie. (Ek was vyf maande swanger). Hy het ook in daardie stadium ‘n ander meisie swanger gemaak. Hy wou hê sy moet by ons kom bly sodat hy vir haar kon sorg (kan jy jou indink). Ek was so lief vir hom ek was bereid om die kind aan te neem en as ons s’n groot te maak! (Ek was BAIE onnosel en naief!!) Voor enige van dit egter kon realiseer het die meisie ‘n spontane miskraam gehad. Hy was vreeslik hartseer en het baie gehuil want ‘hy wou nie die baba verloor nie’. Maar hy wil sy eie vrou se babas laat aborteer en het selfs een doodgemaak! Sy rede was dat daardie enetjie ‘n seuntjie was en ons s’n dogtertjies. Terwyl ek hierdie skryf besef ek opnuut hoe siek alles was…
Ek het genadiglik ‘n baie goeie werk losgeslaan en kon hom los toe my oudste dogtertjie twee jaar oud was. (Ek was 20 jaar oud en geskei met twee kinders!) Die kinders het nooit na hom gevra nadat ons daar weg is nie. Ons lewe was hemel sonder hom. Alles was kalm en geborge. Geen woede uitbarstings en aanrandings nie. Ek het steeds nagmerries gekry oor als wat gebeur het en as ek ‘n kar soos syne gesien het, het ek omtrent ‘n angsaanval gekry so bang was ek vir hom. Hy was so siek dat hy nie sou huiwer om my voor ‘n groep mense aan te rand nie. (Dit het trouens ‘n paar keer gebeur toe ons nog saam was en niemand het ooit ‘n vinger gelig om my te help nie.)
Hy is weer getroud, en nadat hy haar ook vele kere aangerand het is hulle ook geskei.
Hy het selfs een keer sy eie ma en sussie aangerand. Ek het later uitgevind sy pa het ook sy ma geslaan toe hulle nog klein was.
Ek het stadig maar seker op my voete gekom na ons egskeiding. Ek het ‘n B.Ed graad deur Unisa verwerf en later ‘n baie suksesvolle meubel besigheid begin.
Vandag het ek ‘n man wat baie lief is vir my. Hy dra my op die hande en is ‘n wonderlike pa vir my kinders. Ek is weer swanger. Ek voel veilig, geborge en standvastig. Ek kan myself wees sonder enige stres oor die volgende woede-uitbarsting. Hierdie kindjie gaan in liefde gebore en grootgemaak word. Hy gaan gedy in ‘n huis waar almal vir hom lief is, in ‘n huis waar verskille op ‘n logiese, redelike wyse opgelos word. Geen meer stres vir my nie, geen trane en ongelukkigheid en onsekerheid nie.