Rubrieke

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Mens kry retreats. Dit is waar besige mense half-angstig besluit “Hier moet ek uit” en dan die pad vat. Na Joost se karavaanpark of Mnr Harry se wildsplaas, afhangende van hulle budget.

En dan kry mens retraits. Die Latynse klankie in die Frans (spreek uit “rie-trêt”) gee dit 'n bietjie weg. Dis waar dominees en ander heiliges-to-be nie sleg genoeg af is om vakansie te mag neem nie, maar eerder vir 'n naweek hulleself en hulle God weer in lyn met mekaar kry. Die klein diensies word soms vierings genoem. Mooi musiek, stilte, min met mekaar praat. Beleef elke ding: Die geur van bloekomblare as jy dit fyndruk, die tekstuur van die roosterbrood wat oor jou tong krap. Regtig besonders. Genoeg tyd om op 'n bankie net te sit, in die bergpaadjie te loop, of sommer net op jou bed te le. En dan is daar gefokusde tye wanneer jy met 'n papier-riglyn en Bybel in die hand vir 'n halfuur of so die berg invaar. Besonders. Ek het al 'n paar gedoen van my eerste een in die jaar 2002. Dit pas my soos daai ding met die vyf vingers wat jy oor jou hand trek.

Maar dan kry mens 'n begeleide retrait! Die Heilige Antony van Egipte was op 'n twintig-jaar lang ene (en dan het hy nog homself ook begelei!). Die surrealisme van Salvador Dali het hom geskilder soos hy daar in die woestyn sit. Met die verleidelike versoeking-demone wat hom uitdaag tot hand-to-hand combat. Gedagtes van luigeit, seks, en wat nog! Nie dat luiheid en seks nie hulle lieflike plekkies het nie. Die probleem, seg Antony, is dat die goed so graag op God se troon gaan sit. En hulle lyk nie goed daar nie.

Op so 'n retrait is ek nou! Een dag down, six to go. En klaar is my swaard so genotch dat ek soms nie weet of hy of ek dit gaan maak nie. Intiem intens. Ek sit skaars vir 'n alleenbid-tydjie of ek stoei soos Jakob met die Een wat nou ewe skielik alles vir Hom wil vat. En trane maak Hom nie sag nie, Hy ken al daai truuks. Hy weet hoe om met my grein te werk en (net-net) diskant gekraakte hout eers op te hou.

Na 'n dag van vier solo-gevegte , 'n persoonlike begeleidingsessie met Tiranosaurus Non, en 'n tranerige nagmaal, sit ons heilige 7 om die etenstafel. Woordloos, sodat ons by hierdie belangrike saak van my menswording kan bly staan sonder afleibare praatjies. Net sagte meditatiewe klavier oor die radio wat poog om salf rondom my dikgehuilde oe te smeer. Classics soos Amazing Grace, Be Thou my Vision, en onbekendes wat die tema verder dra.

Ek eet my heuningbroodjie en kaas. Voel hoe die Franse slaai vars knars onder my tande. 'n Fluister “sout asseblief” en verder haal ons in stilte asem. My hart wat suf gemasseer is. Skielik breek die wysie van 'n bekende lied duidelik deur. Ek hoor dit duidelik in die gevoelvolle klawers:
“Wat maak 'n kamp so lekker?
Dis koffie, pap en wors”
En die vrouekoor beaam:
“Oeeee, oeeee, oee-oe-hoee”

Hoe kon ek hierdie gawe van humor verwerp, vra ek jou? Ek moes dit net aan my Hervormde vriend hier langs my fluister voor ek proesend verbyskuur en die lieflike pitte van die wilde granaatvrug daar buite gaan uitspoeg. Ek lag dit na die hemel toe. Ek lag dit na die veld, die sterre. Ek lag dit uit na die gruis onder my voete.

Die aand grinnik ek voor ek skuinsle. “Lekker slaap”, soen Jesus my goeienag en tuck my met 'n glimlag in.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    N VERGANE ERA

    deur neels claasen

    spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar