Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Om vandag winkels toe te gaan is anders as 30 jaar of langer gelede. Dis nou wanneer jy kyk na wie in watter winkels rondhang. In die verlede het jy selde gesien hoe mans en vrouens saam in winkels vertoef. Vandag is dinge anders. Dalk het dit iets te doen met geslagsgelykheid of emansipasie. Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat daar meer gereeld van die Evas in hardeware winkels gesien word, en Adams in afdelingswinkels tussen vroueklere.

Hy het hom een Saterdag oggend op so ‘n plek bevind. Sy het iets nodig gehad vir die een of ander uithang geleentheid en hy is saam. Wat hy daar gaan soek het weet mens nie. Hulle is die winkel in, op met die roltrap tot by die afdeling waar ‘n verskeidenheid van rokke en rompe en bloese en langbroeke en wat nog in rye en op rakke tussen manekyne uitgestal was. Daar was skoene en sandale en onderrokke en broekies vir jong vroutjies en ouvrou broeke vir die wat nie meer so jonk is nie …. En buustelywe en dinge wat ‘n mens dink nie name het nie. Maar geen stoele of bankies nie.

Mens word moeg van so tussen alles deur agter haar aan loop en wanneer klere aangepas word, op die plek rus te staan, want klere aanpas vat lank. Daarom sou dit ‘n goeie plan wees as die mense van die winkel sou sorg vir ‘n stoel of twee sodat meelopende en meelewende mans ‘n rusplekkie kon hê vir die slag wanneer Evas klere aanpas. En ‘n tydskrif rakkie met tydskrifte soos Wiel, en Stywelyne en dalk Magnum, jy weet. Dit sal ook help om die gemoed te kalmeer, want jaag jy hulle aan soek jy moeilikheid. En wanneer sy vra hoe die een of ander kledingstuk aan haar sit moet jy die regte antwoord ook ken. Wat die regte antwoord is weet niemand nie, want sê jy dit is mooi, steur sy haar in elk geval nie daaraan nie. Om te sê dit is nie mooi nie bestaan nie in jou woordeskat nie. Jou woordkeuse moet reg wees. Jy kan nie sê dat dit lelik sit of so iets nie. Sê liewer niks of, sê net as jy ‘n oog vir hierdie dinge het.

Ek staan op ‘n  dag in ‘n hardeware winkel. Van die soort wat so groot is dat jy die boumateriaal van ‘n huis alles onder een dak kan koop by ouens wat van bou niks weet nie. Ek staan daar en bewonder ‘n kruiwa. Dit was groen met ‘n geel wiel wat jy kan oppomp en rubber handvatsels om die pype waaraan jy hom kon stoot. ‘n Mooi kruiwa wat my laat dink het aan ‘n John Deere trekker. John Deere trekkers was nog altyd vir my mooi. Die ryk boere in die distrik waar ek groot geword het, het John Deere trekkers gehad, en hulle kinders die speelgoed weergawe daarvan met ‘n ploegie en ‘n sleeepwaentjie en als. Dit was vir ‘n kind baie mooi. Die gewone boere en ons het Massey Fergusons en Vaaljapies gehad. En hulle kinders rooi Massey Harris trekkertjies sonder ploegie en sleepwaentjie….

Daar staan ek toe by die groen kruiwa, my gedagtes ver in die verlede toe ek nog kind was en dinge anders was…. Dit was eers toe ek die aroma van een of ander muskusagtige reukwater kry dat ek die vrou langs my sien. Sy was op soek na ‘n vadersdag geskenk vir die pa van haar kinders. Ek vertel haar van die groen kruiwa en hoe mooi dit vir my is. Vir ‘n oomblik het ek gedink sy kom koop vir haarself ‘n vadersdag geskenk!

Min mense steur hulle aan ‘n kruiwa.

Jy koop dit en laat staan dit buitekant, regop teen die muur in die wind en weer. Party mense laat dit net staan. Die bak reen vol water, en dit roes deur. Ander los grassnysels daarin om vir weke te en muf en gis…. Party maak vuur daarin en braai vleis. Kruiwaens bou huise… Ander ry die rommel weg van huise wat afgebreek word. Kruiwaens word ver gestoot  deur die groen heuwelagtige grasvlakte van Kwazulu Natal met plastiek en blik emmers vol water daarin. Die as en wiel daarvan word nooit ge olie nie. Kruiwaens word nie gediens nie, maar hulle lewer ‘n diens van verskeidenheid. En jong pa’s en oupas stoot die kleintjies daarin. Lekker.

En die vrou met die geur van muskus, met die driekwart hipster en Nike aan haar voete, en met ‘n t-hemp wat sê ‘ Don’t worry, be happy’, vertel my dat sy nog nie ‘n oog vir ‘n kruiwa ontwikkel het nie….

Toe ek terug stap kar toe, verby ouens wat boerewors rolletjies verkoop en koeksusters op ‘n skinkbord ,dink ek: ‘n Mens moet ‘n oog vir dinge hê anders is jy blind.

Mispil



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Joe
Kruiwa
Mens, en waar het ek nou nie die storie geniet nie! Nee, ek moet jou seg, jy het die geskiedenis en oorsprong van die kruiwa ver gaat haal en dit was alles die waarheid. Party mense is so, hulle sien nie raak dit wat werklik 'n handige tool is nie, hulle koop eerder iets wat manlief een of twee keer gaan gebruik en nooit weer nie! 'n Kruiwa is 'n 'allrounder' seg ek, moet net nie oor hom val nie!
Joe
10 jaar 4 weke 1 dag 17 ure oud


Mispil

Dankie vir die oulike storie. Stuur vir ons kruiwaens vol stories om te lees....ons sien so uit daarna. Amper tyd om die tweede prop te laat waai!!!! ;) Katryn
10 jaar 1 maand 6 ure oud


Baie goed geskryf, ek het dit geniet!
10 jaar 1 maand 1 dag 12 ure oud


die groen kruiwa
pragtig mispil soos jou ander ek het geniet..m
10 jaar 1 maand 2 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Jesus, die Doper met die Gees

deur Christo Nel

In die taal en idioom van Afrikaanssprekende mense neem Christo gelowiges na die sowat 319 verse in die Bybel waarin daar direk na die Heilige Gees verwys word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar