Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ek sit nou hier na die muurhorlosie se sekondewyser en kyk, hier reg langs my lessenaar.

Dis een van die nuwe geslag horlosies wat nie meer tik-tak maak nie – die rooi wyser loop egalig aanmekaar. Doodstil. Hierdie doodstil aanmekaar beweging is vir my effens angswekkend – dit lyk of niks dit sal kan stop nie.

Wel, niks kan die tyd stop nie.

Ek dink aan die groen trommeltjie wat ek vandag weer moes uithaal vir 'n stukkie leergereedskap. Want sien, in dié trommeltjie bêre ek nou al vir jare lank al my gereedskap wat nodig is om met leer te werk – sny, gaatjies maak, kleur, riempies sny, steke maak en al sulke dinge.

Ons het mos op laerskool geleer hoe om met leer te werk en ek het nogal lekker geld gemaak hiermee in my hoërskooljare. Omslae vir Bybels en gesangboekies, beursies, boekmerke, ensovoorts. Nog 'n era wat lankal verby is ...

Die groen trommeltjie het egter ander stories om te vertel, seker baie waarvan ek nie eers weet nie.

Elke slag as ek hom oopmaak, dink ek aan my ouma Lenie Erasmus, my ma se ma, en sien ek haar in my geestesoog besig met 'n handwerkdingetjie – hekel van kombersies, doilies en sulke goed. Perfeksionis. Mooi goed.

Dié trommeltjie was oorspronklik die bêreplek waarin sy kleintyd haar poppe gehou het, het sy gesê. Sy’t vertel dat sy, gedurende die Anglo-Boereoorlog, die trommel met poppe en al begrawe het omdat sy bang was hulle sou iets oorkom. Stel jou voor in watter vrees die arme kind moes lewe. Ons ken nie juis oorlog nie.

Ek weet nie hoe my pa daaraan gekom het nie, maar toe ek dit ontdek het, was dit in die motorhuis en het hy spykers daarin gehou. Dit was vinnig besig om te verwaarloos en die bodem het reeds begin loskom. “Ag nee wat, Boet, jy kan dit met plesier vat” het hy gesê.

Ek het bietjie restourasie gedoen, die bodem reggemaak en besluit om die verf, met roeskolle en al, te behou. 'n Goeie laag kleurlose vernis het daarvoor gesorg. By nadere ondersoek blyk dit dat die trommel seker al 'n hele paar keer oorgeverf is. Soos uit die wonderlike patina aan die binnekant blyk, was daar al verskeie kleure, waaronder rooi, blou en ook 'n ander groen.

Toe word hierdie karaktervolle ou trommeltjie die bêreplek van al my leerwerk gereedskap – tot vandag toe – ‘n bron van vele kreatiewe en genotvolle ure se handewerk vir my.

Vir my het hierdie trommeltjie uit die negentiende eeu, met al sy stampe en stote, soveel betekenis omdat ek dit steeds kan verbind met 'n geliefde ouma en weet van sy stories.

Maar nou wonder ek of hierdie erfenis 'n kans op oorlewing in die volgende geslag of daarna sal hê. Sal dit nie maar net 'n lomp en swaar ou geroeste trommel, reg vir die ashoop, word nie? Of dalk skrootmetaal teen 15 sent 'n kilogram? 'n Toordokter se dolostrommel? Dalk êrens in 'n oudhede- of pandjieswinkel beland?

Dalk moet ek tog sy storie op 'n koperplaatjie grafeer en êrens vassit – wie weet, dalk word dit weer eendag 'n bêreplek vir 'n agter-agterkleinkind se pop ...
.
Hei, ek sien daardie rooi sekondewyser loop nog steeds asof hy gejaag word – 'n hele uur in sy glorie in, maar ten minste was dit 'n goue uur.

Tyd staan nie stil nie ...

© Vic Viviers Augustus 2013



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Groen is mooi!
Ai ek het darem nou lekker gelees! Ja graveer iets daarop, dis die mooiste trammel en mag nie verlore gaan nie. Kosbaar.
6 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 1 uur oud


Trommel
Dis 'n baie mooi vertelling Vic...ek het dit baie geniet. Ek hou ook mos van ou goeters. As niemand in jou familie die trommeltjie wil hê nie...stuur maar die kant toe. Hy't my hart gesteel met die eerste oog-op-slag :-)
6 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 20 ure oud


trommel
Dit is so karaktervolle storie in so sielsvolle styl vertel, hierdie is 'n ware erfenis, ek hoop iemand na jou waardeer dit net so baie soos jy. Baie dankie vir die foto's dit maak dit sommer nog meer spesiaal!
6 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 23 ure oud


Trommel
Hoe oud moet ek noe staan en word?
En daar het jy dit wat ek nog moet doen.
Ek benodig uitspattige leer kruisbande want ek is mos platgat en het nie heupe nie nou is rek die oplossing. Die gekoopte goed werk mos nie meer met knope nie.
Ek try studeer die gereedskap mop die fotos
Stuur groot fotos met naam van wat ek sal benodig plus die patroontjie maker en leer verskaffers.
Thanks!
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 3 ure oud


Trommel
Ek het dit geweet...ek het geweet!!!! Dat jy 'n erfenis het om met ons te deel. Hierdie vertelling alleen is 'n erfenis, 'n nalating. Bravo!! Heerlik gelees! Dis beslis n vreugde en plesier trommel daai! Ek stel myself 'n boek voor waarin die trammel sy lewensverhaal vertel, verlede, hede EN toekoms. Of raak ek nou bietjie te......
Ja seblief maak daai plaatjie.
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 8 ure oud


Ano
groen
So kosbaar is die tasbare herinneringe. Moontlik sal 'n plaatjie met jou ouma se geboortedatum & naam dit van 'n gewisse ashoop-dood red.
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 11 ure oud


Daar...
maak jy alweer my dag, oom Vic. Dankie! Vir die pragtige foto's ook. Sulke stories sal ek heeldag kan lees. Sit tog asseblief die koperplaatjie op en gee hom vir daai spesiale kleinkind wat jou hart geërf het!
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 17 ure oud


Trommel
Kosbaar! die trommeltjie sowel as die vertelling!

En is jy handig, lekker stokperdjie dink ek!

Ek het ook 'n stukkie skryfsel oor my Ouma se oorlogoorlewing.

Sal dit nog opsit.

Baie geniet, dankie Vic!
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Skat van die Seerower

deur Rachelle du Bois

Dit is die jaar 1845. Twee jong vroue is op 'n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Een het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal die pragtige dames die sending suksesvol voltooi ten spyte van ʼn storm op see, ontvoering, misverstande, bedreigings en allerhande ander ontberings en noue ontkomings? Of gaan die twee Fransmanne sorg dat die skat terug besorg word waar dit hoort?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar