Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek lees vanoggend ‘n storietjie van Gebroke Denker op woes en dit neem my vêr terug. Ek weet ek het in my boek, Van mossies en valke en ’n arend of twee daaroor geskryf, maar dis ’n ding waaroor ek baie sterk voel; die liefde wat so kan verdwyn tussen ’n man en vrou wanneer die klein jakkalsies hulle verskyning maak, en ek wil weer daaroor skryf.

Mense het my al beskuldig dat ek in die verlede dwaal wanneer ek oor my en my oorlede man se lewe saam sou praat, maar ek het nog altyd gevoel dat ons filosofie ‘n les is vir ieder en elk van ons behoort te wees. En ek neem glad nie die eer daarvoor nie, hoor. Maar dit is ‘n resep vir sukses.

Ons was baie jonk toe ons getroud is, en my man het, soos seker die meeste getroude mans, ewe dapper verklaar dat sy vrou nooit gaan werk nie, maar self na die kinders sal omsien! Synde self die seun van ‘n “werkende” moeder, het ek nooit in my jeugdige onkundigheid gewonder waarom dit dan nou juis vir hom so belangrik was nie. My eie Mammie het immers nooit gewerk nie, en weereens in my onkunde kon ek nie die verskil sien nie. In ieder geval. Ek is vars uit die skool getroud, maar my man het al ‘n paar jaar gewerk, en het reeds ‘n neseiertjie opgebou, sodat ons ons huwelik sonder skuld kon begin. Hy werk vir die plaaslike owerheid; ons inkomste is nie groot nie, maar dis nie genoeg vir hom nie. Hy doen meer werk, administratiewe werk waarvoor sy kollegas nie lus het nie, en verdien oortyd ook. Maar ek wil werk, ek wil bydra tot ons boedel, sodat ons lekker kan leef. Want ek weet vroeg-vroeg reeds dat ek my duur smaak van Mammie, en my voorsmaak vir kwaliteit van Pappie geêrf het. En dan was daar die storie van "as armoede by die voordeur inkom ..." ook. Dit sou ons nie oorkom nie. Maar al te bewus van die kritiek omdat ons so jonk getroud is, wil ek en my man die wêreld wys dat ons ‘n sukses van ons huwelik kan maak.

Baie gesprekke later – met ook die steun van my geliefde ou skoonma en bondgenoot – slaag ek daarin om my man om te praat, en ek begin werk nadat ek hom op die voordele vir ons huwelik gewys het. Met geen opleiding nie, begin ek natuurlik heel onder, maar my bietjie geld gee ek net so vir my man, elke maand. Hy hanteer ons finansies, maar ek weet deurentyd presies wat met ons albei se geld gebeur. Ook hoeveel hy verdien, altyd. En omdat hy nie wou hê ek moes werk nie, bereik ons ‘n kompromis. Sy idee. Ek sal werk - met min tevrede wees - en hom help om ons inkomste te verbeter vir solank dit nodig is, maar wanneer hy dit eendag kan bekostig, mag ek hom vra vir enigiets binne sy vermoë, en hy sal my niks weier nie. My inkomste – soos ek meer ervare geraak het op my gebied – het darem ook gegroei. Maar dit maak nie saak wat ek verdien het nie, hy het altyd meer verdien as ek, en altyd vir my ‘n sakgeldjie gegee. Dit het begin met 50c vir swieties per dag, later gegroei tot R10. Selfs toe ek al – jare gelede – ‘n groot salaris ontvang het, was die R10 noot steeds altyd op my bedkassie. Dit was meer simboliek as enigiets anders, want ek kon enige tyd sy tjekboek neem en koop net wat ek wil. Hy het eers aandele in ‘n eie besigheid begin opkoop, later die stigter uitgekoop.

En skielik, baie vinniger as wat ons ooit verwag het, was ons welaf, en hy wou hê dat ek ophou werk. Maar werk was vir my lekker, en ek wou nie ophou nie. Dit het my iets werd laat voel, my eie mens wat iets beteken. Ek het ‘n bediende gehad wie ek na my hand geleer het, en sy het my nie vervang as ma vir my kinders nie, sy was slegs die verlengstuk van my en sy eie hande. Natuurlik was ek in die oë van ons gemeenskap ‘n “slegte” ma wat my kinders deur ‘n swart vrou laat versorg, maar daaraan het nie ek of my man ons gesteur nie, want ek glo ou Linah het ons kinders versorg, beter as wat ek met my haastige geaardheid en kort draadjie dit ooit sou kon doen. My babas het nie verkoue gekry omdat ek hulle douvoordag uit die huis moes neem na 'n creche nie. Ek hoef hulle nie wanneer ons uitgegaan het, by vreemde kinderoppassers laat nie. Veilig in hulle eie bedjies. My huishouding in die drie pragtige huise wat ons as gesin bewoon het gedurende my man se leeftyd, het op geoliede ratte beweeg sonder dat ek my moes doodwerk of afsloof om dit so te hou. Hy het ‘n verslonste, dom vrou gehaat. Ek kon elke dag op my mooiste vir hom lyk, nie net wanneer daar ‘n spesiale geleentheid was nie. Nooit moeg gewees, of hoofpyn gehad nie. Ek het geen verskoning gehad om my frustrasies van moeg / afgesloof wees op my man uit te haal nie, en een van die grootste komplimente wat hy ooit vir my gegee het, was toe hy eendag vir 'n kamtige vriendin gesê het dat hy nie aldag meer so verlief op my is soos toe ons jonk getroud was nie, maar dat ek hom nog nooit, ooit verveel het nie! Buitendien, as ek dit sou waag om oor ‘n skeet te kla, sou hy vinnig by wees om ‘n “inspuiting” vir die kwaaltjie aan te bied! Ons was ontsettend gelukkig. Die saamwerk het ons baie na aan mekaar gebring. En my man het sy woord gestand gedoen. Ek kon hom vra vir enigiets binne sy vermoë, en ek het dit gekry. Ons was ‘n modelgesin. Ons het mekaar se denk- en sienswyses geken en verstaan, en ons het by ons plan gehou wat die werking van ons huwelik, die opvoeding van ons kinders, ons finansies, betref.

Daarom was die tragedie – toe hy maar veertien jaar nadat ons getroud is – skielik een aand sterf – soveel groter. En ek? Ek was een van ‘n span; ‘n “twosome”, nooit alleen nie. Ek was verlore! Natuurlik was daar wel ‘n aanloop daartoe; en natuurlik het ek die tragedie voorsien. Maar niemand wou glo hoe ernstig die probleem was nie, en ek, jonk soos wat ek steeds was, het nie die geestelike of fisiese wapens gehad om dit te beveg nie. Sien, ons skielike sukses het tė maklik gekom. Daar was geen swaarkry nie. Net skielik baie geld. En saam met die geld, baie vriende; ‘n ontsettende besige sosiale lewe. En ‘n klein, klein probleempie uit my man se kinderjare wat spook in sy gemoed, later oorneem, en omdat hy self nie die probleem kon herken vir wat dit was nie, het ‘n duiwel hom op sy breë, sterk skouer kom tuismaak. En dieselfde duiwel het op die ou einde gewen.

Ek is nie ‘n afskaffer nie, ek geniet my dop, het selfs al ‘n paar maal in my lewe, as dinge my wen, probeer om goed aangeklam te raak. Maar ek kan dit hanteer, my persoonlikheid verander nie wanneer ek ‘n drankie geniet nie; dit het nooit tot misbruik gely nie. Maar my dierbare man, so sterk en volwasse, nugterdenkend, was in die een opsig swak. Hy kon nie die stryd teen die alkoholduiwel wen nie, en dit het uiteindelik die wonder van ons huwelik, wat ons so versigtig opgebou het, feitlik totaal vernietig. As hy vir ‘n rede gedrink het, het die rede nie uit ons huwelik, hoe ons dit bestuur het, of ‘n gebrek aan wedersydse liefde, voortgespruit nie. Ek het dit op goeie outoriteit. Sy dood het die wêreld geskok, my byna vernietig. Ek was verlore! Want skielik was ek alleen, en al die slimgeid en onafhanklikheid waarop ek my geroem het was weg. My Duitser, en die kinders se “Pappa wat mos nie kan seerkry nie” was weg. WEG. Mense wou iemand blameer, en net ek het oorgebly. So ‘n wonderlike, gesonde man. Goeie man; Vader. Die wat nie die feite geken het nie, het skielik my “spandabelrigheid” blameer. Of my vriendskappe met die vele mans wie ek/ons in ons lewe geken het. En die feit dat ek so ‘n “slegte” ma was; ‘n swart vrou het dan my kinders grootgemaak terwyl ek rondgery het en snoeker gespeel het. Dat ek my man bo alle ander mans gestel het; dat NIEMAND ooit sy plek in my lewe sal kon of kan volstaan soos hy dit gedoen het nie, dit weet niemand. En ja, soos elke ander vrou, het ek duisende kere gesê “Ek vermoor hom nog!”, as ek nog ‘n rondte teen die sy bottel verloor het. En nee, ek het dit nie gedoen nie. Maar dit moes ek bewys. Ek het.

Almal wie my ken, weet dat ek sê dat ek nooit weer gaan trou nie. Ek het dit probeer met Ryk Boer, en bewys dat dit nie kan werk nie. Maar wat niemand weet nie, en wat ek ook nie, tot vandag toe vir iemand gesê nie, is AS. AS ek weer eendag iemand soos my oorlede man sou leer ken, ek dit DALK sal oorweeg. Dalk: omdat ek glo dat daar nie weer tyd sal wees om so ‘n perfekte lewe met so ‘n perfekte maat te kan laat werk nie. Ons het mekaar twintig jaar geken voor sy dood. Dis maar ‘n baie kort tydjie. Maar ek het heel waarskynlik nie nog twintig jaar om dit te probeer nie. Hy het vir my standaarde daar gestel wat niemand by kan kom nie. Dit was te hoog. En al het my godjie op die ou end kleivoete gehad, en my gedrop, onthou ek dit nog soos dit was, en my hart is seer, seer, seer oor dit wat kon wees.

Ek wonder hoeveel mense besef dat ‘n babelaas, waaroor soveel praat en selfs spog, eintlik alkoholvergiftiging is. En dan wonder ek hoeveel mense weet of besef dat selfs ‘n groot, sterk man op ‘n dag - soos die klap van 'n vinger - daarvan kan sterf?!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die huwelik
Ek voel bevoorreg dat ek hierdie stuk kon lees wat spreek van ondervinding soos min. Dankie vir jou openlikheid en eerlikheid.
9 jaar 2 maande 3 weke 17 ure oud


Dankie vir die deel
Baie dankie vir die deel hiervan. Daar is bitter baie lesse vir ons almal om te leer hieruit. Ek voel bevoorreg dat ek dit kon lees.
9 jaar 7 maande 1 week 2 dae 2 ure oud


Die huwelik
Ek lees met trane in my oe! Baie mooi artikel en dink aan my 28 jaar wat ek met die wonderlikse vrou getroud is. Ons liefde,geluk,swaarkry,lekkerkry,lag.huil ens wat ons so bind! hou van jou skrywes en sal jou graag wil merk as n vriend.
Groete
11 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 21 ure oud


Ja Rex, dit is goed dat jy die vrymoedigheid kon neem om die lewensondervinding op Woes te kom deel. Party mense se liggame kan alkahol beter hanteer as ander, wat ook so vinnig tot 'n verslawing kan lei... sterkte vorentoe.
11 jaar 10 maande 3 weke 23 ure oud


Rex
Eerstens dankie vir die ope stuk. Ek kan sien hoe jy agter jou rekenaar sit en skryf met trane wat in jou oë lê. Dankie, die gee my ook goed om oor te dink. Vergeet alles wat ander sê, hou dit wat mooi en goed was vas.

Sterkte en groete

Gebroke denker
11 jaar 10 maande 3 weke 3 dae 4 ure oud


Die huwelik
Dankie dat jy hierdie seer verhaal kom deel, hier waar almal kan lees. Ek is seker dat baie hierby sal baat. Nie alleen die gevaar van alkohol nie maar ook die mooi wat in 'n huwelik kan wees. Sterkte vriendin, jy is 'n sterk mens maar die seer lê soms vlak.
11 jaar 10 maande 3 weke 3 dae 6 ure oud


dankie rex
dankie vir die deel van hierdie storie. ek is seker baie mense kan baat vind daarby.
groete
11 jaar 10 maande 3 weke 3 dae 20 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Kodeks

deur Nini Bennett

Nadat nini Bennett bekroon is as kortverhaalskrywer (RAU-Mardene Marais Prys) en as jeugverhaalskrywer (The International Room to Read Children's Book Competition), debuteer sy met 'n digbundel, Kodeks. Sy was een van die vyf debutante wat genooi is om die Versindaba-fees te Stellenbosch (2011) by te woon. Veral die literator Charles Malan het die bundel hoog aangeskryf.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar