Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek, die Netbal Afrigter


My familie is almal baie sportief, so waar ek vandaan kom, weet ek nie. Ek en my susters het as kinders heelwat teorië hieroor bespreek en tot die slotsom gekom dat ek óf aangeneem is, óf ons verstandelik gestremde tante se buite-egtelike kind was. Toe ek later op ‘n manier na my ouboet begin lyk, het ons hierdie gesprekke gestaak en stilletjies besluit dat my gene seker maar teruggeslaan het na een of ander oer-grootjie wat prentjies op grotmure geverf het…

Maar hier was ek nou: die pas gekwalifiseerde nuwe onderwyseressie by ‘n vooraanstaande skool. Gretig om ‘n goeie indruk te maak en myself te bewys. My nuwe werkgewer het, sonder om te vra, sommer aangeneem dat ek genoeg van netbal weet om dit af te rig. Dalk omdat ek lank is en vir hom soos ‘n goeie hoofdoel gelyk het. Wel, hy was verkeerd. Ek het, soos dit ‘n goeie Afrikanernooi betaam, meer van rugby geweet as van netbal. En verder was ek pieperig, lomp en bang om seer te kry. As ‘n bal na my gegooi word, is my eerste instink om te KOES!

Op ‘n stil, bewolkte donderdag bevind ek my toe op ‘n netbalbaan. Vir die eerste keer in my lewe. Met twintig opgewonde dogtertjies wat my afwagtend aankyk. So asof hulle wil sê: “Toe, Juffrou, leer ons alles wat jy weet!” Wat op daardie stadium totaal bôggerol was. Maar hulle is hier vir netbalafrigting en dis presies wat hulle gaan kry, het ek besluit. My hande bewe en my hart klop soos ‘n sneltrein se wiele op die spore…”Ke-klak, ke-klak, ke-klak… Wat de dinges is netbal en HOE de dinges rig ‘n mens dit af?

Met ‘n houding van gesag, kondig ek ewe ernstig aan: “Meisies, vandag gaan ek julle kennis van netbal toets!” Toe hulle hardop kreun, voeg ek kwaai by: “Dis belangrik om netbal te verstaan as jy dit wil speel!”

“Vraag een”, begin ek hoopvol, “hoeveel spelers is daar in ‘n netbalspan?” (Ek het self nie die vaagste benul nie!)
“Sewe!” koor die stemmetjies.
“Sewe! Natuurlik! Julle is baie slim! Nou vir die volgende vraag: Watter posisies speel die sewe spelers?” (Weereens geen idée nie!)

Ek is daardie middag vertel van die sewe posisies en daarna het ek twee spanne van sewe meisies gevra om die posisies in te neem. Natuurlik het ek die “kennis getoets”van die oorblywendes deur te vra of die sewe in die KORREKTE plekke staan, en toe…

My slimste, skelmste plan ooit: “Wie wil vandag skeidsregter wees? Julle gaan elkeen hierdie kwartaal ‘n beurt kry om skeidsregter te wees sodat julle die reëls kan leer ken. Ek sal langs jou stap en seker maak dat jy dit reg doen!”

En só het ek alles oor netbal geleer. Deur langs die “skeidsregtertjies” te loop en hul “kennis te toets” en vrae te vra oor elke besluit wat hulle geneem het. Ek moet ‘n fantastiese aktrise wees, want in daardie eerste paar weke, totdat ek ‘n netbalboek onder oë kon kry, het niemand agtergekom dat hierdie afrigter NIKS weet nie!

Dis nou ‘n paar jaar later en vandag rig ek een van die senior spanne in ons skool af. En raai wat: hulle WEN selfs so nou en dan!



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

ha ha.... wens my destydse 'sub A' juffrou was so slim soos jy...!
Het hierdie storietjie baie geniet - is al meer as 3 dekades versot op die spel!
Groete, Mads
5 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 19 ure oud


Ai, dit laat my dink aan die eerste keer toe ek destyds vir die eerste keer voor 'n "Business Communication" klas gestaan het. My studente was almal heelwat ouer as ek en het my met groot oë en nog groter afwagting aangekyk!

Toe was dit ook maar 'n geval van myself oortuig dat ek meer weet as hulle - of dan ten minste net moet sorg dat ek 'n kort kop voor hulle bly!

Baie oulik en onderhoudend geskryf!
5 jaar 6 maande 1 week 18 ure oud


Lekker gelees: ‘n mens is ‘n wenner as jy so ‘n treetjie of wat voor kan bly (al is dit ook net deur groot genade!!)
6 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 11 ure oud


Welgedaan. die storie en as afrigter, die spreekwoord lui mos, wie nie sterk is nie, moet slim wees (of so iets)
6 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Meeste gelees in die laaste 24uur
(2014-12-17 11:00:00 - 2014-12-18 11:59:59 )

Ontdek die Siel in my

deur helna

Dis vir my 'n eer om my eerste digbundel te kon uitbring. aangesien ek 'n passie het vir die kunste is die omslag een van my eie werke! "Ontdek die Siel in my" het sover net positiewe kommentaar ontvang, kom deel asseblief hierin.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar