Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Op ’n dag stap ek die skoolgrond binne. Daar waar die arm kinders skoolgaan. Ek stap na die gebou wat ek van die pad af kon sien, waarop die advertensie plaat van Mary’s Meals aangebring is. Dis net ’n klaskamer. Geen maaltye wat daar voorberei word nie.

Die kinders kyk my oopmond aan. Waar gaan hierdie wit vrou met die stapskoene, hoed en sonbril dan heen? Ek vra waar die kantoor is en een beduie my doer aan die ander kant van die skoolgrond.

Sovêr ek loop sien ek verwaarlosing en verweer. Stukkende ruite in vensters sonder knippe. Geen stoepe of voetpaadjies nie. Net klipperige kaal grond onder groot koeltebome, wat hulle wortels bo die grondoppervlak uitstoot om klein terrasse om die stam te vorm.

In die kantoor wat net ’n kamer met twee tafels, twee stoele en een kabinet is, staan ’n vriendelike ronde swart vrou. Ek vra haar waar ek die sekretaresse kan kry, want elke skool moet mos ’n sekretaresse hê, dan nie? Haar verdwaasde gesig vertel ’n ander storie en ek val sommer dadelik weg met die rede vir my besoek.

Sy sluit die kantoor en begelei my na die regte vertrek waar die maaltye vir die kinders voorberei word. ‘Vertrek’ is die verkeerde woord. Dis ’n oop stoep met ’n agtermuur en ’n dak oor. Langsaan is die stoorkamer waarin al die voorrede gestoor word.

Sy sluit oop. Watse voorrade? In die een hoek lê mensgrootte sakke vol kole en in die ander hoek lê half-mensgrootte sakke vol mieliemeel. Waar is die ander goed? Dis alles. Sout en suiker dan? Nee, hulle kry nie sout en suiker nie. Die pap bestaan uit meel en water.

Onder die dak is daar agtien vuur herte waarop daar yslike potte binne-in ’n staal drom aan’t kook is. Vyf ma’s kom lewer elke dag hulle vrywillige diens om pap te kook vir die kinders en daarna maak hulle weer alles skoon. Potte, herte, bekers, emmers en die vloere wat die ene pap spatsels is.

Ek vra wat hulle nodig het. Ek moes eerder gevra het wat hulle nie nodig het nie. Pap en kole, verder het hulle van alles nodig. Sout, suiker, bekers om mee op te skep, bekers waaruit die kinders die slap pap kan drink, skropborsels, seep, dromme waarin die pap vanuit die potte oorgeskep kan word en ai, voorskote sal darem erg waardeer word. Die ronde vriendelike vrou druk die lysie in my hand en ek het geen idee wat ek daarmee gaan doen nie, behalwe eers bid en vra.

Oor die naweek ry Bokka my van winkel tot winkel. By ’n groothandelaar kry ons ’n paar kilogram growwe sout teen ’n goeie prys en sommer ’n paar skropborsels ook. Dis darem ’n begin. Oor die res wonder ek nog. My voorneme is om een oggend die goed vir hulle te neem en dan sommer ’n paar uur te help met operasie papmaak.

Iemand waarsku my dat ek moet seker maak dat die sout vir die pap gebruik word en nie in iemand se sak beland nie. Hulle verpak dit glo in klein plastieksakkies en verkoop dit weer. Enige iets van suiker en sout, tot kook olie en asyn word so herverkoop. Ek sal seker maak die sout gaan in die pap.

Gister is die oggend. Ek pak ’n deel van die sout en die borsels in my rugsak en vat die pad. Die ronde vrou is nie in die kantoor nie, maar ’n ander slanke mooi vrou stel haarself voor as die ronde vrou se adjunk. Toe eers besef ek dat die ronde vrou die skoolhoof is en die kamertjie met die twee stoele en tafels, is die hoof en haar adjunk se gedeelde kantoor.

By die kookplek meld ek myself aan en sê dat ek daar is om te help. Waarmee kan ek help? Kan jy vuurmaak? Nie baie goed nie, julle sal my moet leer. Duidelik is dit te veel moeite en gelukkig druk sy ’n roeispaan in my hand en beduie dat ek moet roer. ’n Ander vrou vat die byl en kap fyn houtjies om die vure aan die gang te kry. In ’n paar potte kook die water alreeds en ’n hele sak meel word in elk gegooi en ek moet die klonte fyn roer. Van pot tot pot.

Daar staan agtien, tagtig liter potte gereed. Agttien vure moet brand gemaak word. Water moet ’n ent weg, in veertig liter dromme gehaal en aangedra word. Een mama dra dit ewe maklik op haar kop aan. Vra net hulp met die afhaal en oorgooi in die kookpot. Ek roer. Van pot tot pot.

Dit raak warm en my gesig gloei. My maermerries is vuurwarm van voor die vuur staan. Ek leer drie nuwe woorde in Chichewa. ‘Utse’ is die rook wat my skrefies oë laat traan. ‘Motto’ is die vuur en ‘pala’ is die slappap. Wanneer die brousels in die pot te styf raak gooi iemand water by en ek roer. Van pot tot pot.

Tussendeur vra die vroue vrae en die enigste vrou wat Engels magtig is, tolk. Hulle wil weet waar ek vandaan kom, waar ek nou woon en hoe ek by die skool gekom het. Hulle is vreeslik verbaas dat ek, wit vrou, sonder ’n ‘body guard’ die ent pad stap.

Hulle wil weet of ek ’n bediende het en of sy vir ons kos maak ook. Weer die verbasing omdat ek self kook. Hulle vra oor my kinders, hoe oud hulle is en of hulle getroud is en hoekom daar dan nog nie kleinkinders is nie. Hulle vra, ek antwoord, die tolk vertolk. My bene brand en my bo-arms raak lam, maar ek roer. Van pot tot pot.

Een van die vroue se klein dogtertjie van vier, speel daar rond. Ek kom agter dat sy my van alle kante bekyk, terwyl sy met haar baadjietjie vroetel. Omdat ek my sweetpakbaadjie om my heupe vasgeknoop het, probeer sy dit ook doen. Sy giggel saggies soos ’n duif wat koer, toe ek hare ook so maak.

Teen tienuur begin die kinders om die stoep rondmaal soos bye om ’n heuningkoek, elk met ’n beker van een of ander aard, in die hand. Hulle vergaap hulle aan die melkwit vrou met die berookte rooi oë wat dan vandag in hulle pappotte roer.

Nadat ’n onderwyseres die magtiging kom gee het dat ons mag opskep, word die pap uit die potte oorgeskep met ’n lendelam plastiek beker, na drie groot plastiek dromme. Dié moet ons sleep, na die stoep muurtjie waar die kinders in ellelange rye staan. Versigtig sodat die warm slap pap nie oor die rante spat en dalk op ’n voet val nie.

En dan gebeur dit waarvoor ek gekom het en al heeloggend wag. Ek kan kind na kind se bekertjie vol kookwarm pap skep en weet: ‘hierdie kind kry vandag darem één maaltyd’.

Weer sien ek net die bruin handjies wat die bekertjies aangee. Soms so geroes dat ek bang is die bodem val uit. Ander het sommer ’n plastiek margarien bakkie of die onderste helfte van ’n olie bottel. Gulsig neem hulle weer die vol houers. Versigtig beskermend, want dit wat uitval, is hy kwyt. Daar is nie ’n tweede kans om in die ry te kom staan nie.

Toe ek uiteindelik ’n uur later, nat gesweet met strepe pap teen my bene en arms, lam arms en seer oë in ’n walm wat soos stroois ruik daar wegstap, is ek moeg en dankbaar. Dankbaar dat ek nooit honger gaan slaap het nie en my kinders ook nie.
Deur die genade alleen.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek wens...
Ag ek wens ek was ook daar om jou te help. Baie dankie vir hierdie wonderlike stukkie.
6 jaar 6 maande 2 weke 6 dae 20 ure oud


Nou voel ek sleg
Ek wat so maklik nee sê vir pap voel nou baie sleg. Vir ander is dit die enigste maaltyd vir die dag. Dankie vir jou wat hulle help. en dankie ook vir die vertel.
6 jaar 6 maande 3 weke 22 ure oud


Pappotte
Dankie dat jy hierdie met ons gedeel het. Sterkte daar!
6 jaar 6 maande 3 weke 2 dae 19 ure oud


Janee . . .
Wat moet ek nou sê ?
Kan 'n Kapenaar ooit pap maak ?
Vind uit van die sout
My kennis sê sout is by hulle soos peper = slegs 'n preserveer middle
By ons eet hulle nie sout in pap nie
Jy maak dus 'n nuwe gegerasie . . .
Mooi Vrou !
Hou aan pap maak en vertel vir ons - ek, hang aan die pot se rant.
Regtig
6 jaar 6 maande 3 weke 4 dae 11 ure oud


Ano
Pappotte
Jinne Kiekies. Diensbaarheid in die ware sin van die woord. Ek haal my enigste hoed af vir hou!
6 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 23 ure oud


Jy is regtig soontoe gestuur...
Maar ek lees tussen die lyne jou radelose kreet ook. Leer die kinders ooit iets by daai skool? So baie vrae en so min antwoorde...

Al wat jy kan doen, die doen jy. Dankie! Ook vir die pragtige vertel.
6 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 8 ure oud


*
Wonderlik die verskil wat jy in jou omgewing maak! Jy blom waar God jou geplant het! Weereens lekker gelees.
6 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 10 ure oud


Pappotte
Lekker het ek nou gelees Kiekies.. baie goed geskryf xx
Groete
Petro
6 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 12 ure oud


***
Dankie Kiekies, vir hierdie interessante kykie in jou nuwe wêreld. Ek admireer jou voorbeeld! Groete.
6 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 13 ure oud


pappotte
Ons besef nie aldag hoe gelukkig ons is met dit wat ons wel het nie. Dankie dat jy uitreik en handgee, ek glo dit word opreg waardeer.
6 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 13 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Jesus, die Doper met die Gees

deur Christo Nel

In die taal en idioom van Afrikaanssprekende mense neem Christo gelowiges na die sowat 319 verse in die Bybel waarin daar direk na die Heilige Gees verwys word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar