Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Op Touwsrivier, my grootworddorp, het ‘n baasstorieverteller gewoon. Hy was ‘n afgetrede treinkondukteur wat op ‘n plaas in die distrik van Prince Albert grootgeword het. Die eerste drie stories wat hier volg is in die sestigs deur my pa, Wynand Breytenbach opgeteken. Die laaste twee het ekself, soos ek dit kan onthou, neergeskryf.

1. PRINCE ALBERT SE VRUGBARE GROND

“Oom Archie,” sê ek toe ek hom in die straat voor sy huis raakloop, “hierdie ou sypaadjie-boompie voor jou deur kort water.”
“Nee,” sê hy, “dis nie water wat hy kort nie, maar vrugbare grond. Al sou jy die hele Verkeerdevlei se water op hom mors, sal hy nog steeds lyk soos jy hom nou daar sien.”

Hy vertel verder: “Ek en my ouer broer het in Prince Albert se wêreld op ‘n plaas groot geword. Na my pa se dood het ek by die spoorweë werk gekry en sommer gou ‘n kondukteur geword. My broer het die boerdery voortgesit.

Op ‘n dag kry ek ‘n brief van my broer met die nuus dat dat hy ‘n nuwe opstal gebou het en waarin hy my hartlik uitnooi om vir hom te gaan kuier.

Tien jaar het egter verloop voordat ek my geboorteplaas weer kon gaan opsoek het.

Dit was alreeds donker toe ek by die nuwe huis aanland, met die gevolg dat ek nie kon sien hoe die werf lyk nie.

Na ‘n heerlike nagrus het ek die volgende oggend teen dagbreek wakker geword met die wete dat iets my hinder, maar ek kon nie dink wát dit was nie. Skielik het ek egter geweet: ek is nie soos vanouds deur voëlgesang gewek nie.

Ek staan toe dadelik op en skuif die gordyne voor die venster weg en kyk uit. In plaas van reuse-bome waaraan ek by die ou opstal gewoond was, sien ek net dwergboompies – baie ougat, maar nie ‘n plaaswerf waardig nie. Dit het die afwesigheid van voëls verklaar.
Toe my ou broer met die vroeë oggendkoffie opdaag, vra ek: “En van wanneer af kweek jy dan bonsaitjies, ou broer?”

My broer verduidelik toe dat die nuwe werf op ‘n klipbank geleë is en dat hy met dinamiet gate vir die bome moes laat skiet. Die gate was maar kleinerig en die grond wat hy ingery het, te min vir behoorlike groei, Die boompies was al tien jaar oud.

Toe my ou broer my saamnooi na ‘n vendusie op die buurdorp, het ek dit van die hand gewys, want ek het aan ‘n plan gedink wat ek in sy afwesigheid wou uitvoer om hom te verras.

By die ou opstal was ‘n lappie uiters vrugbare grond waarop ons oorlede vader lusernsaad so groot soos goue ponde verbou het. Ek moes daardie grond by die ondervoede boompies kry.

Nadat my broer vertrek het, het ek en die plaaswerkers ywerig aan die werk gespring. Ons het die boompies versigtig uitgehaal, die ou grond uit die gate weggery en nuwe vrugbare grond uit die ou lusernland ingery. Teen sononder was die boompies terug in hul gate geplant en toe my broer terugkeer, het ons oor ditjies en datjies en die vendusie gesels, maar ek het nie ‘n woord gerep oor waarmee ek die hele dag besig was nie.

Vroeg die volgende oggend het my broer my kamer binnegestorm, die gordyne oopgepluk en opgewonde uitgeroep: “Archibald, kom kyk en luister of jy ook sien en hoor wat ek sien en hoor, of ly ek aan sinsbedrog?”

Die dwergboompies het hul tien jaar se agterstand daardie nag ingegroei en tussen die takke het die voëls gekwetter en gesnater dat dit ‘n aardigheid was. Party het selfs stokkies aangedra vir nesbou!

Van toe af het my ou broer daardie lappie lusernland se grond as kunsmis orals op sy plaas gebruik en selfs aan die bure verkoop.”

Oom Archie het sy storie afgesluit: “Gee aan hierdie ou straatboompie van my net twee eetlepelsvol van daardie luserngrond en na ‘n maand sal die poskantoorwerkers nie kan voorbly om die takke af te te saag sodat dit nie die telefoondrade beskadig nie.”


2. KONDUKTEUR MAAK ‘N PLAN

Op Laingsburg het ons eenkeer ‘n spesiale trok met ‘n sirkusleeu daarin heel agter aan die trein, agter die kondukteurswa gehaak.

Die sinjaal op Matjiesfontein was teen ons en die masjinis moes ‘n ent voor die stasie stilhou. Ek het uit die kondukteurswa geklim om beter te kon sien wat die oponthoud veroorsaak het, toe ek die leeumannetjie agter die trein op die spoor gewaar. Die agterste deur van sy trok het op onverklaarbare manier oopgegaan en die dier moes uitgespring het. Op daardie oomblik het die trein egter weer begin beweeg en ek het vinnig in die kondukteurswa teruggeklim om nie alleen by die gevaarlike gedierte agter te bly nie.

Toe ons op die stasie stilhou, het die leeu nog steeds daar waar hy van die trein afgespring het in die middel van die spoor gesit. Omdat ek as kondukteur verantwoordelik vir die vrag was, moes ek hom weer in sy trok kry.

Ek het die treindrywer gaan vra om die trein vorentoe te trek tot so ongeveer drie meter anderkant die inrywissels na ‘n sylyn en het ook sekere reëlings met die stasievoorman gaan tref. Daarna het ek teruggeloop op die hooflyn langs tot op ‘n veilige afstand vanaf die leeu en die dier begin terg.

Skielik het hy in dolle vaart op my afgestorm en ek het rieme neergelê trein toe. Soos vooraf gereël met die stasievoorman, het hy die wissels by die aansluiting na die sylyn so behendig en presies op die regte oomblik getrek, dat ek op die sylyn gerangeer is, terwyl die leeu in volle vaart op die hooflyn gebly het en eers binne-in die oop trok tot stilstand kon kom. Ons kon die deur toeklap en veilig verder ry.


3. KOOKWATER RED MY LEWE

Buite het dit aanhoudend gesneeu en ‘n ysige windjie het gewaai. Ek het die kondukteurswa se venster dig toegemaak en die verwarmer op maksimum hitte gestel.

Op Matjiesfontein het ek afgeklim om ‘n lekker, warm koppie sop te gaan drink. Toe ek op die koue perron staan, voel ek hoe die bloed skielik in my are verys. Daar staan ek toe soos ‘n standbeeld, met al my ledemate stokstyf en reguit.

Gelukkig dat daar ‘n dokter op die trein was. Hy het my stadig en versigtig omgestoot totdat ek plat op my rug gelê het. Die dokter waarsku toe: “Archibald, jy mag nie ‘n been of ‘n arm of iets buig nie, want dan kan die bevrore bloed in jou are breek en die harde, skerp bloedsplinte kan deur die aarwande steek.”

Daar lê ek toe, stokstyf soos ‘n mummie met oë wawyd oop, want selfs my ooglede het verys. Die dokter moes my bloed gou weer aan die loop kry, want as ‘n mens se brein te lank sonder bloed is, dan kry jy breinskade. Kookwater was die enigste ding wat my brein kon red, het die dokter gesê.

Almal wat kon, het by die stoomlokomotief se ‘boiler’ water gaan haal. Hulle het sommer koppies, melkbekers, warmflesse en selfs die stasie se brandemmers, sulke rooies wat op ‘n ry aan hake op die perron gehang het, gebruik.

Ek was egter so koud, dat die eerste kookwater niks gehelp het nie. Eers na die sesde keer se natgooi, kon ek weer vanself roer.

Hulle het my dadelik van kop tot tone droog aangetrek, in komberse toegedraai en baie naby aan die vuur voor in die lokomotief gaan neerlê.

Dit het ‘n hele tydjie geduur voordat voordat ek so warm was dat ek met my kondukteurswerk kon voortgaan.

4. DIE UIL

Een nag het ‘n uil aanhoudend in die lemoenboom op ons plaaswerf in Prince Albert se distrik gehoe-hoe. Aangesien ‘n uil ‘n voorbode van die dood is, het dit my oorlede vader baie ontstel. Hy maak my wakker en sê: “Archibald, neem die haelgeweer en gaan skiet hom dood.”

Die boom se blare en dorings was baie dig. Ek loop toe met die geweer al rondom die boom om ‘n goeie skoot te kan inkry, want ek wou die dier nie kwes nie.

Skielik wip ek soos ek skrik toe iets in die donkerte voor my voete neerplof. By nadere ondersoek blyk dit toe dat dit die uil was wat sy eie nek morsaf gedraai het toe hy my sit en dophou het toe ek al om en om die boom geloop het.

5. DIE LAASTE SIEN VAN ONS VRUGTEBOORD

Ons het ‘n pragtige vrugteboord op ons plaas naby Prince Albert gehad, maar die spreeus het byna al die vrugte opgevreet. My pa koop toe voëllym en ons smeer dit laat een middag aan die takke van die bome, met die idee om die spreeus wat vassit, vankant te maak. Toe ek die volgende oggend gaan kyk, sit daar letterlik duisende spreeus aan die takke vas. Hulle skrik toe vir my en probeer opvlieg, maar die lym was so sterk, dat hulle die bome met wortels en al uit die grond getrek het. Dit was soos 'n sonsverduistering toe die spreeus met die hele boord die lug invlieg. Die laaste wat ek van die boord gesien het, was toe die bome oor die horison verdwyn het in die rigting van Gamkaskloof (die Hel).





Naskrif: In die vroeë sewentigs het die destydse SAUK landswyd geadverteer op soek na storievertellers. My pa het vir oom Archie genader, en hy was vuur en vlam. Hulle maak ‘n afspraak en die SAUK stuur ‘n onderhoudsvoerder en ‘n klankingenieur om opnames te kom maak. En daar sit oom Archie toe met sy mond vol tande. Tannie Marincowitz lig die uitsaaier se manne in dat sy hom belet het om enige storie te vertel, want sy sal nie toelaat dat haar man as ‘n gek en leuenaar aan die hele volk voorgehou word nie. Hulle is toe maar weer onverrigtersake terug Kaapstad toe.


© kopiereg: Elise Breytenbach



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Spekskiet
Heerlik hieraan gesmul,dankie Elise
6 jaar 3 maande 2 weke 4 dae 21 ure oud


Spekskietstories
Dit gee my groot lekkerkry!
6 jaar 3 maande 4 weke 22 ure oud


Archie
Hierdie stories mag jy maar oorvertel, dis kostelik. So 'n verbeelding behoort geblik te kon word.
6 jaar 4 maande 1 week 17 ure oud


Stories
Dis nou presies wat ek vandag nodig gehad het! Dankie dat jy dit gedeel het!
6 jaar 4 maande 1 week 4 dae 23 ure oud


Spek
Dit was nou sommer baie vermaaklik...ek sê ook soos die ander, skryf maar nog
6 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 18 ure oud


***
Dankie Elise -- dit was nou lekker om die stories te lees! Gooi nog!
6 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 14 ure oud


:D
Dit klink amper soos die groot Duitse spekskieter, Baron von Münchausen se stories in die destydse Jongspan! Ek het dit vreeslik graag gelees.

Dit is vir my interessant dat jy die uilstorie vertel...my skoonpa is nie 'n prater of storieverteller nie, maar hierdie is die een storietjie wat hy 'n paar keer vir ons vertel het. Iemand het vir hom die storie vertel as jongman en dit moes 'n vreeslike indruk op hom gemaak het.

Dankie Elise, vertel maar nog!

6 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud


Spekskieter
Jy skyn 'n skatkamer sulke staaltjies te besit.
Mooi so. Alle lesenswaardig.
Pak uit!
Dankie
6 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 18 ure oud


spekskietstories
Lekker gelees dankie vir jou deel.
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae oud


Spekskietstories
Dit was nou lekker Afrikaner stories. so eg oumens. Dankie Elise ek het jou geskryf terdee geniet.
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 8 ure oud


Liegstories
Stories deel van die Afrikanervolk se kultuur soos by geen ander nasie nie.
Raai wat.
Ek het ( vir Woes) nog net by 'n paar uitgekom - maar het al so ietwat in Huisgenoot se lieg stories gepubliseer.
Sal moet werk maak.

Dankie Elise
Heerlike vermaak die
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 9 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Agter Geslote Deure

deur Johan Botha

Hoe sê ‘n vyfjarige kind vir iemand groter as hy om hom nie te verkrag nie? Hoe reageer hy as hy sien hoe sy ma mishandel word deur ‘n dominerende vark van ‘n pa wat op drugs is? Wat gebeur met hom wanneer hy ouer word en probeer om by die samelewing in te pas, ‘n samelewing waar hy sukkel om met ouer mans te kommunikeer? Hoe probeer hy om sy eie identiteit te skep en ‘n beter mens van homself te maak? Dan word hy aangesê om sy pa te vergewe? Hoe? Waar sal alles eindig? Hierdie is sy lewensverklaring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar