Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Lank lank gelede was daar ‘n vrou wat baie rondgetrek het. Sy het groot geword op ‘n baie klein, warm Karoodorpie, en sy het altyd gedroom oor die lewe daarbuite in verre stede, ‘n lewe buite die Karoodorpie.

Aangesien die see vir haar ‘n spesifieke bekoring ingehou het, het sy na ‘n universiteit by die see gegaan. Daar het sy gelukkig gewoon vir vier jaar. Kort daarna het sy ‘n man ontmoet, ‘n man wat by die see gewoon het, en sy het besluit om met hom te trou. Haar eerste kind is by die see gebore, ‘n meerminnetjie met waaierwimpertjies. Binnekort is ‘n tweede dogtertjie by die see gebore, en saans het sy vir hulle sprokies gelees, bedags het hulle skulpe langs die strand opgetel. Kort daarna het hulle na ‘n kleiner kusdorpie getrek. Die man het vir haar haar droomhuis by die see gebou . . . .en sy het gedink dat hulle vir altyd en altyd gelukkig saam by die see kon woon terwyl sy haar stories vir haar en die dogtertjies weef.

Op ‘n dag het die man voor die vrou kom staan en aangekondig dat hulle gaan wegtrek binneland toe, na warmder stede. Die vrou was baie baie onsteld, want sy het die beste stories by die see geskryf, en haar dogtertjies was meerminne. Sy wou alleen agterbly by die see sonder die man, maar kort hierna het sy uitgevind sy verwag ‘n derde dogtertjie, nog ‘n meerminnetjie. Die vrou het geen idée gehad van hoe sy alleen haar en haar dogtertjies by die see sou kon onderhou nie. En so het die vrou se swerftog deur droeë streke met die drie meerminnetjies begin.

Sy het haar bes probeer . . . . maar haar stories het opgedroog soos hulle al verder weggetrek het van die see. Omdat haar dogtertjies nog klein was, het hulle leer aanpas in die droë streke, en daarvoor was die vrou baie dankbaar. Hulle het vergeet dat hulle meerminnetjies was . Vir die vrou was dit moeiliker, maar soms in rare oomblikke het sy weggevlieg in haar kop en ‘n storie geweef . . . . dit het haar aan die lewe gehou . . . . . en dan het hulle weer getrek . . . .

Op ‘n dag , toe die dogtertjies al groter was, kon sy dit nie meer hou nie. Sy het haar dogtertjies gevat en weggevlieg. Maar sy het nie genoeg geld gehad om tot by die see met hulle te vlieg nie. Haar vlerke was te swak, haar drag te swaar. Daarom het sy in ‘n sentrale plek van die land gaan woon sodat hulle na goeie skole en universiteite kon gaan. Die vrou het haar drome en stories weggepak en elke dag gesorg vir haar dogters wat al groter en slimmer geword het. Hulle het nie baie geld gehad nie, maar hulle was gelukkig en het baie gelag al was hulle nie meer by die see nie en al het niemand meer stories geweef nie. Haar meerminne het haar engele geword, die heelal hulle droomplek . . . . . Soms was daar ‘n heks op ‘n besemstok in die gedrang, maar die ander engele in die heelal het hulle altyd beskerm. Die vrou het nie altyd geweet of sy ‘n goeie ma is nie, want sy was van drome en stories aanmekaar geweef. Nogtans het sy hulle probeer leer van engele en hulle dinge. Daarmee saam het sy gehoop, en gebid, en vertrou in die goedheid van die aardlinge op hulle lewenspaaie.

Haar oudste engel het spoedig ‘n honneursgraad verwerf en ‘n goeie betrekking losgeslaan. In haar beroep is sy gemoeid met woorde, alhoewel op ‘n ander vlak as haar ma.(wat nie meer stories geweef het nie) Iewers in haar was daar ‘n stukkie van haar ma se drome, of miskien het sy geleer uit haar ma se foute . Sy het haar vlerke gesprei en ver weggevlieg oor die water na Europa, Duitsland. Die vrou was baie baie hartseer want dis die eerste keer dat een van hulle so ver van haar af weggegaan het. Maar haar oudste engel het ‘n manier gevind om met haar ma te kommunikeer deur stories . . . . .’n blog op die internet met al haar wedervaringe. So het sy onlosmaaklik deel van haar ma gebly.

Haar middelste engel is die kleinste van gestalte en moes soms die hardste veg vir ‘n staanplekkie. Sy het ‘n spesiale maatjie op skool gehad en hulle is saam universiteit toe. Daarna is hulle getroud. Sy, ‘n engel in ‘n wasige wit rok en hy haar spesiale beskermengel. Aangesien hy in die droë streke gebore en getoë is, het hulle besluit om nie weg te vlieg nie. Die vrou was baie bly hieroor, en binnekort gaan die vrou ouma word van nog ‘n engeldogtertjie.

Haar jongste engel het ‘n ver en moeilike pad gestap al was sy so bitter jonk. Sy moes vroeg al baie moeilike lewenslesse leer, maar danksy die hulp van die engele van die heelal, en haar ma se geloof in die ongelooflike, het sy weer leer vlieg. Sy doen vanjaar haar honneursgraad en sy gaan baie aardlinge help. Want dit is haar jongste engel se missie: om seer mense te help en te leer vlieg.

So bevind die vrou haar op ‘n dag alleen . . . met nie meer so baie om te doen nie. Toe begin sy weer dink en droom oor stories. Sy loop weer die man met wit hare en groen oë raak, die man wat hou van boeke en stories. Die man wat nie omgee as sy huil of lag oor engele of stories en drome nie. Hulle begin weer saam lees, en snags begin die vrou rondloop in haar meenthuis en wonder oor stories wat nie wil wyk uit haar kop nie.

‘n Groot bevryding vind in die vrou se psige plaas. Sy bedank haar werk waar sy so bitter min betaal word en aardlinge so min dink van woorde en so tekere gaan oor syfers en maandelikse targets. Sy en die man wat van boeke hou begin saam met die geloof in die engele hulle eie, eie besigheid. Hulle werk baie baie hard. Die vrou leer uiteindelik dat sy nie altyd alleen hoef te vlieg nie, en sy begin weer stories weef . . . .

(Die vrou dra hierdie storie op aan haar ma, ‘n engel wat lankal hemel toe gevlieg het, haar beskermende vlerke uitgesprei vanaf Duitsland tot aan die suidpunt van Afrika, ook oor die vierde geslag engele. Soms tel die vrou ‘n enkele wit veertjie op as herinnering dat sy nog steeds vlieg)







Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

GEWONDER...
Ek het nogal net nou die dag gewonder wat van die vrou en haar formidale engele geword het. Geniet waarmee jy besig is!
3 jaar 5 maande 22 ure oud


Die storie van die vrou en die drie meerminne wat engele geword het . . .


So 'n pragtige ware storie oor meerminne wat engele geword het!
(Lanklaas so heerlik onbeskaamd oë-nat gelees aan die waarheid!)
Baie dankie!
3 jaar 5 maande 2 weke 6 dae 22 ure oud


Storie
Mag hierdie Engel-vrou haar ou drome gaan uitdelf, afstof en blink vryf om aan hogere bome en pale te hang en lig te maak vir ander wat stories weef!
Ek het heerlik gelees!
3 jaar 6 maande 1 week 3 dae 7 ure oud


meerminne
sjoe hier het jy my vol hoendervleis geskryf... pragtig gepen!! Heerlik gelees en ek hoop om nog vele stories en drome uit jou pen te lees
3 jaar 6 maande 1 week 3 dae 9 ure oud


die weervoorspelling
EK hou van die verhaal...
lewe se realiteit.....
Kan seker jou Outobiografie wees...
?
...waar daar hoop en drome is,word mens wel deurgedra....

Mag inspirssie die vrou tref...en mag sy hard werk aan haar skryfwerk.
en haar stem terugkry.
3 jaar 6 maande 1 week 4 dae 9 ure oud


Hmmmmmm
Hopelik sal daar nou tyd wees om meer stories oor engele en meerminne te skryf. ;-)
Lekker gelees.
3 jaar 6 maande 1 week 4 dae 17 ure oud


Baie mooi
Dankie.
GvT
3 jaar 6 maande 1 week 4 dae 21 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar