Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het so half dubbellloop groot geword. Niks met skeefheid of andersheid te make nie. Het vir Ma help knie, so ampertjies gebrei en nog méér ampertjies gehiekel. ( Ja, ek weet die woordeboekwoord is hekel, maar in Ma se tyd was daar nog gehiekel, uit en gedaan en klaar!) Natuurlik as ek nou nie in die veld met die kettie en Meisie (Die baster boerboel-iets, maar ’n hond sonder weerga as dit by die opspoor, opja en in die bome kry van tarentale, fisante en patryse kom!) of die windbuks en Meisie of die viertienhaelgeweertjie en Meisie agter die tarentale aan was of hout moes kap vir die Donkie en die ou Dover stoof nie. En dan het ek soos vanslewe se seuns ook nog, na die oesters al weer verder getrek het, afvalmieliekoppe in die land gaan optel om dit saans voor die aangename hitte van die ou Dover-stoof af te stronk om dit matig dag na dag vir die duiwe te voer. En die hittigheid so voor die stoof het dan met my loom gedagtes gebroei…

Een aand sit ons ou gesinnetjie weer so om die stoof, elkeen besig met sy eie loomgedagtes, toe een van die meisiekinners giggel oor haar maatjie wat kwansuis verlief is op ‘n seun. Ma bly hiekel; Pa doof skynbaar moedswillig en ek stronk af. Die ander giggel en Ma bring stilte toe sy sê: “Ja, die wind waai waar hy wil en almal se harte klop nie dieselfde reëlmaat nie…” Hiermee word ons almal gehok in ons nadinkkampies. Nie een om te waag:”Ma, wat bedoel Ma nou?” nie, uit lugtigheid dat die ander sal dink jy is óf nuuskierig, óf jy is lewensdom!

Ek en Filipô was kallers van dieselfde jaar. Soos dit maar met kinders gaan het ons ons speel gespeel sonder denke aan politieke vraagstukke en ander grootmenskwellings. Toe word ons groter en die noodwendighede van die lewe beginne ons stadig maar seker afkamp…

So aan die einde van my Matriekjaar het Filipô sommer hélemal mal geword! Beginne sommer so in sy stil stap agter tarentale aan met homself baklei in sy eie taal. Vergeet sy maniere skoon. Laat sommer slaplê met die melkery ook; keer verkeerde kallers uit... Vergeet so wragtag ’n keer of wat om te eet wanneer die ander in die skermpie om die pappotte soos vinke in broeityd kweel. Siek...? Ja, dit kan nie anders wees nie en ek gaan sê vir Ma.
Ma, altyd rustig om énige maar énige noodgeval in kalmte te kan hanteer, sê so ewe tot haarself:”Ja, die wind waai waar hy wil en almal se harte klop nie dieselfde reëlmaat nie…” Toe onthou ek dáárdie aand voor die stoof sonder uitleg van dieselfde sê-ding en omdat daar niemand by ons is nie weet ek ek kan maar vir Ma vra sonder om vir haar nuuskierig te klink of lewensdom te voel.
“Ma…” vra ek, “Wat bedoel Ma?”
Ma lyk vir ’n wyle asof sy skielik op iets betrap is, maar hou haar 'cool' .
“Soos die wind waai waar hy wil so kom die liefde ook mos maar aangewaai soos hy wil. Jy kan nie rêrig die tyd kies nie. Party is nog nat agter die ore as die windjie van die liefde in hulle vas waai; ander weer word ouer…”
Dan ruk Ma haar reg en sê :"Filipô is net verlief nie siek nie jong! Pa sê sy Oupa het laasweek al kom beeste deurkyk vir lobôla…”
Ek het nie juis verder geluister na wat Ma se verdere uitleg was nie, want ek het meteens verstaan want het dieselfde wind waarvan Ma praat dan nie sommer een oggend heel ongenooid ook in my kom vaswaai nie?
En vandag, as ek na Ma en haar siele-sêgoed verlang, dan druk ek vir Vroutjie so ‘n wyle stýf vas en vat dan vinnig pad sodat sy nie my dankbaartrane kan sien en nuuskierige vrae begin vra of my dalkies as lewensdom bespot nie en om Boontoe dankie te sê dat die windjie juis vir haar daardie dag in my hart kom inwaai het…



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die Wind waai waar hy wil...
Dis pragtig! Dankie vir die deel
9 jaar 4 maande 5 dae 22 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar