Weergawe: 1
Aantal woorde: 703
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 05 Oct 2015
Hoor hoe staan dit daar in Rom. 4 as die geloof van Abraham geskryf word: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: ‘So sal jou nageslag wees.’
Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.
Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.
Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.”
As dit wat jy glo net gebaseer is op iets wat jou hoop of begeer of iets wat ’n ander mens gesê of belowe het, moet jy nie verras wees as dit nie realiseer nie. Daar waar jou geloof gebaseer is op ’n woord van die lewende God wat nie kan lieg nie, staan daardie woord vas en sal dit realiseer wat God belowe het.
Deesdae word daar soveel gemaak daarvan dat die “geheim van sukses” en of wat in jou lewe sal gebeur, alles afhang van of jy dit kan “visualiseer” en genoeg kere vir jouself kan “sien’ gebeur.
Dit is tipiese vlees-selfhelp-terapie en kwassie-sielkunde dié!
Bybelse geloof het niks hiermee te make nie.
Bybelse geloof het alles met die lewende God te make wat ons in en deur Jesus Christus deur die werking van die Gees in die Bybel leer ken het. En Bybelse geloof bou altyd op en klou altyd vas aan ’n woord van hierdie God.
Soos Rom. 4:17 en verder dit beskryf: “‘Ek het jou die vader van baie nasies gemaak’. Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.
Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: ‘So sal jou nageslag wees.’
Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.
Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.
Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.”
Twyfel is dus suiwer ongeloof dat God nie in staat is om te doen wat Hy belowe het nie.
Eintlik sê jy dus met jou twyfel dat God lieg en dat Sy woord nie waar is nie.
Daarom is dit so belangrik om vir jouself uit te maak wat sê God in ’n bepaalde saak of situasie, want as ek en jy weet wat in God se hart is, wat Hy wil doen in hierdie situasie of waarheen Hy op pad is, kan ons daaraan vashou en vasbyt solank as wat dit nodig is.
Abraham het 25 jaar vasgehou aan God se woord. Al het sy gewone oë vir hom ’n ander storie vertel.
Sy gewone oë het gesien hoe sy eie liggaam en die liggaam van sy vrou stelselmatig verouder en lankal verby die normale ouderdom was van kinders-kry. Tog het hy bly vashou aan God se woord dat hy en sy ’n seun van hulle eie nog sal hê. Die God wat immers hierdie belofte aan hom gemaak het, is immers in staat om te doen wat Hy beloof het. Hy is immers in staat om dooies lewens te maak en daar waar daar niks is, iets tot stand te bring.
Hoeveel keer het ek dit nie in my eie lewe sien gebeur nie.
Dink ’n bietjie terug oor jou lewe en loof God vir al daardie kere wat Hy so getrou was aan Sy Woord teenoor jou.
Lees ander rubrieke deur Christo Nel
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die rubriek
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie rubriek
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae