Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Oumagrootjie Hannie het die dobbertjie gehad. Sy het dit sommer die doppertjie genoem. Die ding is weg vandag, weg deur dekades se erflatings en ander tragedies. Oumagrootjie Hannie se huis op die plaas, ek was nooit daar nie, het volgens Ma ‘n groot es in die kombuis gehad waarop die potte aan die kook gehou is. Sy het Sondae vir die hele familie daar gekook, behalwe as almal een maal in drie maande Nagmaal toe was op Bronkhorstspruit met die waens. Die meeste van die twaalf kinders het in ander huise op die plaas gewoon. Dis nou die plaas wat weer reg geruk is na hulle van die Oorlog terug gekeer het.

Die doppertjie het saam gekom van die kamp af, van Balmoral af. Oumagrootjie en van haar kinders was daar, nadat die plaas en alles daarop deur die Tommies afgebrand en verniel is. Dit word vertel dat sy die Ingelse offisier in beheer daardie aaklige dag, alle hel gegee het en eers self skaap gaan slag het vir die saamvat. Oupagrootjie Hendrik was op kommando.

Die doppertjie was glo ’n deksel wat in die kamp oor ’n offisier se bord kos gesit was om dit warm te hou en was van ‘n baie ligte metaal. Ma vertel daar was ‘n lae muur wat van die punt van die es in Oumagrootjie Hannie se kombuis gebou was en daar was altyd drie emmers water op; water uit die put uit. Die een was vir wasdoeleindes, die tweede vir kook en die derde, die drinkwater. Die doppertjie het altyd bo-op die emmer drinkwater gedryf om die stof en as uit die vuur uit te hou. As jy dan versigtig met jou drinkbeker skep deur die doppertjie af te druk met jou bekertjie, sink die doppertjie nie. As jy haastig was nou ja dan sink die doppertjie. As die doppertjie dan gesink het, was die hel los, want dan moes iemand sy hand in die drinkwater steek en Oumagrootjie Hannie was baie gesteld op die suiwerheid van die drinkwater.

Nou ja, oumagrootjie Hannie en haar tydgenote is die ewigheid in en het hulle besittings agtergelaat. Die plaas is verdeel onder die kinders en weer later deur een kind gekonsolideer. Na sy dood so paar jaar gelede het sy kinderlose vrou die hele kaboedel met oorspronklike waens en trekgoed, meubels en diere, vir ’n appel en ’n ei verkwansel. Die doppertjie was waarskynlik iewers in die transaksie. Wie sal weet?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Van ons ander lede

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar