Rubrieke

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Sommiges reken die heelal is ’n hologram en ons die menslike mansjiene, of liewer, robotte. Vooraf geprogrammeer en gemaak om net ’n rukkie te hou.

Ek het nie ’n opinie nie. Ek is te dom.

Maar kom ons aanvaar – argumentsonthalwe – sommiges het wel ’n punt beet. Kom ons aanvaar een of ander vaal computer geek het ons geprogrammeer. Wel – ek het ’n paar appeltjies met hom te skil. (Dit moet ’n “hy” wees, ’n “ sy” sou bietjie verder gedink het).

Kyk na jou vel. Nee, kyk na jou vel. Dis nou oppervlakkig want diep het instrumente nodig, en ons is oppervlakkig vandag. Bestudeer die tekstuur. Verwonder jou aan die gladde reëlmatigheid; die soepelheid, die kleur. Vryf jou vingers oor die sagte, unieke velgevoel. Wat kom naby ’n vel?

Vat dan ’n mes en sny jouself. Diep.

Wat gebeur?

Wel – baie dinge: bloed eerste natuurlik, pyn; en as jy nie plan maak en die wond skoonmaak en versorg nie; infeksie.

Alles mooi agtermekaargesit in ons hardeskyf om die lyf so goed moontlik te bewaar vir dit wat onvermydelik in elk geval uiteindelik tog moet gebeur: die dood.

Hier val die eerste appel in my skoot en die skilmes is gereed: wat gebeur met daardie wond? Dit is irrelevant of jy dit net met ’n stukkie lap bymekaargemaak en vasgedraai het en of ’n chirurg dit versigtig met kunstenaarshande en naald en gare vasgewerk het. As dit eindelik “gesond”is, wel – is dit nie gesond nie. Daardie tekstuur het vir altyd verander. Daar is ’n dik rif. Letselweefsel. Maak wat jy wil; jy kry nooit weer jou gladde, soepel vel terug daar waar die mes was nie.

Nou vra ek jou met trane in my oë: ‘hoekom’? Hoekom het die geek die program so geskryf dat verwonding permanente en onomkeerbare verandering teweegbring? En hoekom is daardie letselweefsel vir ons lelik? Dink net: ’n snywond groei weer terug en vorm dieselfde tekstuur as voor die wond; brandwonde heel glad, soepel en eweredig. Sou dit regtig soveel meer moeite gewees het om die program aan te pas vir so ’n stukkie empatie? Dis mos nou nie dat ons die lewe deurwandel met ’n goeie laag insulasiemateriaal om ons gedraai nie. Ons raak verbrand, verwond, verskaafd en ver-watookal. En dan die gatslag: as dit dan nie moontlik was vir die geek om dit sò te doen nie (hoe sal ons weet nè?) waarom dan die spontane afgryse by die aanskoue van ‘n erg verwonde persoon? Baie sal ewe aanstellerig beweer dat dit ‘n keuse is, jy kies om afgryse te ervaar en “christelike” mense wys dit nie. Nee skattebol – jammer om jou bubble te bars – die reaksie is een van afgryse, uit en klaar en gedaan. Jou empatie keer jou dalk om dit dalk nie te openlik te wys nie, maar hier diep binnekant reageer jy anders teenoor ‘n erg verwonde persoon as teenoor ‘n “normale” een.

Gelukkig vir ons lewendes hier op die aarde, is die geek nie ‘n rassis of n spesiesis (nie so ‘n woord nie, aanmekaargesit vir hierdie doeleindes) nie, daai letsels word deur almal gedra, of jy nou ‘n mens, voëltjie, olifant of walvis is – wonde maak letsels. Akkedisse mag miskien reken hulle is die superspesie oor hulle sterte en so, maar dis ook maar net die stert. Almal van ons loop deur.

Ons kan natuurlik nie ons siele sien nie en ook nie die letsels wat daar hulle verskyning maak nie.

Weer terug na die vel: vryf weer oor daardie letsel op jou vel. Daar is ‘n gevoeloosheidjie nè? Hoe dieper en groter die letsel; hoe groter die gevoeloosheid.

Ook die geek se werk.

Die siel. Ons kan nie sien nie, maar ons kan voel.

Voel daai wond in jou siel nie altoos soos die een op jou vel nie?

Pyn.

As jou siel kon bloei sou jy ook bloed gesien het. Jy sou ook gesien het hoe die selle skarrel om die skade so goed moontlik te herstel. Let wel: so goed moontlik. Want soos dit was sal dit nooit weer wees nie.

Skade.

En dan – eindelik – daai gebrek aan gevoel.

Dan natuurlik: die afgryse teenoor (‘n) diep, lelike wond(e).

Dis hoe die geek die program ontwerp het.

Dis hoe dit is.

Ek skil die appel en ek skil, maar dit help net mooi niks.

Een of ander slimjan het eenkeer gereken: “if there is no evil, how would we know good?”

Ek kan dit aanpas: “as daar nie pyn is nie, hoe weet ons wat is pynvry?”






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Skil
.....of pynloos? Skil hom, suster, skil hom!!

Baie dankie vir hierdie goed-deurdenkte rubriek!!
4 jaar 3 weke 6 dae 13 ure oud


Ano
Skil
Die siel se letsels word nie raakgesien nie, miskien juis omdat dit so goed weggesteek word. Tog, die siel kan ook bloei - met sout trane.
4 jaar 4 weke 1 dag 18 ure oud


Hmmmmmmmmm
Interessante siening.
Goed geskryf.
Ek dink die littekens herinner mens aan wat gebeur het lank nadat die pyn reeds weg is.
"Hier het ek my met die mes raakgesny, hierso het die perd my geskop, hier het 'n bouncer my geslaan toe ek hom vra wat die grootste is, sy snor of sy tatoe..."

Nie alle letsels word pynloos nie, maar hier en daar kan mens in die regte geselskap selfs bietjie spog oor die snye en stampe en stote wat jy oorleef het. Party van die letsels is soos notas in 'n sakboekie: "Onthou om nie met leeus te speel nie, hulle být!"

Wat die siel betref, dit bloei seker langer as die vel.
"Some say .... it is a razor, that leaves your soul to bleed..."
4 jaar 4 weke 1 dag 23 ure oud


Ek skil daai appel
Jy het 'n goeie argument hier beet.
4 jaar 1 maand 1 dag 5 ure oud


skil die appel
baie interessante manier om pyn te sien... maar tog maak dit sin.. Lekker gelees
4 jaar 1 maand 1 dag 16 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

DIE DODELIKE SPEL

deur neels claasen

Speurverhaal waarin luit. Kas Dreyer die moord op n smokkelaar ontrafel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar