Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek droom ek koop myself ‘n trekker. My droom was nie baie partikulêr oor die maak of die kleur van die trekker nie, maar wat ek wel kan onthou was dat ek vreeslik goed gevoel het daaroor. Ek het inderwaarheid so goed gevoel dat, nadat ek wakker geword het, dit steeds gevoel het asof ‘n baie besonderse ding my oorgekom het. Dis nie dat ek enigeiets met ‘n trekker kan doen nie, ek weet om die waarheid te sê, nie eers hoe om ‘n trekker te ry nie. In elkeval, al sou ek dit kon doen, het ek nie ‘n lap aarde wat geploeg, geêg en beplant kan word nie; ek het nie ‘n sleepwa wat ek kan haak om ‘n paar dromme êrens heen te karwei nie. Dit was maar net vir my lekker om my eie trekker te kon hê, al was dit net ‘n droom. Ek dink baie van ‘n mens se kleintyd herrineringe kom kortsluit later jare in jou brein en die resultaat is ‘n potjiekos van brokkies informasie, Freud se dissipels sou sweerlik konneksies kon maak van onderdrukte begeertes wat onvervuld in die lug bly hang het. “So be it”. Al wat ek weet, hoe eienaardig dit ookal mag klink, dit was ‘n lekker droom.

Maar, waar sou ek dan nou, in ‘n poging om Freud se dissipels te help in hulle soeke na antwoorde, onderrukte begeertes na ‘n landbou implement kon hê? Die besit of hunkering na ‘n trekker is beslis onlogies, veral as jy op die dorp bly. Miskien moet mens dieper krap tot daar waar jy dit uit ‘n kind se oogpunt kan bekyk. ‘n Tyd toe alles wat jy buite jou bekende omgewing waargeneem het soos ‘n David Livingstone ontdekkingstog was waar die nuwe dinge soveel groter, hoër, langer of sterker was. Vir ‘n kind kan vier bome ‘n bos word, ‘n klipkoppie weer berg Everest en enigeiets wat driemaal groter as jy is, sommer yslik groot. Die Bee Gees vang dit treffend vas met die woorde: “when I was small and Christmas trees were tall ....”. In jou later jare word die gemaklike en vrye verbeelding van ‘n kind, om praktiese redes, verruil vir feitelike goed wat fisies meetbaar is in konstante en absolute waardes.

In die tyd waarin ek grootgeword het, het meeste kinders van my geslag die een of ander familielid gehad wat óf ‘n plaas besit het of dalk vir iemand ‘n plaas bestuur het. Omdat ek self op ‘n plot grootgeword het, hoewel daar nou nie juis geploeg of geplant was nie, was dit “normaal” vir ons as kinders om groot ruimte om ons te hê. Twee van my ooms en oupa, aan my pa se kant, het plase besit. As kind was daar dus sekerlik die onderbewuste begeerte om eendag ook ‘n plaas te kon hê. My eerste speelding wat ek kan onthou, was ‘n geel rubbertrekker en een van my lekkerste speelgoed uit die “Dinky en Corgi Toys” dae was so ‘n blou Fordson trekkertjie wat kon stuur en sy eie ploegie en waentjie gehad het. En, omdat alle trekkers uit daardie dae met ‘n slinger aan die gang gesit is, en hy ook ‘n slingertjie gehad het, was dit soveel meer realisties. Daarmee het ek my plaas onder die moerbeiboom bewerk.

Die Portugees van Vierra’s Market Gardens, wat op die plot langs ons s’n met groente geboer het (eintlik meer met kool as iets anders), het so ‘n ou grys Ferguson trekkertjie gehad (alom bekend as ‘n Vaaljapie), so ook een van my ooms en meeste ander kleinboere wat ‘n grondjie besit het wat moes bewerk word. Die Vaaljapie, soos uitgebeeld bo, was ‘n klein kanniedood wat nie bang was om ‘n groter trekker se werk te doen nie.

My oupa het op Rashoop, naby Brits, geboer (of so tussen deur die swaarkry probeer boer) met tabak en ander gewasse. Daar was drie trekkers op daardie werf. Langs die tabakoond en stoor, tussen lang droë gras, knapsekêrels en bloudistels, het ‘n trekker gestaan, duidelik uit ‘n vroeë era. Dit was reusagtig groot met ysterwiele agter waarop sulke puntige ysteruitsteeksels vasgesweis was, ek vermoed om beter te kon vastrap. Ons as kinders is egter belet om op of naby die ding te kom. En omdat niemand ooit oor die ou stuk masjienerie gepraat het nie, kan ‘n mens maar net bespiegel dat daar die een of ander tragiese verhaal rondom geweef was. Die kleiner een van die ander twee trekkers was ‘n rooi Farmall. Hy’t so ‘n lang gesig gehad, maar was, soos die Vaaljapie, eintlik ‘n heel vriendelike ou, as jy sou verstaan wat ek bedoel. Hy’s met petrol aan die gang gesit en as die enjin warm geloop was, oorgeskakel na parafien. So ‘n lekker plaasreuk gehad as hy die dag in gebruik was. Die laaste een was groot en ook rooi, maar vir my as kind was hy ‘n ou knorpot, seker maar omdat hy so gebrul het. Hy was, as my geheue my nie in die steek laat nie, ‘n McCormick-Deering en is hoofsaaklik vir ploeg aangewend. Ander kere is daar so ‘n lang dryfband van seil oor sy buitekatrol gehaak waarna hy gebruik was om ‘n sirkelsaag te dryf waarmee hout opgesaag is.

John Deere het ek maar net geken uit die Landbouweekblad of voor ‘n sleepwa by die Koöperasie waar ooms in kakieklere en groot hoedens op gestaan en gesels het. John Deere uit daardie dae was nooit vir my ‘n mooi trekker nie. Hy’t mos sulker skeeloog wieletjies voor gehad.

Die oom van my met die Vaaljapie het in die Laeveld geboer. Hy was ‘n onderwyser wat eintlik ‘n boer wou wees. Pragtige wêreld met mangos, avokadopere, papajas en piesangs net waar jy kyk. Heerlike lemoene ook uit daardie dele gekom. Hy het, behalwe vir die Vaaljapie ook ‘n effens gehawende David Brown trekker gehad waarmee die tamaties uit die lande na die sorteer en pakskuur toe gebring is. Dit was ook in daardie selfde omgewing waar ek die mees eienaardigste trekker ooit gesien het. Met ‘n reëlmatige doef, doef, doef het ‘n Lance-Bulldog, met sy allemintige een silinder, in die grondpad tussendeur die bome aangekruie gekom. Die man op die stompneustrekker het vriendelik vir ons klomp kaalvoetkinders langs die pad gewaai en met ‘n doef, doef, doef, verder pad af en om ‘n draai verdwyn. Baie jare later het ek in die Omaruru omgewing, onder ‘n afdak, weer die geleentheid gehad om een van hierdie trekkers van naderby te bekyk. Hulle het my vertel dat, as jy een van hulle aan die gang geslinger het en die vuur op die verkeerde plek gekom het, dit kon gebeur dat die enjin na die verkeerde kan kon begin draai. Dan het jy met een rat vorentoe en baie ratte agtertoe gesit.

My pa se jongste suster se man het in die Vrystaat geboer. Behalwe vir ‘n nuwe Massey Ferguson het daar twee ou groot geel trekkers onder ‘n paar bloekombome in aftrede gestaan. Van tyd tot tyd is een van hulle uit rus uit geroep om die Massey Ferguson uit die nat lande te gaan sleep. Omdat my pa so ‘n bewondering vir daardie trekker gehad het, moes dit seker op ‘n manier aan ‘n mens afgevee het. Die ou gele was ‘n Twincity. ‘n Allemintige groot trekker (kinderobservasie) wat sy brute krag uitgebrul het. As een van hulle geloop het, het jy in diepe eerbied en kinderlike bewondering eenkant gaan staan.

Maar, die mooiste of lekkerste van alles was wanneer jy kaalvoet agter ‘n trekker aan kon loop wat besig was om ‘n nuwe land te ploeg. Daardie omgekeerde klam sooie het vreemd en lekker warm onder ‘n man se tone gevoel terwyl daar so ‘n sagte geurigheid deur die lug versprei het wat met niks anders vergelyk kan word nie.

Ek dink elke man behoort ‘n trekker te hê, al is dit dan net terwyl jy slaap.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

elke man behoort 'n trekker..
ai,dis 'unfair' maar dankie !dat ek vir net 'n wyle saam met jou kon loop op jou pad van herinneringe !my verbeelding,wat ek gedink het al hopeloos verroes was,weer soos een van daardie trekkers,aan die gang kon brul.my tone,saam met jou kon krul wyl ons deur die vars grond hardloop en spring.die naaste wat ek aan 'n plaas gekom het was my oom Andries wat geboer het buitekant Standerton en een keer by 'n oom op Vaalwater waar ek tarentaal geskiet en gister se gbraaide vark vir 'brekfis' kon eet.ai,ai,ai !ek stem elke man behoort 'n plaas te he.
9 jaar 4 maande 1 week 5 dae 6 ure oud


Elke man behoort...
Ja-nee stem saam ons word gebore met daai liefde vir iets wat sterk is en lekker raas. Seker elke plaas het sy Vaal Japie gehad, my pa en oupa het 'n voorliefde vir Ford gehad, maar onthou die Lance met sy brute krag en onmiskenbare gedoef, die Mcormick wat gewoonlik die dorsmasjien getrek het met daai lang dryfband, soos jy sê... onthou ook hoe ons die stronke en kaf in die wind moes uitsif. Lekker jare, dankie vir die deel.
Vrede
9 jaar 11 maande 23 ure oud


...en as jy eers 'n trekker het, dan soek jy 'n plaas. smile.
Daar het al menige kind seergekry van saamry op 'n trekker. Party het nie die seerkry oorleef nie.
9 jaar 11 maande 1 dag 4 ure oud


BiB
Trekker!!
Wou ook nog altyd een gehad het en noudat 'n oom van my oorlede is en ek sy ou 1958 David Brown kan kry, nou het ek nie vervoer vir hom vir die ongeveer 200km nie!! Maar plan gaan ek maak..... weet nog net nie waar ek met hom gaan ry hier in die dorp nie!
My droom is al amper waar.......
9 jaar 11 maande 1 dag 5 ure oud


Kom ons probeer weer ...
ek weet nie wat dit vanoggend met my en die stuur knoppie is nie Nietemin, wat ek wou sê is dat ek saamstem, iewers in elkeen van ons se verlede is 'n trekker Ek onthou hoe ons altyd die verskillende trekkers se naam aan sy kleur uitgeken het My seun wat nog nooit op 'n plaas was nie spring op en af wanneer hy die trekkers wat gras sny langs die pad sien, so dit is ingebore Ek self kry soms lus om 'n klein ou Masseytjie, so 'n rooie, te koop wanneer ek op die platteland by die tweedehandse trekkers verby ry Maar dalkies moet ek ook maar net droom ...
9 jaar 11 maande 1 dag 6 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

beloftes

deur daniel v kaylan

'n Briewe roman oor die verlore, verbode liefde van 'n jong meisie...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar