Rubrieke

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

1 Korintiërs 13:11 “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind”

Ons oudste seun het op 26 besluit dis nou die regte tyd om te trou. Hy is nou klaar met die dinge van ‘n kind en wil nou grootmens wees. Ons het verduidelik dat trou nie perde koop is nie, maar wat, daar was niks wat ons kon doen om hulle van die besluit van hulle te laat verander nie. Ons het besef die trou bosluis het gebyt en sy kop sit so diep in hulle vleis ingeboor dat ons dit nie afgetrek sal kry nie. Bowendien het dit ‘n geweldige hoë troukoors veroorsaak wat net deur al die voorbereidings vir ‘n troue en honeymoon beplanning gesond gemaak kan word.
Die koors is ook geweldig aansteeklik en voordat ek weet wat gaan aan het Schatsie ook die koors opgedoen. So word die kar die Vrydag opgepak, want daar moet nou begin word met inkopies vir die troue. Ek besef dit is nou tyd vir die perde koop storie van die troue. Ons sit die stuk pad van 300 km in na George waar ons gaan oorbly by die perde wat gaan trou. Die oorbly en gesels jaag natuurlik die perde koop koors nog hoër op. Die volgende oggend is dit uitrustings, skoene, hemde, dasse, perde en goeters en dinge wat nodig is vir die troue en wat daarmee saamgaan. By die shopping centre gekom word daar op en af beweeg deur die winkels goeters dinge en perde. Ek met my ou slap beentjies kan onmoontlik byhou by die mense met die koors wat die mall plat draf asof dit ‘n atletiekbaan is en besluit dis tyd dat ek maar ‘n ou bankie uitsoek en my koerant opneem. Dis eers nadat ek die koerant verslind het dat ek die mense begin dophou het. Veral hulle voete. Dit is ook toe waar die gedagtes hier in my brein begin rondskarrel het. Die voete het my laat terugdink aan so 40 jaar gelede.

Dit was ertjiepluktyd op Donkerhoek (ons geboorteplaas in die Overberg) en daardie jare was dit so dat na die week se harde werk, voordat die werkers huis toe gaan, het hulle ‘n klein bekertjie wyn gekry waarop hulle aangedring het en wat deel was van hul ooreenkoms met die spanleier wat die pluk ooreenkoms en voorwaardes namens hulle beding het. Die wyn was altyd ‘n probleem vir my pa, want dit was ‘n hele proses om 300 mense elke aand wyn te gee soos deur hulle versoek. Hy was nie ten gunste van wyn gee nie, maar die plukkers het geweier om te kom pluk as hulle nie hierdie voorreg kon geniet nie. Die plukkers wou altyd elke aand na werk ‘n bekertjie wyn hê, maar daar is toe na lang onderhandeling ooreengekom, wyn net op die einde van die week.
So was my pa besig om hierdie 300 werkers wyn te gee die Vrydag terwyl ek ook maar daar rondstaan in die half skemer van die stoortjie waar die lang ry werkers al skuiffelend nader staan vir hulle plesiertjie. Dit was altyd ‘n hele ritueel die wyn drinkery. As die beker geneem word, word daar eers gesê “gesondheid oubaas” of iets soortgelyks gemompel en dan word daar weggedraai sodat na die muur gekyk word as gedrink word. Party drink dit sommer so in een asem op, ander meer tydsaam of party gooi dit in ‘n botteltjie om saam te neem huis toe vir later voor hulle gaan slaap. My pa het nooit opgekyk waar hy gesit het op sy stoeltjie om die voggies uit te deel nie. Nee, hy het net altyd hier voor hom op die grond gekyk. Dit is seker die dat daar altyd ‘n nuwe werker is wat gedink het hy kan ‘n kans neem deur weer agter in die ry te gaan inval om nog ‘n bietjie raaswater te kry. Groot was altyd hul verbasing as my pa hulle elke slag uitvang met die woorde “nee jong jy was mos netnou alreeds hier.” Party wil nog bietjie stry, maar gee die stryd maar gou gewone as die ander instem met die oubaas.
Ek kon nie help om later my pa te vra hoe hy altyd weet, sonder om na die persoon te kyk, dat hy alreeds sy kwota voggies weg het. Sy antwoord was dat hy kyk net na die voete en skoene. Nie een se skoene en voete lyk dieselfde nie. As hy ‘n paar voete verbykom wat hy reeds gesien het weet hy dat dit nou ‘n kansvatter is.

Schatsie kom uiteindelik haar by my aansluit. Ek kyk na die klein sakkie wat sy by haar het. “Is dit al wat jy gekoop het”, wil ek weet. “Ja, die goed is darem net te duur”. “Ek sal maar my ou klere en skoene moet aantrek vir die troue”. “Geen mens kan die pryse wat hulle vra betaal nie”. Ek kan sommer sien dat die troukoors nou skielik ‘n groot knou gekry het. Ek dink toe by myself, “ai, die perde kopery gaan veroorsaak dat ek seker maar binnekort weer op die ou bankie gaan beland.” Toe ek by die huis kom het ek die gedagtes geskryf oor die bankie sittery.

Ek sit hier op ‘n bankie,
in die stad se nuwe inkopie sentrum.
Kyk na al die mense wat hier verbyloop.
Party is haastig die voete klop soos ‘n perd wat galop.

Ek wonder waarheen
is al die mense heen op pad.
Elkeen so vasgevang in sy eie gedagtes.
Party kyk net winkel vensters en drentel stadig verby.

Op die platteland,
sal ons nog mekaar groet.
Selfs ‘n stukkie gesels, al is dit oor die weer.
Maar hier is daar geen tyd vir groet, wat nog te sê van gesels.

Party is in druk gesprek,
met iemand hier aan hulle sy.
Wonder waaroor sommige van hulle so stry.
Of vertolk ek die ernstige gesigs uitdrukkings en handgebare dalk verkeerd.

Baie min is opgeruimd.
Meeste gesigte is fronsend en strak.
Kan dit wees dat hierdie mense nie hou van lag.
Mens sal sweer hulle kom nou net van ‘n familie begrafnis.

Die snaakste vir my,
is om na al die voete en skoene te kyk.
Party op spyker hakke ander met skeef geloopte skoene.
Party tel die voete hoog op ander slof net kragteloos en stadig verby.



Verskillende geure,
dwarrel in my neusgate op.
Die reuk van duur parfuum, gemeng met goedkoop spuit.
Hier maak dit nie saak of jy ryk of arm is, almal stap hier sy aan sy.

Ek kyk steeds
vir al die voete wat hier verbyloop.
Ek verwonder my daaraan dat nie een se voete dieselfde lyk.
Dit moet ‘n wonderwerk wees dat ons voete almal verskillend vertoon.

Hier in die sentrum,
is ons almal in status gelyk.
As jy geld het kan jy koop soos en net wat jy wil.
Verskil is, as jy nie het nie, kan jy net loop, of sit en kyk, dan voel jy ook skatryk.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Foto 6
Jy bewys hier wat ek ook weet, as die gedagtes eers op loop gaan is daar g'n einde nie. Kyk hoe het 'n troukoek jou by voet en gelykheid gebring.

Ek het sommer lekker saam gekyk na die mense en hul voete.
4 jaar 6 maande 2 weke 5 dae 13 ure oud


Ano
Trou
Ek kan hier net 'n onhoorbare fluit gooi... Trou is nie perdekoop nie, ook nie skoene koop nie. Wens die kinders wil liewers wegloop, maar hoe ontse 'n mens nou die nuwe paartjie 'n lekker partytjie met mooi rokkies en skoentjies? Dis genade as die twee mekaar raakloop tussen al die ander, en besluit dat dit is waar hulle wil bly :-)))
4 jaar 6 maande 3 weke 2 dae 10 ure oud


trou is nie perdekoop nie
Baie geluk.. en JIP trou is nie perdekoop nie.. veral ek wat 3 dogters het is dit nogal n baie duur storie.

Die stukkie van jou Pa was baie interessant en ja hy was n slim man...

Lekker gelees dankie
4 jaar 6 maande 3 weke 2 dae 14 ure oud


trou
Baie geluk. Die trou is nie perdekoop nie, so ook die bekertjie wyn, bring groot verlange na my jongmens dae en Ma en Pa se waarskuwings en dade.
4 jaar 6 maande 3 weke 2 dae 16 ure oud


perdekoop
ek onthou die wyn storie goed. by my oupa op Vaalharts was dit ook n instelling. hulle het dit vaaljapie genoem
4 jaar 6 maande 3 weke 2 dae 21 ure oud



Waarheen met die Nuwe Wyn

deur Christo Nel

Die boek, WAARHEEN MET DIE NUWE WYN, wat in 2004 vir die tweede keer nuut gepubliseer is, is bedoel om ‘n bydrae te maak as deel van die gesprek rondom Bybelse vernuwing wat tans onder veral Afrikaanssprekende gelowiges aan die gang is oor wat Christen-wees en kerk-van-Christus-wees beteken.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar