Rubrieke

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende





O aarde, wat ‘n tema vir ‘n projek wat eonwydtes ooplê!
Wat die Afrikaanse letterkunde alleen betref sou mens, om enigsins reg teenoor ons hedendaagse en gewese digters te laat geskied, Bybelformaat-boeke kon skryf. Ja, selfs oor die lewe, filosfië en insette van die meeste van ons digters sou mens alreeds vir elke indiwidu etlike bundels kon lewer. En dan laat ons die skrywers , en ander kunstenaars en andertaliges buite rekening…
Uiters beperk dan, met ‘n vooraf waarskuwing dat hierdie gorrelstuk niks te make het met kennis van of vaardigheid het met die lewering van kritiek nie, salueer ek alle Kunstenaars met my inval. Tog, omdat hy vir my as jong seun ons Taal laat praat het volgens eie hart se begeerte , wil ek my vir ‘n wyle bepaal by G. A. Watermeyer.
Teen gevaar in dat ek ‘n ongelooflike bewonderig het vir Watermeyer se digkuns en dus –al sou ek my bes probeer om objektief te wees- subjektief hom sou wou uitlig as een van die allerbeste van die bestes, verstout ek my nogtans om so ‘n bietjie oor hom en sy werk te gesels.
Watermeyer is ‘n boorling van die Sneeuberge in die distrik Middelburg, Kaap, gebore op 15 Oktober 1917, waar hy dan ook matrikuleer. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, maar siekte en geldgebrek noop hom om sy studies te staak en eers weer in 1949 skryf hy as student in by die Universiteit van die Vrystaat. Hy keer terug na Johannesburg waar hy groot opgang maak in die reklamewêreld. Hy wen in 1971 die gesogte Radio en Televisie Italiane-prys en die Nederlandse komponis Henk Badings wen teselfdertyd ook die prys vir die toonsetting van Watermeyer se monumentale gedig “Die ballade van die bloeddorstige jagter.” Sy eerste verse verskyn o.a. in die ‘Huisgenoot’ en in die bloemlesing “Stiebeuel’ wat saamgestel is deur D J. Opperman en F. J. Le Roux. Watermeyer was dan ook die eerste digter van die Stiebeuel-digters wie ‘n digbundel in 1946 uitgebring getiteld “Sekel en Simbaal”. Dit was ‘n hele tien jaar na die publikasie van sy eerste jeugverse en dadelik het hy die aandag op hom gevestig tussen groot name van die Veertigers soos Ernst van Heerden, Olga Kitsch, S. V. Petersen, D.J.Opperman en Merwe Scholtz .
Oor “Sekel en simbaal” laat Prof. Dr. D. J. Opperman hom o.a. soos volg uit in P. J. Nienaber se ‘Perspektief en Profiel”: “ G. A. Watermeyer se debuutbundel, naamlik Sekel en Simbaal, is die beste eerstelingbundel wat die afgelope jare in Afrikaans verskyn het.” Nogal ‘n indrukwekkende aanprysing van die tyd, nie waar nie? En dan vervolg hy nog later oor die simbolika van die titel: “Dit is juis kensketsend dat die digter twee voorwerpe uit die lewe van die ou landelike mens as simbool gekies het: die een wat by die oes tuishoort en die ander by die danksegging en feesviering daarna.Die sekel word eintlik beeld van afgemaaiende magte: positief gesien waar die boer of die dier sy kos, en die geliefde die geliefde verkry; maar negatief waar daar uit wellus gedood word… Die simbool sal verder dui op die feesvierende in die sin van ,,Dansende vrou” en ,,Ballade op die Dronkparty”; ook op die harde vreugdeklank in Watermeyer se vers, en die skelle metaalklank van die grootstad, en so by wyse van toespeling die eintlike ,,boodskap” van die bundel na vore roep: ,,Al sou ek die tale van die mense en engele spreek, en die liefde nie hê nie, dan het ek ‘n klinkende metaal geword of ‘n luidende simbaal.” Hierdie ,,boodskap” vind ek dan veral in twee basiese gevoelens uitgebeeld, wat ons na aanleiding van sy gedig ,,Klerk van God” die ,,grafieke van geluk” en die ,,smartbalanse van die langtermyn’ kan noem, en hulle vind verder uiting in twee verskillende verssoorte, n.l. die singende verse en die seggingsvers.”
Lees mens Watermeyer se werke, dan skitter dit van ware en hoogstaande kuns. Dink maar net aan die volgende:

Uit ‘Ballade van die Bloeddorstige Jagter’
Ek kelk die sonlig in my keel
En rym die rondebessie ryp;

Die geelkapèl se kronkels lê
Drie sirkels om die maan…

Ons kyk uit oë soos jy kyk
En asem uit dieselfde long
En deel die dydrif en die dors,
Die angs waarmee die moeders jong.

Hy het my swaar van Hom laat gaan
Omdat my oë van Hom was,
Maar watter boodskap spartel ek
Hier afkop aan die gras?

Uit ‘Oestyd’
Twee uur is die hemel en
Die aarde een wit gloed
En elke kuit ‘n asblou kool,
En koring rooi soos bloed.
Vyfuur draai my oë wild
Soos ‘n moeggespookte vul;
Maar gladweg langs my neurie-stap
Ou Spandouskop se bul…

Wegbuk en vat, wegbuk en vat,
Die halms buig en kerf.
Drie hale vir ‘n handvol,
Ses handevol ‘n gerf.
(en)

Uit ‘Bitter Hart’
Die wolke drywe met die wind
En waai die wydtes oor.
Met watter blinde daad het ek
Die guns van God verloor?
(en)

Uit ‘Hings’
Hy dryf haar sonder haat
Of barmhartigheid
Oor vlakland van die vlei
Hygend die hellings uit,
Tot sy in sweet
En noodklop van haar hart
Sy steiler trots
En sterker longslag weet…

As ek tot waarheid sou kon wens dan sou dit wees dat elke Woester weer ‘n keer na Watermeyer gaan luister.
Dankie vir julle wat saamlees in siel!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

***
Baie dankie vir die bydrae -- baie insiggewend.

[Ek is ook 'n vurige aanhanger van Watermeyer]
4 jaar 2 maande 2 weke 4 dae oud


GA Watermeyer
Dankie vir die deel.
4 jaar 2 maande 2 weke 4 dae 7 ure oud


GA Watermeyer
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die ODE AAN KUNSTENAARS projek.
4 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 5 ure oud


Watermeyer
En nou moet ek bieg, ek ken nie regrig sy werk nie maar staan skoon verstom. Ek stem K, dit is digkuns tot by die sterre.
dankie vir die inligting en deel van sy werk!
4 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 10 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    As drome waar word

    deur Evelyn van der Merwe

    Sewentig gedigte wat ‘n buitengewone vrou se lewe beskryf. Sewentig boodskappe van lief en leed uit die pen van ‘n vrou wat op die harde manier geleer het om meer as die gewone teenslae van die lewe te hanteer, om sterker te word en uiteindelik om sterk te wéés – nie net vir haarself nie, maar ook vir die mense rondom haar.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar